“Hou op!” sê Chris en druk haar weg. Dan trek hy haar weer nader en sit sy arms om haar. Hy begin haar in die nek soen en sy stoppelbaard laat Michelle skree van die lag. Chris hou op, maar dan trek hy haar saam met hom plat sodat hulle albei teruglê teen die kussings. Sy probeer orent kom, maar hy hou haar terug. Die somerduvet kan nie sy plannetjie wegsteek nie.
“Nee …” lag sy.
“Toe wat,” sê Chris. “Ons ry eers agtuur. Jy weet ek het net vyf minute nodig.”
Michelle sit regop en kyk af na hom. Chris se oë is die onskuldigheid self, maar om sy mond is ’n stout glimlag.
“Jy weet my vrugbare dae begin eers môre en –”
Hy probeer haar stilmaak deur haar weer nader te trek, maar sy druk hom met albei hande weg.
“– die dokter het gesê jy moet jou inhou om –”
“Moenie dit sê nie!”
“– jou –”
“Michelle! Jy weet ek haat dit as jy so praat.”
Sy lag en maak of sy ophou, tot Chris ontspan, en toe skree sy die laaste woorde uit:
“– spermtelling te verhoog!”
Hy druk sy ore toe, trek haar weer nader en begin haar met mening kielie. Michelle kyk uitdagend op na hom, vasbeslote om nie in te gee nie, maar dan bars sy skaterend uit van die lag. Chris hou haar op kielie, druk haar arms vas langs haar lyf en bring sy gesig nader aan hare. Hy begin haar saggies op die lippe soen.
“Nee,” sê Michelle.
“Asseblief.”
“Nee.”
“Toe, man.”
“Nee.”
“Net die puntjie. Jy sal nie eens weet ek is daar nie.”
“Jy’s vieslik!” Michelle lag en rol onder hom uit. “Doen eerder iets nuttigs en gaan maak vir ons koffie.”
“Fine, dan!” Chris blaas vies die aftog en toe hy van die bed af opstaan, sien Michelle hoe sy bokserbroekie nie kan wegsteek dat hy inderdaad gereed is vir aksie nie. Hy sien hoe sy kyk en draai vollyf na haar toe met sy ereksie beurend deur die gleuf.
“Laaste kans.”
Sy trek die kussing agter haar kop uit en gooi hom daarmee.
“Koffie. Nóú.”
Chris se voetstappe verdwyn gangaf en in die stilte maak Michelle haar oë weer toe. Sy probeer haar rustelose gedagtes kalmeer. Ten spyte van die laggery en grappies besef hulle al twee môre is belangrik.
Sy sit albei haar hande op haar maag en begin bid, smeek God om die dele van haar lyf wat nie werk nie, te herstel.
* * *
Chris hou die deur oop vir Michelle terwyl sy haar sleutels van die hakie afhaal en haar skootrekenaar, handsak en sambreel bymekaarmaak. Dit lyk nie na reën nie, maar hy weet hoe sy altyd voorbereid wil wees. Hy glimlag onderlangs toe hy aan sy vrou se eksentrisiteite dink, haar behoefte dat alles georganiseerd moet wees en hoe groot die kontras met sy leefstyl is.
Met hulle is dit beslis ’n geval van teenoorgesteldes wat mekaar aantrek.
Selfs op die onderdakvoorstoep kan Chris voel dit gaan ’n warm dag wees. Die reuk van laas nag se kortstondige donderstorm is nog vars op die gras. Hy glimlag vir sy vrou toe sy uitstap en net toe hy wil toemaak, sien hy Rachel aangestap kom na hulle toe.
“Môre, Rachel.”
“Goeiemôre, Chris. Môre, Michelle,” antwoord Rachel en versnel haar pas.
“Hallo!” Michelle glimlag vir Rachel en stryk aan na haar grys Audi TT, sukkelend met al haar bagasie. “Daar is croissants in die broodblik en ek het klere op die toonbank gelos. Kyk of jy iets wil hê voor ek dit kerk toe neem.”
“Dankie.” Rachel leun vorentoe om met die sakke te help.
“Ag, dankie, Rachel.” Michelle gee haar rekenaar vir haar aan. “O, en ons gaan na werk uit vir ete, so sal jy asseblief toesluit en die alarm aanskakel wanneer jy klaar is vir die dag? Ons sal eers laat terug wees.”
Rachel knik en glimlag.
Michelle draai om om Chris tot siens te soen.
“En dit?” spot hy en soen haar terug.
“Kan jy na werk ’n bottel rooiwyn gaan koop, Chris? Ek sal nie na my vergadering tyd hê om winkel toe te gaan nie.”
“SMS my later om my te herinner. Waarnatoe gaan ons nou weer?”
“Karlien word dertig en sy hou ’n tagtigspartytjie, wat beteken ek wil hê jy moet ook stop om ons kostuums op te laai.”
“Reg so. Wie’s ons nou weer?”
“Ek het al honderd keer vir jou gesê.”
“Sê maar weer, toe.”
“Ek gaan as Cyndi Lauper en jy as –”
“Michael Jackson!” val Chris haar in die rede. “Hoe kon ek vergeet? Het jy my pruik gekry?”
Met ’n dramatiese gebaar haal Michelle die groot Afro-pruik uit haar kattebak. “Natuurlik!”
Chris grinnik en soen haar vol op die mond.
“Jy’s nogal cool, weet jy?”
“Ek weet, liefie.”
Michelle trek sy kraag reg toe hy die motordeur vir haar oopmaak. Toe sy die enjin aanskakel, staan hy opsy sodat sy agteruit kan stoot. Rachel staan steeds by die trappe en wag dat hulle vertrek. Michelle sit haar Audi in rat en maak die venster oop.
“Lekker dag, Rachel. En dankie dat jy die espressomasjien vir ons aangeskakel het.”
* * *
Chris klim in sy motor en toe hy die sleutel draai, spoel die klanke van Valiant Swart en Mel Botes se “Hartseer stad” oor hom. Hy stoot agteruit en voor hy in die straat by die voorstedelike verkeer aansluit, waai hy vir Rachel.
Chris werk by een van die stad se vooraanstaande argiteksfirmas waar hulle spesialiseer in die vernuwing van groot geboue in Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad. Hy bestuur verskillende projekte in al vier stede, maar dié wat hom die naaste aan die hart lê, is die geboue wat op sy drumpel is. Johannesburg het die afgelope dekade of wat ’n renaissance begin beleef en vervalle gebiede wat deur misdaad oorgeneem is, word nou die speelplek van hipsters en hul koffiewinkels en kantore. Mense begin terugtrek na die middestad waarvoor hulle voorheen bang was en Chris voel dat hy met die geboue wat hulle vernuwe op ’n klein manier help bydra tot die stad se hergeboorte. Hy wens eintlik hy en Michelle kon eerder in die middestad woon, maar sy het dit baie duidelik gemaak dat sy nie haar voete daar sou sit nie. Sy klou nog vas aan die verlede se geldige vrese.
Die ironie is dat Chris veiliger voel om sy motor in die stadskern te parkeer as in die strate in hulle buurt. Hy glo die meeste boewe gaan voorstede toe wanneer hulle wil “inkopies doen”. Die hoë mure, elektriese heinings, alarmstelsels en wagte skep ’n illusie van veiligheid, maar rig volgens hom min uit om gevaar buite te hou.
Met die motor vol blues-musiek loop sy gedagtes na Rachel en die jare wat sy by hom en Michelle werk. Hulle drie woon nou al ’n paar jaar lank op dieselfde erf – minstens vyf, dalk ses – maar steeds weet hy nie veel van haar nie. Hy beskou homself as ’n vriendelike mens en het moeite gedoen om haar te leer ken – waar sy vandaan kom en wat sy uit die lewe wil hê – maar daar is altyd ’n muur, ’n afstand wat sy tussen hulle handhaaf en wat nie met die verloop van tyd verander het nie. Hy haat die ou manier waarop hy grootgeword het toe huiswerkers as bediendes beskou is, naamlose mense wat gedurende die dag skoonmaak en dan teen sononder verdwyn. Hy het homself beloof