Sy bly swyg. Sy probeer hoor wat dit is wat Chris vir haar sê. Hy is ’n goeie man, dit weet sy, maar nou moet hy ’n probleem oplos en sy lojaliteit sal by Michelle wees. Dié het aan ’n groefie in die tafel begin krap.
Toe Rachel ’n paar jaar tevore vir Michelle haar dertigste verjaardag help reël, het sy besef hulle is ewe oud, maar dié ooreenkoms het vir haar net onderstreep hoe baie hulle van mekaar verskil.
“As dit die geval is,” gaan Chris voort, “sal ons jou vergoed ver bo wat die wet –”
“Ek sal bly.”
Haar woorde stuit hom in die middel van sy sin en laat Michelle vir die eerste keer opkyk van die tafel.
“Is jy seker?” vra Chris. “Wil jy nie eers ’n bietjie daaroor dink nie?”
“Ek sal bly.”
In ’n sagte stem bevestig Rachel haar besluit op ’n manier wat die Jordaans geen ruimte laat om dit verder te bevraagteken nie. Sy is self verras oor hoe beheers sy is. Sy sien hoe Chris vinnig na Michelle kyk. Duidelik was nie een van hulle voorbereid op ’n onmiddellike antwoord nie en beslis nie op dié een nie.
Chris neem sy vrou se hand en die groefie in die tafelblad eis weer al Michelle se aandag op.
“Wel, as dit is wat jy wil doen,” sê hy, “dan moet ons jou vra om Maandag – môre – weer in te val. Soos jy kan sien, het die huis ’n ernstige skoonmaak nodig.”
Hy is reg, dit is vuil. Rachel het dit gesien die oomblik toe sy instap, dat die Jordaans haar afwesigheid gevoel het. Die swart-en-wit teëls in die voorportaal is vuil, die opwasbak in die kombuis loop oor van vuil skottelgoed en as sy badkamer toe loop, sal daar vir seker ’n wasgoedmandjie oorvol van die afgelope weke se vuil klere wees.
“Goed. Môre is reg.”
“Is jy seker, Rachel?” vra Chris met ’n ligte frons.
Rachel kyk na hom en knik haar kop om hom te probeer oortuig sy is. As húlle haar glo, sal sy dit seker mettertyd self regkry. Sy kyk nie weg toe hy stip na haar staar om te sien of daar enigiets is wat haar antwoord weerspreek nie.
Sy trek nie ’n spier nie.
Toe kyk hy weg en voer die gesprek in Michelle se rigting om dit te laat lyk asof sy deel is van die volgende besluit, terwyl hy in werklikheid besig is om dit te neem terwyl hy praat.
“Wel, dan sal ons vir jou ’n verhoging gee, want dit is in elk geval nou tyd daarvoor. Ons kan kyk of ons jou kamer ’n bietjie kan laat regmaak, miskien ’n nuwe stofie … ”
Hy probeer hard om sy ongemak met die situasie te onderdruk. Rachel voel die gal in haar keel opstoot terwyl sy luister hoe hy al die gawes opnoem wat hulle aanbied as vergoeding.
“Dankie.” Sy sien ’n skrefie van ’n glimlag terugkeer na Chris se oë; hy is seker verlig dat hulle darem ’n soort oplossing kry. Rachel staar na hom; sy wil nie terugglimlag nie, maar sy wil ook nie lelik wees met hom nie. Net soos sy, is hy ’n slagoffer en sy kan haar nie so ver kry om sleg van hom te dink nie.
“Is daar enigiets wat jy wil weet of wat jy graag vir ons wil vra?”
“Kan jy dalk môre my maand se geld vir my gee?”
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.”
Rachel knik en al drie bly sit in stilte, nie seker wat om te doen noudat alles wat gesê moes word uit die pad is nie. Sy kyk af na die tafel wat sy op Dinsdae en Vrydae poets. Na ’n paar minute besef sy die Jordaans wag dat sy die gesprek afsluit.
“As dit al is, wil ek graag nou na my kamer toe gaan.”
“Ja. Wel. Dis dan nou dit,” sê Chris. En toe skielik in Afrikaans: “Dankie.”
Rachel knik weer, dié keer in reaksie op die “dankie”. Toe sy opstaan, skraap die houtstoel oor die vloer en meer uit gewoonte as goeie bedoelings begin sy die drie bekers bymekaarmaak om dit kombuis toe te neem. Michelle spring op, wys sy moenie en steek haar hand uit voor Rachel haar beker ook kan optel.
“Ek sal dit doen.”
Rachel sit haar beker weer neer op die tafel. Sy trek haar hemp reg, kyk nog ’n slag na Chris en draai om. Agter haar is daar stilte.
Michelle staan en kyk hoe Rachel by die deur uitstap. Sy hoor die moeë flap-flap van haar pantoffels in die donker gang af verdwyn in die rigting van die voordeur. Haar gedagtes is ’n maalkolk wat al maller tol. Sy hoor hoe die deur oopgaan en dan weer toe, daarna die gekletter van die veiligheidshek.
Sy is veronderstel om te loop. Sy is veronderstel om die geld te vat en te lóóp.
Dof beweeg sy met die drie bekers deur die spogkombuis tot by die opwasplek. Wat op aarde besiel Rachel om te bly? Sy gooi die lou tee in die wasbak uit waar dit soos ’n bruin waterval oor die stapel vuil skottelgoed loop. Sy draai om. Deur die oop deur sien sy Chris sit steeds bewegingloos by die tafel in die sitkamer.
“En hoe is ons veronderstel om só te leef?”
“Ons kan haar nie in die pad steek nie.”
“Hoekom nie? Moenie vir my sê wat ons nou doen, is ’n oplossing nie.”
“Natuurlik is dit nie, Michelle, maar daar is nie ’n kans dat ons haar kan vra om te loop nie.”
Michelle gluur haar man aan hoewel sy goed weet hy’s reg, maar sy is gefrustreer deur die uitkoms van die aand se gesprek. Sy hou hom dop terwyl hy dinge sit en uitwerk, dan terugkeer van die afgrond waarheen sy gedagtes hom geneem het en na haar opkyk. Hy blaas sy asem uit.
“Ons sal eenvoudig ’n manier moet kry om dit te laat werk, Michelle. Om die een of ander rede dink sy dis beter om by ons te bly as om weg te gaan, so ons sal net moet aangaan.”
Sprakeloos draai Michelle terug na die wasbak. Hoe Chris die situasie kan vereenvoudig tot iets wat hulle daagliks net sal moet uitwerk, gaan haar verstand te bowe. Hy maak asof dit ’n verhoging in hulle elektrisiteitsrekening of ’n nuwe soort waspoeier is waaraan hulle gewoond moet raak.
Sy kyk af na die spul skottelgoed voor haar – borde, bakke en koppies wat oor die weke opgestapel het toe sy haar nie so ver kon kry om op te was nie. Dis nie dat huiswerk benede haar is nie; sy was tog op hoërskool ’n kelnerin in ’n pizzaplek en het op haar dag erger as dít gesien. Maar elke keer wanneer sy wou opwas, was dit asof al haar energie om die een of ander rede verdamp en met elke nuwe bord of beker op die stapel het dit net erger geword.
’n Swaar hart lei tot swaar hande, wil dit lyk.
Toe sy wegdraai van die oorlopende wasbak, sien sy Chris sit nie meer by die tafel nie. Sy spits haar ore; rugbywedstrydgeluide verklap hy kyk TV. Sy skakel die ketel aan, maak die kas voor haar oop en haal die laaste twee skoon bekers uit. Kitsch goed wat net Chris sou koop en wat sy net gebruik as hulle alleen is. Op die pers een staan Drama Queen en op die gele The Man, The Legend. Sy sit ’n teesakkie in elk.
“Nog tee?” roep sy. Haar stem trek verby die vier gastekamers met hul duifgrys skakerings van duur Weylandts-dekor, haar tuiskantoor, die gastebadkamer met sy Duitse stortkop wat Chris byna ’n oorval laat kry het, tot by die TV-kamer. Die huis is in die sewentigerjare gebou toe plafonne hoog en vertrekke ruim was, heel anders as die nuwe geboue wat deesdae in Johannesburg se noordelike voorstede opspring.
Dit is die eerste eiendom wat sy en Chris saam gekoop het, en om te sê dit het opknapwerk nodig gehad – soos die advertensie gelui het – is om dit hopeloos te sagkens te stel. Hulle het die bekende raad gevolg om die swak huis in die goeie straat te koop, maar met Chris wat ’n argitek van beroep is, was dit vir hom eerder ’n opwindende projek as ’n probleem. Op die dag wat die sleutels van Vyfde Laan 76 in Parkhurst aan hulle oorhandig is, het ’n jaar van breek-en-bou aangebreek wat Michelle sou verkies om te vergeet.
Die