Sink. Brett Michael Innes. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Brett Michael Innes
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624081357
Скачать книгу
die skoon kombuis en dan na die muurhorlosie. Dis vyfuur. Sy wag al heeldag dat die voordeur oopgaan sodat sy die eerste weersiens met Michelle agter die rug kan kry. Hier is sy egter steeds met ’n groeiende benoudheid oor daardie ongemaklike oomblik. Sy besluit om maar kamer toe te gaan, skakel die gangligte aan, sluit die veiligheidshek agter haar en vat die paadjie na die oprit.

      Sy besef sy het vergeet om die vullisdromme in te bring van die straat af. Sy stap vinnig na die syhekkie. Die twee groot dromme wat iewers gedurende die dag deur die munisipaliteit leeggemaak is, staan op die sypaadjie. Toe sy buite kom, hoor sy ’n bekende stem agter haar.

      “En?”

      Sy glimlag en draai om.

      “Hallo, Maria,” groet sy haar vriendin. “Ek het jou glad nie gesien nie.”

      Maria is van Malawi en sy werk vir die mense langs die Jordaans. Sy is luidrugtig, gebou soos ’n oorlogstenk en die teenpool van Tapiwa, die skraal vrou langs haar. Tapiwa is van Zimbabwe en sy werk by ’n huis ’n ent af in die straat. Sy laat gewoonlik vir Maria die praatwerk doen. Nes met Richmond en Rachel is Engels die enigste taal wat die drie vroue deel, maar met die jare het hulle mekaar leer verstaan met ’n uitdrukking hier en daar uit elk se moedertaal sodat daar vandag ’n gemaklikheid tussen hulle is.

      Die drie vriendinne stap saam na die hoek waar hulle hul tuismaak op die gras tussen die straat en ’n hoë huismuur. Rachel se alleentyd is vroeër wanneer sy tee drink in die kombuis of haar middagete eet onder die groot ou eik, maar haar kuiertyd is saans met Maria en Tapiwa langbeen op die sypaadjie.

      Soos die meeste huiswerkers in Suid-Afrika word hulle nie toegelaat om vriende te nooi na die huis waar hulle werk nie omdat dit ’n veiligheidsrisiko vir die eienaars kan inhou. Die beste plek is dus die sypaadjie, waar hulle in hul uniforms sit en skinder oor die dag se dinge tot die son ondergaan en elk na sy eie kamer toe gaan.

      Rachel lê op haar maag en Maria en Tapiwa sit langs haar in die laaste warmte van die sakkende son. Die gedruis van die spitsverkeer is hoorbaar.

      “En?” herhaal Tapiwa Maria se vraag. “Hoe was jou eerste dag terug?”

      “Hulle was nie hier nie.”

      Maria grinnik. “So dit was lekker.”

      “Daar was baie om te doen.” Rachel sug en vryf haar moeë oë. “Ek dink nie hulle het ’n vinger gelig terwyl ek weg was nie.”

      “Hulle weet seker nie eens waar die skottelgoedseep is nie,” sê Maria en die ander twee lag, want die kanse is goed dat die grap waar is.

      Hulle lag nog toe hulle hoor hoe die Jordaans se elektriese hek begin oopskuif. Hulle sien Chris se Z4 voor die hek wag. Sy venster gaan oop en Rachel sit regop sodat sy met haar werkgewer kan praat. Sy sien Michelle in die sitplek langs hom, haar oë weggesteek agter ’n sonbril. Sy kyk anderkant toe en Rachel wonder wat gebeur het om haar in so ’n bui te sit.

      “Hei, Rachel,” sê Chris. “Ek’s jammer ons kon nie vanoggend hier wees om jou terug te verwelkom nie. Hoe’t dit gegaan?”

      “Alles is skoon, meneer Jordaan,” antwoord sy.

      Chris lyk verbaas dat sy hom meneer noem, maar die hek is klaar oop en hy moet inry voor dit begin toemaak. Hy waai vir haar. Daar is elektriese hekke wat nie toemaak as ’n motor of ’n mens nog besig is om in te kom nie, maar die Jordaans het nie daardie opsie gekies nie, want hulle het gedink dit sou beter wees as kapers nie kan keer dat die hek toegaan nie.

      Rachel kyk die motor agterna tot sy dit nie meer kan sien nie. Toe draai sy na Maria en Tapiwa wat haar fyn sit en dophou het om te probeer agterkom wat sy voel. Die drie vroue sit nog ’n rukkie in stilte.

      Toe praat Rachel.

      “Sy verwag,” sê sy sag.

      “Wat?!” roep Maria en Tapiwa gelyk uit.

      Rachel knik, maar sê niks verder nie. Hulle sit doodstil en kyk na die spoggerige motors wat verbyry.

      “Dit maak my siek,” sê Maria na ’n rukkie.

      “Wat?” vra Rachel.

      “Dat jy agter daai mense skoonmaak.”

      “Dit is wat dit is, Maria.”

      “Ek weet, maar dit maak my nog altyd siek.”

      Rachel sug en tel ’n droë takkie tussen die gras op. Sy begin breek dit in kleiner stukkies. Maria en Tapiwa kyk hoe sy die stukkies eenkant toe gooi.

      “Ek kan nie bekostig om trots te wees nie, my beursie is te leeg,” sê sy na ’n ruk en gooi die laaste stukkie van die takkie eenkant.

      * * *

      Michelle stap voor Chris die huis in en haal haar sonbril af sodat sy die plek kan inspekteer. Sy loop eers kombuis toe en sien die afgelope weke se gemors is vervang deur netheid en alles is silwerskoon. Sy stap vinnig deur die res van die huis en sien die vertrekke is gestofsuig, hulle bed is skoon oorgetrek en die vreeslike bondel wasgoed is gewas, gestryk en opgevou.

      Uiteindelik, dink sy, ’n bietjie normaliteit.

      Op pad terug kombuis toe sien sy Chris se das en skoene in die gang lê, maar sy ignoreer dit. Sy kry haar man by die yskas met ’n bier in sy hand. Sy kyk hoe hy ’n sluk vat en na die ontbythoekie toe stap.

      “Ten minste is die huis weer aan die kant,” merk Michelle op en maak die yskas oop om te kyk wat hulle vir aandete kan eet. Toe Chris nie antwoord nie, draai sy na hom en sien hoe hy na die swembad in die laaste strale van die son sit en kyk.

      “Jy kon haar maar gegroet het toe ons ingery het,” sê hy, sy oë steeds op die toneel buite.

      Michelle maak die yskas toe en praat met sy rug. “Ek het haar nie gesien nie en toe’s ons al halfpad met die oprit op.”

      Sy wag dat Chris haar teëgaan, maar hy swyg. Hy vat nog ’n slukkie bier. Sy kyk hoe hy die bottel op die tafel neersit en sien hoe die kondensasie op die gebleikte hout neerdruppel. Sy stoot ’n drupmatjie na hom toe en hy draai sy kop effens. Stadig tel hy sy bier op en sit die bottel op die matjie.

      Michelle maak weer die yskas oop en haal ’n hoendergereg van Woolies uit.

      “Kan ek help?”

      “Ek’s reg.”

      “Oukei.”

      Michelle hoor die kombuisdeur oopgaan.

      “Waarnatoe gaan jy?” Sy draai vinnig om.

      “Ek wil die swembadwater toets. Dit lyk nie lekker nie.”

      “O.”

      Sy begin hulle aandete regkry. Dis nou al weke dat haar lyf vreemd voel, asof sy alles in volkleur ervaar en nie meer logies kan dink nie. Dit voel soos strome van te veel emosie wat oor haar spoel en haar duiselig en tranerig laat voel. Sy haat dit om te huil. Sy het haar sonbril heelpad huis toe opgehou net vir ingeval.

      Dokter Pieterse se nuus was nie goed vir haar delikate gemoedstoestand nie.

      Sy wou hierdie baba al so lank hê en noudat die kans daar is, wens sy sy kon meer opgewonde wees. So baie het gebeur vandat sy gehoor het sy is swanger. Sy kan nie help om te wonder of alles beter sou wees as daar nie ’n baba op pad was nie.

      Sy kan haar nie indink wat in Rachel se kop aangaan noudat sy weet sy wat Michelle is, is swanger nie. Sy is nie onbewus van die ironie nie, maar die afgelope paar weke het sy dit reggekry om enige skuld wat sy dalk kon voel, weg te steek agter werk en besig wees. Maar nou, nou word sy tot stilstand gedwing en kan sy die stem in haar kop nie ignoreer nie.

      * * *

      Tussen die spinnerakke in die pakkamer grawe Chris rond op soek na die swembad se toetsstelletjie. Hy kry die stowwerige stelletjie uiteindelik tussen tuingereedskap en vat dit swembad toe, waar hy begin voorberei om die water te toets. Hy kniel en skep water uit die yskoue swembad, voeg ’n druppel chloorneutraliseerder by plus vyf druppels rooi oplossing om die