Die pandjieswinkel sal haar laaste uitkoms wees die dag wanneer sy geen ander keuse meer het nie.
Volgende haal Rachel ’n pak meticais, Mosambiekse banknote, uit wat sy hou vir die dag wat sy dalk so vinnig Inhassoro toe moet gaan dat sy nie tyd het om geld om te ruil nie. Sy sit die geld op die dennetafeltjie wat ’n ent van haar bed af staan.
Die plek wat die afgelope ses jaar haar tuiste is, is nederig. Die meubels is meestal ou goed van die Jordaans en ’n paar stukke wat sy self gekoop het by garageverkopings in die buurt. Die slaapkamer is oop na die kombuis en leefarea en daar is ’n aparte badkamertjie. Haar woonplek is klein, maar sy kla nie, want sy weet dis strate beter as die sinkhuisies waarin sommige huiswerkers woon.
Die tafel met sy twee stoele is die middelpunt van die vertrekkie. Dit word gebruik vir eet, lees en stryk. Nie meer as ’n armlengte ver nie is die kombuisie met sy tweeplaatstofie en opwasbak. In die slaapdeel staan ’n enkelbed, kanttafeltjie met ’n leeslampie eenkant ingedruk, en oorkant dit ’n laaikas waarin Rachel al haar besittings bêre. Bo-op staan ’n klein swart-wit TV.
Rachel haal haar paspoort uit die blik en sit dit langs die stapel note neer. Die goue landswapen gloei teen die blou agtergrond in die lig van die kaal gloeilamp wat in die middel van die vertrek hang.
Sy grawe weer in die blik en haal ’n verweerde foto uit. Sy onthou so goed die dag toe dit buite haar ouers se huis met ’n weggooibare Kodak geneem is. Sy het Sergio, die bure se seun, gevra om die foto te neem sodat die hele gesin daarop kon wees en hy moes drie neem ingeval een nie goed uitkom nie.
Met ’n moeë glimlag bekyk Rachel elke gesig, ’n oomblik wat vasgevang is voor sy na Suid-Afrika vertrek het. Sy het vir haar ouers probeer verduidelik hoe ’n mens vir ’n foto poseer, maar hulle het nie geweet hoe om te maak nie. Uiteindelik het sy gesê hulle moet net vir Sergio kyk en hulle mag nie wegkyk voor sy so sê nie. Andrea, haar jonger broer wat toe twee-en-twintig was, het langs haar ma gestaan en Rachel het met haar hande oor haar maag, wat nog nie begin wys het nie, gestaan. Haar pa het ten spyte van haar opdrag kant toe gekyk.
Rachel laat sak die foto in haar skoot. In die verte is daar die geloei van ’n sirene, seker op pad na ’n noodgeval. Sy ril en probeer haar ore sluit teen die klank. Vir ’n oomblik voel sy duiselig en naar.
Draaiende rooi ligte weerkaats op nat teer, flitsend en draaiend.
Die dag toe haar wêreld verander het.
In ’n poging om haar aandag af te trek, onthou sy die gesprek wat sy vanoggend voor die ontmoeting met die Jordaans met haar ma gehad het. Sy praat gewoonlik Sondae met haar ouers, meestal van die betaalfoon buite die hoekwinkel op pad terug van die kerk af. Dit is goedkoper as ’n selfoon en wanneer dit kom by internasionale oproepe, duideliker ook. Die afgelope paar maande is haar ma die enigste een wat na die foon kan loop, want haar pa se besering maak dit vir hom te moeilik.
Vandag se oproep was nie anders as die voriges nie, behalwe dat sy nie kerk toe was nie en reguit na die betaalfoon gestap het om te bel. Die foon het vyf maal gelui voor Anisia, die telefoonoperateur, dit in Portugees geantwoord het. Rachel, wat saam met Anisia grootgeword het, het teruggegroet en gewag dat sy die foon vir haar ma aangee.
“Dit gaan goed met jou pa. Hy kan nog nie ver loop nie, maar hy kan staan.”
“Ek is bly, Mama.”
“Daar’s nou al vir vyf dae nie water nie.”
“Hoeveel het julle?”
“Ons behoort genoeg te hê vir drie dae as ons nie was nie. Toe daar laas water was, het ons die bad en al ons emmers volgetap.”
“Het julle die geld gekry wat ek gestuur het?”
“Ja. Jou neef is af Kosibaai toe en het vir ons kos gekoop by die Suid-Afrikaanse winkels, want daar’s niks hier nie. Ons het al die geld opgebruik wat jy gestuur het.”
“Ek sal probeer om nog te stuur wanneer ek weer betaal word.”
“Ai, dankie, my dogter. Is Maia by jou?”
Rachel het die foon weggevat voor haar mond.
“Rachel?”
Sy het haar asem diep ingetrek. “Nee, Mama. Maia is nie by my nie.”
Daar was ’n stiltetjie voor haar ma weer gepraat het.
“Jy klink siek, my kind.”
“Nee wat, Mama, ek’s net moeg.”
“Jy moet rus, Rachel. Al daai lugbesoedeling in daardie stad maak jou siek …”
Sy het haar hand oor die mondstuk gesit toe trane oor haar wange begin stroom. Hierdie vloed van emosie moes sy van haar ma weghou.
“Ek moet nou gaan, Mama. Hier’s mense wat wag om te bel.”
Rachel het die foon neergesit sonder om haar ma kans te gee om te antwoord. Sy het haar kop teen die muur laat sak en begin huil, al die trane wat sy vir haar ouers moes wegsteek en ondanks verbygangers wat haar aangestaar het. Sy sal hulle vertel wanneer sy terug is in Mosambiek, maar nou moet sy eers sterk wees en uitwerk wat haar volgende stap moet wees.
Haar werk beteken geld. Dis ’n dak oor haar kop. Dit hou haar ouers aan die lewe en dit beteken sy kan wettig in Suid-Afrika wees. Sy weet hoe moeilik dit is om werk te kry, veral as ’n huiswerker wanneer daar tien ander vroue gereed staan om die werk te doen vir die helfte van haar salaris. Sy het die vragmotors by die grenspos gesien wat onwettige werkers terugneem Mosambiek toe en sy het die stories gehoor van weke in aanhoudingsentrums as jy in Suid-Afrika betrap word sonder ’n werksvisum.
Sy pak haar goedjies netjies terug in die rooi koekblik en nuwe trane stroom oor haar gesig. Die stil vertrek bied geen troos vir die pyn wat sy voel nie.
Sy het geen keuse nie.
Hoofstuk 2
—
Januarie 2014
Rachel trek Maia se lyfie styf teen hare as troos teen die skril geskree van die wekker wat die begin van haar dag beteken. Hulle deel die enkelbed en dit werk goed in die vreeslike winters, maar in die somer, veral ’n warm een soos dié, is dit ongemaklik. Sy voel Maia se borsie lig en val, haar hartklop in pas met elke asemteug.
Toe die plastiek-wekkerradio op die bedtafeltjie aanklik, word die kamer gevul met die vrolike stemme van ’n gospelkoor wat in Tswana God en sy goedheid besing. Sy praat die taal nie eintlik nie, maar sy het darem deur die jare genoeg woorde geleer om die boodskap te verstaan. Sy maak haar oë oop en sien dis inderdaad vyfuur. Dit is klaar effens lig in hulle kamer, maar sonsopkoms is eers oor ’n uur.
Sy staan suutjies op van die dun matras sodat Maia nie wakker word nie. Sy haal haar kamerjas af van sy haak agter die deur.
Die gospelliedjie is klaar en die aanbieder begin praat; heeltemal te opgewek vir dié tyd van die dag, dink Rachel. Sy slof saggies tot by die skakelaar en skakel die lig aan. Die vertrek word dadelik tot in elke hoek deur die kaal gloeilamp verlig. Daarna stap sy na die stofie en gooi twee koppies mieliemeel in ’n kastrol. Sy voeg vier koppies water uit die kombuiskraan by en skakel die plaat aan.
Met die pap liggies aan die prut, maak Rachel die badkamerdeur oop en tap warm water in die bad. Sy trek vinnig haar nagklere uit, klim in die water, smeer haar waslap vol seep en begin haar was. Sy spoel die skuim af, was haar gesig en klim uit om haar met die verslete blou handdoek af te droog voor sy room aan haar gesig smeer.
Ouerword en moederskap het merke gemaak en al weeg sy net vyf kilogram meer as toe sy ’n tiener was, is haar ferm lyf besig om die jeugdigheid te verloor wat sy tevore as vanselfsprekend aanvaar het. Sy kyk na haar maag toe sy lyfroom smeer aan die growwe litteken waar hulle Maia uit haar gesny het.
Rachel los die water in die bad en glip ’n paar jeans, hemp en trui aan – alles klere wat Michelle uitgegooi het. Een van die byvoordele van haar werk is dat sy dieselfde nommer as haar werkgewer dra, wat beteken elke keer as Michelle