Sink. Brett Michael Innes. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Brett Michael Innes
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624081357
Скачать книгу
die mure is wit geverf en die skeidsmuur tussen die kombuis en leefvertrek is afgebreek. Elke vertrek is onder Michelle se wakende oog deur ’n topontwerper versier en die vermenging van meubels en kuns, alles in ’n palet van grys, room en beige, is aangevul deur teksture van hout en wol. Die kombuis was die ergste en op die ou end het hulle die hele spul uitgeruk en laat oorbou. Hulle het marmer-werkoppervlakke, ’n Smeg-gasstoof, ingeboude kaste, ’n hoekspens, ontbythoekie, dubbeldeur-yskas (ook die begeerlike Smeg), wasmasjien, tuimeldroër, skottelgoedwasser en, in die hoek, ’n Italiaanse espressomasjien goed genoeg vir ’n restaurant laat insit.

      Die lewe is te kort vir kitskoffie.

      Michelle staan by die ketel en wag dat Chris antwoord, maar die sportgeluide is al wat sy hoor. Sy trek haar asem in om weer te roep en besluit toe daarteen. Sy sit een teesakkie terug in die houer en pak die Drama Queen-beker terug in die kas. Terwyl sy luister hoe die water begin kook, staar sy na die patrone in die marmer. Sy was steeds nie gelukkig met die spesifieke skakering van naaswit nie, maar toe sy die dag by die kombuis instap en sien die kombuisblaaie is klaar geïnstalleer, het sy besluit om stil te bly. Só het die werkoppervlakke vir haar ’n aanmaning geword dat as sy iets reg gedoen wil hê, of dit huisopknapping of die lewe in die algemeen is, sy dit nie aan Chris kan oorlaat nie. Hy was daar die dag toe die kombuisblaaie gelê is en toe sy later vir hom uitwys dat dit nie dieselfde wit is as die monster waarop hulle besluit het nie, het hy daardie tipiese glimlaggie van hom gegee en gesê niemand sal die verskil agterkom nie.

      En nou is hy dit weer aan die doen. Neem besluite namens haar en sê dan dit sal nie so sleg wees nie. Maar dit is nie nou ’n marmerwerkblad nie; dit is nie ’n skakering van naaswit waarby sy net kan verbykyk en maak of dit nie daar is nie. Wat dit erger maak, is dat anders as met die kombuisblaaie, dit nie Chris se fout is nie. Sy is die een wat blameer moet word vir die situasie waarin hulle vasgevang is en hoe graag sy ook al daarby wil verbykyk en maak asof dit nooit gebeur het nie, weet sy as Rachel vir hulle aanhou werk, gaan dit onmoontlik wees.

      Michelle draai om toe sy ’n gekrap aan die deur hoor. Dit is Hugo, hulle optelhondjie van onsekere herkoms, wat uitgelaat wil word. Sy buk af om die hond se kop te krap voor sy hom laat uitgaan. Toe hy klaar is met sy besigheid, draf hy terug met die trappe op en reguit na sy ontwerpersmandjie aan die ander kant van die vertrek waar hy nou sal opkrul vir die nag. Michelle glimlag toe sy die kombuisligte afskakel en na die ander kant van die huis stap. As dit nie vir haar verbod op diere in die slaapkamer was nie, het Chris beslis daardie mandjie by hulle voetenent staangemaak.

      * * *

      Op die diep leerbank rits Chris sonder enige doel of plan deur die kanale van die 49”-hoëdefinisie-TV wat hy en Michelle vroeër vanjaar aangeskaf het. Die rugby is al tien minute gelede klaar, maar hy is nog nie lus vir bed toe gaan nie. Hoewel hulle die duurste beskikbare pakket gekies het, verstom dit hom altyd dat daar nooit iets is om te kyk wanneer hy in die bui is vir TV nie.

      Hy kyk op die PVR watter episodes en flieks hulle opgeneem het. Daar is ’n paar sitkoms van twintig minute waarna hy kan kyk, maar hy weet Michelle het dit nog nie gesien nie en dit sal haar vies maak as hy dit sonder haar kyk. As jy ’n lewensmaat het saam met wie jy reekse kyk, is die eerste reël dat jy nie na ’n episode mag kyk as die ander een nie by is nie. Die tweede reël is dat jy kyk na dit waarvan jou vrou hou, wat beteken Chris kan nooit enigiets wat net effens na wetenskapsfiksie of ’n riller lyk, geniet nie. In hul besige dae het dit beteken wanneer hy wel tyd het om TV te kyk, is dit gewoonlik ’n banale werklikheidsreeks.

      Hy rol deur al die opgehoopte werklikheidsreekse op soek na die finale episode van ’n wetenskapsfiksiereeks wat hy weet hy verlede maand opgeneem het. Toe hy by die einde van hulle versameling kom, besef hy Michelle moes dit uitgevee het om te plek te maak vir iets anders, iets wat sy wou kyk.

      Chris skud sy kop en tel sy silwer iPad Air op. Hy klik deur sy apps met CNN wat op die agtergrond blêr. Michelle het die tablet vir hom vir Kersfees gegee en na ’n dag se rondspeel daarop, het hy dit onder die knie gehad en was hy verslaaf. Hy kan ure lank verskillende apps uittoets en sy gunstelinge is dié vir sosiale media.

      Hy maak sy Facebook oop en glimlag toe hy die rooi ikoon sien wat aandui hy het twaalf nuwe kennisgewings. Daar is die gebruiklike Candy Crusher-uitnodigings, wat hy dadelik uitvee, en ’n paar “likes” en opmerkings by ’n foto wat hy geplaas het van die cappuccino wat hy vanoggend by The Whippet gedrink het. Hy klik deur sy tydlyn, “like” hier ’n foto van ’n vriend se baba, wens daar mense geluk wat pas verloof geraak het en wens ook sommer ’n neef geluk met sy verjaardag, ’n datum wat hy in sy lewe nooit sou onthou as Facebook hom nie herinner het nie.

      Hy bekyk die mense in die “People you may know”-afdeling wat die Facebook-algoritme vir hom verwerk en uitgespoeg het. Die voyeuristiese aspek van Facebook is iets wat hy geniet. Hy bekyk dikwels die profiele van ou vriende en selfs vreemdelinge om te sien hoe hulle leef en hom in te dink hoe hy sou reageer as hy hulle ooit in lewende lywe moes ontmoet.

      Die eerste een vir nou is Nicholas Alexander, ’n ou saam met wie hy op hoërskool waterpolo gespeel het en wat hy in jare nie gesien het nie. Chris gaan in op Nicholas se profiel, maar die veiligheidstellings laat hom nie toe om meer as die profielfoto te sien nie. Hy druk die “Add”-knoppie en keer terug na “People you may know” om te sien wie nog daar is.

      Anja Fouché is volgende, ’n aantreklike rooikop wat onlangs by sy firma aangesluit het as een van die direkteure se PA. Hy kan nie sê hy ken haar nie, want hulle het mekaar eintlik nog net in die verbygaan gesien. Haar werkstasie is aan die ander kant van die groot oopplankantoor. Chris maak haar profiel oop en sien daar is geen aktiewe veiligheidstellings nie; haar foto’s en persoonlike inligting is vrylik beskikbaar vir enigiemand wat wil kyk. Volgens haar “About”-afdeling is sy vier-en-dertig, Christelik, niepolities, het sy op Wits studeer en is sy, vreemd genoeg, enkellopend. Chris begin blaai deur haar fotoalbums, eers na hy instinktief opgekyk het om te sien of Michelle dalk ingeloop het. Daar is Anja op partytjies en bergkruine, voor Europese toeristeattraksies, by die eindstreep van driekampe. Op al die foto’s lyk sy natuurlik en lewenslustig, soos ’n vrou wat haar lewe en haar onafhanklikheid geniet.

      Hy kyk na die “Add”-ikoon en vir ’n oomblik oorweeg hy dit om daarop te klik. Die tyd-ikoon boaan die skerm wys dis 22:54, ver verby sy gewone slaaptyd, en hy skakel die tablet af. Hy sal môre by die werk uitkyk vir Anja. Niks sal daarvan kom nie, natuurlik, maar noudat hy haar lewe in foto’s gesien het, is hy nuuskierig om te hoor hoe haar stem klink.

      * * *

      Dit wat tevore die “bediendekamer” genoem sou word, is ’n onopvallende geboutjie eenkant op die Jordaans se erf. Om dit ’n kothuis te noem sou oordrewe wees, want die enkelkamer met sy badkamer langsaan het min van die knusheid wat ’n mens met ’n kothuis assosieer.

      Rachel sit op haar bed met ’n ou rooi koekblik in haar koue hande.

      Die bittere koue van Johannesburg se winters is iets wat sy nie verwag het toe sy die eerste keer in Suid-Afrika aangekom het nie. Sy het steeds nie regtig daaraan gewoond geraak nie. Die koue vang haar nog elke jaar en vanjaar voel dit of dit vroeër gekom het. Dis nie dat die temperatuur so laag is in die winter nie – Chris het eenkeer vir haar verduidelik in Europa sal Johannesburg se winter tel as heerlike herfsdae – dis net dat die huise vir die somer ontwerp word en nie hitte kan binnehou nie. Die dae is sonnig, maar snags sak daar ’n ysige koue toe waaraan nie eens haar verwarmertjie iets kan doen nie. Rachel het gou geleer om met ’n baadjie en twee paar sokkies in te kruip as sy ’n ordentlike nagrus wil inkry.

      Sy haal die blik se deksel af en sit dit op die kussing langs haar neer. Toe sy ’n paar papiere uitlig, klingel sleutels en munte op die blikbodem. Sy haal iets uit wat min weeg, maar vir haar is dit nie iets kleins nie – dit is toegedraai in sneespapier en sy maak dit versigtig oop. Dit is ’n diamantring. Sy hou dit op teen die lig en sien hoe die juweel steeds in die lig blink. Sy het die ring opgetel op ’n strand buite Inhassoro, ’n gelukskoot wat haar laat glo goeie dinge kan ook partykeer met iemand soos sy gebeur. Sy was nog nie lank in Johannesburg nie toe sy dit na ’n pandjieswinkel neem om te hoor wat dit werd is. Hulle het vir haar gesê so R8 000. Sy wou dit nie verpand nie, want dit sou slimmer wees om dit eers te hou