Rachel stap uit die badkamer na die stofie om te kyk hoe ver die pruttende pap is. Daarna loop sy tot by die bed en skud Maia liggies aan die skouer.
“Kom kindjie, jy kan nie vandag laat lê nie.”
Stadig begin die kombers beweeg en Rachel kyk hoe haar dogter se slaperige gesig onder die beddegoed uitkom. Sy gee een lang gaap en sit met toe oë regop. Sy is op die punt om weer terug te lê. Rachel glimlag – sy ken die versoeking maar te goed – en skud die dogtertjie weer.
“Gaan badkamer toe en maak jou reg vir skool. Ons kan ontbyt eet wanneer ek terug is.”
Met haar oë steeds toe knik Maia haar kop. Sy klim uit die bed en stap stadig badkamer toe. Rachel kyk by die venster uit. Dit gaan ’n mooi dag wees. Die voëls is aan die sing in die bome. Sy loer vinnig by die badkamer in. Maia sit steeds half aan die slaap in die bad en spat water oor haarself. Sy kyk op en glimlag vir haar ma.
Rachel glimlag terug. “Ek is nou-nou terug. Was mooi.” Sy maak die deur oop en stap vinnig uit na die oprit wat haar blyplek van die groot huis skei. Die plaveisel is toe onder dou wat in die oggendlig weerkaats en terwyl sy vinnig by die dubbelmotorhuis verbyloop, herinner sy haarself dat sy later die week moet ruite was. In die middel van die oprit is ’n reuse-eikeboom. In die somer is hy oortrek met ’n vrag groen blare wat skadu gee en vir haar ’n sitplek word wanneer sy haar middagete buite wil eet. Sy kyk op en sien die oggendson begin net-net tussen die blare deur loer.
Die eerste keer toe Rachel die Jordaans se huis binnestap, kon sy haar oë nie glo nie. Sy het in Maputo groot huise gesien, maar dit behoort aan politici en ryk sakemanne wat ’n leeftyd lank al hard werk, nie aan gewone mense wat net so oud soos sy is nie.
Sy loop met die trappe op na die voordeur. Die donker hout word omring deur klipwerk wat dit verwelkomend laat lyk, maar ook asof geen boef maklik daar sal inkom nie. Rachel haal haar bos sleutels uit. Eers sluit sy die metaalveiligheidshek oop, toe die deur. Die skarniere kraak toe sy dit oopstoot. Die alarm biep dringend en voor dit kan afgaan, tik sy vinnig die kode in op die paneel langs die interkom.
Haar vroeë inkomtyd is deel van ’n ooreenkoms met die Jordaans: As sy die skottelgoed en wasgoed aan die gang kan kry, kan sy Maia tussen halfsewe en agtuur by die skool besorg.
Sy kyk af na Hugo, die snaakse hondjie wat die Jordaans die vorige maand hier aangebring het, wat met sy kwispelende stompiestert vol verwagting na haar opkyk. Sy skud haar kop en hou hom met een voet terug terwyl sy die portaalligte aanskakel om die donker gang voor haar te verlig. Die hele muur is behang met foto’s wat op seildoek gedruk is van die Jordaans op hulle troudag. Hulle lyk heelwat jonger en baie verlief op die foto’s vol son en lig. Blykbaar het hulle een van die beste fotograwe in Suid-Afrika gehuur om hulle troue af te neem; daar is ook ’n spogboek wat in die sitkamer uitgestal word met foto’s wat alles wys wat daardie dag gebeur het, van die voorbereidings tot die onthaal. Dikwels wanneer die Jordaans nie hier is nie en Rachel moet wag dat die wasmasjien klaarkry, blaai sy deur die boek en staar na die pragtige foto’s van haar werkgewers. Hulle het soos van die modelle gelyk wat sy op die voorblaaie van tydskrifte in die winkel sien. Soms wonder sy of sy ook so mooi sou lyk in ’n trourok.
Rachel loop kombuis toe met Hugo kort op haar hakke en maak die blindings oop. Die oggendlig val die vertrek vol en sy draai om om die espressomasjien en die ketel aan te skakel. Daar is ’n plassie op die teëlvloer langs Hugo se mandjie. Sy skud haar kop toe sy afbuk om dit op te vee met papierhanddoeke. Dit is elke oggend se ding vandat die hond hier aangekom het. Sy is dankbaar dat dit ten minste nie ’n groot hond is nie. Sy weet Hugo sal om haar bly maal tot hy kos kry, dus haal sy die hondepille uit en skud die regte hoeveelheid soos Chris vir haar gewys het, in sy plastiekbak en sit dit op die vloer neer. Dadelik druk Hugo sy hele gesig daarin.
Voor sy dit in die skottelgoedwasser pak, spoel Rachel gisteraand se vuil borde en eetgerei af. Van al die take wat van haar as huiswerker verwag word, is skottelgoed die een wat sy nie omgee om te doen nie. Die warm water is vertroostend en die afspoel van die borde en koppies is ’n eenvoudige takie waar jy dadelik die vrug op jou arbeid sien. Maar Michelle verkies dat sy die skottelgoedwasser gebruik, daarom pak sy nou die masjien, druk die tablet in sy vakkie en stel die masjien om sy wassiklus te begin. Toe sy opkyk na die groot muurhorlosie, sien sy dis 05:50 en nadat sy twee bekers op die warm espressomasjien neergesit het, stap sy vinnig terug kamer toe.
Sy maak die deur oop en daar sit Maia lepel in die hand aan tafel, aangetrek en reg vir ontbyt. Rachel glimlag vir haar dogter en trek die deur agter haar toe. Sy haal die kastrol van die plaat en skep die dik, wit pap in hulle bakkies. Sy sit een bakkie voor Maia neer en kyk haar stip aan toe sy die suiker aangee. Maia is gek na suiker en skep altyd ’n paar ekstra lepels as sy nie kyk nie.
“Een lepel, Maia,” sê sy outomaties.
Maia sit die lepel wat reeds gelaai is met die tweede wit heuweltjie terug in die suikerpot en begin haar warm pap roer. Sy bring die lepel na haar mond en wil net hap toe Rachel haar keer.
“Pasop, dis warm.”
Maia stop en blaas eers. Na ’n rukkie kyk sy op.
“Mag ek nou eet?” vra sy in Portugees.
“Net as jy in Engels vra.”
Rachel het verlede jaar besluit Engels sal Maia se eerste taal wees, want dié taal en die regte aksent sal in die toekoms vir haar meer deure kan oopmaak as ’n buitelandse een. Dit was ’n gesukkel om Maia te laat oorslaan van Portugees, maar toe sy eers kleuterskool toe is, het dit baie makliker geword. Al die kinders daar praat Engels.
“Mag ek nou eet?” vra Maia weer, dié keer in Engels.
Rachel frons. “En wat het van jou maniere geword?”
Die meisietjie trek haar asem diep in om ’n derde keer te vra.
“Mag ek nou eet, asseblieeef?”
Rachel lag en knik.
“Ja, jy mag maar.”
Hulle eet hulle pap en teen die tyd dat dit 06:20 is op die radiowekker staan hulle gereed, die papbakkies gewas en op die droograk. Op Maia se rug is die tweedehandse pienk Barbie-rugsak wat een van Chris se vriende vir haar gegee het. Rachel het een van Michelle se ou baadjies aan.
“Het jy alles?”
Maia knik en die twee is uit by die syhekkie langs die oprit, gereed vir die twee kilometer lange staptog na Maia se skooltjie.
* * *
Michelle lê met toe oë in hulle koninggroottebed en luister na Chris se rustige asemhaling onder die duvet. As dit nie vir dié byna onhoorbare geluid was nie, sou sy nie weet of hy nog leef nie. In hul eerste huweliksjaar het sy dikwels in die middel van die nag wakker geword en eers seker gemaak dat die roerlose man langs haar nog asemhaal. Sy was nog altyd ’n ligte slaper en dit het haar ’n ruk gevat om gewoond te raak daaraan om ’n bed te deel, al het haar bedmaat die slaap van die dooies geslaap.
Michelle is gewoond aan laat bed toe gaan en vroeg opstaan. Haar werk as handelsmerkspesialis vereis dit van haar. Haar maatskappy se kantore is in Sandton, die finansiële hart van Johannesburg, en sy is verantwoordelik vir die rekening van een van die land se grootste telekommunikasiemaatskappye met bemarkingsuitgawes van miljoene rand. Sy weet presies wat haar kliënt se behoeftes is en is trots daarop dat die span geen belangrike besluite sonder haar neem nie.
Sy tel haar iPhone op en tuur met slaperige oë na die verligte skerm. Dit is 06:28 en sy het twee minute voor die alarm lui. Sy strek haar van kop tot toon uit om behoorlik wakker te word. Sy lê en bekyk die slapende Chris en sien al die dingetjies raak wat ’n mens net met tyd en fisieke nabyheid leer ken. Die laglyntjies in die hoeke van sy oë begin nou al plooitjies word en aan die kant van sy kop verskyn die eerste grys strepies. Maar hy word mooi ouer; sy seunsagtige voorkoms begin oorgaan in ’n volwasse aantreklikheid. Sy leun oor en kielie sy arm saggies.
“Opstaantyd, liefie.”
Chris kreun en kruip dieper onder die duvet in.