Hulle het al vir hulle ouers en ’n paar hegte vriende vertel, maar nog nie “amptelik” iets op Facebook gesê nie, want hulle wou eers wag vir die skandering. Chris wil dit graag op ’n oorspronklike manier doen. Hulle speel met die idee van ’n foto van ’n broodjie wat in die oond bak, of net die ultraklankfoto self. Chris het die verpligte selfie van hulle twee geneem tydens die skandering, Michelle met ’n breë glimlag, al het sy nie fantasties gevoel nie.
Sy is dankbaar die afspraak by die ginekoloog is op Rachel se eerste dag terug, want dit gee hulle ’n goeie verskoning om nie by die huis te wees nie. Chris, daarenteen, is nie te gelukkig daarmee nie – hy wou gehad het hulle moes daar wees sodat sy welkom kan voel.
Michelle sit haar iPhone weg en kyk oor die lessenaar na dokter Pieterse wat besig is met ’n dringende oproep van een van haar ander pasiënte. Terwyl sy luister hoe die dokter raadgee, wonder sy of sy ook een van daardie pasiënte gaan wees wat haar ginekoloog bel oor elke pyntjie en gewaande krisis.
Die gesprek kry nie einde nie en die dokter beduie ’n verskoning met haar oë, wel wetend dat die oproep inbreuk maak op hulle afspraak. Sy werk vanuit die Sandton Mediclinic en is een van die topginekoloë in Johannesburg. Haar geduld met die vrou op die foon stel Michelle egter nogmaals gerus dat sy in goeie hande is. Sy is al ’n paar jaar by dokter Pieterse en sy vertrou haar. Die vrou het hulle begelei deur die fisieke en emosionele mynveld wat paartjies deurswoeg wat sukkel om swanger te raak. Michelle hou haar dop toe sy die gesprek begin afsluit; die professionele fasade wyk nie vir ’n oomblik nie. Sy dink skielik daaraan dat sy nou in ’n vertrek is met die twee mense wat haar lyf van binne en buite ken – een as geneser en die ander as minnaar.
“Jammer hieroor.” Dokter Pieterse sit die telefoon neer en draai na hulle. Sy tel hulle lêer op en kyk na die aantekeninge wat sy vroeër gemaak het. “Ek weet julle wag al baie lank vir hierdie baba, dus gaan ek baie reguit wees,” sê sy. “Ek is bekommerd oor die baba se hartklop. Dis effens swak en jou bloeddruk, Michelle, is heeltemal te hoog.”
Michelle neem die inligting in en wag dat die dokter voortgaan.
“Ongelukkig is medikasie nie ’n opsie nie, dus sal ons moet kyk na maniere om jou leefstyl aan te pas. Hoe gaan dit by die werk?”
“Werk? Dis besig, maar dis mos maar hoe dit is met bemarking.”
“Baie stres?”
“Nie meer as ander mense nie.”
“Kyk, hoë bloeddruk het dikwels te make met stresvlakke en dieet. Gegewe jou ouderdom en die data wat ek hier het, sal jy minder moet werk.”
“Hoe so? Halfdag werk?”
Michelle verstaan nie wat sy hoor nie. Sy los Chris se hand, leun vorentoe en wag op ’n verduideliking. Die dokter huiwer, asof sy tyd nodig het om haar woorde agtermekaar te kry sodat haar pasiënt kan begryp.
“Ek bedoel, jy moet heeltemal ophou werk.”
Michelle sit terug en probeer die inligting verwerk. Sy is stom van skok. Ses maande van nie werk nie? Waar ander mense ses maande se huisrus sou verwelkom, klink dit vir haar soos ’n tronkvonnis. Sy kyk na Chris wat sit en grinnik.
“Jy ken my vrou glad nie, dokter Pieterse.” Hy sit sy hand op Michelle se skouer. “Dis ’n vrou dié wat haar skootrekenaar saamgeneem het op ons wittebrood. Mauritius toe.”
Dokter Pretorius vind dit nie snaaks nie.
“Ek dink nie my werk is die probleem nie,” protesteer Michelle. “Ek ken baie vroue wat sonder probleme tot op agt maande bly werk het. Ek kan nie net ophou werk nie.”
“Michelle, wil jy hierdie baba hê?”
“Natuurlik! Watse vraag …”
“Dan is die kry van hierdie kind nou jou werk. Jou voltydse werk vir die volgende ses maande.”
Die dokter se stemtoon laat geen twyfel dat dit nie ’n voorstel is nie.
* * *
“En nou kan ek nie eens meer koffie drink nie.” Elke woord drup van Michelle se frustrasie.
Hulle sit by een van die houttafels by The Whippet, ’n eetplek in die hart van Linden wat ’n trekpleister is vir mense soos hulle.
Chris drink selfbewus aan sy Americano. Hy weet sy vrou wag dat hy iets sê en hy moet sy woorde tel. Wanneer Michelle so raak, soek sy altyd iemand om mee te baklei en as sy dit nie kan doen met mense vir wie sy kwaad is nie, gebruik sy hom maklik as haar slaansak.
“Hoekom bestel jy nie vrugtesap nie? Of ’n bottel water?” stel hy versigtig voor.
“Jy weet ek haat water.”
Chris sug en begin lees die spyskaart sodat hy nie hoef voort te gaan met die gesprek nie, maar hy kan voel hoe gluur sy hom aan. Hy kyk op en soos hy gedink het, is sy nie beïndruk met hom nie.
“Wat?” vra hy en Michelle skud haar kop.
“Wat gaan ons doen? Jy weet ons het albei ons salarisse nodig om deur die maand te kom. Daar’s geen manier dat my maatskappy my ses maande betaalde verlof sal gee nie.”
“Ek weet nie,” sê hy en sit die spyskaart neer. “Ek is seker ons sal ’n plan kan maak.”
“Dis nou vir jou ’n fantastiese houding.” Sy sit woedend terug in haar stoel.
Die kelnerin kom nader en vra of hulle enigiets wil eet. Chris kyk na Michelle, maar dié ignoreer die vraag. Hy bestel ’n tramezzini met spek en eier en gee die spyskaarte terug vir die kelnerin. Hy kyk weer na Michelle. Hy kan behoorlik sien hoe haar emosies onder die oppervlak kook en probeer hom indink hoe sy moet voel. Hy kyk af en sien die grys hond waarna die restaurant vernoem is tussen die tafels deurloop op soek na ’n stukkie oorskiet wat iemand vir hom wil gee.
“Ek dink dokter Pieterse het dit baie duidelik gestel.” Chris se stem is sag en simpatiek.
Hy wag dat die klippie die water tref. Hy bestudeer Michelle se gesig. Sy kyk op en haar oë blink van die trane wat sy met alle mag probeer binnehou.
“Dis maklik om te sê as jy nie die een is wat dit moet doen nie.” Sy doen haar bes om haar stem egalig te hou.
“Moenie, jy’s nou onregverdig.”
Michelle kyk weg. Om te breek deur die muur wat sy tussen hulle opsit, leun Chris vorentoe en vat haar hande wat op die tafel rus in syne vas. Hy moet vir haar sy hart wys.
“Ons sal dinge kry wat jou help om die tyd om te kry. Ons sal …” Die sin word afgesny deur die kelnerin wat sy broodjie bring. Chris bedank haar en begin dokter die eiers met sout. “Is jy seker jy’s nie honger nie?”
Michelle skud haar kop.
Chris neem ’n hap van die tramezzini. Michelle was reg; hulle sal nie hulle leefstyl kan voortsit met net sy salaris nie. Die waarheid is dat sy nog altyd meer as hy verdien het en dit het niks aan sy ego gedoen nie, maar nou kan hy sien dat hulle hulself in ’n hoek vas geverf het. As Michelle fisiek nie in staat is om ’n salaris te verdien nie …
Maar geld, weet hy, is nie die enigste probleem nie.
Rachel se naam is nog nie genoem nie, maar Chris weet sy is een van die redes waarom Michelle nie aan die huis gekluister wil wees nie. Hy kan haar nie blameer dat sy so voel nie, maar hy kan nie aan ’n manier dink om daarby verby te kom nie. Hulle kan Rachel nie afdank nie en hulle sal haar beslis nie geldelik kan help as hulle iemand in haar plek aanstel nie.
Sy iPhone biep en hy sien dis een van sy kollegas. Hy glimlag terwyl hy aan ’n gevatte antwoord dink.
“Ek sal my werk môre laat weet,” sê Michelle nors.
Chris kyk vinnig op en knik terwyl hy tik.
“Ek sal eers die Franse veldtog moet