Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie as Elbie Lötter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795707506
Скачать книгу
weet nie, nee. Nie juis nie.

      “Maar waar kry mens sulke goed?”

      “By die klinieke, en as jy ’n aktiewe suster soos myne het, by haar. Dit is die laaste ding waaroor ek my bekommer.”

      “Waaroor bekommer jy jou dan?”

      “Hulle sê dis seer, die eerste keer.” Sy het haar kop opgelig en na my gekyk. “Maar Deon sê dis nie so erg nie, dit bloei net ’n rukkie en ’n mens moet aanvanklik ly om dit werklik te geniet.”

      Moenie! wil ek vir haar skree, moenie, dis nie net ’n bietjie seer nie, dis verskriklik seer, dit bloei nie net ’n bietjie nie, dit bloei baie! Moenie, want dis nie waar dat dit lekker is nie, dis seer, dis vernederend, hy stomend, stoeiend, rukkend bo-op jou. Moenie! Maar ek sê niks. Soos gewoonlik. Ek het nie woorde om my vriendin te waarsku nie. Ek kan nie. Wil, maar kan nie. Moenie, Helena, moenie, nooit nie.

      “Het jý al?”

      “Nee!” Ek het dit vinnig in haar gesig gesê.

      “Ek het nie so gedink nie, hoor. Deon sê al die seuns is mal oor jou maar ook bang, jy laat hulle minderwaardig voel, jy kyk dan nooit eens vir hulle nie al probeer hulle jou ook hóé beïndruk.”

      “O!” Ek was regtig nie bewus daarvan nie, om die waarheid te sê, ek het nooit eens aan die moontlikheid van ’n ou gedink nie.

      En tog, dit sou lekker wees om iemand te hê wat saam met jou na sokkies kon gaan, of na jou opvoering kon gaan kyk, selfs te soen, nét te soen. Ek het nog nooit ’n seun gesoen nie, het ek met verwondering gedink. Nog nooit. Mens sou dink met my “ondervinding” dat dit die eerste ding sou wees wat ek sou baasraak, maar godsgeluk, hy het my nog nooit gesoen nie. Die vraag is natuurlik of ek wou hê dat ’n seun mý soen, ek dink ek sou dit meer geniet as ék die soene uitdeel. Ek sou besluit met wie, waar, hoe en tot waar daar gevry word. Ek. Nie ’n man nie. En wanneer ek genoeg geld het – ek het besluit om al die geld wat hy my aanbied, te vat, nee, te gryp – sou ek vir my vlerke bou sodat ek kon wegvlieg, ver van hom, ver van my ma wat niks sien nie. Ver weg van alles.

      Ek is die volgende oggend gesond genoeg verklaar om skool toe te gaan. Deur Ma. Ek dink dat sy my so gou as moontlik uit die huis wou hê, skool toe, sodat ek weer “normaal” kon wees.

      “Anna, ek sukkel vreeslik met my pirouettes,” het Helena op ’n dag gekla. “Jy’t mos gehoor hoe Miss Dolly aangaan omdat ek nie my kop vinnig genoeg draai nie, ek weet nie hoekom sy so ’n moeilike stuk uitgedink het nie. Sal jy my asseblief ná skool daarmee help? Jy doen dit volmaak, soos sy altyd vir my sê, toe man, jy doen tog niks vandag nie, en my pa het vir my die garage as dansateljee ingerig.” Verwytend het sy bygevoeg: “Jy’t nog nie eens kom kyk nie.”

      “Ek kom ná middagete. En in elk geval, dit is nie so ’n moeilike stuk nie, ons gaan ‘spectacular’ wees, om Miss Dolly aan te haal.”

      Sy het gelag, ’n paar wilde draaie gemaak, ’n volmaakte curtsy gedoen. “Help my tog net om spectacular te wees, en daarna gaan ons af strand toe. My pa is by die huis, hy sal ons gaan aflaai.”

      My hart was ligter toe ek by die huis kom.

      “Ma, ek gaan vir Helena vanmiddag help met haar turns, en daarna wil ons graag strand toe gaan, sal dit reg wees? Ek sal nie te laat terug wees nie.”

      “Het jy nie huiswerk nie? Ek wil nie hê dat jou buitemuurs met jou akademies moet inmeng nie, jy weet hoe ek daaroor voel. ’n Mens kan niks in die lewe vermag sonder ’n goeie akademiese agtergrond nie.”

      “Ja, Maaa.”

      “Moenie so met my praat nie!” En toe sagter: “Jy kan gaan, solank julle net nie verwag dat ek julle moet heen en weer karwei nie.”

      “Nee, Ma, Helena se pa is by die huis, hy sal ons vat. Sal Ma my asseblief, groot asseblief, net by haar gaan aflaai? Ek sal haar pa vra om my weer hier te kom aflaai.”

      Sy het gesug, haar oë gerol, maar dit in elk geval gedoen. Ek het geweet sy sou. My ma het die manier gehad om altyd te maak asof alles wat ek haar vra, vir haar te veel moeite was, maar ek het geweet dit was net kamstig. Al my vriende was bang vir haar, sy het altyd gelyk asof sy jou enige oomblik gaan invlieg oor iets, tog het ek geweet sy was nie so nie. Dit was maar haar manier. Ek dink dit was sodat almal wat haar ontmoet, van die begin af moes weet dat mens nie met haar kanse waag nie.

      Soms het ek gewéét dat sy vir my lief is.

      “Dis mooi!” het ek verras uitgeroep toe Helena die binnedeur van die garage met ’n swaai van haar hand vir my oopmaak. Dit wás mooi. Haar pa het baie moeite gedoen.

      Daar was ’n barre teen die een muur en genoeg vloerspasie om ’n opvoering te hou. Ook, het ek verras opgemerk, ’n nuwe hoëtroustel.

      “Dankie! My pa het alles self gedoen, ook die posters gaan uitsoek en opgeplak.”

      Daar was ballerinas teen die mure, selfs ’n prent van klein pokkelkinders in pienk tutu’s.

      “Ek het gedink ons oefen net so ’n uur en dan kan ons strand toe gaan. My pa moet ’n kliënt by die kantoor gaan spreek, dit behoort ongeveer twee uur te duur, so, ons kan vir twee volle ure op die strand lê en bruin word. Dis al somer en kyk hoe wit is ek nog.”

      Die hele volgende uur het ons hard geoefen, haar pirouettes was vreeslik. Ek moes haar gereeld stop en dit weer laat doen.

      “Nee, Helena, jou kop moet vóór jou lyf vorentoe kyk, hulle kan nie saam wees nie.”

      “Ek kan in elk geval nie verstaan hoekom nie, die mense behoort na ons voete te kyk, nie ons koppe nie.”

      Ek het net gelag. “Kom ons probeer dit weer.”

      Haar pa het ons daar in haar “ateljee” kom roep, hy was gereed om te ry.

      Daar was min mense op die strand, meesal net ou tannies en ooms, soos gewoonlik op weeksdae. Ek kon my altyd verkyk aan hulle; buite die water was hulle net ou mense, maar sodra die eerste brander oor hulle breek, het hulle in baldadige tieners verander. Of miskien ook nie tieners nie, óns was te bewus van ons lywe om baldadig te wees. Sommige van ons kón nie baldadig wees nie. Ek het ouer as al die ooms en tannies op die strand gevoel. Oud en … opgebruik.

      Daar was natuurlik ook die gewone ma’s met hulle boepmagies, en kleuters. Ons het ’n plekkie ver van almal maar na aan die water gekies, ons handdoeke oopgegooi, boklere uitgetrek en gaan lê.

      “Jy’t ’n bikini aan!”

      “My ma het gekoop, sy koop altyd vir my een. Sou eerder ’n eenstuk wou hê.”

      “Soms is ek regtig jaloers op jou.”

      Ek het verras na Helena gekyk. “Hoekom?”

      “Kyk jy nooit in ’n spieël nie? Jy het die mees perfekte lyf wat ek nog ooit gesien het, en voor jy weer dink ek lieg, almal sê so. My ma, my pa, selfs my sussies. My ma noem jou Lyf. Soos in: wanneer kom Lyf weer vir ete.”

      “Jy’s laf. Dis seker my bikini wat die verskil maak. Jy het self die mooiste lyf. Veral jou bene.”

      “Anna,” – sy het soms nes my ma geklink – “ek mag dalk nie ’n te slegte lyf hê nie, maar jy het daardie iéts, almal sien dit raak. Mens kan nie help om dit raak te sien nie. Ek dink dis wat hulle bedoel met sex appeal.”

      “Soos in almal wat na my kyk, wil my steek?” Ek was vies, vir Helena én vir myself. Veral vir myself. Ek moes nooit die vervlakste bikini aangetrek het nie, volgende keer kom swem ek in ’n duikpak!

      “Nou is jy onregverdig. Jy weet goed dis nie wat ek bedoel het nie.” Sy was seergemaak. Ek kon dit aan haar stemtoon hoor.

      “Ek is jammer. Ek weet nie wat dit met my is nie. Die ding is, dis net ’n lyf, Helena. Ek wil nie hê dat mense net my lyf raaksien nie. Ek wil raakgesien word vir wie ek is, nie oor hoe ek lyk nie.”

      “Is dit hoekom jy altyd sulke vreeslike