“Hy en daai vriend, wat is sy naam tog, het gaan draf. Jy moet my help om na Carli te kyk.”
“Ja, maar Helena het my genooi om daar te gaan eet, ek moet nog bad en aantrek, Ma het gesê dis reg. Jy hoef my nie te vat nie, ek ry sommer met my fiets en haar pa sal my terugbring.”
“Bel haar en sê jy kan nie kom nie, dis laat, jy moet huiswerk doen, en ek kyk nie alleen na Carli nie.”
“Maar my ma het gesê dis reg.”
“Praat jy teë? Bel haar nou, jy is nog nie te oud vir ’n pak nie. Nou. Voor ek jou donner.”
Ek het gaan bel, in trane; hy het my eetkamer toe geroep toe ek klaar was.
“Ek wil jou eers iets wys. Sit.”
Hy het na die eetkamertafel gewys en ek het gaan sit. Hy het baie opgewonde geklink en ek was nuuskierig. ’n Boek! het my hart gejuig toe hy ’n slapbandboek uit sy aktetas haal. Ek was, ís, mal oor boeke en het gehoop dat dit nie weer ’n cowboy-boek was soos die een wat hy laas vir my gebring het nie. Toe hy dit voor my neersit, het my hele lyf begin bewe. Dit was ’n fotoverhaal. Soos in die Keur. Maar ook glad nie, want die “akteurs” het stadig, bladsy vir bladsy van hulle klere ontslae geraak. Ek wou opstaan, maar ek kon nie, ek was lam. My bene wou nie na my kop luister en net wegloop nie. Hulle het die vreeslikste dinge gedoen in die foto’s. Hy het opgewonde na elke nuwe foto gewys en dinge gesê soos: “Dit moet ons net probeer, dit wil ek vanaand doen, dink jy jy sal dit kan regkry?”
My verstarde liggaam het lewe gekry en ek het opgespring, maar hy het my aan my arm teruggehou.
“Moenie vir jou ma vertel nie, jy weet wat sal gebeur.”
Dit was ’n dreigement waarmee hy vroeg reeds gekom het: as ek durf waag om my ma te vertel, sou hy ons uit die huis jaag. Waarheen sou ons kon gaan? My ma het nie familie gehad nie, sy was die enigste kind en my oupa en ouma was lank reeds dood. Hy sou vir Carli hou, het hy gesê. My ma sou haar doodtreur. “Onthou, sy werk nie meer nie, wie gaan vir haar werk gee, onthou, werk is skaars.” Ons sou op straat moes bly … En sy troefkaart: “Jy het nie meer ’n pa nie, onthou.”
Hoekom het hy die moeite gedoen om my te dreig? Het hy regtig gedink ek sou kon vertel? Want dit was nie net vrees wat my mond gesnoer het nie, dit was ook verleentheid. Hoe vertel jy jou ma, wat die grond aanbid waarop hy loop, dat hy dít doen? Ek sou nie kon nie, sy sou dit nóóit glo nie.
“Anna,” het hy hervat, “los jou gordyne vanaand oop wanneer jy gaan slaap. Dan trek jy stadig voor die venster uit. Onthou om jou lig aan te sit, en stádig uit te trek. Ek sal uitgaan as jy kamer toe gaan, maar ek wil sien, ek wil waarde vir my geld hê.” Hy het twee vyftigrandnote na my uitgehou.
Ek het nie die geld gevat nie, net omgedraai en gaan stort. Die water was so warm dat dit my gebrand het, maar ek het bly staan, bly skrop. Ek wou sy vuil gedagtes van my lyf afskrop.
Ek het hom dié keer ook nie hoor inkom nie, net skielik sy hande oral oor my lyf gevoel. Gelukkig het Carli in daardie stadium begin huil en hy het vinnig omgedraai en uitgestap.
“Hoe het ek in hierdie gemors beland?” Terwyl ek stadig op my knieë sak: “Hoe?” Terwyl die warm water met die trane meng: “Hoe, Here? Hoe?”
Daardie aand het ek nie soos gewoonlik vir almal naggesê toe dit tyd word om te gaan slaap nie, ek het weggesluip. Nie my lig aangesit nie, nie my gordyne oopgetrek nie. Plat op die vloer, met die bed tussen my en die venster, het ek gaan lê en my pajamas aangetrek.
Hy het later as gewoonlik die deur saggies oopgemaak. Toe ek my oë oopmaak – dit het nie meer gehelp dat ek maak of ek slaap nie – staan hy in die halfdonker met sy ding in sy hand. Styf, regop.
“Stoute meisies moet gestraf word,” het hy saggies gefluister, “jy wou mos nie uittrek nie, wou nie my geld vat nie, ek gaan jou straf.”
Hy was vrolik! Vir hom was dit ’n avontuur, het ek besef.
“Wat gaan jy doen?”
“Jou ma vertel my mos dat jy nou ’n groot meisie is. Groot meisies doen nie net wat ons altyd doen nie, groot meisies doen wat hulle ma’s ook doen.”
“Asseblief, moenie, los my uit. Ek sweer ek sal vir niemand ooit vertel nie, los my net.”
“Anna, ek help jou. Hoe sal jy ooit vir jou man ’n goeie vrou kan wees as jy nie die fynere kunsies ken nie? Mans hou van vrouens met ondervinding. Ek wil net die beste vir jou hê. Ek sal jou nie seermaak nie, jy sal dit net so baie soos ek geniet.”
“Ek sal skree!” het ek in desperaatheid uitgeroep, al het ek geweet hy weet ek sou dit nie waag nie.
Hy het die komberse van my weggetrek, toe omgedraai deur toe. Ek het gehoop, gegló, dat hy hom bedink het, maar hy het slegs seker gemaak dat hy die deur agter hom gesluit het. Hy het sy slaapbroek stadig laat sak. Hy sou tog nie? Hy kón tog nie …
“Trek uit. Alles,” het hy sissend gefluister, “en as jy durf waag om te huil of te skree en jou soos ’n kind te gedra, is dit verby met jou en jou ma.”
Ek het geweet hy was ernstig. ’n Man wat so iets aan ’n kínd, sy vrou se kind, doen, het nie ’n gewete nie. Ek het my nagklere met rukkerige bewegings uitgetrek. Eenkant gegooi. Gewag op wat sou kom. Die pyn toe hy homself in my indruk, was die ergste wat ek nog beleef het. Ek sou kón geskree het, as dit nie was dat hy met sy een hand my mond toegedruk het nie. Hy het met ’n kreun gekom, ’n rukkie op my bly lê. Ek het gevoel of ek versmoor. Ek kon sy hart hoor klop, vinnig. Die naarheid in my keel het ek teruggesluk. Hy het sonder ’n verdere woord opgestaan, sy klere aangetrek. Toe ek die toilet hoor spoel, hulle kamerdeur hoor oopgaan, het ek stadig opgestaan. Die slymerigheid in die badkamer gaan uitwas.
Queenstown se liggies lê agter my, ek is op pad Aliwal-Noord toe. Ek is op pad om my te wreek, ek is op pad om my lewe terug te vat. Nie te vra nie. Nie te bedel nie. Te vat. Dit kom my toe.
Ek het myself met moeite die volgende oggend uit die bed gesleep. Na die bloed en pie op die laken gestaar.
“Wat is dit vanmôre met jou?” My ma het agter my gestaan. “Jy is erger as ’n ou vrou, toe-toe, die ontbyt word koud.”
Ma, ek is seer! Ma, ek dink nie ek sal kan loop nie. Ma, hy het my gesteek, hoor Ma my? Kyk vir my, Mamma, kyk vir my.
Sy het omgedraai en kombuis toe geloop. Hoekom kon ek die woorde dink maar nie sê nie? Die geur van gebakte eiers en spek het deur die oop deur gekom, my naar gemaak, ek het die badkamer net-net gehaal.
Sy het benoud in die deur kom staan. “Is jy siek, my skat? Hoekom het jy nie vroeër gesê nie? Gaan lê, Mamma bring vir jou ietsie.”
Ek het dankbaar in die bed teruggeklim, die handdoek stywer om my gedraai, die tablet wat sy na my uitgehou het, gesluk. Die roosterbrood en tee het onaangeraak op my bedkassie bly staan.
“Dink jy ooit aan seks?”
Helena het dié dag direk ná skool na my kom soek, my ma het vir ons kos kamer toe gebring, en ek het dankbaar my deur agter haar toegemaak. Ons het op die mat gesit, die radio net hard genoeg gestel sodat ons gesprek privaat kon bly.
“Hoe bedoel jy?” Sy het groot happe van my ma se bobotie gevat.
“Ek …”
“Anna, vra wat jy wil vra. Bedoel jy seks in die algemeen of seks met Deon?” Deon was haar ou. Hy was in standerd nege, het eerstespanrugby gespeel. Al die meisies in die skool het ’n crush op hom gehad, maar hy het net oë vir die petite Helena gehad.
“Wel, al twee. Het jy al?” Het sy al? Sou sy? Sy wat altyd vir almal, Deon inkluis, vertel dat sy nooit ’n man se vloerlap sal wees nie?
“Ek het nog nie, maar deesdae dink ek al meer dat ek sou kon, met Deon. Ons het al, jy weet, gevat, maar nog nooit verder gegaan nie.” Sy kon my nie in die oë kyk nie, het heeltyd met haar skoen se gespe gevroetel.