Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie as Elbie Lötter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795707506
Скачать книгу
kompliment bedoel. Dis goed, dis mooi, dis al.”

      “Behalwe dat my maag al weer so geswel is, kyk hoe lyk dit, dit lyk kompleet of ek swanger is.”

      “Hoekom sê jy nie jou ma nie? Daar is so iets soos dokters, jy weet.”

      My maag het die laaste tyd om geen rede hoegenaamd met tye begin swel. Dit het soms ’n dag geduur, ander kere langer en dan weer net so verdwyn.

      “Ek weet ek moet iets daaraan doen. Dis net dat my ma deesdae so besig is. Daardie sussie van my is ’n hand vol.”

      “Sê haar nogtans.”

      Dit was ’n onvergeetlike middag. Die lug was blou, die see was blouer, die sand spierwit; daar het net ’n ligte briesie van die see se kant af gewaai. Ons het gaan swem, ons argument van vroeër lankal vergete.

      Toe ons weer uitasem op ons handdoeke neersak, sê Helena: “O ja, moenie uitfreak nie, maar Marnus, jy ken mos vir Marnus, hy speel saam met Deon rugby, het my gevra om jou te vra of jy saam met hom na die skoolsokkie sal gaan. Dis mos dié keer die aand ná skoolsluiting. Ek en Deon gaan ook, ons kan dit ’n double date maak.”

      “Hoekom vra hy my nie self nie?”

      “Hy’s bang vir jou. Regtig, hy sê jy groet hom nooit terug nie. Toe, man, kom saam, ek sal seker maak dat daar niks met jou gebeur nie.”

      “Dis nie dit nie, dis net: ek het nog altyd gewonder hoe dit sal wees as ’n ou my uitvra, nou vra jý my. As hy nie self vra nie, gaan ek nie.”

      Helena het hard gesug. “Jy’s moeilik. Maar ek sal hom sê. Dalk moet ek hom ’n paar kalmeerpille injaag voor hy jou vra.”

      “Jy’s laf! Maar regtig, Helena, hy moet my self vra.”

      “Ek sal hom sê.”

      Vir die eerste keer in ’n lang tyd was ek weer opgewonde oor iets.

      “Kyk hoe lyk jy, jy is bloedrooi verbrand!” het my ma my begroet toe ek by die huis kom. “Spring gou onder die stort, dan roep jy my. Ek sal jou kom insmeer, anders gaan jy nie kan slaap nie.”

      Ek wás lief vir my ma.

      Ek het onder ’n warm stort gaan staan, die water het my vel gebrand. En die hele tyd het ek aan Marnus gedink. Hy wil saam met my gaan dans! Ek kon dit nie glo nie. Marnus, een van die gewildste seuns in die skool. My kop het gewaarsku: moenie, hy bly ’n man. Maar my hart, my verraderlike hart, het gesê, ja, gaan. Hy is ’n goeie ou, hy sal niks probeer nie. Ek het myself voorgeneem dat ek, en ek alleen, sou besluit of Marnus die voorreg sou hê om my te soen.

      Dit moet die son en see gewees het wat my so vas laat slaap het dat ek hom nie hoor inkom het nie. Ek het eers wakker geword toe ek die bed langs my voel induik, toe ek die soet reuk van Old Spice kry.

      “Asseblief, ek is so seer gebrand.”

      “Dis nie my skuld nie. Jy sal doen wat ek sê, of …”

      Hierdie keer het hy iets anders in gedagte gehad. Ek moes regop sit, hy het voor my gestaan, weer sy ding uitgehaal, voor my gesig gedruk.

      “Maak oop jou mond!”

      Hy het my kop afgedruk met sy een hand, met die ander hand homself vasgehou. Ritmies, op en af, het hy my kop gedruk tot dit gevoel het ek gaan verstik, maar hy wou nie los nie. Hy het aangehou en aangehou, my keel het gebrand, ek het naar geword en nog steeds het hy aangehou totdat hy met ’n kreun in my mond gekom het. Ek het van die warm, souterige slymsels afgesluk, ek kon nie gou genoeg uitspoeg nie. Ek het probeer keer, maar ek kon nie, ek het naar geword en opgegooi. Hy het dit betyds sien kom en weggespring. My teen my kop geklap en gesis: “Jy kan bly wees dit was mis, jou mislike klein merrie! Maak dadelik hier skoon en ek donner jou as jy jou ma roep omdat jy jou weer soos ’n kind gedra het.”

      Ek het meer dikwels snags my bed natgemaak. Selfs die nagte wat hy nie na my kamer gekom het nie.

      Die pad lê donker, eindeloos voor my. Soos my lewe. Nee, soos my lewe was. In die vroeë môreure gaan dit verander. Ek gaan dit verander. Voor die son môre opkom, sal dit soos ’n hergeboorte wees. Ek gaan hom in die oë kyk, ek gaan hom laat boet. My hergeboorte lê ’n paar uur vorentoe. Alleen, net met myself. So sal dit wees. Ek, Anna. Alleen. En gelukkig. Nog vier uur, ek is halfpad. Moet ek stop vir nog koffie? Ek gaan nie kan wakker bly nie. My kop moet môre oop wees, ek sal móét stop. Dis ’n klein dorpie en nêrens is iets oop nie. Selfs nie eens die petrolpompe nie. Deurdruk tot op Aliwal-Noord? Ja, ek sal moet.

      My ma het my die volgende oggend een kyk gegee en teruggestuur bed toe. Daarna het sy die dokter gebel.

      “Wat is fout, ounooi?”

      Dokter Cloete was ’n ouerige man, hy het vir my gelyk soos die oupa wat ek nooit geken het nie, hy het ’n sagte stem gehad, soos oupas veronderstel is om te hê.

      “My maag, dit swel sommer vir niks op nie. Ek oefen vir ’n balletopvoering, dis oor twee weke en ek kan nie so op ’n verhoog gaan nie.”

      “Mm, en jou ma sê jy was vanoggend naar ook?”

      Elke keer as ek aan die slymerigheid in my mond gedink het, het ek naar geword, ek kon dit net nie verhelp nie.

      Ek het geknik: ja.

      “Nou kom ons kyk.” Hy het sy stetoskoop om sy ore gehaak, met sy vingers op my maag getrommel, na my ma gedraai en gesê: “Ek sal solank iets vir die naarheid gee en ’n paar pynpille. Maar ek dink jy moet haar inbring, sommer môre al. Ek sou graag ’n sonar wil doen en ook wil kyk of daar nie enige blokkasies in haar dikderm is nie.” Toe na my: “Dis nie seer nie, miskien net ’n bietjie ongemaklik, ek belowe.”

      My ma het, toe ons by die huis kom, dadelik my skoolhoof gebel om hom te sê dat ek die volgende dag nie by die skool sou wees nie en daarna Miss Dolly se ateljee met dieselfde storie.

      “Sy is nie baie gelukkig nie, hoor! Sy sê julle is nog ver van volmaak af, en dat jy gou gesond moet word. Sy stuur groete.” My ma het in die deur bly staan om dit vir my te sê. Asof sy bang was dat sy sou aansteek.

      Later die aand het sy tóg ’n paar maal kom kyk hoe ek vorder met die bekers vol aangemaakte vloeistof wat ek moes drink om my derms skoon te kry. Ek kon sien sy was besorg.

      Ons het die volgende oggend vir Carli gaan aflaai by ’n vriendin van my ma wat ’n speelgroepie gehad het. Die sonar was nie erg nie, my ma het my vooraf verseker dat hulle dit met haar ook gedoen het om Carli se vordering te monitor toe sy swanger was. Die kolonoskopie was ’n ander storie. Hulle het my op my maag laat lê en ’n pyp (dink ek, ek kon nie sien nie) van agter af ingedruk. Dit was seer, en vreeslik ongemaklik. Vernederend ook.

      “Daar is niks verkeerd nie,” het die dokter my ma gerusgestel. “Ek wonder tog of dit nie maar net spanning is nie.” Hy het na my gedraai. “Is jy nie maar net baie gespanne oor iets nie?” Soos in: jy mors ons tyd, wat is tog fout met jou?

      “Nee.”

      “Wel,” het my ma begin, “daar is die balletopvoering en sy is nou in standerd sewe, vir baie die moeilikste jaar op hoërskool en die eksamen is op hande, dalk is dit dit?”

      “Mevrou, kan ek ’n oomblik alleen met haar praat? U kan gerus in die wagkamer vir haar wag.”

      My ma het opgestaan, sy hand geskud en uitgestap. Hy het lank na my gekyk. Ek moes ’n paar keer afkyk.

      “Is jou ma reg? Is dít wat jou pla?”

      “Seker maar.”

      “Daar is nie dalk iets anders waaroor jy met my wil gesels nie? Jy weet jy kan oor enige iets met my praat. Kyk, die kolon lieg nie. ’n Mens kan nog vir jouself lieg en sê dat daar niks verkeerd is nie. Jou kop kan jou dalk glo, jou kolon nie.”

      Het hy maar geweet! Ek het my kop geskud: nee.

      Stom Anna.

      “Jou ma lyk na ’n baie streng vrou. Is jy bang vir haar?”

      “Nee!”