Tussen heinings. Corlia Fourie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Corlia Fourie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624074779
Скачать книгу

      “Waaroor ek selfs nog meer wonder as Hermia se pienk boekie, is waarom die arme Maggie nou skielik haar hulpsub is,” sê Sarita. “Het daar iets gebeur terwyl ek die laaste paar dae met skrywers gaan praat het?”

      “’n Vrou met wie Maggie ’n onderhoud moes voer, het die deur in haar gesig toegeslaan,” sê Elize.

      “Hoekom?”

      “Omdat sy bruin is, of soos Maggie gesê het: ’n Capie. Of soos die vrou gesê het: ‘Ek praat nie met ’n meid nie.’ ”

      “Is dit moontlik?” vra Sarita verstom. “Ek het nie geweet daar is nog sulke mense nie.”

      “Klaarblyklik wel,” sê Elize.

      “Maggie behoort nie daaroor gestraf te word nie.”

      “Nee, maar soos Lettie sê: iemand moet vir Hermia met die subwerk help.”

      “Ek is net vrek bly dis nie ek nie,” sê Bessie. “Lettie het darem gesê Maggie kan ook stories skryf.”

      Dis al lank ná die middagete toe Elize sê: “Kom ons gaan terug.” Sy voel weereens geïrriteerd omdat Maggie “gestraf” is oor ’n poephol van ’n vrou en oor die goed wat Hermia geskryf het, maar ook vies vir haarself omdat sy na Bessie se voorlesing geluister het.

      “Jy sal dit moet terugsit,” sê Sarita, “jy wil nie uitgeskop word oor ’n pienk boekie nie.”

      Terug op kantoor kry Elize ’n boodskap. “Die omie wat gebel het, sê dis nogal dringend,” sê die sekretaresse.

      Eers toe die man antwoord, besef Elize dis haar buurman Tom. “Jou dogter is hier by my … moenie skrik nie, sy makeer niks nie, maar iemand het by julle huis ingebreek … Ek gee vir haar die foon sodat sy self met jou kan praat.”

      “Ek is oukei, Mamma … maar toe ek die alarm afsit, sien ek dadelik iets is nie reg nie, want die teevee was in die middel van die sitkamer op die mat … Ek is toe reguit na oom Tom toe. Hy het die sekuriteit gebel. En ek het Mamma aanhoudend gebel, maar jy antwoord mos nie jou selfoon nie …”

      Toe Elize op haar selfoon kyk, sien sy Michelle het drie keer gebel terwyl sy by Cresta was.

      11

      Twee mans van die Patrol Watch wag by Elize se hek saam met Michelle en Tom. Die jong Patrol van gemiddelde bou en lengte met vaal hare en oë, groet Elize altyd vriendelik as hy by haar verbyry. Die ouer man het sy nog nooit gesien nie. Hy is langer en breër met donker hare, ’n blas vel met akneemerke en olierige donker hare. Albei die mans het koeëlvaste onderbaadjies aan by hul donker langbroeke en blou kortmouhemde. Albei dra swart stewels waarby hulle broeke ingesteek is. Hulle hande is op die pistole in die pistoolhouers van hul gordels.

      Paraat en slaggereed vir enige skiet-gebeurlikheid, dink Elize.

      Ná sy die agterdeur oopgesluit het, staan sy terug. Die jonger man maak die deur oop en gaan binne. Toe hy in die gang afstap, trek hy sy pistool uit die houer. Die ouer een bly buite staan, sy hand nog steeds op sy pistool in die houer. Elize kan die TV op die mat in die middel van die sitkamer sien staan.

      Die jonger man glimlag gerusstellend toe hy terugkom.

      “Buiten die klein venstertjie in die hoofslaapkamer wat gebreek is en die geskeurde gordyn lyk alles reg. Julle moet maar self kyk of iets weg is, maar ek dink jou dogter het hulle verras en hulle het toe gevlug.”

      “Maar hoekom het my alarm nie afgegaan nie?” vra Elize bekommerd.

      “Ek vermoed hulle het in die huis rondgekruip,” sê die jong man. “Jou sensors sit bo naby die plafon.”

      “Ag nee, wat nou?” vra Elize.

      “Mevrou, jy sal of elektriese drade op jou tuinmuur moet laat aanbring, of buitesensors. Ek sal vir jou die naam en nommer gee van iemand wat betroubaar is. Hy doen ook klein werkies en sal die gebreekte ruit kan vervang. Hy’s baie billik,” sê die ouer man.

      Elize gaan die huis binne, gevolg deur Michelle wat rondkyk asof sy verwag die inbrekers gaan skielik van iewers af verskyn. Haar houding is waaksaam, soos op die judomat.

      In die hoofslaapkamer is die een venster wawyd oop en die nuwe wit kantgordyn hang deur die middelste reling van die diefwering buitentoe. “Maar is dit regtig moontlik vir enige mens om tussen die diefwering deur te kruip? Ek sal nie eens my kop daardeur kan kry nie,” sê Elize verstom.

      “Mevrou, hulle stoot kinders deur om dan sleutels te soek en deure oop te sluit,” sê die jong man wat in die deur bly staan het.

      “En gelukkig steek ons die sleutels weg,” sê Michelle. “En dis hoekom hulle nie die teevee kon steel nie.”

      Toe Elize die kantgordyn terugtrek, sien sy die gordyn is horisontaal byna in twee geskeur. “Ek en Michelle maak ook al die vensters toe as ons uitgaan, dus weet ek nie hoe hulle die venster so maklik kon oopkry nie.”

      Toe onthou sy die een wag het gesê ’n venster is gebreek.

      “Waar is die gebreekte venster?”

      Hy trek die gordyn langs die oop venster weg.

      Die een kothuisvenstertjie in die paneel reg langs die vensterhandvatsel is stukkend en toe Elize die gordyn verder wegtrek, sien sy klein stukkies glas op die teëls agter haar groot ligbeige russtoel.

      Michelle se oë is groot. Sy sê: “Ek háát die buurt.”

      “Ek dink buitesensors gaan die oplossing wees,” sê Elize.

      “En as jy bang is daar is iets by die huis verkeerd as jy van die skool af kom, dan bel jy net en ek sal die huis vir jou kom uitcheck,” sê die jong man vir Michelle.

      Michelle is gerusgestel. “Dankie, dis gaaf.”

      Daar is ’n glans in die jong wag se oë as hy na Michelle kyk. ’n Glans waarvan Elize nie hou nie. Wanneer het sy so agterdogtig teenoor mans geword? Is dit net oor die egskeiding? Is dit net omdat sy deur een man verkul is? Of dalk het sy daardeur net meer bewus geword van seksuele onderstrominge.

      Elize dink dat dit agterna altyd maklik is om te sê jy moes tekens raakgesien het. Dan sê jy vir jouself: Hoe kon ek so blind gewees het? Dalk wou ek maar net nie sien nie. Maar as dinge besig is om te gebeur, dinge waaroor jy in die duister gehou word, weet jy nie noodwendig altyd wat die tekens beduie nie.

      Jare gelede toe sy Anton ontmoet het, het hy haar vertel dat sy een groot begeerte is om ’n trefferboek te skryf. Hy het nie ’n brandende begeerte gehad om ’n skrywer te word nie, nee, hy wou ’n treffer, ’n wêreldwye treffer, skryf: iets wat so ’n groot impak sou maak soos Harper Lee se To Kill a Mockingbird of Boris Pasternak se Doctor Zhivago.

      Ná hul troue het hy omtrent elke weekaand in sy studeerkamer verdwyn om sy treffer te beplan terwyl sy die kos gekook en die skottelgoed gewas het. Eers was dit die storie van sy grootwordjare in apartheid-Suid-Afrika; ná nog ’n paar ander idees wat geweeg en toe vere bevind is, wou hy ’n spioenasieroman aanpak. ’n Spioenasieroman wat eers sou afspeel gedurende die Tweede Wêreldoorlog met die spioen ’n Duitser, maar later het die spioenasietema na Suid-Afrika in die tagtigerjare verskuif toe ’n kommunis agter elke bos gesit het. Die volgende klompie jare het hy nie meer ’n storie bedink nie, maar navorsing oor spioene gedoen.

      Intussen het sy leer kook, die huis versorg en verder haar aande verwyl met lees. As sy baie van die boek van ’n bepaalde skrywer gehou het, het sy ook ander boeke van daardie skrywer gelees. So het sy vir Margaret Atwood, A.S. Byatt en Ian McEwan leer ken. Sy het ook elke Afrikaanse skrywer wat sy gedink het die moeite werd is, gelees. Maar nooit in al die tyd was dit haar begeerte om fiksie te skryf nie. Sy was die ewige ywerige leser, sonder wie geen skrywer kan klaarkom nie. Was sy dan nie met ’n skrywer, altans ’n voornemende skrywer, getroud nie!

      Toe hulle al hoeveel jare lank getroud was, en sy haar daarin berus het dat hulle nooit ’n kind sou kry nie, het sy verwag. Sy het elke fase van die