In sy kamer, presies in die middel van die dubbelbed, weggesink in spons-rubber, lê die jongman in die lig van ’n falliese kandelaar wat, gesteun op drie pote, eers seshoekig, dan tolvormig, en oplaas spiraal gedraai, ’n ruspunt vind in ’n bronsblaker, van waar ’n herhaling van die voorgaande ontwerp hervat word om te eindig met ’n nagemaakte kers, pseudo-bewaks, plastiek-bevlam, elektries belig. Die huis is stil, en van die tuin af klop die vinniger enjin die laaste waters in die swembad in. Opeens hou die geluid op en die stilte van die huis strek tot in die tuin.
Iemand beweeg in die gang. Hy hoor die sagte voetstappe, die fluistering van ’n rok. Hy staan op en maak die deur oop. Regoor sy kamer is ’n ander deur besig om toe te gaan. Hy sien die been van ’n meisie, die swaai van tweedmateriaal, ’n gedeelte van ’n arm. Alle beweging verstar meteens. Onsigbaar word hulle bewus van mekaar en bly die oomblik gevange. Dan hervat die tydsverloop en word die deur saggies toegetrek. Hy is op die punt om terug te gaan, toe iets verder af in die gang sy aandag trek. Die slank Mrs Silberstein het van êrens verskyn en is besig om in ’n deurskynende nylon-nagrok die gang op te hardloop. Sy kon net sowel nakend gewees het. Aan die bo-ent van die gang wag Jock vir haar, blou gestreep in sy slaapklere. Sy gesig is bloedrooi en sy mond is wawyd oop.
“LILITH!” donder sy stem die stilte in.
Die jongman rook ’n laaste sigaret en begeef hom na sy bed. Meteens begin ’n ander enjin werk – met langsamer, hipnotiese geluide. En bokant die plafon, eers stadiger, dan vinniger, draai twee reuseskroewe wat deur talle luikgate die warm lug na buite dryf.
HOOFSTUK II
Kaperjolle van die kunstenaars
I
Henry word om agtuur wakker en kyk vas in twee brons oë. Op die tafeltjie langs sy bed het iemand ’n konfoor van versierde geelkoper neergesit. Die handvatsels skarnier in die baardpunte van twee sataniese gesigte en die koppie, waarin hy aanstons sy koffie sal tap, is so groot soos ’n bakkie. Nadat hy dit eers ’n hele rukkie beskou het, draai hy die kraantjie oop en vul die koppie. Dis heerlike Mokka-koffie en hy drink twee koppies vinnig na mekaar.
Die geluide van alle huishoudelike enjins het opgehou en die hele Welgevonden is besig om produktief te raas. In die verte dreun vragmotors, swaar masjinerie en allerhande onbepaalbare toestelle wat iets te doen het met die wynbedryf. Orals in die huis en buitekant klink mensestemme. Hy besluit dat dit tyd is om op te staan en gaan na die badkamer waar twee enorme, swart leeukoppe oor ’n geteëlde wel hang. Hy druk die knoppies op die snoete van die leeus en hulle braak twee strome water, warm en koud, uit hulle gapende bekke. Die bad is binne ’n ommesientjie gevul. Terwyl hy in die water ronddryf, beskou hy die wit, swart en bottelgroen kleurskakerings van die vertrek. Toe hy in sy kamer terugkom, vind hy dat iemand intussen sy kos ingebring het. Nadat hy klaar geëet en klaar aangetrek het, gaan hy na buite en ontmoet Jock op die stoep – geklee soos ’n boer in ’n kakiebroek, -hemp en velskoene.
“Kom,” sê Jock. “Ek wil jou ietsie van die boerdery wys,” en hy neem hom aan die arm.
Hulle stap langs die huis verby, onder oorhange deur, óór houtbruggies, langs stroompies water, tussen buitegeboue en dan onverwags weer by ’n vleuel van die huis verby ál met ’n pad op waar, in die verte, teen die heuwel uit, die geraas gelokaliseer is in ’n stel geboue wat die kelders en bedryfsinstallasies huisves. Namate hulle dit nader, kom talle vragmotors verby met kissies wyn en brandewyn piramiedvormig daarop gestapel. Al die vragmotors is groen, van presies dieselfde fabrikaat, en die bestuurders is in eenderse geel uniforms geklee. Die naam “Welgevonden” is op alle beskikbare skryfruimte aangebring. Voor hom gewaar Henry ’n voorwerp wat só helder in die son blink dat hy dit eers nie kan uitken nie: dit lyk soos ’n breë, wit vlam wat die hoogtes inskiet. Ná ’n rukkie sien hy dat dit ’n reuse-staaltenk is. Bo-op die tenk is ’n gegalvaniseerde dak wat met silwer ysterstawe aan die konstruksie vasgesweis is. Langsaan, toe hulle dig teenaan kom en die metaal amper beweeg soos dit blink, gewaar Henry ’n trappie wat tot dóér bo lei waar ’n soort uitkykplatform in die lug sweef.
“Hierdie tenk is sestig voet hoog en vyftig voet in deursnee,” sê Jock terwyl hy begin klim. “Dis die grootste in sy soort in die hele wêreld.” Hy moet hard oor sy skouer skree terwyl die wind teen hulle begin ruk namate hulle hoër en hoër styg. “Ons gebruik dit vir die opberging van stookwyn,” bulder hy. “Hiervandaan word dit outomaties na die deurlopende verstokingstelsel gepomp.” En nog steeds styg hulle terwyl die wind Jock se hemp laat fladder en hy kort-kort sy hoed stywer op sy kop moet druk. Nadat hulle die uitkykplatform bereik het, leun hulle teen die tralies om eers op asem te kom. Die uitsig is nie alleen asemberowend nie, maar beslis angswekkend.
“Kom,” sê Jock, terwyl hy sy hoed afhaal en Henry na ’n bankie lei. Langsaan is ’n teleskoop gemonteer en hy begin aan die skroefies draai. “Ek gebruik hierdie toestel in die nag om na die sterre te kyk. Bedags is dit handig om alles te sien wat aangaan. Ek kan selfs tot in die kamers van die huis sien.” Hy glimlag en die wind waai sy hare deurmekaar. “Ek wil eers hê dat jy na die gewels van die huis en buitegeboue moet oplet. Daar is agt soorte: vroeg-skuins, concavo-convex, laat-skuins, barok, laat-skuins met visstert-kappie, Vlaams, laat-skuins met barok-kappie en trapvormig.” Hy het die teleskoop klaar ingestel en sit nou in die bankie terug. “Het jy lus om na die gewels te kyk, of sal ons liewers vasstel wat in die kamers aangaan? Liewers die kamers, nè? Ek eerste? Miskien is dit beter, want dan kan ek sien of alles behoorlik ingestel is. Die instrument is baie sensitief.” Hy bring sy een oog teen die kyker en hou die ander oog oop soos dit iemand betaam wat ondervinding het. Hy draai die kyker heen en weer en fikseer dan op ’n punt. Hy staar lank en aandagtig na iets en dan leun hy weer terug, ken in die hand, terwyl die wind van voor af aan sy hare vroetel.
Henry loer ook deur die teleskoop, maar dit duur ’n geruime tyd voordat hy iets kan uitken en dan gewaar hy meteens J.J. se gesig vlak voor hom. Die R.A.F.-moestas se punte staan soos bewegende vleuels aan weerskante uit terwyl hy die oggendlug met diep asemhalings intrek en uitblaas. Sy wange is bolvormig, sy oë uitgepeul, sy hare oor sy voorkop, sy bors onder sy geblomde japon nou blootgestel as twee vrouearms van agter af om sy lyf beweeg. Die slank Mrs Silberstein se gesig verskyn bokant sy skouer, kantel skuins en nestel teen sy nek.
“Het jy enige kennis van heksery?” vra Jock.
“Nee,” sê Henry en kyk op terwyl die teleskoop nog steeds op die toneeltjie gerig is, wat meteens uit die gesigsveld van die blote oog verdwyn.
“Daar is so baie wat jy in ’n kort tydjie moet leer,” sug Jock. “Of, stel dit liewer só: daar is so baie dinge wat jy sal moet leer en verleer. Al daardie dinge wat jou nou beskerm. Jou onkunde, jou onskuld, byvoorbeeld. Maar só kan jy nie deur die lewe gaan nie. Só eenvoudig is die lewe nie.” Hy steek sy pyp met moeite op en is op die punt om die vuurhoutjie in die rigting van die oop tenk te gooi voordat hy hom bedink en dit terug in die dosie sit. “Daardie staat van valse genade hou in die een of ander stadium vir ons almal op. Dis die tragedie van ons menswees, dat jy verplig is om eendag meteens bewus te word van die donkerte in die hart van die mens, en, teen jou sin, let wel, kennis te neem van goed en kwaad.”
Henry oorweeg dit terwyl hy agteroor op die bank lê en kyk na die drywende wolke wat soos bootjies lyk wat reg op hom afgeseil kom.
“Ek dink ek kan tussen goed en kwaad onderskei,” sê hy.
“Dan moet jy ’n engel wees.” Jock vou sy hande agter sy kop saam en kyk self na die wolke wat nou soos ’n armada saamdrom. “Kwaad, volgens jou geloof, is die verbreking van die goddelike wet; die wet is die bepalings wat steun op goddelike gesag. Vir die engel is alles saamgevat in die woordjie, ‘serviam’ – die volkome, allesomvattende besef van afhanklikheid van die Skepper. Vir die mens, volgens die beperktheid van sy natuur, is die wette saamgevat in die Tien Gebooie.”
“Ek ken die Tien Gebooie,” sê Henry. Die gesprek verveel hom alreeds.
“Al