Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу
wat die plekke te ongerieflik vind. Ons probeer ’n leefwyse hier vestig – soos in die ou Kaap. ’n Liberale leefwyse, beskaafd en prikkelend. Ons het elke aand gas­te, jy sal vanaand sien. Elke aand van die week. Hierdie plek leef. Iets, iets leef.” Hy beduie met sy hande. “Iets leef en so lank as wat daar lewe is, leef Welgevonden. Niks mag ooit gaan staan nie; daar moet altyd iets aan die gang wees. Luister! Hoor jy dit?” Henry hoor in die verte ’n masjien dreun. “Dis ’n groot dieselenjin wat ligte verskaf. Ons kry elektrisiteit van die stad af, maar dit word aangevul deur ons eie installasie. Welgevonden moet altyd iets hê wat werk. Dis die hart van Welgevonden wat klop. As die enjin ophou, begin ’n ander een. Dit pomp die swembad leeg, reinig die water en vul dit weer. As die pomp gaan staan, werk daar waaiers bokant die plafon om die lug te laat sirkuleer. As dit ophou, begin die bottelary by die kelders en so gaan dit aan.” Hy gloei van plesier. “Jy moet môre saam met my op die plaas rondgaan. Die trekkers raas, die brouery dreun, die vragmotors brul, die melkkanne klater, die waters murmel, die voëltjies kwetter, Welgevonden se werksmense sing … Wag, luister!” ’n Pou skree sy doodskreeu in die rigting van die tuin. Jock ledig sy glas en klap dit hard op die tafel neer. Dan verval hy meteens in ’n swaarmoedige stilte, sy skouers krom, sy ken op sy hand, sy elmboog op sy knie. “Goy,” sê die hertogin. “Oh, shut up, mother,” sê Jock. Die twee vaal Misses Silberstein raak al hoe dronker en giggel musikaal. J.J. en die slank Mrs Silberstein kyk berekenend na mekaar. Henry peusel, peusel aan die wyn en loer in die kamer rond.

      Hy is sewe-en-twintig jaar oud en alreeds vasgevang in ’n patroon waaroor hy geen beheer het nie en waaroor hy geen beheer begeer nie. Behalwe aan liefde glo hy in alles: die waarde van godsdiens, skoonheid, die invloed van die natuur op die mens, die staat, die liberale gewete, die toekoms van die mensheid, die onverganklikheid van simbole, die goeie orde, wellewendheid, liefdadigheid, sekuriteit en die mens as die kroon van die goddelike skepping. Dis tyd dat hy moet trou, kinders kry en homself perpetueer. Liefdeloosheid is vervang deur universele erbarming; liefde is selfsugtig. Henry van Eeden is ’n vlekkelose klein robot, doelbewus deur ’n sekshandeling geskep en behoorlik gekondisioneer. Hy sal gepaar word met Salome en al wat hy van Salome weet, is wat J.J. van haar gesê het: sy het donker oë.

      Iemand tik aan sy arm. Dis Jock. “Sarie sal vir jou die kamer wys.” Hy volg die diensmeisie die gang af tot in ’n kamer waar ’n koperbed met behangsels presies in die middel staan en ’n enkele kas van Kaaps-Vlaamse ontwerp op sy klere wag. Sy maak ’n blinding oop deur ’n kettinkie te trek wat ’n knip à la Provence in werking stel. Sy skuif die raam op en die beboste tuin versper die uitsig. Sy staan in die deur, wiegend, wagtend, en, as hy niks sê nie, trek sy die deur saggies agter haar toe en trippel weg na die ou Hollands-Kaapse kombuis.

      “’n Aangename jongman,” sê Jock.

      “Goed opgevoed,” sê die slank Mrs Silberstein.

      “Elegant en slank,” sê die twee vaal Misses Silberstein.

      “Kort,” sê die hertogin. “Impotent.”

      “Sewe dae,” sê J.J. “Dit behoort genoeg te wees.”

      Hulle klink glasies.

      “Die gas­te sal nou-nou hier wees,” sê die slank Mrs Silberstein. “Ons het net genoeg kans om te verklee.”

      Sy kyk verlangend na J.J.

      Die voorkamer dreineer leeg en word dan weer vol as ’n horde diensmeisies in gestyfde blou rokkies en gestyselde kragies, hulle gesiggies fyn, hulle mondjies tandloos, die vertrek begin regskuif, poleer, vee, en dan vul met allerhande gereggies: olywe, vrugte, tinkelende kelkies, hoender, kalkoen, visrolletjies, aspersies, haring en kaviaar.

      In sy kamer het Henry ’n aandpak aangetrek en ’n sigaret aangesteek. Buitekant dreun die ligte-enjin met dieselklopgeluide. Hy sit regop en styf in ’n stinkhoutstoel terwyl hy sonder enige uiterlike teken van emosie kyk hoe ’n by teen die glasruit probeer uitkom.

      II

      ’n Ligte tikkie op die deur, ’n aankondiging dat die gas­te reeds vergader het en Henry vind sy weg na die getransformeerde voorkamer wat, blind-helder verlig, ’n bewegende mensheid bevat. Hy verskyn in die deur en almal word stil. Hulle kyk na die jongman met die engelgesig in sy swart aandpak, ’n sigaret in sy linkerhand, sy regterhand kalm langs sy sy. Almal is in gewone drag geklee: die slank Mrs Silberstein in Engelse tweed met plathakskoene, die hertogin met ’n doek om haar kop en ’n tjalie om haar skouers. Jock in ’n hacking-baadjie, J.J. sonder baadjie met ’n syserp in sy hemp, die res van die gas­te ontspanne in alledaagse slenterdrag. Dan hervat almal hulle gesprekke.

      Die hertogin klou aan Henry se arm.

      “Sefer nashim, Hilkot issure biah ve-kaleë behemah.”

      Sy kyk betekenisvol na hom en verdwyn in die gedrang.

      Hy hoor telkens die naam Salome, maar as hy opkyk, is daar gewoonlik ’n paar meisies bymekaar, almal met donker oë.

      Hy beland onder ’n groepie mans wat hom saamneem na die kroegie in die hoek waar hulle elkeen ’n stywe dop brandewyn (Welgevonden Special) ingooi. Iemand het Indian Tonic met soda verwar, maar almal skryf die smaak toe aan ’n bepaalde eienskap eie aan die landgoedbrandewyn – prikkelend, bittersoet, ietsie-ietsie in die nasmaak. Hulle ruik aan die bol­vormige glasies.

      Henry word voorgestel aan dr. Johns van Bishops Court, regter O’Hara van Bishops Court, sir Henry Mandrake van Bishops Court. Hulle gesels oor waterskaats, tunavis, krieket en Margaret Armstrong-Jones. Vrouens sluit by hulle aan en word omarm. Iemand bedien olywe en aspersies; iemand anders frikkadelletjies; nog iemand hoender en kalkoen. Henry dans met ’n Italiaanse contessa (ses jaar in die land) wat skaam-skaam aan hom beken dat sy ses kinders het. “Hoe heerlik,” sê Henry. “Ek voel soos ’n konyn,” sê sy. “Bloody shmok,” fluister die hertogin in sy oor en kielie hom met haar moesie teen sy wang. Hulle dryf hom tot ’n gesprek oor kuns: Tretchikoff en ander. Iemand verduidelik vir hom die simboliek van die orgidee op die trap, die vars druppel water, die vergane tooisels en die sigaretstompies. Plesier is selfs korter as die lewe van ’n geplukte blom, die bestaan van ’n druppel water. ’n Dronk, blonde meisie trek Henry terug na die dans, terg hom met bewegende bekken, smeer haar rooisel teen sy boordjie, berei haarself voor (deur hom) vir iemand anders, vra hom uit na Salome en verdwyn in die arms van ’n pukka-snor met sy gesprek die ene vis, sport en seks.

      “Nebelah,” sis die hertogin en dryf weg in die gewoel.

      Een van die vaal Misses Silberstein wink vir hom om langs haar te kom sit.

      “Salome,” sê sy, “hou van blomme en die veld. Vroeg in die oggend, as die dou nog op die gras lê, dan wandel sy in ’n ligte rokkie soos ’n nimf oor die vlei. Sy is lief vir diere en sing soos ’n nagtegaal. Sy is fyn en skugter soos ’n wildsdiertjie. Praat te hard met haar, en sy is weg op die oggendwind.”

      Die ander vaal Miss Silberstein kom liefies nader en voeg haar fluisterings in sy ander oor.

      “Salome is sag en wondbaar. Behandel haar teer, inisieer haar met liefde …” Sy bly meteens stil en bring haar hand na haar mond. “Inisieer haar met begrip in die land van …”

      Hulle begin meteens giggel en giggelend onttrek hulle hulleself tot ’n vaal kokon.

      Henry het ’n manier om sy ore te trek; hy trek eers die een oor, dan die ander een. Maar hy doen dit net as hy baie ingedagte is, soos nou. Hy is op die punt om ’n doodsbesef te kry – nie heeltemal nie, maar slegs by wyse van vae aanduiding. Dit wek nie ’n gevoel van vrees by hom op nie; hy begin bloot wonder hoe dit sal voel om nie meer daar te wees nie. Hy probeer hard, maar hy self is altyd teenwoordig: hy sien sy eie lyk, die graf, die verdwaasde familie en hy kry ’n besef van tyd wat verbygaan. Hy probeer hom voorstel hoe dit sal wees om in die hemel te kom. ’n Genadevolle staat van perfekte harmonie. Dan dink hy daaraan hoe bedroë mens moet voel as jy in extremis jou oë toemaak, wag en niks gebeur nie. Beide begrippe is moeilik, té veel vir hom op hierdie oomblik, en hy keer terug tot die lewende wat heelwat luidrugtiger ge­word het.