Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу

      Iemand klop op die sestienpotige agterhuistafel. Dis die voorsitter wat toesprake aankondig. Almal wyk uit tot panoramiese groepies. Hulle luister in stilte alhoewel telkens oorverdowende applous die spreker onderbreek.

      “Ek sal hard werk,” sê die tuinier. “Arbeidsadel. Ek sal geen ure ken nie.”

      Jock tik hom gerusstellend op die skouer.

      Dis ’n gewese leier van ’n African National Union wat nou praat.

      “Die waarheid,” sê hy, “is deur die gees van geestelike herbewapening aan my geopenbaar. . .”

      “Dag in en dag uit,” sê die tuinier. “In die vroeë ure van die oggend …”

      (Niemand sien Julius Jool, aartskommunis, wat met minagting alles gadeslaan nie. ’n Toevallige hermafrodiet, sit hy/sy soos ’n Morgenthau van die proletariaat en wag op die uiteindelike reaksie tot sy universele orde. Hy het alreeds sy werk gedoen en wag geduldig op die produk van sy arbeid.)

      Toesprake en applous wissel mekaar so snel af dat in die meesleurende entoesiasme selfs die volgorde chaoties word en woorde en toejuiging saamsmelt tot ’n kakofonie van luidrugtige saamwees. Henry het intussen weer op die verhogie beland nadat hy op weg J.J. en die slank Mrs Silberstein ontmoet het. Net soos lady Mandrake, het hulle ook effens onvanpas gelyk – eintlik na twee selfsugtige sondaars, volkome onproduktief.

      Boodskappe word nou voorgelees van persone met kleurryke maar hoogs onbekende name, uit hoofde van gewese ampte nogtans indrukwekkend – boodskappe verfraai met die luister van Hollywoodsterre, verhewe deur niksseggendhede van formidabele staatsmanne, en boodskappe respektabel gemaak deur die monnikspy van ’n priester, die sendinggees van ’n eerwaarde van Upsida en die selfopoffering van ’n Vassar-maagd in haar vredesending êrens gekasty in Afrika.

      Dit word laat in vrede en Jock Silberstein klop op die sestienpotige ag­terhuistafel om, te midde van die universaliteit, ook die belang van die enkele instansie te bewys. Dis ’n groot geleentheid. Hy voel self minderwaardig; daarom het hy die aankondiging gedelegeer aan iemand wat sinnebeeldig miskien die gees vertolk.

      En die albino kom na vore. Hy met die vel wat volkome kleurloos is, wat met die natuurfrats ’n waarheid bewys. En braaf juig hulle almal terwyl die wit-oog, wit-haar, blank-bantoe vir die eerste keer die aansien kry waarop hy volgens alle argumente geregtig is.

      “Liewe vriende,” begin hy lees van die wit foliovel, “ons is hier om die verbond te vier …”

      Hy praat met ’n afgemete stem en kyk telkens na die gehoor.

      “Henry …”

      En Henry kom na vore, bestraal deur ’n soeklig, en hy neem posisie in teen ’n agtergrond van proteas.

      “Salome …”

      Behalwe vir die tussentrede van ’n deus ex machina moet hy nou sy beminde sien. En, daar onder, tussen die sari’s, aandrokke, katoenrokke en komberse, is alreeds ’n beweging …

      Maar …

      Dis die tuinier wat van die geleentheid gebruik maak om die verhoog op te storm, armswaaiend, botsend teen vername gas­te, “Mr Silberstein, ek beroep my op die aanwesiges!”

      ’n Stilte daal op die vertrek, die bewegings verstar tweeledig in prente van segregasie en integrasie, figuratief en nie-figuratief, in blokke van goed en kwaad, in fragmente waar goed en kwaad onsigbaar inmekaar geweef is, in ’n mosaïek wat met die conga-ry die sirkelgang na binne vorm, in die Ubu-drol van lewende gesigte na bo verhewe.

      Die tuinier gewaar die albino en stoot hom vieserig opsy.

      Dit was die albino se groot oomblik. Hy het die inhoud op die foliovel uit sy hoof geleer; hy het die hele aand gewag … Daar wel ’n woede in hom op; hy voel die minagtende gebaar as ’n blaam op sy vel sonder kleur. Hy het hom vanaand as deel van die groter eenheid gesien; sonder rasgenote, sonder land, sonder taal, sonder stamgode het hy in hierdie groter eenheid gevoel dat hy hoort en teenstrydiglik in die alomvattendheid die emosie ervaar wat ten grondslag lê van apartheid. En, geheilig deur sy woede, doen hy nou iets wat hy nooit tevore sou gewaag het nie, gekondisioneerd soos hy deur al die jare as afwyking was om óf vernietig óf geostraseer te word – hy lig sy hand teen kleur en stamp die tuinier terug.

      ’n Afkeurende geluid kom deur die saal.

      Beide die tuinier en die albino, aangedryf deur die drang tot uiting, worstel na vore en stel mekaar skaakmat, hulle hande en arms beurend ineengevleg.

      Dan begin hulle gelyk praat.

      Die tuinier: Al wat ek vra, is ’n reg om te werk en te doen …

      Die albino: ’n Heuglike oomblik vir Henry en Salome Silberstein …

      Die tuinier: Om ’n bydrae te lewer met die masjien …

      Die albino: Ons sal hulle nie op hulle goeie hoedanighede wys nie, maar hulle vra om te let op hulle vriende …

      Die tuinier: En daardie kennis te gebruik in die taak waarop elkeen ge­regtig is …

      Die albino: Om hulle harte en gemoedere oop te hou …

      Die tuinier: Met kennis en met die masjien alles te ontleed …

      Die albino: En bewus te word van hulle vriende.

      Die dubbeldeur van die rondawel gaan oop en die twee vaal Misses Silberstein, volgens vorige tydsberekening op die regte oomblik, maar salig onbewus van die struweling, kom met die koek die kamer binne. Die een het ’n sari aan, die ander een ’n seremoniële kombers van Tangaland. Hulle glimlag en wuif vir die gas­te, hulle dans die highlife, weggevoer deur die verrukking van die oomblik. Prettig sit hulle die koek op die sestienpotige agterhuistafel neer en chook-chook na weerskante tot by die vroeg reeds bepaalde plekke waar hulle elkeen ’n kniebuiging vir die verstomde gas­te maak.

      Gegrif in die lig behou almal roerloos hulle posisie en op daardie pre­siese oomblik, vir die eerste keer in baie jare, stotter Jock Silberstein se ligte-enjin, flikker-flikker die ligte, en daal die duister terwyl die swembad leeggepomp word.

      VI

      In die groot huis begin die waaiers meteens werk. Die reuseskroewe dwar­rel die stoffies op die plafon. Al die ligte op die werf is verdoof; die maan is agter die wolke; soliede voorwerpe is slegs grade van donkerte. Die gas­te struikel blind deur die tuine op pad na hulle motors wat êrens in die doolhowe geparkeer is.

      En dan word die horison verlig deur ’n helder gloed. In die naturel-lelokasie, spesiaal vir sy werkers deur Jock Silberstein gebou, is een van die kerke besig om te brand. Namate ’n skool en van die administratiewe geboue ook een ná die ander in die ontbranding deel, word die tuin belig en vind die gaste dit nou moontlik om hulle motors te vind en hulle so haastig moontlik te onttrek.

      Dis net Julius Jool (toevallig ook ’n vuurvlooi), sy alibi bewys, sy par­tytjie so pas begin, wat met uitgestrekte arms na die lig toe hardloop.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги,