Dit kos ’n ma soos ek om dit reg te kry.
Ons halfjaarlikse vakansies het minder geword nadat Robbie siek geword het. Hy kon nie ’n lang reis verduur nie: nie die bedompigheid van die kar se agtersitplek of die zoemende lugversorging op vliegtuie nie. Hy was min gepla wanneer vreemdelinge hom aanstaar. Klein kindertjies sou by hom verbyloop en met hulle vingers wys. Kyk, Mamma, hy’t nie hare nie. Robbie het nie sy kaal kop onder ’n pet of ’n bandana weggesteek nie, hoewel Moeder graag wou hê hy moes. Skat, daar’s geen rede waarom jy nie hierdie een kan dra nie. Dis baie stylvol. Maar ek en Robbie het geweet dit het niks te make gehad met “styl” nie. Sy het dit gehaat dat ons aandag trek. Een skuif na die Spur (reeds ’n stap laer vir haar) en ons het onmiddellik ekstra ballonne en inkleurprente gehad. Ons het almal geweet waarom.
Op die speelgrond het die kinders nuuskierig na Robbie gestaar.
“Wil jy voel?” het Robbie aangebied.
Een na die ander sou die kinders aan sy kop vat, met versigtige vingertjies aan die knoppe en duike in sy skedel voel.
“Wat makeer jou?” het ’n kind eenkeer gevra.
“Kanker.”
“O.” Sy voorkop het verkreukel. Toe sê hy: “Ek het Fizzers. Wil jy een hê?”
Ek was maar vyf, maar ek onthou een spesifieke vakansie toe Robbie dit nog kon bybring, in die vroeë jare van Robbie se siekte, waartydens ons gesin die naaste aan normaal was: in 1970 iewers naby Knysna. Soggens het ons vroeg opgestaan en ek en Robbie, wat toe agt was, het strand toe gestap, met my onwillige pa agterna. Hy was nooit ’n oggendmens nie, maar Moeder het tyd nodig gehad om te “titivate”, soos hy dit genoem het. Sy sou later by ons aansluit, haar grimering perfek, haar gesig verskuil onder ’n enorme sonhoed, ’n reusesonbril op haar oë.
Wanneer ons met vakansie was, kon Moeder genoeg ontspan om nie alles wat ons doen te kritiseer nie. Trouens, soms het sy ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Dan sou sy ’n Frisbee optel en dit met geoefende hale gooi sodat ons moes koes en duik om dit te vang. Binne ’n halfuur het sy ons heeltemal uitgeput. Eenkeer het sy selfs agter ’n Frisbee aan in die water geduik, en ek en Robbie het geskater toe haar spoggerige pienk hoed slap oor haar gesig hang. Die hoed het skeef drooggeword en daarna het Moeder dit in die tuin gedra wanneer sy die geel-en-swart kewers op haar rose in brandspiritus gooi om hulle dood te maak.
Die kewers was natuurlik elke jaar terug, maar Robbie het geweier om hulle te help uitroei. Dit was dus ek wat die styf toegedraaide spiritusbottel en die flesse in die motorhuis moes gaan haal, en ek en Moeder het mekaar op ons slagveld gevind, met ons eie weergawe van Agent Orange – behalwe dat ons s’n pers was.
Robbie het graag vir Moeder geterg en partymaal het hy haar laat giggel soos ’n skoolmeisie. Sy sou met haar hande oor sy kop vryf, en iets sê oor hoe goed hy ’n bal kon vang of kon skryf of LEGO bou. Maar vir my was die tye saam met haar op die strand die heel lekkerste. Sy was besorg oor my vel en sy sou my lyf met sonroom invryf – oral waar dit nie deur my swembroek bedek was nie. Ek het gehou van die gevoel van haar hande wat my invryf: sag, maar deeglik. Dit het my laat voel asof iemand vir my omgee, vir my lief is.
Pa sou op sy handdoek sit met die dag se koerant – hy was ’n bietjie van ’n nuusverslaafde. “Ek wonder wat daai Ringo Starr gaan doen noudat die Beatles uitmekaar is,” sou hy sê, of: “Dink Vorster werklik hierdie Bantoestan-besigheid gaan werk?”
Pa het gewoonlik nie ’n antwoord verwag nie, maar partykeer sou Moeder glimlag en ons verras deur iets te sê soos: “Ringo was ’n briljante tromspeler lank voor hy deel was van die Beatles. Hy’t ‘Octopus’s Garden’ geskryf, weet jy?” Waar Moeder sulke brokkies gekry het, weet ek nie, maar sy was ’n ywerige leser, iets wat Robbie by haar geërf het, maar ek nie. Ek kon nooit lank genoeg stilsit nie. Buitendien het ek gehou van die klank van haar stem wanneer ons aan weerskante van haar sit vir ons slaaptydstorie. Sy kon haar stem laat boem asof sy oor ’n luidspreker praat, of dit sag en syerig maak soos ’n slang. Robbie, altyd liefdevoller as ek, sou sy arms om Moeder gooi en haar op haar wang soen.
“Ek is ontelbaar lief vir Mammie, tot in ewigheid,” sou hy sê.
“En ek vir jou, seuna,” sou sy antwoord.
Elke middag tydens ons vakansie sou Moeder vir ’n paar uur verdwyn. Eers het ons na hierdie tye uitgesien, want ons het geweet Pa sou vir ons ’n skelm roomys koop, al was ons almal op die een of ander spesiale eetplan wat Moeder se kankerondersteuningsgroep vir Robbie voorgestel het.
Robbie het siekte anders as ek hanteer. Hy het hom aan Moeder se sorg oorgelaat met ’n geduld waarna ek gesmag het. Hy was in staat om dinge te doen vir die blote rede dat dit ander gelukkig gemaak het. En Robbie het my gelukkig gemaak soos niemand anders sou of kon nie.
Dit het gelyk asof die vakansie vir Robbie sterker maak. Hy het nie so maklik bruin geword soos ek nie, maar binne ’n week was sy vel nie meer so doodsbleek nie. Hy het genoeg vriende vir al twee van ons gemaak. Ek het soos ’n brakkie agter hom aangedrentel, en saam vlugbal en Frisbee gespeel wanneer hy dit kon regkry.
Saans het ons ’n kamer gedeel in die selfsorgeenheid wat ons ouers gehuur het, en Robbie sou in die lig van ’n flits vir my lees of my bangmaak met spookstories, wat my verbeelding op loop gesit het met beelde van bloed en derms. Ons het ’n fantasiewêreld geskep wat heeltemal onverstaanbaar vir ons ouers was, iets wat ons net nog meer plesier gegee het.
Maar ten spyte van hierdie oomblikke van vreugde, het daar ’n spanning geheers waaraan ons nie kon ontsnap nie. My ma het Robbie met valkoë dopgehou, besorg dat hy hom sou ooreis of seermaak. En selfs wanneer my pa uiteindelik vir haar ’n dekstoel strand toe gesleep het, kon sy steeds nie ontspan nie en het sy kort-kort gebuk om die sonskermroom op te tel, of byna obsessief aan ’n groot bottel water geteug. In die namiddae het sy ons van die strand af teruggejaag om te gaan rus.
Verder het sy gebid. Deurentyd. Dalk selfs op die strand. Ons het voor elke maaltyd die seën gevra: Dankie vir die heerlike kos. Mag dit vir Robbie beter gesondheid bring en hom met sy herstel help. Amen. Ek het nie aanstoot geneem omdat die res van die gesin van die gebed uitgesluit was nie: Dit het reg gevoel dat God se aandag op my boetie moes wees. Maar dit het gelyk asof Moeder meer tyd saam met God as saam met Robbie deurbring. Elke middag sou sy na die naaste Katolieke kerk ry of stap om haar sondes te bely. Ure later sou sy terugkeer, haar wange rooi, haar oë bloedbelope, en ’n whiskey skink. Pa sou ’n bottel wyn by ete oopmaak, en sy sou baie meer as hy drink. Wanneer ek nou daaraan dink – en ek het oorgenoeg tyd daarvoor – wonder ek of daardie aanhoudende waterdrinkery en laatslapery tydens ons vakansies nie dalk die gevolg van ’n feitlik permanente babelas was nie. Ironies genoeg het dit slegs so aangehou terwyl Robbie gelewe het en het dit blykbaar nie haar bestuur van die huishouding beïnvloed nie.
Dit het my pa se hartaanval gekos om dinge te laat verander.
*
By die skool het ek een spesiale maatjie gehad.
Annie was die suiwerste sonskyn. Sy was blond en bleek, met skitterwit tande en dik brillense op haar neus, sodat sy permanent nuuskierig gelyk het. Hoewel sy nie mooi was nie, het sy mense soos swaartekrag aangetrek. Om redes wat ek nooit heeltemal verstaan het nie, het sy mý uitgekies. Sy het haar nie gesteur aan my permanente behoefte om mense te beïndruk nie: die beste Barbie-pop, die meeste boeke, die mooiste klere. Op dertien was ek die eerste een in ons klas om my maagdelikheid prys te gee – vir ’n seun wat drie jaar ouer as ek was, by Bishops skoolgegaan het, met ouers wat drie BMW’s gehad en in ’n paleis net langs Kirstenbosch gewoon het.
Annie was kaptein van die netbalspan en ’n provinsiale swemmer. Daar was meestal ’n helder pienk blerts op haar neus en haar gesig was besaai met sproete – die gevolg van lang ure in die son. Sy het haar sokkies soos worse op haar enkels omgerol en ’n soom in haar romp gewerk sodat dit net-net haar agterstewe bedek het. Annie het pajamapartytjies gereël en kon die lekkerste Thai-kerrie maak wat