Skaduself. Paula Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Paula Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798166089
Скачать книгу
oop sodat die sonstrale kan inkom, sodat sy gelukkig kan voel, maar dit werk nie. Sonskyn werk altyd vir my. En sjokolade, en skuimbaddens, en om koekies te bak in Asmita Ayaa se kombuis, want Mamma se kombuisie is te klein.

      Ek het gehoor hoe Appa met Asmita Ayaa praat. Hy was baie kwaad vir Mamma – soos toe ek verf op sy rekenaar gemors het terwyl ek eintlik Mamma moes gehelp het om wasgoed op te hang. Hoekom is Appa kwaad dat Mamma hartseer is? Hoekom gee hy haar nie ’n drukkie en maak haar beter nie? Asmita Ayaa het my agter die deur sien staan en gesê Appa moet kalmeer. Hy het sy lippe opmekaar geknyp en my opgetel, maar hy het nie vir my liefde deur sy vel gestuur nie.

      Appa hou nie altyd daarvan om my drukkies te gee nie, maar hy hou daarvan om vir my juffrou by Hompie Kedompie drukkies te gee. Hy dink ek weet nie. Wanneer sy na hom kyk, word haar oë so stroopsoet soos in die tekenprente. Appa raak nie so stroopsoet nie. Hy het baie meisies wat van hom hou. Eenkeer het hy ’n paar meisies langs die pad gesien en toe stop hy om hallo te sê. Hulle tieties het uitgehang, en hulle het lang gladde bene gehad en baie hoë skoene. Hulle het by die venster ingeloer. Een van hulle het kougom gekou. Mamma sê kougom is nie vir klein kindertjies nie, want hulle kan verstik. Die meisies se tande het blink stukkies goud in gehad toe hulle glimlag. Ek het van hulle grimering gehou. Dit was mooi, nes in die flieks.

      Ek het ook hallo gesê.

      Een van die mooi meisies se gesig het verander.

      “Watter soort poephol is jy?” het sy gevra. “Met kinders in die […] kar?”

      Sy’t ’n lelike woord gesê, en ek is nie “kinders” nie. Daar is net een van my.

      “Kalmeer, skattebol, ek het vergeet sy’s hier.”

      Dit het my gevoelens seergemaak. Ek het die hele middag saam met hom rondgery en hom al my nuus vertel, van die plastiekbakkies wat ons moet hê om knope in te bêre, en van Melanie se nuwe pop met hare wat rêrig groei. Toe sê hy hy het van my vergeet. Ek het hom ook nog vertel dat “hond” met ’n “h” begin en rym met “rond”. Ek weet alles van rym, weet jy? 1 = alleen.

      “Wel, ek het ook kinders en ek bring hulle nie hiernatoe nie, Meneer. Gaan huis toe, na jou vrou toe.”

      Appa het vinnig weggetrek en toe omgekyk na my.

      “Jou ma kan jou nie eens by die skool gaan haal nie,” het hy gesê. “Weet sy nie hoe besig ek is nie? Moet nou nie jou ma hiervan vertel nie. Dis ons twee se geheim, oukei?”

      Jare gelede, toe ek nog 3 was, het ek in Mamma en Appa se kamer in die tuinwoonstel geslaap. Toe hoor ek Mamma eenkeer sê: “Nee, nee, nee.” Hulle het gestoei. Appa was bo-op Mamma en toe stamp sy hom af en toe kap sy kop teen die muur en toe sê hy ’n baie lelike woord en hy klap vir Mamma deur haar gesig. Sy het baie saggies gehuil, maar toe klim ek uit my bedjie en gee haar ’n drukkie en sê vir haar ek is wakker.

      “Ek is lief vir jou, Mamma,” het ek gesê. “Weet jy hoe lief is ek vir jou?”

      Mamma het haar trane afgevee en vir my geglimlag, maar dit het nie soos ’n regte glimlag gelyk nie, want daar was bloed aan haar lip. Toe sê sy: “Ek is lief vir jou ook, my poppie.”

      Appa het niks gesê nie. Hy het teruggelê op die bed en die lig afgesit. Toe snork hy nes ’n otjietot. Ek en Mamma het buitentoe gegaan en na die maan gekyk. Sy het ’n sigaret gerook, maar ek het niks vir Appa gesê nie. Toe ons weer binnetoe gaan, het hy hard gesnork. Ek hou nie daarvan nie, want dit klink soos ’n trein.

      Ek het daardie nag nooit weer aan die slaap geraak nie. Sowaar. Kinders kan dit doen, weet jy? Ek het die volgende oggend opgestaan en ek was nie eens ’n klein bietjie vaak nie. Ek weet nie hoekom ek altyd so vroeg moet gaan slaap nie.

      Ek mag nie meer in die tuinwoonstel slaap nie. Asmita Ayaa het vir my ’n pienk kamer in die huis reggemaak. Mamma en Appa sê ek het my eie ruimte nodig.

      Hier is die goed wat in my kamer is:

      1. Boekrak met 5 rakke

      2. Bed

      3. Kas

      4. Feetjieliggie

      5. Bedkassie

      6. Speelgoedkis

      7. Kunstafel

      8. Swartbord met foto’s daarop geplak

      9. Kinderstoeltjie (pers)

      10. 13 sterre op die plafon

      Ek hou van my kamer, maar Mamma kan nie verstaan hoekom ons nie ons eie woonstelletjie iewers kan kry waar ons almal saam in dieselfde huis kan wees nie. Maar sy bedoel eintlik nie Asmita Ayaa en my oupa Kandasamy Ajah nie. Net ons 3.

      1=Mamma

      2=Appa

      3=ek

      Appa word kwaad wanneer sy daarvan praat, want hoekom moet ons geld mors as ons ’n lekker plek het om in te woon waar ons almal gerieflik is? Geld groei nie op sy rug nie en hoekom bring sy nie ook ’n bietjie kontant in en hou op in die bed lê en jammer voel vir haarself nie? En dan sê Mamma sy is 24 en al 5 jaar getroud en ons kan nie vir altyd aan Appa se ouers vas wees nie. Dan sê Appa sy het geweet hoe hy is toe sy met hom getrou het, en ná 5 jaar kan sy nog nie eens ’n behoorlike kerrie maak nie.

      Ek hou van Mamma se kerrie.

      Party dae is baie sleg. Elke oggend wanneer ek wakker word, hardloop ek eers woonstel toe om môre te sê, maar partykeer maak Mamma nie eens haar oë oop nie. Ek weet sy is nie dood nie, want ek kan sien sy haal met haar longe asem. Haar longe is diep in haar lyf waar dit van die slegte lug ontslae raak en mooi vars suurstof aan haar bloed gee.

      Appa is gewoonlik al weg wanneer ek wakker word, maar partykeer eet hy ontbyt saam met my en my oupa en ouma. Saterdae en Sondae en vakansietye, wanneer ek nie Hompie Kedompie toe gaan nie, hou ek daarvan om by Mamma in te kruip. Sy skuif op sonder om wakker te word, maar ek hoor haar sug. Om op te skuif om vir my plek te maak is goed. Ek kan vir Mamma net soveel drukkies gee soos ek wil, al druk sy my nie terug nie.

      Thea: ’n Ma se gevoel

      In die tronk het ek baie tyd om te dink, en ek het nie altyd beheer oor waarheen my gedagtes dwaal nie. ’n Groot deel van die tyd dink ek teen wil en dank aan Clay: hoe lief ek hom gehad het, die foute wat ek gemaak het.

      So baie foute! My dogters. My seuntjie, Joe.

      Maar my gedagtes is nie altyd helder nie. Ek dink deur gaas, deur filters. Om minuut na minuut, sekonde na sekonde toegesluit te wees (want dit is hoe stadig die tyd verbygaan) het my laat besef dat ek al my hele lewe in ’n newel slyt. Party dae is daar ’n dik swart gordyn voor my, en net wanneer ek dit regkry om dit oop te trek sodat ’n klein bietjie lig inkom, val die gordyn weer toe en is ek weer in die donker.

      Die meeste mense wil weet wanneer alles begin het, en soms wonder ek ook. Miskien het dit begin die dag toe ek verwek is. Ek was nie ’n beplande baba, of eens ’n welkome een nie. My biologiese ma was van Glencairn, naby Vishoek. Moeder sê ek het my hoë wangbene by haar gekry, en my borste. Die beauty spot aan die regterkant van my gesig net bokant my bolip, die een waarmee Moeder altyd gesê het ek eendag ’n man gaan verlei, en my oë – een ligbruin, een blougrys – is blykbaar net myne alleen.

      Maar hoe sou Moeder nou eintlik weet – sy het net een keer my biologiese ma gesien.

      My ouers het my aangeneem toe ek ses weke oud was. Ek sweer ek kan nog die tyd in die baarmoeder onthou. ’n Vyandige plek, kolkend van bitterheid en vrees. My ma was sestien en wou my nie hê nie. ’n Terapeut het eenkeer vir my gesê selfs as ’n fetus moet ek al die intensiteit van haar verwerping aangevoel het. My lewe lank soek ek ander se goedkeuring, en ná wat ek gedoen het, sal ek dit nou nooit kry nie.

      My pa het my eendag vertel my biologiese ma het my Sofia genoem. Maar my aanneemouers se huishulp was Sophie, dus moes my naam verander word – en sommer gou ook. Ek is nie seker of ek ooit heeltemal in Thea sal ingroei nie. Sofia klink so sag en soepel, met ’n sweem van hoogmoedigheid en minagting. Ek