Ek drink ’n stewige whisky en gaan slaap. Ek het nog nie die moed om ’n lys van die vermiste skulpe te maak nie. Wat het Freek van As na sewe en twintig jaar laat besluit om met my in aanraking te kom? Skuld ek hierdie man iets?
*
Theo Verwey sien daar vanoggend gladgeskeer en rosig uit. Schütz op die CD-speler. Ons praat oor dié spesifieke opname.
“Ek het indertyd tot ’n Schütz-koorgroep behoort,” sê Theo.
“Dit moet ’n besondere ervaring gewees het,” sê ek, “om Schütz te sing.”
“Dit wás,” sê hy. “Ek het ’n uitvoering van die Symphoniae Sacrae in Berlyn in 1996 gehoor. Dit was werklik uitmuntend.”
“Sewe jaar na die muur afgebreek is,” sê ek. “Schütz in Berlyn. Hou jy van Berlyn as stad?”
“’n Werklik besondere stad,” sê Theo. “Dit het ’n ander sfeer as die res van Europa.”
“’n Anargistiese energie, het ek gehoor. Ek was nog self nie daar nie.”
“Maak ’n plan om te gaan,” sê hy.
Ek haal my skouers op.
“Ons het ’n ekstra skenking gekry vir die projek,” sê hy.
“Dis goeie nuus,” sê ek, “by wie – ’n weldoener?”
Theo kyk verbaas. “Hoe het jy geweet?”
Ek sê ek het geraai, ’n grap gemaak.
“’n Lid van die Kommissie vir die Bevordering van Afrikaans. Die Derde Afrikaanse Taalgenootskap. ’n Hoëprofiel-individu. ’n Mooi bedrag. Hy borg ruimhartig jou aanstelling vir die eerste ses maande, maar hiermee kan ons jou kontrak met ’n verdere ses maande verleng.”
Theo staan in profiel by die venster en uitkyk. Hy is ’n mooi man. Sy gelaatstrekke is besonder harmonieus, die mond selfs ’n tikkie te sensueel. Ek kan met geeneen van sy gelaatstrekke selfs die geringste foutjie vind nie. Sy gelaatskleur is rosig – ’n teken van goeie bloedsirkulasie en ’n gesonde dieet. Sy donker hare is welig en begin pas grys word. ’n Gesig wat hom leen tot sensuele oorgawe – as die uitdrukking in sy oë anders was, sou ek selfs sê dis ’n hartstogtelike gesig. Sy wenkbroue vorm ’n hoë boog, wat iets permanent verbaas aan sy voorkoms gee. Hy staan ’n oomblik peinsend met ’n kaart in sy hand.
Ek het dinge op die hart, dringende kwessies, en die man ontlok by my ’n vreemde behoefte om my hart teenoor hom uit te stort. Onverklaarbaar, vind ek dit. Miskien omdat ek vermoed dat die behoefte hier ongeoorloof is? Verskerp die verbod in daardie geval die begeerte? Ek soek na gepaste (gevoeglike) woorde vir die gevoelens wat dringend in my keel uit die hartstreke opstoot. Voorlopig is ek onseker oor hoe ek hulle betaamlik moet inklee.
“Ek het onlangs ’n baie mooi boek gelees,” sê ek.
Hy kyk van die kaart af op. Hoflik. “Ja?” sê hy.
“Dit gaan oor ’n man wat baie ryk is. Fabelagtig ryk. Dit het my aangespreek,” sê ek, “daardie soort rykdom. Hy wil onder meer ’n kapel met Rothko-skilderye koop. Sy agent raai hom af. Hy dring met ’n soort perversie daarop aan.”
Theo Verwey kyk steeds hoflik na my; hy wag dat ek voortgaan.
“Die man se agent en adviseur – ’n gewese minnares van hom – één van sy reeks adviseurs, trouens, sê hy is dit aan die publiek verskuldig om die kapel nie vir sy privaat gebruik aan te koop nie.”
Theo kyk geïnteresseerd.
“Maar die man hou vol. Hy wil dit vir homself hê. Bloot omdat hy dit kán.”
Ek bly ’n oomblik stil, luister na die musiek. Ek vind die instrumente mooi, die geluid assosieer ek met komplekse kleure – met tersiêre, nie met primêre kleure nie.
“Hoewel dit meer as sy rykdom is wat my in die boek aanspreek,” sê ek.
“Ja?” sê Theo.
“Hierdie man beweeg van een punt na ’n ander in die stad in ’n limousine. Hy het selfs onderhoude met sy verskillende adviseurs hierin. Daar is verskillende oponthoude en versperrings. Onder meer ’n begrafnisstoet. Dit is een van die mooiste dele in die boek. Hy eet een of twee keer saam met sy vrou. Hulle is pas twee weke getroud. Sy is ook enorm ryk. Aan die einde van die boek is hy dood.”
“Is dit so?” sê Theo Verwey, en lig sy welgeskape wenkbroue ’n aks hoër.
“Ja,” sê ek, “ja, helaas.”
“Beveel jy dit aan?” vra hy.
“O, ja,” sê ek, “van harte. Die boek of die dood?”
Hy glimlag.
*
Die middag bel ek konstabel Modisane om te hoor of hulle al die skurk gevang het wat my skulpe gesteel het.
“No-ho,” sê die konstabel, met ’n aarseling in sy stem wat my laat vermoed dat hulle nog nie die geringste poging aangewend het om iets aan die saak te doen nie.
“It is causing me much, much grief,” sê ek vir die konstabel, “the loss of those shells.”
“Ye-es,” sê die man, en hy klink nie onsimpatiek nie.
“I trust you will do your best,” sê ek.
Ek hoor ander stemme in die agtergrond, die konstabel praat met iemand oor sy skouer.
“Well, goodbye,” sê ek.
“Goodbye,” sê die konstabel, afgelei.
Die aand drink ek twee whiskys voor ek ’n lys maak van die vermiste skulpe. Die drie Nautilus pompilius-skulpe is weg – twee kleintjies en ’n grote. Albei Murex nigritus-skulpe is weg. Die Terebra maculata en die Terebra aerolata is weg. Die drie Harpa major-skulpe is weg. Die Conus marmoreus, die Conus geographus, albei Conus textile-skulpe, die twee Conus betulinus-skulpe en die twee Conus figulinus-skulpe, almal weg. Die twee Periglypta magnifica-skulpe is weg. Die topskulp Trochas maculata is weg. Die bruid van die see, Argonauta argo, is weg. Die twee wit kauri’s (Ovulaovum) en die tieroogkauri (Cypraea tigris) is weg. Al die tonnas en die helmskulpe is weg. Die Marginella mosaica en die blosende Marginella rosea is weg.
Ek gaan lê op die bank in die sitkamer. Ek het teenstrydige gedagtes. Die drie Harpa majors was van my mooiste skulpe. Hulle vorm en kleur is aangrypend – die delikate vertikale ribbes soos die snare van ’n harp; die delikate, ligbruin lyntjies tussen die opgehewe ribbes soos die klein lyntjies geteken deur ’n seismograaf. Veral na hierdie drie skulpe het ek die afgelope tyd met groot aandag gekyk. Ek sou die noulettendheid waarmee ek na hulle gekyk het selfs ’n soort meditasie kon noem, want daar is min ander dinge waaraan ek my aandag so selfloos en ononderbroke gee. (My eerbiedige aandag.) Maar ofskoon ek egoloos op hierdie voorwerpe, hierdie skulpe, gemediteer het en selfs God in die detail gesien het (by wyse van spreke), het ek my terselfdertyd steeds uitermate aan hulle geheg. Moes ek my hart minder aan hulle gehang het? Moes ek die heil van my siel (ewig, onsterflik) op ander maniere probeer bewerkstellig het? Moes ek die skoonheid my laat voed, maar van die plesier van besit afstand gedoen het? Moes ek die afgelope jare minder in lewelose dinge en meer in verhoudings belê het? Ek het vandag vir Theo Verwey van die ryk man vertel. Waarom? Flardes herinnering aan die aand in Braamfontein, dertig jaar gelede, kom by my op. Wie is hierdie Freek van As wat byna dertig jaar later soos ’n hond met ’n dooie voël in sy bek by my aankom?
Van dié besondere aand onthou ek allereers dat ek te veel gedrink het. Ek onthou dat die jong koerantredakteur Herman Holst daar was – ’n aantreklike, netjiese, geïnhibeerde kêrel wat sedertdien iewers in die groot niet verdwyn het en sy geluk in Amerika gaan soek het. Hy