Dan kan hy dalk vir nóg 67 jaar sy lied van genoegdoening sing. Geen musiek maak ’n boer se hart blyer nie.
’n Long drop sonder weerga
Van al die teleurstellings wat ’n boer kan tref, is ’n nuwe, droë boorgat sekerlik een van die ergstes. Die enigste water wat so ’n gat oplewer, is die trane wat uit jou oë drup terwyl jy die boorman se tjek uitskryf.
Die alternatief is trane van vreugde wanneer ’n straal helder, vars water uit ’n nuwe boorgat borrel en jy in jou verbeelding groen lusernlande onder ’n vol dam water sien. Of droom hoe jou vee dik gesuip om die krippe lê terwyl die windpomp se wiel van lekkerte sing en jy die koel water diep uit die aarde by die uitlooppyp se bek skep.
Dit is een van die wonderlike vreugdes van boerdery.
Nog ’n lekkerte was die vroeëre gebruik onder Karooboere om, wanneer hulle in die veld boor en goeie water kry, ’n ranktuintjie met vrugte- en koeltebome en ’n paar akkertjies lusern by die nuwe gat aan te lê – as hospitaalkampie vir siek of swak diere. Jy sien dit nie meer nie.
So ’n groenigheidjie en koeltetjie met geriewe vir skaapwerk was in ’n barre, stowwerige wêreld ’n klein oase. ’n Bykomende lekkerte het daarin gelê dat jy somertyd, nadat ’n trop skaap deurgewerk is, in die dam kon afkoel en ’n waatlemoen uit die ranktuintjie oopsny. Behalwe vry is niks lekkerder nie as ’n stuk soet, rooi kroon onder ’n koelteboom op ’n Karooplaas ná ’n voormiddag se rugbreekwerk, terwyl jy kyk hoe jou ooie rustig die rante in wei.
Maar dit alles bly net ’n droom wanneer jy boor en die gat is droog. Of dit word ’n nagmerrie wanneer die watertafel in ’n erge droogte sak en die veldwater begin ingee. Dis wanneer die waterwysers en die boormanne ingeroep word.
Terwyl die waterwysers met ’n mikstokkie of ’n bottel water rondloop en die boormanne vir die aanwysing wag, begin die spanning oplaai namate die beitel dieper deur die ysterklip sak terwyl die volgende drom diesel nader gerol word en jy weet dat jy voor die bankbestuurder sal moet kniel om die boorman te kan betaal.
Al die tyd is die groot vraag in jou gemoed: Wanneer moet ek die boordery stop as die gat droog bly? Dis die handewringende besluit wat veeboere moet neem elke keer wanneer hulle boor, want sê nou maar jy sak net nog ’n meter en slaan dalk ’n aar raak wat die water bo by die bek laat uitspuit of die stampboor se skepper laat oorloop?
“Sak!”
En die beitel boor dieper die onbekende in. G’n wonder die NG Kerk het boerdery tot dobbelary verklaar nie.
Ek weet nie wat ’n lugdrukboor jou vandag kos nie, maar dit moet sekerlik, soos die Engelse sê, ’n “arm and a leg” wees. Hoewel dit nie van vandag af is dat boordery ’n duur storie is nie.
Die bekende prof. Francie van Zyl, eerste dekaan van Stellenbosch se mediese fakulteit, het op ’n keer op ’n boorman se vrou geopereer. Ná die operasie wou die boorman by hom weet waarom die rekening so hoog is. Hy moes toe hoor dat dit ’n “baie spesiale” operasie was.
Die boorman se kans het gekom toe hy later op die professor se toentertydse plaas, Van Zylsdamme by Ladismith, vir water moes boor. Toe die snydokter kla oor die hoë rekening, sê die boorman droogweg: “Professor, dit was ’n baie spesiale gat . . .”
Wat my weer laat dink aan die ou boer wat, om darem ’n bietjie nut uit ’n droë boorgat van meer as 200 m te hê, sy kleinhuisie soontoe geskuif het vir ’n long drop sonder weerga. Maar ná die eerste sit kom die ou nie uit nie. Toe die tante gaan kyk, sit hy morsdood op die troon. Potblou in die gesig. Toe onthou sy: Die oom het altyd sy asem opgehou totdat hy hom hoor val.
Terloops, wat het geword van die duisende stampboormasjiene – waarvan baie ook as staatsbore gedien het – wat die legendariese Willem Dreyer van Bloemfontein gebou het en waarmee Suid-Afrika oor baie jare heen vrot geboor is? Ek hoop daar is iewers een in ’n museum.
Daar behoort ook ’n monument opgerig te word ter ere van daardie spesiale spesie: die geharde boorman en sy smerige, kaalbolyf handlanger met sy hand om die boortou van ’n stampboor op soek na lewegewende water op die eensame vlaktes van hierdie wye, droewe en dorre land.
Party was geswore skelms, maar darem.
Die diep spore van Boerejode
Daar is nie meer baie van hulle oor nie . . . Jode wat teen die einde van die vorige eeu as verstrooide, dikwels verstote, armlastiges uit die verre Oos-Europa na Suid-Afrika gekom en veral in plattelandse boeregemeenskappe diep spore getrap het.
Die ouer geslag is feitlik almal oorlede en die geleerde jonger geslag het die platteland verlaat en hulle in die stede of in die buiteland gevestig en in ’n groot mate hul bande met Afrikaanse mense verloor. Om nog van “Boerejode” te praat, is dus amper nie meer geldig nie. Hulle is, soos die enkele oorblywende Jode op die platteland, so skaars soos hoendertande.
Daar was egter ’n tyd toe Jode hulle so met Afrikaners en Afrikaans vereenselwig het – talle het selfs met Afrikaanse vroue getrou – dat hulle die erenaam “Boerejode” gekry het. Vandag word hulle vaagweg onthou as die smouse, spekulante en latere winkeliers, hoteleienaars, dokters, prokureurs, tandartse en aptekers waarsonder talle plattelandse dorpe amper nie kon funksioneer nie. Party het selfs groot grondeienaars en uitmuntende boere geword.
Een van die laastes van hierdie merkwaardige mense was Abe Friedman, grootbaas van die gewilde afdelingswinkel Friedman & Cohen in die Strand, waarvan die deure ná 104 jaar steeds oop is. Dit is ook die enigste oorblywende groot afdelingswinkel in Suid-Afrika wat nog in private Joodse familiebesit is.
Nie net vir die Strand se mense nie, maar ook vir baie wat jaarliks daar kom vakansie hou, is Friedman & Cohen ’n geliefde baken in Kusweg. Die eerste ding wat baie boervroue doen nadat die gesin in die Strand aangekom het vir die vakansie is om in F & C se restaurant, met sy seeuitsig oor Valsbaai, te gaan tee drink. Daarna sal hulle met die hulp van personeellede, van wie baie al ’n leeftyd daar werk, “shop till they drop”.
Alles het plaasgevind onder Abe Friedman se wakende oog, terwyl hy in die groot winkel rondloop en oral geselsies in sy mooi Afrikaans aanknoop. Soos net ’n ouwêreldse gentleman, so in sy netjiese pak met ’n kleurvolle das en wit sakdoek in die baadjie se bo-sak, dit kan doen. Waar kry jy dit nog?
Hy het dit 76 jaar lank elke dag tot op die laaste oomblik van sy 97ste lewensjaar gedoen. Abe het die bestuur van die winkel in 1931 oorgeneem by sy pa, ’n immigrant uit Lituae wat die winkel in 1903 begin het. Daar word vertel dat hy nooit huis toe is na sy woonstel in Kusweg voordat die dag se inkomste nie getel en gebank is nie.
Hoe dan anders? Soos goedig met Jode se sakevernuf gespot is: “Bieznies ies bieznies”. Dit was sekerlik ook die geheim van Abe Friedman se sukses wat vandag deur sy twee seuns, Barry en Benjamin, voortgesit word. Die Strand se mense kan hulle die dorp nie sonder dié instelling voorstel nie en vir dekades lank ook nie Kusweg sonder Abe op sy daaglikse wandeling langs die see nie. Hy is in 2007, op kort duskant 100 jaar, oorlede.
Wys jou hoe ons, te midde van moderne ontwikkeling en ’n nuwe wêreld wat daagliks om ons ontvou, verknog raak aan die bekende: die mense, uit ’n ander era, en die instellings wat hulle tot stand gebring het. Wanneer hierdie seders onvermydelik val, verdwyn ’n hele tydperk saam met hulle en bly slegs die nostalgiese herinneringe later oor – voordat dit ook uiteindelik vervaag.
My geboortedorp, Calvinia in die noordweste van die ou Kaapland, is ’n voorbeeld van wat met die Boerejode gebeur het. Daar was destyds soveel Jode op die dorp dat ek te min vingers het om almal op te noem: Helfet, Berelowitz, Danske, Reeff, Sher, Merrin, Klein, Rosenblat, Saunders, Sachs en talle ander.
Vandag is nie een meer oor nie. Maar die goue era wat beleef is met hulle aan die stuur van