Stefaans, onder sy bokooie, het die skoot gehoor en hom na die toneel van die daad gehaas. Rook het nog uit die loop van Jan Teelepel – ’n bottel Kommando-brandewyn in sy gatsak – se Lee Metford gedraai toe hy hulle op heterdaad by die dooie volstruis betrap.
Hulle het beteuterd daar gestaan terwyl Stefaans beduie hoe hy alles vir sy “aanstaande skoonmense” sal gaan vertel. Hy het ook. Die volstruis was nog warm toe lap hy die hele petalje, ten aanhore van Lettie, by ou Giel Hardehand uit.
Jan Teelepel se Lee Metford is deur die polisie gekonfiskeer en Piet Breedt is deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens na Pampoenpoort verplaas nadat die magistraat albei ’n boete van vyf pond opgelê het. Hulle moes Lettie ook elkeen vyf pond skadevergoeding betaal. Dis toe dat Stefaans, met die goedkeuring van ou Giel, trots op sy brawe aanstaande skoonseun, die ja-woord kry en met Lettie afhaak.
In die kafhok op Klipfontein het die bruilofsgaste – behalwe Martiens-sonder-huis wat nie genooi was nie – weggelê aan die volstruis se gepekelde stuitjie, vlerke en maag saam met ander vleiskos, wit koek en perskebrandewyn waarna hulle drie dae lank koeksoda moes drink teen die sooibrand.
Toe die bruidspaar, Stefaans die eerste keer in jare met sokkies, ná die bruilof half skoorvoetend kamer toe beweeg, het ou Giel vir Stefaans eenkant toe getrek en by kerslig ’n strategiese paragraaf uit “Wat elk aanstaande eggenoten behoort te weten” aan hom voorgelees. Stefaans het aandagtig geluister, die raad ter harte geneem en die huweliksbed vol vertroue en in haas betree.
Hy en sy skoonpa sou nie vir lank langs dieselfde vuur sit nie, sy heldedaad tydens die onwettige volstruisjag ten spyt. Ou Giel se bynaam was nie verniet Hardehand nie. Hy het sy pennies gedruk dat ou koningin Victoria se oë traan en ook ’n wakende oog oor Lettie s’n gehou.
Toe Stefaans besluit om ’n kar te koop, laat kom hy die Jood van Middelpos af met ’n Fordjie – die eerstes met opdraaivensters – sodat hy die nuwigheid kan deurkyk, natuurlik teen ou Giel se sin. Stefaans, alte in sy noppies, het agter die wiel ingeklim en deur die toe venster vir sy skoonpa gevra: “Hoe lyk ek vir Pa?”
“Soos ’n drol in ’n kênfroetbottel,” het ou Giel deur sy pruimpie se twaksop gegrom.
Hy het nietemin die kar gekoop, op skuld. ’n Jaar later was Stefaans-sonder-sokkies, toe bekend as “Blink Stefaans”, ook sonder sy erfgrond. Die koper op die bankrotvendusie was Martiens-sonder-huis. Ná die vendusie het Martiens, met sy kitaar en kooigoed op sy baaisiekel, sy bokke teruggejaag Poortjie toe en in sy ouers se opstal ingetrek.
Niemand het hom daarna weer Martiens-sonder-huis genoem nie.
’n Koekie lekkerruikseep
TOE DIE SAKRIVIER die jaar mooi afkom en sy saaidamme volstoot, maak Gert Kriedoring ’n oesie.
Die dag toe die laaste mudsakkoring by die koöperasie op Kootjieskolk ingelewer is, het hy met ’n lied in sy hart in sy afgeleefde Dodge-bakkie – met die koöperasietjekkie, minus die jaar se skuld, in sy sak – plaas toe gery.
By die huis het hy by die witgeskropte kombuistafel gaan sit, sy sweetdeurdrenkte hoed agtertoe gedruk, die tjek uit sy kakiehemp se bo-sak gehaal en effens huiwerig vir sy vrou, Let, gesê: “Hartjie, as dit na jou sin is, kan ons vir ’n paar daggies ’n bietjie Strand toe gaan.”
Let het van die stoof af weggedraai, haar sagte oë vraend, en die koffiekan voor Gert neergesit. “Strand toe?”
“Netso,” het Gert gesê en die tjek trots oor die tafel gestoot. “Die oes se geldjie.”
“Moet jy nie eerder mielies koop nie? Die ooie begin lam ná Nuwejaar. Sê nou dit word droog?” Anderkant die onderdeur het ’n noordewind verdroogde rolbosse oor die werf gejaag.
Asof hy wou bevestig dat hy seker is van sy saak, het Gert sy hoed weer oor sy voorkop – wit soos die driehoekie onder sy keel – getrek en gesê: “Ons sal deurkom.”
’n Skamerige tinteling het deur Let se skraal lyf gegaan toe sy vir hom koffie skink.
Op hulle eerste oggend in die gewilde losieshuis Die Afrikaneroord in die Strand, het Gert vroeg opgestaan, die gordyne weggetrek en die venster oopgestoot. ’n Vars seebries het die kamer gevul. Hy het die stoel met sy broek daarop nadergetrek, ’n tienpondnoot uit sy beursie gehaal, dit vir Let gegee en gesê: “Hartjie, koop nou vir jou net wat jou hart begeer.”
Sy het die noot in ’n vierkantjie so groot soos ’n Wilson-toffie gevou, in die een hoekie van ’n kantsakdoekie met die reuk van Three Flowers-poeier toegeknoop en dit bo by haar rok ingedruk.
In Friedman & Cohen se winkel in die Strand het sy aan die geblomde, kraaknuwe lakens gevoel; die sagte, wit donskussings opgetel – en weer neergesit. In die klerasie-afdeling het sy na die rye en rye rokke gekyk.
“Jy koop niks nie?” het Gert gesê-vra.
“Ek dink nog.”
Toe het hulle op ’n bank aan Kusweg gaan sit en lank oor die see uitgekyk, sonder om ’n woord te sê.
Op pad terug plaas toe, terwyl hulle deur Brandvlei ry, het Let gesê: “Hartjie, stop bietjie hier by die koöperasie.”
Gert het in die Dodge bly sit. Toe sy terugkom en hy wou weet wat sy gekoop het, het sy geantwoord: “’n Koekie lekkerruikseep. Vir ’n halfkroon.”
Ek het weer hieraan gedink toe ’n bottel verouderde Skotse whisky onlangs vir R240 000 opgeveil is, daar R26 miljoen vir ’n buffel betaal is en dit bekend geword het dat dit sowat R250 miljoen gekos het om pres. Jacob Zuma se landelike woning by Nkandla op te rig.
Dans in gebukkende tye
Swart Sak Niekerk van Koringhoop in Namakwaland was reg toe hy in Die Manakwalanners op televisie na droogte as “gebukkende tye” verwys het. Dis wat veeboere in die Karoo en Boesmanland gereeld beleef.
Nog ’n Van Niekerk, Neels van Ratelfontein, Calvinia, bel die ander dag en vertel met die kenmerkende lag-met-’n-traan-humor van die Noordwesters dis nou so droog daar by hulle, as jy die blase op ’n kind met waterpokkies stukkend druk, kom daar stof uit.
In my verbeelding het ek ’n maer mofooi gesien wat aan ’n verdorde gannastingel kou. Dis nie ’n mooi gesig nie.
In sulke omstandighede is vakansie uit. Jy bly maar by die huis, loop daagliks die veldwaters om en sit lek, mielies en lusern uit terwyl jy die wolke dophou. Jy bid ook.
Om ’n plaas in die feestyd aan die genade oor te laat, bly mos maar ’n groot risiko. Groot ellende kan op jou wag as jy ná die vakansie tuiskom. Wanneer my nog aktief boerende familie by die see vakansie hou, staan hulle voortdurend selfoon-in-die-hand en vra vrae soos:
“Het dit al gereën?” “Wat! Het die pype in die boorgat geval? Was die hek dan nie toe nie?” Die laaste paar dae van die vakansie groei die kommer op hulle gesigte.
Maar dans behoort daar op Oujaarsaand gedans te word. Al is die tye hoe gebukkend, jy dans die Nuwejaar in.
Wanneer die krismiswurm se klank bokant die balke van ’n skeerstoor uitstyg, die mieliemeel wit lê op die dansvloer, mense die lusernbale vol sit, die braaivleisvuur se vlamme in die aandlug knetter en die wingerdvoggies begin vloei, is daar “lewe in die huisie waar die liggie brand”. (Ek verbeel my daar was so ’n liedjie.)
Die plesierigheid help om jou probleme vir ’n oomblik te vergeet. Jy kan selfs moed skep met die versterkinkie in jou glas. Wanneer my pa ná ’n lang dag in die son – moeg van skaap voer tydens ’n droogte en vaal van die stof – in sy stoel neergesak het, sou hy sê: “Gooi vir ons ’n ietsie dat ons kan moed skep.”
Dan kom die bottel Limousine uit die spens verby. Dit was in die dae toe boere brandewyn by kraanwater gedrink het. Hulle het nie van Coke geweet nie.
Ek het ’n vermoede Oujaarsaanddanse op plase bestaan eintlik nie meer nie. Gemeenskappe het