Tuis het sy tot en met haar sterfdag voor sy saans gaan slaap ’n paar druppels van die bottel 4711 Eau de Cologne wat Florrie vir haar by die OK gekoop het, op haar bulsak uitgegiet. Sy het die Kaap nie weer gesien nie. Ná die begrafnis het mense by koffie en melktert gefluister ’n laventelreukie het oor die graf gedraal toe die kis in Stofkraal se blou Hantam-gruis afgesak het.
Stefaans-sonder-sokkies en Martiens-sonder-huis
Salig is die oë wat vir uiterlike dinge gesluit is,
maar die innerlike kan raaksien
Thomas a Kempis
Stefaans-sonder-Sokkies en Martiens-sonder-huis was twee oujongkêrelbroers. Hulle het dié byname gekry omdat Stefaans nooit sokkies by sy velskoene wou dra nie en Martiens nie ’n huis gehad het nie. Hulle het op twee aangrensende grondjies, geërf van hulle pa, met bokke geboer: Stefaans op Poortjie en Martiens op Klipplaatsdrif.
Hulle pa was bekend as Kruppel Eeljas. Hy het op 40 kruppel begin loop nadat sy linkerbeen kort onderkant die knie deur ’n stampboor se skepper versplinter is toe die boortou gebreek het. Toe kouevuur intree, moes die been afgesit word. Hulle was te arm vir ’n kunsbeen. Kruppel Eeljas het toe vir hom ’n houtbeen uit ’n bloekompaal gemaak.
Die paal is na ondertoe met ’n hoefrasper skuins afgewerk totdat dit netjies in ’n leë konfytblik gepas het. Hy het spesiaal vir dié doel ’n tweepondblik se appelkooskonfyt by die Jood se winkel op Brandwag gekoop. Dit was die eerste keer dat hulle geblikte konfyt in die huis gehad het. Van soetgoed het hulle net bruin suiker, turksvystroop, pampoenkoek en kweperlekkers geken.
Voor die blik oopgemaak is, wou Stefaans en Martiens, toe al mooi groot, by hulle pa weet hoe die mense jêm in ’n toe blik kry. Omdat hy nie self geweet het nie, het hy net gesê: “Die mense is deesdae baie slim.”
Daarop het hy die blik met sy Paul Kruger-sakmes, met die Transvaalse wapen en die leuse “Eendraght maak Maght” op die hef, op die kombuistafel oopgesny. Hulle het die jêm op roosterkoeke gesmeer wat hulle ma oor ’n oop vuur in die gannaskerm op die werf gaargemaak het en die blik in een slag opgeëet.
Toe het Kruppel Eeljas, om die ergste slytasie aan sy houtbeen te voorkom, die leë blik om die bloekompaal se punt met die kort taxies vasgespyker waarmee hy altyd Stefaans en Martiens se swart, breëpunt kerknêwwies met blousool op ’n lees vasgeslaan het. Toe het hy die stuk bloekompaal met die oogklaprieme en gespes van ’n donkietrens om sy knie vasgetrek.
Met die hulp van dié selfgeprakseerde kruk het hy 34 jaar lank oor die weg gekom, al hinkende want die houtbeen was effens korter as die gesonde een. Wanneer hy saans die houtbeen afgehaal het en die vleis en vel om sy knie rooi geskaaf was, het hy samboksalf aan die rou plekke gesmeer.
Toe Kruppel Eeljas, moeg en afgemat ná ’n leeftyd van swaarkry, stil in sy slaap sterf, het hulle hom gewas, op sy katel uitgelê en hom sy enigste, verslete pak klere by ’n wit losboordjiehemp sonder die boordjie aangetrek. Die broek se pyp is ingevou en onderkant die afbeen se knie met ’n haakspeld vasgesteek. Hy is só gekis, sonder die houtbeen.
Toe hulle die kis die dag met die begrafnis uit die kamer dra, het die houtbeen wat in ’n hoek staangemaak is, skielik en onverklaarbaar op die misvloer omgeval. Die blinkgeskuurde jêmblik se boom was toe al deurgestamp. Langs die kante was skraapmerke van kriedoringbosse en klein duikies wat klippertjies oor die jare gelaat het.
Stefaans, wat met die “helmet” gebore is en die nag toe sy pa gesterf het troebel water – glo ’n onheilsteken – in ’n droom gesien het, het geskrik toe die houtbeen omval. Hy het vir sy ma, ta’ Mieta, gefluister: “Pagoed wil sy been gehêt-tit . . .” Terwyl die roubeklaers, wenend in die voorhuis, gewonder het wat die oponthoud veroorsaak, het ta’ Mieta en die seuns die kis oopgemaak, die broekspyp afgerol en die houtbeen op sy plek ingeskuif.
Stefaans kon sweer dat ’n tevrede grynslaggie oor sy pa se bleek doodsgelaat gespeel het toe hulle die kis met die houtbeen in weer toemaak. Dit was natuurlik ’n leuen. Wat waar is, is dat Stefaans gehoop het om sy pa se houtbeen vir ’n stut teen ’n ankerpaal te gebruik. Pale was duur en bloekomhout sterk. Met Kruppel Eeljas se heengaan was hulle juis besig om jakkalsproef te span.
Ná hulle pa se dood het Stefaans en Martiens ’n ruk lank saam geboer en in die ou opstal op Poortjie, waar hulle gebore is en grootgeword het, by hulle bejaarde ou moeder bly woon. Hulle was toe al geswore oujongkêrels – diep in die 40 – en ten spyte van hulle armoedige bestaan, bederf deur ’n vlytige, dienende Martha. Dit het hulle lui gemaak. Wanneer hulle nie bokke gewerk het nie, wat hoofsaaklik in lamtyd was, het hulle merendeels kitaar gespeel, geëet en geslaap. Veral Stefaans.
Toe hulle jonger was, het hulle wel hier en daar by meisies in die buurt gekuier, maar hulle kon nie hond haaraf maak nie. Hulle het nie juis geweet hoe om te vry nie en die enkele hubare jong nooiens van die kontrei se ouers was kieskeurig. Wanneer ’n vryer opdaag, het die pa gekyk of die man se kar wieldoppe het – ’n teken van sorgsaamheid – en of daar ’n koerant, ’n bewys dat hy kan lees, op die sitplek lê.
Stefaans was boonop altyd sonder sokkies. Sy voete het gestink van die rouleervelskoene en dit het die meisies afgesit. Sy verskoning was dat sokkies sy voete brand. Sy enigste paar het hy een keer drie weke aanmekaar gedra. Die sokkies het bly staan toe hy hulle uitgetrek het.
Die afgeleefde donkiekar, gebou op ’n ou motoronderstel, wat Kruppel Eeljas vir sy seuns nagelaat het, het wel ’n dif gehad maar die wiele was sonder wieldoppe en daar het ook nie ’n koerant op die sitplek gelê nie. Nie eers ’n oue nie. Op Poortjie is ’n ou koerant gebruik – in die kleinhuisie op die werf agter die houthoop.
Toe hulle ma een môre nie opstaan en hulle met koffie en beskuit in die ramhok, ’n buitekamer waar hulle geslaap het, bedien nie, het Martiens in sy lang wit onderbroek en ’n frokkie na haar kamer geslof. Sy het op haar rug gelê. Haar hande wat jare lank geslag, gebak, ingelê, seep gekook, gewas, gestryk en kos gemaak het, het blou en koud oor haar bors gevou.
Die saggeaarde Martiens het lank na haar staan en kyk voor hy die laken oor haar getrek het en die stoof in die kombuis aan die gang gekry en koffiewater opgesit het. Wetende dat niks op Poortjie weer dieselfde sal wees nie, het hy by die kombuistafel gaan sit en met sy kop in sy hande droewig begin huil.
Toe hulle kort ná die begrafnis stry kry oor beurte vir houtmaak en kos opsit en die parmantige Stefaans al hoe astranter word, het Martiens gesê: “Ek het te het.”
Die volgende dag het hulle gedeel: 150 bokooie vir elkeen. Toe het Martiens in die pad geval Klipplaatsdrif toe. Die troppie bokke het aan die groen uitloopsels van kraalbos gepeusel, geil in die leegtes ná ’n spoegnatbuitjie, terwyl hy sy baaisiekel met sy kitaar en kooigoed op agter hulle aangestoot het. Daar het hy die vlermuismis in die klipstoor – wat sy pa self gepak het – met ’n biesiebesem uitgevee en die een hoek met fluitjiesriet en streepsakke afgesper. Die res was snags die bokke se skuiling teen jakkalse en rooikatte.
Dis hoekom die mense hom Martiens-sonder-huis genoem het. Hy het nie ’n huis gehad nie en dít wat daar wel was, met sy bokke gedeel.
Op Poortjie het die eensaamheid Stefaans gou gevang. Maar uitkoms was op pad.
Sy naaste buurman, Hennerik Hakskeen van Klipfontein, het versmoor toe ’n puts se wal op hom instort. Sy Lettie het ’n weduwee geword en Stefaans het moed geskep. Op byna 50 het hy na Lettie begin vry. Sy was nie juis aansienlik nie; mollig en ook nie meer te jonk nie. Op haar bolip was tekens van ’n snorretjie en sy het spatare gehad van al om die ander jaar se lank staan met ’n ongespeende suigeling op haar heup.
Sy was egter nie onwillig nie en Stefaans het na ’n aanspraak gesmag. Maklik sou dit egter nie wees nie. Haar knorrige pa, ou Giel Hardehand, en haar ma het ná Hennerik se tragiese afsterwe by haar ingetrek om met die boerdery en haar vyf kleintjies te help. Om Lettie voor die kansel te kry sou hy ou Giel moes beïndruk.
Sy kans het gekom toe Jan Teelepel en sy swaer, Piet Breedt, baanmeester op Hoedjies,