So was dit. Johan van Wyk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan van Wyk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624055846
Скачать книгу

      

      Johan van Wyk

      So was dit

      STORIES VAN GISTER EN VANDAG

      Tafelberg

      Aan die kinders van Calvinia,

      waar hulle hul ook bevind.

      “As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit in die vlei waar die springers en harders boer, en as ek vleis wil hê, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant. Daar is my trapvloer en perdemeul, hier my melkstal. My meubels maak ek met ’n dissel en my knipmes, my velle vir my tuie brei ek self. In my voorhuis staan ’n wireless en hier onder is ’n phone. In my tuiekamer staan my houtbaad­jie [doodskis] en daar onder die bome lê my kerkhof. Ek skuld niemand niks . . .” *

      * Só het oom Theunis van Zyl, tuie- en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus, in die 1960’s sy eenvoudige, maar onafhanklike boere­leefwyse aan my beskryf toe ek hom op sy lappie grond, Muis­hoek, besoek het. Die foto van hom en sy rooi konsertina is op 2 Mei 1967 op die voorblad van Die Landbouweekblad gebruik. Die tydskrif het toe agt sent gekos. – Johan van Wyk

      Voorwoord

      Jare lank was Johan van Wyk een van die Vrystaat se swaks bewaarde geheime. Hoe anders, terwyl sy rubriek die mees gelese en besproke item in dié provinsie se geliefste koerant was?

      Hy sal dadelik daarop wys dat hy nie eerstens ’n Vrystater is nie, maar ’n Noordwester: ’n man uit die Hantam, wat saam met sy buurman Namakwaland ’n wêreld van storiemakers en -vertellers is. Droogte en swaarkry is klaarblyklik vrugbare grond vir die verbeel­ding. (En vir eiesinnigheid, erken hy.)

      Johan het 25 jaar lank elke weekdag die rubriek Stop van Myne vir Die Volksblad (vandag net Volksblad) geskryf wat ’n rekord van een of ander aard moet wees. Daarmee saam het hy agt jaar lank die rubriek Potjiekos vir Beeld behartig. Deesdae skryf hy ’n gereelde rubriek vir Landbouweekblad en minder gereeld bydraes vir Weg, Die Burger en By. Dis ongeveer 7 400 joernalistieke rubrieke en bydraes van bykans vyf miljoen woorde! Maar dit het vir Johan nog nooit oor kwantiteit gegaan nie, soos blyk uit die FAK se Prestige-prys vir uitmuntende Afrikaanse joernalistiek wat in 1992 aan hom toegeken is.

      Vir hierdie bundel is net die room van sy skryfwerk afgeskep. Boon­op is daar ’n bonus:’n paar sketse wat hier vir die eerste keer gepubliseer word. Die eindproduk is ’n versameling waarmee hy die wyer blootstelling kry wat hom – en alle Afrikaanse lesers – lankal toekom.

      Johan se voorliefde is die landelike milieu en sy bewoners van ’n vergange era wat hy aards, eerlik en onthullend skets. En wan­neer sy ongeëwenaarde geheue hom dalk in die steek laat, staan ’n meer as gewillige verbeelding hom by!

      Hy is onbeskaamd nostalgies oor sy wêreld en sy land waarvan flarde reeds weggevoer is op die winde van verandering. Sy verhale word egter nie bloot ter wille van hulle (voort)bestaan vertel nie – hoe­wel dit rede genoeg sou wees – maar ook ter wille van wat dit hier op ’n unieke manier van die “menslike toestand” verklap. Krisjan Houmoed, Willem Naald, Stefaans-sonder-sokkies, Giel Hardehand, Jan Teelepel, Hennerik Nag, Hannie Stofkraal en al die ander sou minagtend gesnuif het oor dié kamma-geleerde stelling.

      Nogtans.

      Sy stories word vanweë hul her-ken-baarheid geborge eilande wat hy uit ’n see van dreigende vergetelheid laat herrys. “Ek rebelleer teen die genadeloosheid van die lewe, maar ek onthou die mooi dinge wat nie meer bestaan nie,” is ’n uitspraak van ’n ander Calvinianer, die komponis Arnold van Wyk, wat ’n rigsnoer vir sy gemoed bied. Nie ’n swaar en donker gemoed nie; allesbehalwe.

      ’n Sêding van Namakwalanders oor vry is hier gepas: “As jy eers gesta’-en-lê-en-proe het, word jy meer erg.”

      Met hierdie versameling wys Johan van Wyk op sy onnabootsbare manier dat die lees van ’n goeie storie minstens net so lekker soos vry kan wees. Daarvan word ’n mens ook meer erg.

      Dis nie net ’n waarskuwing nie, maar veral ook ’n belofte.

      Tobie Wiese (samesteller),

      Kaapstad

      Skrywersnota

      Lank gelede, toe dit nog so moeilik was om te katkiseer dat ’n hele geslag plattelandse Afrikaners wat nie juis geleerd was nie dit as ’n “Boerematriek” beskou het, wou die predikant by ’n katkisant weet wat die apostel Paulus se belangrikste taak op aarde was. Dit was nadat hy Paulus se uitgebreide sendingreise breedvoerig behandel het.

      Die jongeling, wat halfpad deur die langdradige uiteensetting vol onuitspreekbare name van vreemde plekke aan die slaap geraak het, het ’n rukkie nagedink. “Dominee, hy het gereis en geskryf en gereis en geskryf.”

      Dit is die beste opsomming van Paulus wat ek nog gehoor het. Dis min of meer ook wat ek ’n leeftyd lank al doen. Niks in hierdie bundel sou tot stand gekom het as ek nie gedoen het wat ’n joernalis ver­on­derstel is om te doen nie, naamlik om te reis en te skryf sodat ander kan deel in dít wat hy ervaar het. Om boonop daarvoor betaal te word – hoewel nie juis so dat jy dit kan agterkom nie – maak van joernalis­wees ’n voorreg.

      Maar dit maak egter nog nie van jou ’n skrywer in die ware sin van die woord nie. Ek durf my dus nie as een uitgee nie, maar ek kan be­aam wat Wilbur Smith oor skryf gesê het: “Writing is my excuse for living.”

      Dis ’n baie goeie verskoning, maar hy kon gerus bygevoeg het dat skryf nog nooit maklik was nie. Soos goeie wyn en goeie seks is goeie skryfwerk ’n beleë kuns, geslyp deur jare se ervaring en ’n dwingende begeerte na die onbereikbare. Hopelik skemer iets daarvan deur in So was dit.

      Dankie aan my jare lange oudkollega, Hennie van Deventer. Son­der sy aanstigting en aanvoorwerk sou hierdie bundel nie verskyn het nie; sy aandrang het my onwilligheid verslaan. Ek is ook dankbaar teenoor Tobie Wiese, samesteller/redigeerder en my mede-biker op ver paaie, wie se joernalistieke vernuf net deur sy ge­trouheid oortref word. Toe ons mekaar by geleentheid weens ’n misverstand op die pad verloor, het hy – uit vrees dat ek in ’n ongeluk was – van Citrusdal tot op Klawer gery om my te gaan soek. Ek ken min sulke mense. En dankie aan knap Annie Olivier van Tafelberg vir haar afrondingswerk.

      Johan van Wyk ([email protected]),

      Strand

      Naskrif: Omdat ’n goeie storie nie deur die feite bederf behoort te word nie, bevat van die verhale, hoewel rofweg gegrond op werklike mense en gebeure, hoogstens ’n element van waarheid. Hier en daar moes ek ook die naam van ’n plaas of ’n mens verander om die skuldiges te beskerm. Die helfte van die stories het ek inderdaad by ander mense gehoor en die ander helfte is bygelieg. Joernaliste kan ver­skriklik lieg, vra my, maar darem só dat jy hulle kan glo.

      1

      Hantam blues

      Die Floorse van Ongunsfontein

      ONGUNSFONTEIN was nie ’n wafferse plaas nie, maar as jy op die klip­stoep van sy hartbeeshuis gestaan het, was die uitsig mooi. Wit Boesmangras sou in die wind wuif. In die verte het die Jan Swartsberge newelrig bokant die vloedvlaktes van die Renosterrivier gelê.

      Met sonsopkoms in die somer het poele water tussen die fluitjies­riet geblink, in die winter brokstukke ys.

      Wanneer dit in die Roggeveldberge gekapok en gereën het, sou ’n wal bruin modderwater wild deur hom galop en stof opskop in die droë loop. So vinnig, het Krisjan Houmoed vir die waarheid vertel, dat daar skaapmis en nat opdrifsels op die carrier aan die agterkant van sy 1938 Willy’s Overland gelê het toe hy op ’n keer voor die water deur is en op die oorkantste wal stilhou.

      “Op siffel na,” het hy met sy duim en voorvinger gewys.

      Dis nie onmoontlik nie. Maar Krisjan was ’n spekskieter. Hy het een­keer gespog dat hy 17 lae bale lusern op sy vierton-Chev-lorrietjie op pad stasie toe gelaai het toe hy dit vir ’n perdeboer in die Boland moes versend.

      Toe die wysneusige laaimeestertjie op Kootjieskolk parmantig sê-vra: “Oom Krisjan, maar jy lieg mos nou! Hoe het jy onder die telefoondrade deurgekom?”,