So was dit. Johan van Wyk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan van Wyk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624055846
Скачать книгу
jellie by die resepsie wees. Daar was net drie: geel, groen en rooi.

      In hierdie swaarkrywêreld het die Floorse in die Depressiejare van die 1930’s van die hand in die tand geleef.

      Ou oom Floors het laatmiddag met ’n beker koffie in sy tolletjiesstoel op Giflaagte se stoep, sy voete op ’n bont boerbokvel, na die Jan Swartsberge sit en tuur toe sy kop op sy bors sak en die blikbeker uit sy hande val.

      Sy graf was nog vars toe sy testament gelees is: Giflaagte moet op­­gesny word en elkeen van die vyf seuns moet 500 morg kry. (Voordat dit deur wetgewing – sedertdien herroep – stopgesit is, is eko­no­miese eenhede destyds op dié wyse versnipper en erfgename in ar­moede gedwing op lappies grond waarop ’n pofadder nie kon oorleef nie.)

      Die oudste seun, Casper, het sy deel “Ongunsfontein” gedoop want, het hy bitter gesê, sy pa het hom ’n onguns bewys deur vir hom ’n stukkie grond na te laat waarop hy ’n worstelbestaan sou voer.

      Hy het hom nietemin teëgesit. Hy het met sy veetjies soontoe versit, getrou en ’n platdakkleihuis gebou. Behalwe ’n slagding af en toe het hulle merendeels meelpap, dikmelk en turksvye geëet.

      Sy drie seuns – Klaas, Johny en Lewies – was al groot toe hy die dag ná die bankrotvendusie die kleihuis op Ongunsfontein se voordeur ag­ter hom toetrek en die Floorse met hulle karige huisraad­jies op ’n skaaplorrie dorp toe is.

      Toe die lorrie wegtrek, het Casper sy hoed diep oor sy oë getrek so­­dat Tryna en sy kinders nie kon sien hoe trane nat stofstrepe op sy wange maak nie.

      Op die dorp het hulle in ’n kamer in die Joodse winkelier Jaffe se jaart in die onderdorp ingetrek. Daar het Casper met ’n els en seilnaald vir die boere tuie, tooms, halters, donkietrense en velskoene op ’n tuie­­bankie gemaak. Velle blousool en wit, gebreide naairiempies het aan die dakbalke gehang.

      Hulle het steeds meelpap geëet, maar party Sondae ’n hoender en soms lemoene pleks van turksvye.

      Sy ma sou vir Lewies met ’n sjieling na Adam’s se groentewinkel stuur met die opdrag: “Sê vir die Slams ek soek 12 groot, rooi, ronde, soet lemoene.”

      As die lemoene klein en suur was, moes Lewies dit gaan omruil vir piesangs. (Die onderdorp se mense – arm maar skoon – het nie graag piesangs geëet nie. Hulle het gesê die Adamse slaap tussen die groen piesangs om hulle gouer ryp te maak.)

      Een jaar het die Floorse ’n week lank lemoene geëet. ’n Sitrusboer van Clanwilliam het met ’n eselwa vol Valencias op Calvinia kom smous. Ná Pakhuis op en Botterkloof af, was die lemoene pap toe hy op die dorpsplein uitspan. Taai lemoensop het tussen die bakplanke deurgesyfer en oor die wiele se speke gedrup.

      Ná drie dae het hy die lemoene verniet begin weggee. Aan elkeen wat verbyloop, het hy gevra: “Jong, wil jy nie lemoene hê nie?” Die Floorse het gevat.

      Toe die boere bakkies, trekkers en winkelskoene begin koop, het Casper sy tuiebankie vir sy handlanger, Willem Sas, gegee en vir Try­na gesê: “Pak, ons trek Kaap toe!” Bellville toe, om presies te wees, des­tyds gewild onder Afrikaners uit die platteland.

      Hulle is vort – weer agter op ’n skaaplorrie. In Wellington moes hulle die sideboard lêmaak om te voorkom dat die pote aan die telefoondrade haak. Dit was in 1948. Baie Afrikaners het toe die platteland verlaat.

      Die eerste minister, dr. DF Malan, het die volksverhuising die Af­ri­kaner se “Tweede Groot Trek” genoem. En bygevoeg: “Glo in jou God. Glo in jou volk. Glo in jouself!”

      Die Floorse het dit ter harte geneem.

      Casper het werk gekry by die munisipaliteit as ’n paver. Met sy groot hande het hy, totdat sy rug ingegee het, jare lank die beton slabs gelê vir die sypaadjies waarop mense vandag nog in Bell­ville loop.

      Klaas het die hare in ’n barbierwinkel in Houtstraat in Kaapstad op­gevee voor hy self ’n barbier geword het. Met ’n cut throat en kwas van perdesterthare in ’n klein soetkysie het hy naweke vir ekstra geld die ryk Jode van Seepunt in hulle woonstelle gaan skeer.

      Sy fooitjies was party maande meer as sy salaris.

      Johny het die pad gevat en ’n kroegman op Karasburg in Suidwes geword, toe ’n kelner op die Spoorweë. Hy het op die hooflyntreine tot in Bulawayo gewerk en gou tot chief steward gevorder.

      Wanneer die Selati-eetsalon in die middel van die Union Limited ge­haak was, het hy gesorg dat die silwer eetgerei op wit damastafeldoeke blink gevryf was en ’n rangskikking van proteas tussen bakke met vrugte op die buffet gepryk het.

      Hy het leer Engels praat, kon eksotiese cocktails meng en met drie opgeskepte porseleinborde vol stomende kos, gebalanseer op sy een arm, in die gangetjie tussen die tafels op en af trippel terwyl die trein wiegend oor die Karoovlaktes snel.

      Sy fooitjies was die meeste maande óók meer as sy salaris.

      Lewies het “gaan leer” en ná matriek aan die Handelskool in die Paarl ’n kaartjiesklerk op die Spoorweë geword. Sy eerste stasie was Wood­stock. In ’n wit hemp en swart onderbaadjie met ’n groen plas­tiek­skerm­pie op sy voorkop het hy kaartjies deur ’n ronde gat in ’n tralie­venster verkoop.

      Sy ma het elke dag vir hom toebroodjies met sandwich spread op saam met sy asmapompie in sy verweerde skoolboeksakkie van goed­koop kunsleer gepak. Ná sy eerste werkdag het hy sy ma gebel toe hy die voorstedelike trein Bellville toe moes haal en dramaties aangekondig: “Ma, ek klim nou!”

      Treinry tussen voorstede was vir ongekunstelde plattelanders toe so goed soos ’n reis na ver bestemmings.

      Nadat Lewies die Spoorweë gelos het, het hy van posklerk tot ’n groot­kokkedoor gevorder in die bank wat bankwese in Suid-Afrika onherroeplik verander het.

      Hy het smiddags in die Here Sewentien se restaurant geëet en ’n ak­tetas van volstruisleer gedra. Soggens het sy sekretaresse, in ’n mini-rok en met ’n beehive-haarstyl, ’n vars rooi angelier in sy baadjie se lapel gesteek. Sy luukse kantoor was groter as die kleihuis op Onguns­fontein en het vanaf die twaalfde verdieping van die bank se glas­paleis aan die Heerengracht op die Tafelbaaise hawe uitgekyk.

      Die Floorse het nie lank gependel voor hulle rygoed begin koop het nie. Klaas ’n Simca, Johny ’n Essex, hulle pa ’n Austin Ten en later ’n Consul. Derdehands. Maar nie Lewies nie. Hy het gespaar en ’n splin­ter­nuwe Fiat Cub kontant uitgetrek.

      Hy het haar “Snuifie” gedoop en aan die agterkant in sierskrif laat aanbring: “Verskoon my stoffies!” Meisies het daarvan gehou.

      Maar Johny se Essex was die bielie onder die afdak by die rousteen council-huis waar hulle in Bellville gewoon het. Toe die two-tone Essex se rooi en swart begin verbleik, het Johny ’n blik verf gekoop en haar in die agterplaas met ’n vlieëgifspuit in die kleur van sy sigaretboksie oorgeverf – in “Gunston orange”. Die Essex het soos ’n king-size Navel-lemoen gelyk toe hy klaar was.

      Met die oorskiet het hy die paraffienblikke met sy ma se malvas daar­in op die rooi sementstoep ook “Gunston orange” geverf.

      Maar Lewies sou die Floorse se eer herstel.

      Toe Ongunsfontein jare later – sy ouers en broers was reeds dood en hy afgetree – in die mark kom, het hy met ’n glimmende swart Mercedes Calvinia toe gery en sy pa se grond binne ’n dag ongesiens kontant teruggekoop.

      Ná die transaksie het hy uitgery Ongunsfontein toe. By die bekslanerhek het hy stilgehou, ’n blikkie verf en ’n kwassie uit die Mercedes se kattebak gehaal, die “On” op die naambordjie doodgeverf en die “g” ’n hoofletter gemaak sodat dit “Gunsfontein” kon lees.

      Daarna het hy, soos sy oupa toe hy op Giflaagte gesterf het, op die klipstoep van die vervalle ou kleihuis gaan sit en kyk hoe die Jan Swartsberge pers word in die ondergaande son. Toe dit donker word, het hy in die oorblyfsels van sy ma se kookskerm vuurgemaak, ’n bottel White Horse uit die Benz gehaal, ’n lamsrib op die kole gegooi en dit by swart koffie en roosterkoek met sy knipmes afgeëet. ’n Sekelmaan het agter