So was dit. Johan van Wyk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan van Wyk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624055846
Скачать книгу
vir die Joodse winkeleienaar op Die Bos in die Ceres-Karoo vra wat nuus is, het hy geantwoord: “Og, Miester Pogpoel, de news is tog very bad. Die Prins van Koerland ies gaskiet mette laweller.”

      Hy het skouerophalend afgesluit: “En tog die place waar hy wer, wir veilag!”

      Dit was sy weergawe – aan die hand van ’n derdehandse medede­ling deur ’n besoekende handelsreisiger uit die Kaap – van die sluipmoord op die Oostenryks-Hongaarse kroonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand, in Sarajewo in 1914. Dié sluipmoord het tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gelei.

      Elke dorp in Suid-Afrika het so ’n winkel gehad – wat ligjare verwyder is van vandag se supermarkte. Mense wat op die platteland grootgeword het, onthou nog hoe daardie winkels na ’n mengsel van lampolie, Hollandse medisyne, gebrande koffie en “Dubbin” – ’n leer­middel vir perdesaals en tuie – geruik het. Soos dié van perdestalle en begrafnisblomme is dit ’n reuk wat jy nooit vergeet nie.

      Behalwe negosieware is hardeware, skoene, mans- en vroueklere en rolle materiaal ook aangehou. Vroue het toe self klere gemaak. In die haberdashery-afdeling was dikwels ’n advertensie vir Singer-naaimasjiene met die volgende byskrif onder die skets van ’n vrou wat by ’n flikkerende kers met die hand naaldwerk doen: “Moeder se Naaityd is Verby.” Dit is nou as sy ’n Singer sou koop.

      Lekkergoed, suurklontjies, pepermente, toffies en swart drop is uit groot glashouers afgeweeg en verkoop teen ’n tiekie en ’n sikspens as jy die dag in ’n spandabele bui was. Dis gegooi in ’n tregtertjie wat uit ou koerantpapier gedraai is. Fietsbande, ploegskare en saals, tooms, halters, rieme en tuie het aan die dakbalke gehang.

      Gereelde kliënte kon op skuld koop met ’n order-boekie. Boekies is soggens by huise afgelewer sodat huisvrouens hulle bestellings kon plaas. By die winkel is dit “opgemaak” en later die dag op ’n drie­wiel­fiets, met ’n groot gevlegde mandjie aan die voorkant, by die huis se agterdeur afgelewer. Op groter dorpe is aflewerings gedoen met ’n molwaentjie wat deur ’n perd getrek is.

      Daar was ook winkels op plase wat veral in werkers, wat selde op die dorp gekom het, se basiese behoeftes voorsien het. Op die rakke was daar buiten die gewone dinge soos koffie, suiker, boermeel en kerse ook snuif, pruimtwak en Cavalla-sigarette, asook medisyne soos kas­terolie, lewensessens, Lennon se staaldruppels, Zambuk-salf, Vicks, kanferolie en Borstol.

      Op sommige plase het dit ook as ’n agentskap van die Poskantoor gedien. ’n Bordjie met die woorde “Telefoon/Telephone” het aangedui dat jy daarvandaan kon bel.

      Oom Willem Kortnek het so ’n winkel op Matjiesvlei bedryf. Die winkel was in ’n buitekamer teenaan die plaashuis. Met uitvaltyd teen sononder het die plaaswerkers nadergestaan op die stoep om hulle goedjies “op die boek” te koop. Van heeldag skaapwerk in die son het hulle na stof, bitterbos en kraalmis geruik. Die “boek” was die agterkant van oom Willem se pakkie 50 Rembrandt Plain. Elke werker se aankope is met ’n pers indelible-potlood, waarvan hy die punt natgelek het, aangeteken.

      Die winkel was so winsgewend dat hy elke jaar ’n nuwe Ford-kar kontant kon koop. Hy het sy tiekies ’n hele paar keer omgedraai. Om op kerse te spaar, het hy byvoorbeeld skaapkutteltjies in paraffien ge­­week en dit langs sy bed in ’n Nugget-skoenpolitoerblikkie se dek­sel­tjie laat brand. Hy het saans sy Bybel daarby gelees. Wanneer hy sy Rembrandt-stompie weggeskiet het, was net die kooltjie oor. ’n Dosie Lion-vuurhoutjies het hy verdubbel deur dit met sy vlymskerp Joseph Rodgers in die middel deur te sny.

      In sy winkel is ’n span pruimtabak op ’n geelkopermaatband op die toonbank afgemeet en met ’n biltongkerwer tot die vereiste lengte af­gesny. So presies was oom Willem, het die bure gespot, dat sy lin­ker­­hand se duim later net so kort soos sy nek was. Petrol is in 44-gelling-dromme aangehou en met ’n handpomp deur groot glasbottels in karre se tenks getap. Daar het altyd ’n bietjie vir oom Willem se kar in die bottels agtergebly.

      Ek was 14 jaar oud toe ek in skoolvakansies af en toe skelm­pies ’n los Cavalla vir my en my speelmaat, Piet Rissant, uit die plaas­winkel op Matjiesvlei gegaps het. Oom Willem was slim, maar ek was slimmer – hy het dit nooit agtergekom nie.

      Koning van die kombuis

      Wanneer die winter sy kloue inslaan, verlang ek na die warmte van ’n stoof in ’n plaaskombuis en wonder ek terselfdertyd in hoeveel daar nog ’n regte kool- of houtstoof staan. Baie, indien nie die meeste boervroue nie, het lankal van hierdie wonderlike, hoewel ietwat mor­sige, staatmakers afstand gedoen en dit met elektriese of gekombi­neerde krag-en-gasstowe met vinnige gasbranders en elektriese oonde vervang.

      Die nuwe stowe is ’n windmaker-affêre in blink afgewerkte, vleklose staal – teen ’n prys wat ’n kar nie so lank terug nie gekos het. Ek gun dit vir vroue wat oor jare met primitiewe hout- en koolstowe moes klaarkom, maar treur oor die verlies aan karakter – en natuurlik die snoesige warmte in die winter – waarmee dié stowe plaaskombuise, die hart van die huis, vroeër gevul het.

      Behalwe miskien nog in die mees afgeleë, koudste dele van die Karoo, die Oos-Kaap, Vrystaat en die ou Transvaalse Hoëveld, is ’n swart Bolinder, Dover No.10, ’n wit-en-groen Farmer en ’n roomkleurige Esse of Aga deesdae slegs ’n herinnering uit die verre ver­lede – nes ’n vuurherd en ’n waterbalie met geelkoper­hoepels. Laat staan nog die dae van mis- en perskepitvloere wat se­ment geword het, toe bont linoleum, later novilon en uiteindelik teëls. Van hierdie lot was misvloere die warmste. In my grootwordjare was daar nie meer misvloere in plaaswonings nie, maar ek onthou die warmte wat dit afgegee het, ook danksy ’n oop vuurherd, uit die strooise van my kinderdae.

      Op ’n misvloer het niemand koud gekry nie en nog te meer nie rond­om ’n konka vol gloeiende miskoeke wat van nat beesmis gemaak en in die son uitgedroog is nie. In die ou dae het stapels miskoeke, ge­pak in ronde hope en toegemaak met ’n sinkplaat om dit teen reën te beskerm, op elke plaas in Suid-Afrika om arbeidershuise gestaan. Vroue met kleintjies agter op hulle rûe het die nat mis daagliks in krale en stalle opgetel.

      Jy sien dit waarskynlik nêrens meer nie. Die meeste arbeidershuise het vandag elektrisiteit en die geriewe wat daarmee saamgaan. Tog wonder ek of hulle nie – soos die boervroue wat deesdae op winters­oggende in ’n koue kombuis sonder ’n hout- of koolstoof moet gaan koffie maak – nie met ’n tikkie nostalgie aan daardie dae terugdink nie. Waarskynlik nie. Die sogenaamde “goeie ou dae” was dikwels niks anders as ’n moeisame gespartel nie, al onthou jy merendeels net die goeie en die lekker. Gelukkig het niemand van beter geweet nie.

      Wat ek wel weet, is dat my hart met ’n punt na die vervloeë dae trek wanneer ek in die winter soggens my huis se koue, kliniese kombuis betree. Dan wens ek ek kan weer die blink, ronde deksel van ’n Aga-stoof se warm plaat oopklap en met my rug daarteen staan terwyl ’n ketel koffiewater singend op die gloeiende rooi gietysterpot dans.

      Die Aga was ongetwyfeld die koning van stadig brande antrasietstowe. Vra enige boervrou wat die grootste deel van haar lewe met een deurgebring het en jy sal net lofsange hoor. My vrou het my oor ’n tydperk van 30 jaar herhaaldelik verseker dat sy enigiets sal prys­gee ter wille van huislike geluk – behalwe haar Aga. Gaan die Aga, loop sy ook! Die les is: Gee jou vrou ’n Aga en jy het ’n minsame, dienende Martha vir die res van jou lewe. En die lek­kerste, safste boerekos.

      Natuurlik nie sonder moeite nie. Die soggens en saans se stook met antrasiet om hom dag en nag aan die gang te hou, as uitkrap en fyn spinnerakke teen kombuismure en plafonne was deel daarvan.

      Maar dit was ’n kleinigheid in vergelyking met die hitte wat die hele huis gevul het, die voortdurende beskikbaarheid van warm water en die manier van stadig kook op die lou plaat, of oornag in die lou oond. Geen afval smaak soos dié wat oornag in ’n Aga se lou oond malsig gaar geword het nie. Of ’n viertandmofhamel se boud of rib. Kyk hoe water my mond nou!

      So was dit – totdat Eskomkrag plase bereik het en baie boervroue ná jare sonder die gerief van elektrisiteit en elektriese toebehore mee­­gesleur is deur vernuwing en die versugting na ’n gemakliker lewe met elektriese stowe, yskaste, vrieskaste, wasmasjiene, skottelgoedwassers en stofsuiers. Vra ’n huishulp toe glo een dag in ’n werkonderhoud