So was dit. Johan van Wyk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan van Wyk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624055846
Скачать книгу

      Die grootste rede is waarskynlik dat daar nie juis meer musikante op plase oor is nie. Nou praat ek nie van orkeste nie. Dié bestaan nog hier en daar. Ek praat van gewone boere wat hulself met verstommende talent leer musiek maak het of hoogstens Jannie Raath se kor­­respondensiekursus gevolg het. Jannie was ’n klavierspeler wat beweer het dat hy selfs ’n bobbejaan kon leer klavier speel. Sy adver­tensie in Die Huisgenoot het ’n foto bevat van ’n mak bobbejaan wat “Boegoe­­berg se dam” op ’n Steinway speel.

      Elke omgewing het sy musikante gehad wat nie note kon lees of ooit formele onderrig ontvang het nie, maar ’n klavier, kitaar, bekflui­tjie, viool, pensklavier, banjo en later elektroniese klawerborde en orrels – op baie plase het ’n Lowrey in die voorhuis gestaan – so goed kon bespeel dat dit menige professionele musikant jaloers sou maak. Van sommige kon gesê word soos van die beroemde Amerikaanse pianis Carmen Cavallaro, “He plays the white notes, the black notes and the ones in between.”

      Niemand kon stilsit wanneer hulle losgetrek het nie. Nie eens die wallflowers nie. Hulle het mekaar gegryp en vrou saam met vrou het die dansbaan gevat, so lekker en aansteeklik was die musiek. Wanneer wit salpetersweet tussen hulle blaaie uitgeslaan het, moes die voordansers onder die manne kort-kort buite toe om asem te skep.

      Dit was ook die geleentheid om by ’n oop kattebak ’n ekstra ver­ster­kinkie te kry vir moedskep. ’n Plaat Fords en Chevrolets het ge­woon­lik die werf by die skuur langs die stalle volgestaan. Die manne is stalle toe as hulle ’n draai wou loop. Kinders het wegkruipertjie om die karre gespeel en in die gate geskuil wat perde in die kafhok se mied gevreet het en waarin weglêhenne graag hulle eiers gelê het.

      Die maan het die vlaktes verlig. Die musiek het in die stil, sterbelaaide nag weerklink. Af en toe het ’n strooishond in die verte geblaf.

      Daar was nie trombome, saksofone of Franse horings nie en die voet van die kitaarspeler – wat terselfdertyd ’n bekfluitjie bespeel het – was in ’n velskoen, terwyl die bekfluitjie met ’n tuisgemaakte kontrepsie aan sy kitaar se blad vasgemaak was.

      Wanneer ’n stowwerigheid in die lug gehang het, is die dansbaan liggies natgesprinkel. Wat ek wel nooit gesien het nie, is hoe dansers by die uitroep “Balke toe!” aan die dansplek se balke gehang het sodat die vloer natgemaak kon word. Boere het in my tyd al staalskure gehad en dit sou maar gelol het om daardie hoë balke by te kom.

      Toe my pa ons kontrei se voorste kitaarspeler een jaar bel om te vra wat hy vir hom van die dorp af moet saambring vir die komende Oujaarsdans op Matjiesvlei, het hy gesê: “Net ’n stel nuwe kitaarsnare, ’seblief ou broer.” Met só min was hulle tevrede, sommige musikante in die mees afgeleë streke met selfs nog minder. En waar is die outydse grammofone waarop 78-spoed-plate van ou Boeremusikante soos Chris Blignault, die Briels, die Vier Transvalers en ander ge­speel is: “Maanlig op die Vaalrivier”, “Boereseun”, “Boereplaas”, “Grootrivier se voël”. Nog ’n skat wat feitlik verlore is. Daar is heelnag lank op ge­dans.

      Dit lê so ver terug in die verlede en is so totaal verwyder van die tydvak waarin ons leef dat ek nie eers probeer om dit te onthou nie. Maar die herinnering aan mense wat om ’n tafel op ’n eensame plaas daarna sit en luister, bly helder.

      Só was dit en is dit nie meer nie.

      2

      Aga’s en algemene handelaars

      Die windpomp-mekenniek van Klawerberg

      ’n Donkie, soos die liedjie sê, mag ’n wonderlike ding wees, maar ’n windpomp – dáár is nou vir jou ’n wonderlike ding! As ek kon, sou ek ’n liedjie oor hulle skryf: “Die ballade van die windpomp”.

      Na raming is daar nog sowat 200 000 werkende windpompe in Suid-Afrika. Die bekende Climax tel onder baie van hulle. Die maatskappy Stewarts & Lloyds het die patentregte om die Climax in Suid-Afrika te bou in 1942 van die Amerikaanse ontwerpers, Thomas & Son, bekom.

      Windpompe word egter wêreldwyd minder. In Amerika, waar die moderne windpomp in die negentiende eeu ontwikkel is en boere in ’n stadium uit 32 verskillende fabrikate kon kies, het die getalle van ongeveer 600 000 in 1932 tot minder as 60 000 tans gedaal.

      Hulle bydrae tot veeboerdery oor geslagte heen is onberekenbaar. Sonder windpompe en boormasjiene sou die dorre, vee-streke van die land moeilik bewoonbaar gewees het. Van die Climax is gesê: “Waar ’n Climax en ’n mofskaap loop, kan ’n wit mens leef.”

      Daarom haal ek my hoed af as ek in die Karoo by een verbyry. As hy naby die pad is, hou ek stil om te luister hoe sy wiel sing. Dis een van die mooiste plaasgeluide.

      Soms klim ek oor ’n draadheining om die koel water, gehyg uit die aarde, bakhand by sy bek te drink en te hoor hoe dit in ’n dam plons. Wanneer ek by ’n windpomp in die Karoo vertoef, roep ek graag CM van den Heever se versreëls op: “O verre wydtes van die groot-oop dag / my siel vloei na die wasige vertes in / en voel dat in die sluimer-stiltes wag / ’n vrede heilig soos die oerbegin.”

      Dan onthou ek ook ’n hartseer windpompstorie, uit die mond van ’n Kaapse vriend, oor ’n jong man van die plaas Klawerberg, 60 km oos van Windhoek se voormalige JG Strijdom-lughawe. Willie Mehrtens was ’n sogenaamde halfnaatjie, soos kinders van wit en nie-wit ouers genoem is. Sy pa was ’n Suidwes-Duitser en sy ma ’n Hererovrou wat nie met mekaar getroud was nie. Willie het ’n deugsame man met ka­rakter geword en trots op sy afkoms. Maar hy moes sy plek ken.

      Terwyl sy wit halfbroers skoolgegaan en op Stellenbosch gestudeer het, het hy Klawerberg tot ’n puik beesplaas opgebou met die belofte dat vir hom “voorsiening gemaak sal word”. Hy het ook geleer om Klawerberg se windpompe in stand te hou.

      Toe Willie se pa sterf, moes hy hoor sy naam is uit die testament weg­gelaat. Hy het ’n bywoner geword, maar nie gaan lê nie.

      Hy het sy kennis van windpompe ingespan om ’n lewe te maak. Hy was gou onmisbaar by die boere. Hy het torings uitgeklim, wiele en koppe afgehaal, ratkaste reggemaak en pype opgetrek. ’n Ou, flenter­gatwindpomp het weer gesing wanneer Willie met hom klaar was.

      Die wind het aan hom geruk die dag toe hy teen die toring van ’n boer se 15 m hoë Climax uitgeklim het. Toe hy bo kom om aan die wiel van 4,5 m te werk het die verrotte houtplatform onder hom mee­gegee.

      Daar was ’n nattigheid in talle boere se oë toe hy weggebêre is.

      Die Climax wat Willie Mehrtens se lewe geëis het, was jare lank een van die gewildstes onder die verskillende soorte windpompe wat aan­vanklik uit veral Amerika ingevoer, maar later hier vervaardig en op grond van boere se ervaring en voorstelle verbeter is.

      In die Noordweste waar ek grootgeword het, was daar ook talle Aermotors. Soos boere onder mekaar gestry het oor of ’n Chev of ’n Ford die beste kar is, het hulle doerie tyd ook gestry oor watter wind­­pomp die ligste loop en die minste probleme gee: ’n Climax of ’n Aermotor.

      Ongeag hoe goed hulle was, is daar dikwels ook in swaarweertale oor windpompe gepraat. Hulle kon jou gryshare gee. Wanneer hulle gebreek het, het daar sweet getap. Ook wanneer pype uit ’n diep boor­gat opgetrek moes word of as hulle soms in die gat geval en met groot moeite uitgevis moes word. Jy het nie geslaap voordat die wind­pomp reggemaak is en weer begin gooi het nie. Net die liewe Here kan ’n groot trop skaap water gee as ’n windpomp staan.

      Die windpomp se grootste vyand is stormwinde. As die briek nie minstens halfpad aangedraai was nie, kon hy uitmekaar ruk. Die een wie se plig dit was om daarna om te sien, het deurgeloop as hy versuim het om dit te doen. Wanneer die noordewind in Augustus oor die vlaktes dreun, was die refrein: “Is die windpompe se brieke vas?” Dan ook die angstige vraag aan ’n skaapwagter wanneer hy uit die veld kom: “Gooi hulle?”

      Uit eie ervaring moet ek sê die Aermotor was so vlugvoetig soos ’n balletdanseres. In ’n dooie windstilte kon jy hom met ’n asemstootjie laat draai. Sy Amerikaanse vervaardiger se leuse was nie ver­niet: “Wher­­­ever you go, you see them. And wherever you see them, they go.”

      Onder Amerikaanse boere was hy bekend as die Cadillac van