Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158534
Скачать книгу
moet doen nie.”

      Wat sy nie hardop uitsê nie, is: want ek weet self nie presies hoekom nie. Ek weet dat Mignon dit van my vra, maar ek kan nie ’n rede gee waarom nie. Maar dit kan sy nie vir Jan Staal sê nie; hy sal weet sy is die kluts kwyt.

      “Wat het van haar geword?”

      Sy sien dit soos sy dit in haar verbeelding voorgestel het. Mignon in die stort. Nadat sy eers gebad het, haar skoon gewas het vir die laaste uur. Sy staan op die klein rooi plastiekstoeltjie, ’n eensame lyf in ’n skoon, wit slaaprokkie. Haar hande trek die kamerjasgordel uit die lussies, maak ’n skuif-knoop daarin. Sy trek dit oor haar kop om te sien of dit pas, haal dit weer af. Dan vat sy die leerbelt aan die haak agter die muur en maak dit saam met die los punt van die gordel vas aan die balk waarop die geiser rus; voel of dit haar gewig sal kan dra.

      Mignon stoot die hare weg uit haar gesig. Dis bedompig in die badkamer, die venster is toe. In die spieël is haar oë leeg; haar gesig deurskynend. Haar vingers bewe toe sy die oog van die tou om haar nek sit en dit stywer trek.

      Bedink sy haar in hierdie oomblik tóg? Hoe voel die been en die voet wat die stoeltjie wegskop?

      Maggie sien hoe die lyf ruk, hoe die kop met die blinkbruin hare hang, hoe die liggaam swaai en swaai totdat dit eindelik langsaam stil raak.

      Sy wil nie daaraan dink dat Mignon se tong blou was en by haar mond uitgesteek het nie, haar oë oopgesper in vrees – of in oorgawe.

      Hoe lank leef ’n mens nadat jy jouself opgehang het? Leef party slagoffers nog ’n rukkie nadat die tou of laken styf genoeg getrek het om die nek af te ruk?

      “Maggie?”

      Jan Staal het om die tafel geloop; hy staan voor haar. Sy voel sy hand op haar arm.

      “Maggie? Is jy oukei?” Hy druk haar stoel effens weg van die tafel, voel teen haar voorkop.

      “Wag, ek kry vir jou water.”

      Sy vat die glas, drink dit leeg, haal twee keer diep asem voor sy hom antwoord.

      “Mignon het haarself opgehang, Jan.”

      HOOFSTUK

      4

      “Ek is moeg, sat van hierdie lewe. There’s no justice in court.”

      Mignon het gebel toe sy uit die hof gekom het daardie middag. Daar was pers skaduwees onder haar oë toe sy in die stoel in Maggie se voorkamer neersak.

      Vir lank sê sy niks. En toe: “Ek is ’n mislukking. Daardie man moes losgekom het, en ek het hom gefaal. Hom óók.”

      Maggie het vir hulle elkeen ’n glas shiraz ingeskink, maar na drie slukkies sit Mignon hare op die tafel. “Ek het genoeg gehad.”

      “Is dit ook iets wat die Getuies verbied het?”

      Maggie wens sy kan die woorde terugsluk. Sy kon Mignon se skeptisisme in haar eie stem hoor eggo. Maar nou is nie die tyd om daaroor uit te vra nie.

      Die kyk in Mignon se oë verander. “Nee, dit het niks daarmee te doen nie, trouens, dis een van die min dinge wat nie heeltemal verbied is nie. Rook was uit die bose, ja, want dit is ’n verslawing. Volgens hulle. En as verslaafde het jy deel aan spiritisme. Bid jou dit aan. Die ouderlinge het oneindige verse uit die New World Translation aangehaal. Oor die liggaam wat ’n tempel is, wat Jehova s’n is, wat in sý diens moet staan.

      “’n Aangetaste mens kan nie die res van die mensdom bekeer nie.” Haar laaste woorde het ’n priemende klank.

      “Maar dis nie wat die Getuies gesê het nie, hoor, hulle wou nooit niemand ‘bekeer’ nie, hulle wou maar net die waarheid deel met die arme drommels wat verlore gaan.”

      “Het jy nooit agtergekom dat julle bedrieg word nie? Ek bedoel, vroeër, toe jy nog ’n kind was, en op skool? ” Sy weet sy moes nie gevra het nie, maar Maggie kan haarself nie keer nie.

      Mignon se oë en haar mond spoeg gif – ook na haar toe.

      “Jy vra my of ek nooit besef het dis ’n spul leuens nie? Wel ek vra jou: het jy nooit agtergekom dat die Nasionale Party en sy beleid die grootste gros wit mense mislei het nie? Het jy nooit besef dat jóú kerk sy mense agter die NP aan lei nie? Godsdiens as middel, tot ’n heel ander doel as wat die gewone gemeentelid besef het. Die Getuies het ten minste enige soort mens in die kerk toegelaat, wit, swart, bruin.

      “Hulle is glad nie die enigste sondebokke nie, jy kan maar gaan kyk, al die groepe het iets wat nie kosjer is nie. Die ekstremes, maar ook die sogenaamde normale kerke. Dis die institusie en die leiers wat die mense op dwaalspore lei, wat wette maak wat met God niks uit te waai het nie. Die gewone mense weet nie.

      “En hoe onderskei ’n mens ooit tussen reg en verkeerd as jy net aan een enkele denkrigting blootgestel word? Die Getuies se leiers het die mense soos skape aangekeer; broers en susters, almal agter mekaar, met stokke wat van weerskante in die sye druk wanneer een van die trop ’n halwe poot links of regs uit die tweespoorpaadjie trap.

      “Ons is geïndoktrineer om die publikasies van die Wagtoringgenootskap as die hoogste waarheid te aanvaar. Die koerante is gebruik om te wys hoe naby die einde is. Jy weet, wat die Bybel noem ‘oorloë en gerugte van oorloë’. Maar ’n mens kom dit nie agter nie. As jy gebore word in ’n stelsel, aanvaar jy wat aan jou voorgehou word. Eers later, eers wanneer jy die onversetlikheid en oordeel aan jou eie lyf voel, dan begin jy oplet.

      “Die teenstellings het ek eers nadat ek uit is, regtig gesien, toe ek begin lees het oor Russell en die ander. Oor hoe Rutherford uitvindings soos die televisie en roltrappe en motors verklaar het as tekens dat Jehova se Koninkryk aan die kom is, dat sy regering reeds begin het.”

      Maggie weet nie wat vir haar die ergste is nie – Mignon se seer stem, of die aggressie wat uit haar binneste kom. Sy steek haar hand uit na haar, maar Mignon staan op, loop kombuis toe en spoel haar glas onder die kraan uit. Sy keer dit op die droograkkie om en draai na waar Maggie in die deuropening staan.

      “Jy het ten minste ’n kind,” sê sy. “’n Erfenis.”

      “Erfgenaam, bedoel jy?” Maggie probeer om die sprong in Mignon se gedagtes te volg, maar daar is skakels wat sy nie kan optel nie.

      “Nee.” Mignon skud haar kop heftig. “Nee. Dis iets wat jy self het. Iets wat jy gekry het. Iemand wat jou sal onthou, wat sal weet dat jy daar wás; iemand vir wie jy iets beteken het. Wat sal weet jou lewe was nie verniet nie.”

      Haar stem is ’n kil luggie wat teen Maggie se nek roer.

      “Ai, Mignon, jy is dan ’n advokaat, iemand wat soveel mense al gehelp het. Jy het reggekry wat die meeste ander nie sou kon nie. Om later op jou eie te gaan studeer al was dit in jou huis verbied deur jou ouers. Moenie vaskyk teen hierdie een saak wat vandag nie uitgewerk het soos jy gehoop het nie. Jy is ’n gerekende mens in jou veld. En jy het vir my. Jy weet wat dit vir my beteken dat jy my opgespoor en kontak gemaak het.”

      Haar woorde is yl in haar eie ore; hoe laat ’n mens iemand glo dat jy regtig omgee?

      Mignon gee ’n paar treë in die rigting van die deur. Maggie mik om haar terug te hou, maar dis stywe arms wat haar wegkeer. Die kombuishorlosie se elke tik is hoorbaar tot in die sitkamer.

      Dis die foksterriërs se geblaf van langsaan wat Mignon na die werklikheid terugbring. Sy gee ’n kortaf laggie. “Moenie worry nie, niks major nie. Dis sommer maar iets wat ek onthou het, rêrig niks om oor slapelose nagte te hê nie, liewe Maggie.

      “Ek moet gaan, daar is ’n saak waaraan ek vannag nog sal moet werk voor ek my kliënt môre kan sien. En ek wil dink oor hoe ek die man wat vandag gevonnis is, gaan oortuig tot appèl.” Mignon se lyf is nog daar, maar sy self is lankal op ’n ander plek.

      Op pad na die voordeur gaan staan sy by die kalender met foto’s van fynbos wat teen die muur bo die klavier hang; trek met haar vinger ’n denkbeeldige kring om die dag se datum. 15 April.

      Dan kyk sy