Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158534
Скачать книгу
gaan.

      “As ek dit kon hê,” sê sy toe sy met die stoeptrappies afloop. “As ek dit maar kon hê.”

      Maggie bly op die stoep staan. Die motors en winkelvensters se ligte wat bo die geboue opslaan kleur die skemer in bonatuurlike neonnuanses. Waarom sou Mignon gekies het om advokaat te word? Sy moet tog geweet het dat reg en geregtigheid nie noodwendig altyd in die hof seëvier nie. Of is dit die onreg teen haarself wat sy op dié manier wou probeer besweer?

      Noudat sy met Jan Staal gepraat het, noudat sy weet sy gaan Bea waarskynlik wel in die tronk kan sien, is Maggie se gedagtes ’n roesemoes van bisarre tonele. ’n Jazzrockmozartblues van klanke en gevoelens wat deurmekaar loop; dinge wat hulle sonder waarskuwing by haar kom opdring. Die terugdink aan daardie laaste aand wat Mignon haar ontgogeling by haar kom uitstort het, en haar eie ontoereikendheid om raak te sien hoe diep sy weggeraak het, trek haar in ’n onderwêreld in waaruit sy moeilik weer boontoe kan kom. Sy het met lae en lae blinddoeke om haar kop rondgeloop.

      Sy maak haar oë toe; as sy net ’n paar minute kan ontspan, aan ander dinge kan dink voor sy moet aantrek om na die gevangenis te ry. Maar dis die besoek van ’n klein groepie mense op ’n wintersmiddag kort na Frans se dood wat haar brein oproep. Nog voor Mignon teruggekom het en haar meer vertel het.

      ’n Klop aan die deur, net die regte hoorbare geluid. Beskaaf, maar nie beskroomd nie. Deur ’n skreef in die gordyn voor die slaapkamervenster loer sy na die geselskap op die stoep. In die man se hand is ’n tassie soos die van iemand wat versekering verkoop, maar daar is iets aan die houding wat ’n ander identiteit verklap.

      Vir ’n rukkie bly sy die klop ignoreer. Die dogtertjie aan die vrou se hand staan kop onderstebo, loer onder haar kuifie deur na die voordeur. Ag jaar? Nege?

      Maggie loop deur toe en maak dit op ’n kiertjie oop. Die man sit sy been oor die kosyn sodat sy die deur nie vinnig kan toedruk nie.

      Die dogtertjie trek haar rokkie ver oor die kniekoppe toe hulle gaan sit. Die vrou kyk na haar man, sy tassie is reeds oopgeknip. Aan die ander sy van die pa sit die seuntjie; sy hare staan regop by die kroontjie. Sondagoggend. Hy behoort in die kategese te gewees het. As hy in die NG Kerk was. As hy nie ’n Getuie was nie.

      “Glo u dat Jehova die enigste en allerhoogste mag is?” Die man se stem is sag, maar goed gemoduleer. Sy stem dra die korrekte graad van belangstelling en afstand.

      “U moet weet dat sonder geloof in Jehova, en sonder die antwoorde wat ons op ons vrae van Hom af kry, ons nooit die nuwe aarde sal bewoon nie.”

      Sy hoor hoe die woorde van sy tong afrol en op die klipgrond val. Daar waar dit in die strale van die son kan verskroei.

      “Ons het gehoor dat u u man verloor het, en sal graag vir u wil bystaan. Daar is ook dinge uit ons publikasies wat ek vir u sal wil wys. En dan sal ek graag vir u ’n gebed doen.”

      McKairn se stem bars deur haar gedagtes, sy oë is vuurkole, rooi soos sy hare: Sê jy sal vir húlle ’n gebed doen – dan sal jy sien hoe hardloop hulle die deur uit!

      “Net ’n klein groepie mense sal saam met Jehova en die aartsvaders regeer wanneer die eindtyd hier is. En dit is naby, nader as wat u dalk dink. U kan deel wees van hierdie groep; u kan ook deel wees van diegene wat gelukkig en in vrede die nuwe aarde sal bewoon, die gees en die liggaam as een.” Die woorde van die man het soos ’n stroom koel water geword; dis die klank daarvan wat kalmeer eerder as die inhoud. Hipnotiserend byna.

      Die man is ’n kunstenaar, dink Maggie, hy moes liewer ’n akteur geword het.

      “Ons moet wakker wees vir die versoekings en die dwalings waarvoor ons te staan kom, en ons moet leef soos Jehova wil hê.” Hy slaan die Bybel oop. “Kom ek lees vir u wat die Bybel sê. As u glo, sal alles vir u goed uitwerk.”

      Die woorde wat so sag en salwend oor haar begin vloei het, raak warmer, dit begin haar brand. Hierdie Jehova, hoekom het Hy nie gesorg dat Frans bly leef nie, Hy wat alles vir almal goed wil laat uitwerk?

      Sy hou haar hand op, jok blatant: “Jammer, Meneer, ek kan ongelukkig nie langer na u luister nie; ek het ’n afspraak wat ek oor ’n halfuur moet nakom.”

      Hy praat nie teë nie. Sy aanslag is puik, sy maniere onverbeterlik.

      “Ons is jammer as dit vir u ongeleë is, ons wil geensins iemand verontrief nie. Wanneer u meer tyd het, dalk op ’n Saterdagmiddag, kan ons u weer besoek? Al wat ons wil doen is om die Waarheid met u te deel. Jehova wil ook vir u insluit in sy Koninkryk.”

      Sy druk die deur agter die gesin toe. Die vrou het nog nie ’n woord gesê nie, die kinders ook nie. ’n Voorbeeldige gesinnetjie. Hulle stap in die paadjie af. ’n Oomblik laat die man sy hand op die dogtertjie se kop rus, dan buk hy af en praat met die seun.

      In haar gedagtes hoor sy hom: “Kinders, ons moet onsself gelukkig ag; om vervolg en beledig en weggewys te word, is ’n teken dat ons Jehova se uitverkorenes is. So sê ons Bybel en die Wagtoring. Vanaand, wanneer ons klaar is met die besoeke, lees Pappa weer vir julle die verse in die Bybel.”

      Maggie se kop maak ’n sprongetjie na dit wat Mignon haar agterna vertel het oor Rutherford se teorie. Hy staan op die verhoog, ’n orator aan die woord.

      Die hart is die setel van die mens se emosie, en daar waar die hart en die fisieke brein met mekaar in gesprek tree, dis waar die mens se gedrag bepaal word …

      Voor hom op die podium is ’n reusagtige rooi kunshart en ’n groter as lewensgroot groen brein. Wanneer die hart begin praat, gaan ’n rooi lig in die hart aan en wanneer die brein praat, begin die groen lig skyn, so verduidelik Rutherford. Die mense hang aan sy lippe en klap hande. Loof en prys Jehova. Loof en prys Rutherford nog meer.

      Dis ’n teater van die absurde waarin Maggie nie net toeskouer nie, maar ook medespeler is. Tussenin klink Mignon se stem telkens:

      In ’45 is die inentingverbod wat die Getuies uitgevaardig het, ook gevoeg by die verbod op bloedoortappings, maar in die 1950’s is inentings weer toegestaan – toe was dit nodig, want die hoë offisiere van die Getuies het inentings benodig om internasionaal te kon reis … in 1967 is die oorplanting van organe beskou as kannibalisme, maar in 1979 het die leiers weer van wysie verander … Rutherford het ’n bomskuiling by Beth Sarim gebou … Radio Biola, ’n masjien om siektes te genees, word ontwerp … Groot onthulling: die groot piramide by Gîza is ’n skepping gebou op Jehova se instruksies … FOUT! In 1929 word ontdek dit was eintlik Satan se werk.

      Maggie dwing haarself na die bewuste wêreld; sy loop na die studeerkamer, vat ’n stuk papier en begin skryf. Sy kan nie met hierdie deurmekaarlopende gedagtes by die tronk opdaag nie.

      Haar sinne loop bo en onder die blou lyntjies langs, maar sy dryf haar pen; sy probeer die gegewens orden: die onthou van wat Mignon vertel het, dit wat sy op die internet lees, die intens persoonlike ervarings wat sy uit Mignon se dokumente te wete kom. Haar eie vrae. Die irriterende stemmetjie wat bly wonder: Is dit regtig alles bedrog? Is dit nie maar ’n geval van die Westerse oor wat die Oosterse musiek se tussennote as vals ervaar nie? Die kommas tussen die note waaraan sy self nie gewoond is nie, die klank van Indiese of Turkse musiek – vreemde instrumente waarvan die note vir die ongeoefende brein verkeerd op die oor val.

      Wat haar die meeste verwar, is dat die Getuies soveel van hulle voorspellings en leringe herroep en verander het deur die jare. En dat die gewone volgelinge hulle so laat manipuleer het. Maar sy weet dis soos Mignon gesê het. Dis ’n geval van iemand wat ’n absurde idee kry en dan met sy charisma die duisendes agter hom laat aankruip. Ook Malema het hipnotiserende mag. Soos Verwoerd voor hom. En Terre’Blanche.

      Al hoe meer voel dit of godsdiens maar net nog ’n soort politiek is.

      Sy loop kombuis toe, maak die yskas oop. Die laaste bietjie boksmelk was suur toe sy vanoggend wou koffie drink. Swart koffie dus, totdat sy by die supermark kan uitkom. Jasper kyk haar verwytend aan toe sy net die droë hondepille uitgooi.

      ’n Paar dae vantevore het Jan Staal haar laat weet haar aansoek om die gevangenis te besoek is goedgekeur.