Getuie. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158534
Скачать книгу
praat nie.”

      “Dis haar reg,” antwoord Hofmeyr. “Maar moenie te jammer voel nie, Mevrou. As jy moor, moet jy verantwoording doen vir jou dade.”

      Onder Maggie se armholtes prik dit skerp; die liggaam se adrenalien. Wat sou sý gedoen het as haar man ’n kind by ’n ander vrou gehad het? Weet ’n mens ooit wat jy sal doen voordat jy met iets gekonfronteer word?

      “Wil Mevrou die werkswinkel sien?” Hofmeyr se aandag is weg van die lifers in die klein, koue sel met die muwwe reuk van goedkoop deodorant, die oop toilet sonder ’n sitplek, deur of gordyn.

      Sy loop in die rigting van die werkswinkel. Onder die kakieuniform en die koeëlvaste baadjie roer haar skouers net ligweg. Die baadjie laat haar rug breër vertoon, gesaghebbender.

      Sou dit regtig nodig wees om so iets te dra? Maar Maggie vra nie. Hofmeyr is vriendelik, maar daaronder is ’n onwrikbaarheid, ’n gebelgdheid as iets net klink na kritiek. In die afdeling agter die volgende hek, aan die oorkant van die vierkant, sit rye en rye vroue agter naaimasjiene soos stiksters in ’n klerefabriek. In die tweede ry van agter herken sy ’n gesig. Dit was ’n opspraakwekkende saak, lank in die koerante – die vrou van die akteur en dramaturg wat hom laat vermoor het.

      Maggie het die uitspraak oor die nuus gehoor, maar nie ag geslaan op waarnatoe sy gestuur is nie. So gou vergeet ’n mens diegene wat weggesluit word.

      “Dis nie almal wat wil werk nie,” sê Wessels, die beampte in beheer van die werkswinkel wat Maggie oorgeneem het by Hofmeyr. “Maar ons moedig hulle aan, dis beter as om heeldag te sit en tob. En hulle verdien darem ook iets. Hierdie afdeling word heeltemal soos ’n privaat saak bedryf, die boeke moet klop, en ons moet wins maak.”

      “Bea Mostert is nie hier nie?” Maggie waag die vraag.

      “Nee, Mostert is mos een van dié wat nie werk nie. Sy praat ook nie. Sy sit net doodstil in haar lifer-sel en kyk na die muur; nie eens na die venster waar die son inkom nie. Oefentyd loop sy al om die vierkant. Hulle roep haar die stroller. Of die goner.”

      Die naaimasjiene dreun soos die platblink voetjies die materiaal na agter deurskuif; die gesigte hou haar skuins van onder af dop. Party met ’n spottende uitdrukking. Ander nuuskierig. Een of twee van die vroue kyk wrokkig op van die materiaal voor hulle.

      Dis of Maggie hulle gedagtes kan lees: wat kom maak ’n vry mens hier? Een wat ons wil bekeer seker, of ietsie moois wil skryf vir ’n koerant – een wat kan gaan sê hoe goed die Boere vir ons is.

      “Daar agter is die snyers,” sê Wessels wat saam met haar tussen die rye deur loop. “’n Beampte moet altyd by wees wanneer hulle met die snyer werk. ’n Jaar of so terug was daar ’n inmate wat ’n ander een se keel probeer bykom het.

      “Dis iets waarvoor jy gedurig moet uitkyk. Alles lyk dalk vir jou so vreedsaam, maar jy weet nie wat broei nie. Daar is dié wat heeltyd aan die planne maak is.”

      Maggie hoor hoe die masjiene meteens sagter kletter toe hulle uitstap in die son. Agter haar rug klink ’n stemmegeruis op.

      Wessels draai terug. “Julle is hier om te werk, nie te sit en skinder nie, meisies, daar is ’n deadline om te haal, die pajamas vir Kroonstad moet klaar!”

      Buite in die vierkant is gras geplant. Geen struike of blomme nie, maar darem groenigheid. Agter die hekke van die selle staan ’n paar van die mense wat nie in die werkswinkel is nie. Maggie kyk op. Ook die lug bo is ’n vierkant. Daar is nie ’n boom in sig wat iets van die buitekant verklap nie.

      Skielik sny ’n sirene deur die mure. Meteens is almal uit – die stiksters, die niewerkendes, die wat hulle normaalweg eenkant hou.

      “’n Driekwartier in die oggend, en ’n halfuur in die middag,” sê Hofmeyr wat Maggie weer by Wessels kom oorneem het. “Oefeningtyd noem hulle dit. Nie dat hulle oefening doen nie, hulle staan sommer rond en praat en rook. Maar daar ís ’n klompie wat in die middag sport het; hulle oefen netbal. Ek rig hulle af, ons het nogal twee spanne wat goed doen, mind you.

      “Ek kan Mevrou nou gou bekendstel aan ons koorleidster, sy is baie goed. Dan kan julle twee gesels.”

      Die vrou wat uit die selle na Hofmeyr toe kom straal ’n vreugde uit wat ’n mens nie aan die binnekant van ’n tronk by iemand sal verwag nie.

      “Ek is Harriet,” sê sy. “Dis my lewe, dié. Selfs voor ek gevonnis is, het ek nooit die bevrediging uit my musiek gehaal wat ek nou kry nie. As u net kan sien en beleef hoe dit die vrouens raak, hoe dit hulle iets gee om voor te leef.” Die woorde borrel uit haar mond nadat sy aan Maggie bekendgestel is, gehoor het dat sy hulp wil aanbied by die afrigting van die koor.

      “Ons is nou besig met die ‘Ave Maria’ van Gounod, en ‘Pie Jesu’. En aan die ligter kant is daar ‘The Sound of Music’ van Rodgers & Hammerstein.”

      Voorheen sou Maggie nooit kon dink dat musiek ook in ’n plek soos dié so ’n rol kan speel nie. Sy het gedink McKairn se blik is eng, maar haar eie laat ook veel te wense oor.

      “Ek sou graag wil help – as julle hulp benodig, ten minste?” reageer sy. “Ek sou nog musiekstukke kon bring, of dalk help met die begeleiding of iets?”

      Maggie hoor haarself praat; sy besef dat sy al hoe verder ingetrek word in ’n wêreld waarvan sy niks weet nie. Sy noem ’n paar stukke wat sy tuis het wat sy kan bring.

      “Ek het die ‘Gebed’ van Koos du Plessis en ook die ‘Groot Mars’ uit Aïda, en daar’s ‘Love changes everything’ van Andrew Lloyd Webber …”

      Harriet se gesig gloei. “Dit sal wonderlik wees – veral om te weet daar’s iemand buite wat die belangstelling deel. Vir die ander inmates sal dit net soveel beteken.”

      “Dalk moet jy maar gou jou sigaretjie gaan rook,” praat Hofmeyr na Harriet se kant toe. “Jy weet mos jy gaan dit nie maak as jy nie ’n bietjie nikotien kry nie.” Maar sy glimlag na die vrou wat so opgetoë is met Maggie.

      Toe sy wegstap, merk sy op: “Sorry, Mevrou, dis maar net dat ons met so ’n besoek die kontak beperk – hoe goed die een wat ’n program kom aanbied, of hulp wil gee, dit bedoel.”

      Aan die oorkant, naaste aan die traliehek en blikdeur, die groot swaar staaldeur wat saans toegesluit word, sit ’n ouerige vrou. Maggie beduie met haar hand.

      “Watter een is Bea Mostert?” vra sy. “Sing sy ook in die koor?”

      “Hoekom vra Mevrou? Ken Mevrou haar?” Hofmeyr wys na ’n ander ouer vrou wat aan die kant van die gras aangeloop kom, haar oë op die sement voor haar. “Nee, sý praat nie eens nie, wat nog te sê sing. Dis sy daai.”

      Die vrou se hare is donkergrys, gelykaf in haar nek geknip. In die skaduwee wat oor haar gesig val, kan Maggie glad nie uitmaak hoe sy lyk nie. Sy dra ’n stilte om haar soos ’n kleed wat deur niemand uitgetrek kan word nie. ’n Jurk wat niemand naby haar vel kan laat kom nie. Dis dieselfde ingeskulpte teenwoordigheid wat Mignon dikwels gehad het.

      “Nee wat,” antwoord Maggie, “dis net iemand van wie ek weet uit die destydse saak; ek vra maar. Ek sou, as dit kon, sommer wou hoor wat sy dink oor die lewe hierbinne. Sy is mos darem al lank in, of hoe?”

      Dis of sy na Bea toe ingesuig word, ’n hand in die badwater wat naby die uitloopgaatjie beland. Toe Bea by hulle verbykom en haar gesig vir ’n sekonde oplig, is dit of Maggie die leegheid in haar oë kan sien.

      “Vergeet maar daarvan,” sê Hofmeyr, “in al die jare dat sy hier is, het sy skaars ’n sin gepraat, hoekom sou sy met jou praat?”

      Van skuins agter haar en Hofmeyr kom drie vroue dwarsoor die gras geloop. Twee van hulle breek weg, loop óm, na Hofmeyr se kant, vra haar na iets sodat sy effens van Maggie af moet wegdraai. Die ander een glip regsom sodat sy langs Maggie kan kom.

      “Meisie,” sis sy sodat Maggie die spoegdruppels teen haar wang voel sproei, “hier beter jy wegbly, darling – jou rape ek met daai Boer se tonfa sommer nog die eerste nag.”