Die Beste verhale van Eugène N. Marais. Eugène N. Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eugène N. Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798159180
Скачать книгу
was verwonderd om te sien hoe jonk hy is – seker nie meer as vier of vyf jaar bo die tyd van manlike inwyding nie, maar sy liggaam was reeds dié van ’n held en ’n krygsman. ’n Breë bors met gladde, pragtig ontwikkelde spiere en ’n beweging so suiwer en grasieus dat dit die indruk gegee het van die ritme van ’n stadige dans. Met kop hoog gehou en ’n reëlmatige swaai van sy magtige skouers loop hy deur die skare heen, kalm en ongestoord asof hy aan sulke eerbetonings so gewoond is dat hulle nie langer tot sy gewaarwording deurdring nie. Hy skyn hoegenaamd geen notisie te neem van die toejuiging van die vroue nie. Hy kyk net reg voor hom, heen en weer draai die punte van sy lang geborduurde tiervel in die swart pluime van sy pragtige kopstuk in ritmiese ewewig met sy voetval wat – nieteenstaande sy groot gestalte – so sag voortgaan dat dit nouliks skyn of sy voete die grond raak.

      Agter hom stap gedwee sy handlanger van omtrent dieselfde ouderdom maar met ’n veel minder versierde lyfdrag en ook minder sigbare tekens van liggaamlike krag. Hy dra die skildvel en geweer van die held. Die eerste is lank en breed genoeg om die hele liggaam te bedek, terwyl die tweede ’n enorme agtponder-olifantroer is, die aftrek waarvan, met ’n volle skoot gelaai, ’n hoë mate van dapperheid in enige mens sou vereis.

      Daar gaan ’n gerug deur die skare dat Mogali-di-Tao by een geleentheid net op sy eie ’n volgroeide mannetjieleeu van kant gemaak het met behulp van sy skild en asgaai. Dit was hierdie heldedaad wat hom sy erenaam verskaf het.

      “Ai, ai, ai,” roep die jong vroue, “ons groet die koning van die leeus,” en onder mekaar fluister hulle: “Maia! Dit is ’n bruidegom van die koning se eerste dogter.”

      Ook Magoeba het spoedig onder die indruk van die jong held geraak. Hy het hom uitgenooi, as ’n gelyke in rang, om langs hom op die karos te kom sit, en terwyl die bier en bakke vleis aangebied word deur knielende vroue, begin die kaptein hom uit te vra, en allerhande wilde beloftes te maak.

      “Ek hoor van jou oom dat jy sterk medisyne het en dat jou geweer nooit mis skiet nie. My seun, daar is my kraal; alles is joue, stap maar in. Verlos my net van die vloeke van towenaars en die ondiere wat hulle nou op my losgelaat het” . . . en so gaan hy voort.

      Mogali-di-Tao hoor hom ongeroer aan terwyl hy stadig aangaan met sy feesmaal. Dit skyn byna asof hy nie luister na alles wat die half beskonke ou kaptein hom in die ore blaas nie. Seker neem hy nie baie notisie van wat hy sê nie.

      “Ki-Gosji, dit is nie die medisyne waarop ek self so baie reken nie – ofskoon my onderwyser die grootste en wysste onder die towenaars was en sy middels dikwels so sterk soos die leeus self was. Maar ek reken in die eerste plek op my wapens; dan op die krag van my hart en die sterkte van my arms. As die hart water word, dan het die leeu die stryd gewin voor die eerste slag gelewer is. Maar ek sal jou verlos as ’n mens dit kan doen. Vertel my nou alles van die twee leeus wat julle hier so laat skrik het dat ons by die hoofstat ver anderkant die Misberge die weerklank van julle weeklaag gehoor het!”

      En toe vertel Magoeba die storie van al die ellende wat hy te verduur het deur toedoen van die towenaars; en waar hy te kort skiet, vertel een van die raadsmanne dadelik verder totdat Mogali-di-Tao ’n aaneenskakeling van verskrikkinge verneem het waarvoor ’n groter held as selfs hy geneig sou wees om terug te deins.

      En so het Mogali-di-Tao die werk aanvaar om Magoeba te red uit die kloue van die towerleeus wat sy lewe bedreig.

      Vroeg die volgende oggend het hy die stat met sy wapendraer verlaat, vergesel deur ’n paar gidse van Magoeba, om die toneel van die laaste verskyning van die twee leeus te besoek. Dit was nou reeds vasgestel dat dit ’n groot mannetjie en wyfie was wat altyd in geselskap hul roofaanvalle uitvoer. Vir die mens skyn hulle nie die minste vrees te hê nie, en die eienaars van aangevalle vee moes oogluikend toesien hoe hul diere – soms vroeg in die aand – aangeval en verslind word.

      Seker sou niks anders hom ’n minuut tyd laat verloor het nie, maar teen sy eie wil stap hy op na die poort en begroet die mosadi beleefd. Met ’n skaam glimlaggie reik sy hom ’n kalbas suurmelk. Die gedagte kom by hom op dat sy op wag moes gestaan het, en dit is met ’n luide en vrolike lag dat hy die melk van haar neem en drink. Voor hy die plek verlaat het, wis hy die naam en al die omstandighede van Maraledi, en daar is min twyfel dat dit haar inspirerende beeld was en nie dié van die leeus nie wat op sy verdere reis sy verbeelding in beslag gehou het.

      Intussen het Magoeba se moed momenteel gestyg met die aankoms van Mogali-di-Tao, en dadelik het in sy gemoed die besluit posgevat dat sodra sy verlossing bewerkstellig sou wees, hy sy plan van ’n huwelik met Maraledi sou hervat en niks sou in sy weg staan nie.

      Die middag laat toe Mogali-di-Tao van sy verkenningstog terugkeer, word die kgotla weer bymekaargeroep en weer word feesgevier in die skerm van Magoeba. Mogali-di-Tao het koel en bedaard vertel dat hy die spoor en moordplek van die twee leeus gekry en opgevolg het, en môre – so beloof hy – sal hy met die ondiere handgemeen raak. Óf hy óf hulle sou die stof byt. Luidrugtig word sy woorde deur die raadslede toegejuig en op niemand het hulle ’n meer verblydende indruk gemaak as op Magoeba self nie. Hy het die jong man langs hom laat sit om uit sy kalbas te drink en uit sy skottel te eet. Hy kon hom nie genoeg eer bewys nie. En toe roep hy een van sy boodskappers wat altyd byderhand staan: “Neem my kierie, haas jou, en roep die ou vrou Mafakena. Sê haar om haar dogter Maraledi te bring.”

      Toe die twee vroue ná ’n kort pouse op hande en voete by die skerm inkruip, gebied hy hulle dadelik met groot vrolikheid om op te staan en ’n sitplek onmiddellik agter hom en sy jong gas in te neem.

      Ná hulle almal gedrink het, lig die kaptein sy vegbyl, wat dadelik stilte gebied. Dit is die teken dat hy die kgotla wil toespreek.

      “My kinders,” sê hy, “hier is julle nuwe Mosadi-di-Gosji,” en hy lê sy hand op die skouer van Maraledi. Daar is ’n uitbarsting van toejuiging.

      “Soek,” sê hy aan Mogali-di-Tao, “vir jou ook die mooiste in my stat uit. Ek, Magoeba, gee haar aan jou.” Daar was egter drie mense wat die afkondiging nie met ongemerkte blydskap ontvang het nie.

      Mogali-di-Tao het omgedraai en sy oë lank en stip op die jong meisie gevestig. Sy sit met geboë hoof sonder ’n glimlaggie op haar gesig. In ’n afgeleë hoek sit ou Boelala-tata. Met verslapte arms, weemoedig, kyk hy vir een minuut Magoeba in die oë en so dreigend, uittartend is die blik van die kaptein dat Boelala met ’n skouerophaling en ’n diep sug sy aangesig agter ’n bierkalbas verberg. “Vertrou nooit op die beloftes van konings nie,” was waarskynlik die treurige gedagte wat deur sy gemoed gegaan het.

      Met dagbreek die volgende môre word die stat gewek deur Magoeba se groot krygstrommels wat soos swaar donder aanhoudend deur die duister dreun. Dit was die dag van die groot geveg tussen Mogali-di-Tao en die leeus. Binne ’n paar minute was al die inwoners om die kaptein se skerm vergaar om die held te sien vertrek. Dié keer het hy en sy wapendraer alleen uitgestap. Die bevel is op sy versoek uitgevaardig dat niemand hom moes volg nie; hy sou die roofdiere alleen tegemoetgaan en as hy hulle verslaan, sou sy wapendraer die feit bekend maak deur ’n geblaas op ’n groot ramshoring wat hy vir die doel saamdra.

      Magoeba het tot in die poort van sy skerm gekom om sy jonge kampvegter vaarwel te sê. Stadig is hy deur die skreeuende gedrom, om uiteindelik alleen in die voetpad te kom wat na die berge lei.

      Die hutte en skerm van Mafakena was in uiterste stilte gehul. Die hek was bedek met ’n gebreide beesvel en daar was selfs geen rook sigbaar nie toe Mogali-di-Tao voor die poort kom. Hy wis dat nóg Mafakena nóg Maraledi