Die Beste verhale van Eugène N. Marais. Eugène N. Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eugène N. Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798159180
Скачать книгу
laggie. “Skuld kan jy dit nie noem nie. Ek wat my trop beeste as waghonde het, het my ook laat vaskeer. Geen mens kon weet van die drie troppe wat agter die berg opgetrek het nie. Hulle het van ons geweet en ons het niks van hulle geweet nie. Daarom het hulle net in die donkerste van die nag getrek en nooit vuur gemaak nie. Dit is Boere – Waterbergse Boere – wat hulle gelei en raad gegee het. Al wat hulle soek, is my beeste. Dit is ons spore wat hulle op die Banke afgebring het. Maar luister, seur Gool, ek het hulle ook goed dopgehou. Wees gerus, seur, ons gaan vannag uitkom. Al waaroor ek besorg is, is dat hulle miskien ’n paar van my beeste mag doodskiet – en dan is daar jou perd. Jy moet te voet met my uitkom en ons sal jou perd aan sy eie genade moet oorlaat. Hy kon met my beeste uitvlug, maar ek het hulle lankal geleer om ’n perd te haat en te vermy. Hulle sal van hom wegvlug asof hy die dood self is, en as hy te skielik op hulle afkom, sal hulle van alle kante die horings in sy ingewande slaan. Verlede maand het ’n patrollie van ses ’n klein klompie van my beeste naby Geelhoutbos gesien toe hulle die poort deurkom en hulle het besluit om hulle aan te jaag na hulle kamp.”

      Die herinnering veroorsaak ’n vrolike laggie. “As hulle maar geweet het – hulle kon net so maklik ’n trop wilde buffels na die slagter op die dorp aanja. Hulle het van bo die wind deur die bosse gekom en toe die beeste hulle gewaar, was hulle minder as driehonderd tree van mekaar; en dit het so gekom dat die beeste in ’n klofie vasgekeer was met die ses ruiters voor hulle. Daar was ’n ou gekartelde kweenkoei wat die voorman van die klompie was, maar daar was ook vier jong rooi bulle by die trop. Ou Strepie het net een bulk gegee toe sy hulle gewaar, en toe storm die trop op hulle af. Seur weet hoe hulle brul en te kere gaan as hulle regtig kwaad word. Die soldate was so verskrik en verbouereerd dat geeneen van hulle ’n skoot gelos het nie. Hulle het so iets natuurlik nooit verwag nie. Ek het die petalje uit die berg sit en aankyk. Toe hulle die gevaar besef, het hulle net een doel voor oë gehou – en dit was om te vlug. Maar hulle was maar dom om deur die haak-en-steek te jaag. Ou Strepie het een gekies en hom in die swarthaak so vasgekeer dat dit sy maats later ’n uur geneem het om hom uit te kry. Die bulle het twee perde met die horings doodgesteek, en die kêrels moes op hande en voete by die haakdorings inkruip. Hulle was ’n vreeslike spektakel toe hulle later weer bymekaarkom om hulle perde los te kry en die dooies te bekyk. Onder die ses van hulle saam was nie genoeg flenters om ’n behoorlike hemp te maak nie.

      “Nou kom, seur, die eerste ding wat ons moet doen, is om jou aan die beeste gewend te maak. Hou net vas aan my arm, en moet nooit ’n skielike beweging maak nie, en moet ook nie jou los hand optel nie. Laat jou geweer hier bly.”

      En so het ou Hendrik en Gool die trop beeste stadig genader. Die ou Boesman het dadelik begin fluit en praat: “Toe maar, my kleingoed, dis ek. Moenie roer nie. Lê stil, Roman; ou Kandas – jy is lekker dik, nè?”

      Die meeste van die trop het gelê, maar oral was daar klein klompies wat nog op die been was en dié het met ’n onrustige geblaas die koppe na die twee rusverstoorders gekeer. Ou Hendrik het heen en weer en in kringe deur die trop geloop, asof hy die vreemdeling aan elke afsonderlike dier wil voorstel. Hul ontvangs was uiteenlopend. Die meeste het die koppe opgetel en met oopgesperde neusgate die vreemdeling se ruik beproef. Hier en daar het klompies jong beeste skrik vertoon, en sommige was aan opspring by die nader van die twee, maar ’n enkele woord van ou Hendrik was altyd genoeg om hulle onmiddellik tot bedaring te bring. Verskeie male het ’n jong bul met ’n gedempte gebrul en verlaagde kop deur sy makkers na hulle aangekom onder ’n stofdamp van uitdaging.

      In sulke gevalle het ou Hendrik die verkenner agter hom gedruk en die verwoede dier direk tegemoetgegaan, hom aan ’n horing beetgepak en sy kop opsy gedruk. Net ’n paar woorde van die ou Boesman was altyd genoeg om dadelik die stilte te herstel en die dreigende bul se woede te laat verdamp. Nooit tevore het Gool so iets gesien nie. Met stygende verwondering het hy die ou Boesman gevolg. Dit het hom werklik voorgekom asof daar ’n redelike verstandhouding tussen die beeste en hul wagter was, en asof hulle hom kon verstaan; indien nie sy werklike woorde nie, dan tenminste die toon van sy gefluit en die modulasie van sy stem.

      Uiteindelik het hy op ’n uithoekie van die trop bly staan en turend in die donkerte rondgekyk. “Daar is nog een – die Generaal – wat ons van naby moet sien. Hy moet die trop vannag uitlei.” Met twee vingers in sy mond het hy die melodieuse gefluit van die eienaardige dwerguiltjie van die noordelike Bosveld nagemaak. Op ’n afstand tussen die bome gewaar Gool ’n enkele dier wat stadig opstaan van die plek waar hy afgesonderd gelê het. Soos ’n groot swart skaduwee beweeg hy deur die ligter skaduwees van die reusebome. Hy kom reguit na hulle aan en toe hy naby hulle kom, sien Gool dat dit ’n pragtige rooi afrikanerbul is, een van die mooiste wat hy ooit in sy lewe gesien het. Selfs in die donker kon hy sien dat die vel fluweelglad is, met die glans van satyn. Hy was ’n “Bosveld-kalf”, het ou Hendrik hom vertel. Hiér het hy net voor die oorlog as ’n wilde dier aangekom, en hy was nog nooit in ’n kraal nie. Dit was sy eerste kennismaking met ’n blanke. Gool kon nouliks glo dat die reusedier maar in sy vierde jaar was. Sy besondere lewenswyse het die “wilde” eienskappe van sy ras se liggaamsbou verhoog. Gool kon in elke beweging van die pragtige dier spoed en ratsheid sien, nieteenstaande die magtige spiere en die enorme gewig. “Waarlik,” fluister hy aan sy gids, “die afrikaner is die mooiste bees in die wêreld!” Die bul het sy wagter met ’n sagte geblaas begroet. Daar was hier geen teken van skrik of opgewondenheid nie. Met allerlei liefkosinge het die ou Boesman die gladde kop gestryk terwyl hy uit sy bladsakkie ’n skurwe klip neem waarmee hy die rug van die bul roskam, iets wat die dier klaarblyklik die grootste genot verskaf het. Toe dit klaar was, het hy Gool genader en met ’n diep geblaas sy klere geruik.

      “Nou ken hy jou, seur,” sê Hendrik op vertroulike toon toe hulle wegstap.

      Die bul het hulle een of twee keer agternagebulk asof hy die afskeid wou verhinder, maar geen poging aangewend om hulle te volg nie.

      “Hoeveel beeste het jy?” vra Gool toe hulle weer by die vuurtjie aankom.

      Die ou Boesman bring ’n kerfstokkie van harde hout te voorskyn wat hy aan ’n seningdraad om sy nek dra. Ná hy dit ’n paar maal met sy vingers bestryk het, antwoord hy: “Daar is eenduisend-een-en-twintig. Maar daar is ses koeie wat hul kalwers weggesteek het. Ek sal hulle later stuur om hul kinders te kom haal. Nou kan ek nie met hulle sukkel nie.”

      Die gebeurtenisse wat daarna gevolg het – so sou Gool altyd later verklaar – was vir hom soos avonture in ’n droom.

      Op bevel van die ou Boesman het Gool sy perd afgesaal en gelos. Die saal en toom het ou Hendrik in ’n digte bos weggesteek met die belofte: “Ek sal dit later kom haal en na die kommando bring.”

      Toe hulle weer by die vuur staan, visenteer ou Hendrik die verkenner van kop tot tone. Die minste onnodige gewig moes agtergelaat word, en alles wat kon skud of ’n geluid maak, is met voorslagriempies styf om die lyf gebind. Een van Gool se twee patroonbande het hy om sy eie lyf gegespe. Tot sy spyt moes hy sy waterbottel ook wegsteek. “Ek sal dit lank nie weer nodig kry nie. Ek gaan nou ’n land in waar water volop is . . . Kom, seur, kom, seur, daar blink die môrester bo die bome uit. Binne twee uur is dit rooidag, en ons moet uit wees lank voor daar ’n teken van lig is.”

      Daarna vertel hy Gool vinnig maar omslagtig wat hy van plan was en wat van die verkenner te wagte was. Daar was slegs twee plekke waar die beeste kon uitkom, en die ou Boesman het een gekies waar daar ’n taamlik wye poort was tussen ’n droë sloot en die opgestapelde rotse onder die kranse. Gool het hierdie uitweg self ook die middag van die berg af goed bestudeer en spoedig tot die gevolgtrekking geraak dat dit vir ’n perderuiter onpassabel was. Dit was minder as vierhonderd tree wyd, begroei met haakdoringbosse waardeur ’n menigte wildspaadjies kronkel. Voor sononder was hierdie poort deur nie minder as agt vyandelike wagposte beset nie. Daar was tenminste agt tente op ’n ry wat oor die hele wydte gestrek het, en soveel manskappe dat hulle die hele uitweg hand aan hand kon versper. Hoog tussen die rotse onder die krans was twee bergkanonne opgestel wat sowel die Banke as die poort kon bestook. En dit was die vesting waardeur ou Hendrik sy trop van duisend beeste wou bring! Die aanval van ’n blokhuis deur ’n seun met ’n slinger het Gool as ’n meer doenlike onderneming voorgekom, maar sy gemoedstemming was toe van so ’n aard dat hy gereed was om sonder die minste teenstand alles te aanvaar wat ou Hendrik sou aanbeveel.