“Meester Clarke,” sê hy uiteindelik, “daar is net een brandkas wat ek het – dit is hier,” en hy klop op die middel van sy vet lyfie. Ons kon hoor dat hy ’n breë leerband onder sy klere dra. “Jy dink dit is alryt, meneer Clarke?” vra hy bang.
Clarke haal sy skouers op. “Ek weet nie of dit veilig is nie, Solly, maar een ding is seker, as iemand jou brandkas wil beroof, sal jy voor hy dit bereik, in aardse dinge nie meer belang stel nie, selfs nie in geld nie!”
Ons lag almal – almal behalwe Solly.
“Meester Clarke,” sê hy, “jy moet ou Stemmer vra om in die nag by my winkel nou en dan rond te loer. Ek sal betaal.”
Clarke klop hom gerusstellend op die skouer. “Jy moenie bang wees nie, Solly, hou jou rewolwer altyd by jou. Jy is in die dorp net so veilig as jy hier binne die polisiestasie sou wees.”
Maar dit het nie gelyk of Clarke se woorde hom baie moed inboesem nie.
“Waarom dan jy vra: Waar is jou geld?” sê hy eindelik.
Clarke het die vraag nie beantwoord nie.
En toe groet Solly ons en bestyg sy ou muil met moeite en ’n groot gesteun. Met ’n handwuif ry hy stamp-stamp voort met die voetpad in die rigting van Magoeba. Ons staan hom agterna en kyk totdat hy eindelik tussen die kameeldorings verdwyn.
En dit was die laaste maal dat ons Solly gesien het. Die aand laat het sy opgesaalde muil by die winkel aangekom – ’n feit wat dadelik deur sy werkers aan ons gerapporteer is.
Die volgende dag was daar nog geen teken van Solly nie en toe stuur Clarke ’n swart konstabel na Magoeba om te verneem wat van hom geword het.
Ons het toe vir die eerste maal werklik onrustig geword – toe die konstabel die volgende dag terugkeer met die berig dat Cohen nooit by Magoeba aangekom het nie, en dat hy onderweg by geeneen van die statte gewaar is nie.
Die hele dorpie was in opskudding.
Ek herinner my dat ons die hele nag deur krygsraad in my kantoor gehou het. Al die vernaamste ingesetenes van die dorpie was teenwoordig en ek onthou dat dit my as eienaardig voorgekom het dat almal, sonder enige gegronde rede, dadelik met die uiterste agterdog op O’Brien en Husting gesinspeel het in verband met die verdwyning van Cohen.
Clarke was so opgewonde dat hy nooit meer as ’n paar minute in sy stoel kon sit nie. Hy het baie van die Joodjie gehou.
“Ons het hulle! Wragtig, ons het hulle!” het hy een maal uitgeroep. “Dit is hul eie domheid. Hulle weet nie hoe maklik dit is om selfs ’n ingewikkelde gebeurtenis hier in ons sandveld op te spoor nie. As hulle arme ou Cohentjie van kant gemaak het, sal ons môre voormiddag alles weet!”
Daar is ooreengekom dat ou Stemmer en ek saam die volgende dag sou uitgaan om spoor te sny. Al die ander polisie en sommige ingesetenes van die dorpie sou in verskillende rigtings uitgaan.
Voor hierdie voorval het ek dikwels met ou Stemmer te voet deur die woestyn gereis. Ek het veral in alle natuurverskynsels en inboorlingaangeleenthede belang gestel, en ’n beter gids en verteller as die ou swart man was nie te vinde nie. Ons het mekaar goed geleer ken in die eensaamheid van die veld. Ek was werklik lief vir die ou man.
Daar was nog ’n verrassing vir ons voordat ons die groot saak aanvaar het. Dit was die volgende môre. Clarke was net besig om die laaste maatreëls te tref toe ons perdepote buite hoor, en sonder om te klop, stap die twee uitlanders die polisiekantoor binne. O’Brien was voor, vrolik en luidrugtig. Agter hom kom Husting, soos gewoonlik stil en teruggetrokke.
Om die twee in helder daglig te sien, taamlik skoon gewas en min of meer behoorlik aangetrek, het alle twyfel wat daar mag bestaan het omtrent hulle voorkoms, vernietig. As ooit skelm op die aangesig van ’n mens geteken gestaan het, dan was dit op dié van ons twee vriende. Die kort, gesette Ier het ’n mond gehad wat sy gesig soos met ’n kloof in twee verdeel. Sy klein groengeel ogies was te na aan mekaar, lewendig en kraalagtig, soos dié van ’n rot. Sy arms en bors was bedek met tatoeëermerke van skepe en meisies in verskeie kleure. Hy het ons vertel dat hy jare lank op ’n Duitse walvisskip sowel in die noordelike as in die suidelike poolsirkels diens gedoen het. Husting was ’n Australiër wat op ’n veeplaas grootgeword het. Hy was ’n lang, skraal vent, donker van gelaat en so stil en terughoudend dat ons hom selde of nooit hoor praat het.
“Môre, Hauptmann, môre, Juts!” roep O’Brien ons vrolik toe (dit was sy gewoonte om ons hierdie titels toe te swaai). “Wat vir ʼn storie is dit wat ons in die dorpie hoor? Die klein ‘Yid’ is verdwyn, vertel hulle ons. Potstausend, Hauptmann, dit kan nie wees nie. ’n Mens kan nie in die lug opgeneem word soos die ou Joodse priester in die Bybel nie. Hy sal weer opdaag – glo my, Juts. Hy het maar op ’n klein reisie vir sy gesondheid gegaan. Julle sal sien – ek ken die ou nasie, Hauptmann.”
“Hoe meen jy, ’n reisie vir sy gesondheid?” vra Clarke. “Ek dink ook nie dat hy dood is nie, maar waarom sou hy op reis gaan?”
Ek sien dadelik dat hy die twee niks van sy agterdog wil laat merk nie.
En toe skielik verander die Ier se gedrag. Hy word ernstig, asof die gebeurtenis daar en dan ’n heel ander betekenis vir hom gekry het.
“Meen julle dan dat dit waar is – dat julle geen uitleg aan sy verdwyning kan gee nie?” vra hy met ’n trek van ongeloof op sy breë gesig.
Clarke knik slegs in antwoord. “Nou kyk, sersant,” vervolg hy, “as Solly werklik iets oorgekom het, dan kan jy op ons reken om alles te doen wat jy van ons verlang om die saak op te klaar. Sien julle, my maat en ek hou baie van die Joodjie. Hy was die eerste om ons te help toe ons hier aangekom het. Ons skuld hom selfs nog ’n bietjie geld . . . En op weg hiernatoe het ek vir Beëlsebub (dit was sy naam vir die lelike Husting) gesê: ‘As dit waar is, Bo, dan laat ons alles vaar totdat ons hom gekry het, en as ons hom kry, belowe ek hier en nou ’n dosyn kerse aan die Heilige Columba as ek ook weer in my geboortedorpie terugkom. Is dit nie so nie, Beëlsebub?’”
Die droewige Husting wuif instemmend met sy hand.
Gedurende die gesprek merk ek op dat O’Brien die mooi tandhandvatsel van sy swaard verloor het.
Ou Stemmer het nooit sy oë van die Ier geneem nie, ofskoon hy van die gesprek niks kon verstaan het nie.
Dit was snaaks, maar net so diep as ons die twee gewantrou het – ons almal – net so vas het daar en dan by ons die oortuiging ontstaan dat hulle niks met die wegraak van Cohen te doen gehad het nie. So magtig is soms die kleinste wending in menslike gedrag om invloed op andere uit te oefen.
Toe hulle vertrek het – nadat Clarke hulle ’n streek aangewys het om deur te gaan en die swartes te ondervra, vra ek hom: “En wat sê jy nou van hulle?”
“Net so onskuldig as ek self,” antwoord hy met ernstige nadruk.
Ou Stemmer en ek moes die spoor vat van waar ons Cohen laaste gesien het toe hy van die polisiestasie weggery het. Die spore van die ou muil was nog duidelik sigbaar in die sand van die voetpad, en ons kon dit vinnig afloop – een in die gras aan weerskante van die pad, sodat ons die spore ongestoord laat.
Omtrent halfpad na die rivier gaan die paadjie deur taamlik digte bome. Hier stuit ou Stemmer skielik.
“Ai, die ou muil het baie lui geword. So maak die nasie – al hoe verder van die huis. Die majoeta het seker spoor en sambok vergeet.”
En bietjie verder buk hy en uit die gras langs die voetpad tel hy drie of vier boomblare op. Ná hy hulle noukeurig bekyk het, sê hy, asof hy met homself praat: “Die baas het ’n lat gepluk – dis taaibos.” En ná hy ’n bietjie rondgekyk het, stap hy na ’n taaibos ’n paar treë uit die pad en met sy asgaai wys hy my waar ’n lat van ’n tak afgesny is. Weer tel hy enkele blare op en vinnig rangskik hy hulle twee-twee op die palm van sy hand en langs sy arm op.
“Sien, seur, hy het nie al die blare afgetrek nie. Voor aan die punt van die lat het hy ’n paar laat bly