Die groot kameeldoring voor my woning was elke middag ons byeenkomplek in Dageraad. Hier het ons dag ná dag al die aangeleenthede van ons eensame lewe en omgewing bespreek. Dit was maar selde dat daar iets nuuts was om ons belangstelling gaande te maak.
Die besondere middag waarvan ek skrywe, was daar net ’n paar van ons. Daar was sersant Clarke en die twee blanke manskappe en Solly Cohen, ons enigste veekoper en “algemene handelaar”. Solly was ’n kort, vet Russiese Jood met bloedrooi hare en ’n ronde glimlaggende gesig. ’n Paar jaar tevore het hy te Dageraad opgedaag in ’n ou afgeleefde donkiekarretjie met twee maer esels bespan. Hy was in ’n ellendige toestand – uitgedors en uitgehonger. Met die verbasende volharding van sy ras (waar dit geld betref) het hy doodsgevare van allerlei aard trotseer om Dageraad te bereik. Hy het verneem dat daar ’n goeie kans was om besigheid te doen; en geen kompetisie nie! En nou, ná slegs twee jaar, was Solly ’n ryk kêrel – soos ons in Dageraad rykdom skat. Hy had ’n groot trop vee; verskeie plase met goeie putte, en in die dorp ’n winkeltjie waar blankes en swartes al hulle benodigdhede en weeldeware kon koop – teen ontsettende pryse!
Dit was Solly! En hoewel hy ’n geldwolf van die eerste water was, het ons almal van hom gehou. Hy kon jou fop en vastrek met ’n glimlaggie op sy Joodse tronie en ’n paar grappies wat die hele transaksie – vir jou – van alle bitterheid beroof het.
Hy was vol humor, grappe en kwinkslae, met ’n verstand so skerp en bytend dat hy sy hand in jou sak kon steek en jou onder die indruk laat dat dit jou eie was! – so tenminste het oom Wessels, ons ouderling, verklaar.
So ’n soort vent was vet Solly Cohen. Die vroue het hom waarlik bemin! As daar siekte of werklike nood was, het geeneen van hulle ooit tevergeefs by Solly aangeklop nie; en geen Christen het ooit minder ophef van sy ware liefdadigheid gemaak nie. Sy linkerhand wis in waarheid nie wat sy regter doen nie.
Ek herinner my dat hy ons hierdie middag sit en vertel het van sy lyding as ’n weeskind in ’n klein Joodse dorpie in Rusland. Van die wieg af was hy op die pynbank gerek en sy woestynreis na Dageraad, het hy verklaar, was nie te vergelyke met wat hy byna daagliks in Rusland te verdure had nie.
Ongelukkige Solly!
“Hier kom Stemmer,” roep een van die polisiemanne skielik uit, “en die duiwel is op sy spoor!”
Van ver af tussen die boomstamme deur sien ons die ou swart man aangedraf kom. Sy haas het ons almal laat wonder.
“Seker weer ’n bierdrinkery en geveg,” sê sersant Clarke.
“Daarvoor sal Stemmer nie hardloop nie,” merk Solly op. “Hy sal eerder bystaan om ’n paar te sien doodslaan! Hy is te veel van ’n sportman om ’n onnodige einde aan ’n biergeveg te maak!”
Toe die ou man by ons aankom, salueer hy deftig met sy knopkierie en asgaai en daarna sak hy stadig op sy hurke neer in die gewone posisie wat ’n swart boodskapper inneem voor hy sy berig aflewer. Met dieselfde bedaardheid en deftigheid haal hy uit ’n bladsakkie sy pragtig gekerfde hout-snuifbottel, skud ’n hopie snuif in die palm van sy hand en snuif dit op met ’n sug van voldoening.
“Wat is dit, Stemmer?” vra Clarke uiteindelik nuuskierig en ongeduldig.
“Seur,” antwoord die ou ewe bedaard-eentonig, “seur, dit sal goed wees, dit sal baie goed wees, as seur dadelik al die skepsels oproep om vannag wag te staan by die putte, van hier tot Magoeba se stat.”
Magoeba was die stat verste van Dageraad in ’n westelike rigting.
Sy verklaring het dadelik al ons nuuskierigheid gaande gemaak. By die putte wag staan? Waarom? Water was destyds taamlik volop; die dorp se beeste het die vorige dag gedrink – watter gevaar kon daar by die putte kom?
“Volk oproep? Wag staan? Waarom – wat makeer?” vra die sersant net so verwonder as ons almal.
“Seur,” gaan ou Stemmer voort, “daar is ’n groot trop beeste aan die kom deur die woestyn. Dit is ’n baie groot trop en hulle is uitgedors. Baie vrek elke dag. Dit is agt dae wat hulle laaste water gehad het by die Biesiekuile en dit was maar min. Nou het hulle die reuk van ons water gekry en dié wat lewendig deurkom, sal alles in Dageraad platloop. Môre as die son so sit (omtrent tienuur in die oggend word met die hand aangewys), sal hulle hier aankom; maar die sterkes mag selfs in die nag aankom en as daar nie wagte is nie, sal dit swaar gaan met ons putte.”
Vir ’n paar minute sit ons almal verslae. Ons ken die ou man te goed om vir een oomblik aan sy berig te twyfel – maar hoe het hy dit te wete gekom? Daar was geen boodskapper uit die woestyn nie. As daar een was, sou ons, by die polisiestasie, natuurlik eerste die nuus gehoor het. En die berig was uiters skrikwekkend. So afhanklik was ons van water – van ons putte – dat enigiets wat dit bedreig, feitlik nou ons putte vertrap, vir die streek Dageraad ’n ramp sou beteken.
“Ooi! Ooi! Ooi!” roep Cohen uit terwyl hy opspring en met haastige treë voor die ou spoorsnyer op en neer stap. “Wat is dit jy sê vir ons? Wat is dit jy sê? Hoe jy weet hom? Hoe jy weet?”
Ons begin almal tegelyk angstiglik vrae te stel en dit was sersant Clarke wat uiteindelik die rus herstel om Stemmer behoorlik te ondervra.
“Hoe weet ek, seur?” en op die bedaarde, statige wyse van sy ras staan hy orent en strek sy regterarm uit in die rigting van die woestyn. “Daar, my seurs, is die boodskappers. Van eergister af het hulle my vertel.”
En toe sien ons ver in die groue hemel van die Dorsland, op die rand van die gesigseinder, malende swart kolle. Dit was aasvoëls wat oor voedsel “dwaal” of na die bome sak om te slaap.
Weer het ou Stemmer ons verbaas met die vernuf waarmee hy die getal, die trekrigting en die toestand van die aankomende vee afgelei het enkel en alleen uit die verskyning en gedrag van die troppe aasvoëls wat sy skerp oë twee dae tevore reeds ontdek het.
Clarke het dadelik bevel uitgevaardig. Wit en swart inwoners word gemobiliseer. Gedurende die hele nag word die bakke in die lig van groot vure volgedra en alle voorbereidsel word getref vir die worsteling wat ons die volgende dag te wagte was; en lank sou die herinnering van die groot stryd in die kronieke van Dageraad lewe.
Ek herinner my nog die volgende oggend in die daglumier hoe ons almal ons poste in die skemerdonker ingeneem het.
Laag op die oostelike horison hang die môrester soos ’n gloeiende wit lamp, en vanuit die woestyn trek ’n treurige koue windjie. Hier en daar in die donker wink vure wat die volk in digte dromme omring, want die nag was koud. Ons kommando was in ’n myl lange lyn tussen die waterputte en die woestyn opgestel, en alles was gereed om hierdie beeste met geweld in klein klompies op te breek en tussen die putte te verdeel. Wit en swart was geoefen in hierdie werk, ofskoon ons nog nooit tevore met so ’n massa tegelyk te doen gehad het nie. Ons wis alles van hulle af: die hoeveelheid; hulle toestand; hoe dors hulle was en die waarskynlike getal wagters – en alles het ou Stemmer en sy maats afgelei uit die getalle en gedrag van die “dwalende” aasvoëls wat in die blou, selfs in die middel van die dag, skaars sigbaar was. Toe ek Stemmer teen sonop die oggend vra: hoeveel? toe hou hy die vyf vingers van een hand op en die duim van die ander: seshonderd beeste! Vir ons was dit ’n ontsettende getal.
Teen tienuur die oggend sien ons vir die eerste keer donker wolke bo die bome uitslaan oor ’n wydte van ongeveer twee myl. Dit was die stof van vee wat vinnig kom. “Hulle begin trek,” sê ou Stemmer. “Hulle is so klouseer dat hulle in die nag gelê het. Hulle kom nie te vinnig nie, want hulle het die reuk van die water verloor. Die wind kom nou van