Die ander vennoot. P.J Haasbroek. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: P.J Haasbroek
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153515
Скачать книгу
standaarde te voldoen nie.

      Dié gedagte laat hom besluit: hy wil nie Windhoek toe gaan nie. Hy sal saam met John op die plaas bly so lank as wat John hom wil gebruik. Hy is tevrede met sy omstandighede hier.

      Tevrede wees het hy by sy pa geleer, voorman op ’n karakoelplaas naby Mariental. “’n Goeie ding moet jy nie sommer los nie,” het sy pa gesê.

      Maar hoe dan nou met Mea gemaak? Sy is wonderlik goed, maar hy kan nie aan ’n manier dink om haar te behou nie!

      Die Land Cruiser dreun egalig voort. In die breë vallei tussen kliprantjies trek die grondpad ’n dowwe vaal streep, sonder beduidenis van ’n bestemming.

      Voor langs Pretorius het Anchen al haar verwondering uitgespreek oor die padmakers se bedoeling: wou hulle inderdaad iewers heen met dié roete deur die barre landskap?

      “Miskien het hulle net aangehou pad bou tot hulle by ’n plek kom wat lyk of mense daar kan bly,” kom dit van Horst. “Toe bou iemand iets daar, en mettertyd kom ander en rig ’n vulstasie op, of ’n klein winkeltjie, en uiteindelik kry die plek ’n naam. Later, ná heelparty mense hulle by die eensame pos gevestig het, keer die padbouers verheug terug om die pad verder te bou.”

      “Solitaire het dalk só ontstaan,” grinnik Pretorius. “Hoewel die paar mense wat daar bly dit sekerlik sal ontken.”

      Anchen vra waar Solitaire is, en hy verduidelik sy moet op die kaart suidwes van Windhoek kyk. Volgende keer sal hy hulle soontoe vat. En sommer ook na Sesriem en Sossusvlei. Dáár kan hulle teen die groot sandduin uitklim om die woestyn rondom te sien duine maak tot waar jou sig ophou.

      “Wat laat jou dink ons sal weer Namibië besoek?” vra Gotschalk.

      Pretorius ignoreer maar die snedige toon van die vraag. “Voor jy weet, doktor, het ons land sy tsammas oor jou gerank. En dan wil jy altyd weer terugkom.”

      Op Horst se vraag wat tsammas is, verduidelik hy dis geharde rankplante wat vrugte soos spanspekke dra – eetbaar, maar lank nie so lekker nie.

      Anchen kyk om na Gotschalk. “Moenie Herklaas se geesdrif demp nie, doktor. Hy is maar net baie geheg aan sy land.”

      “Jy kan ’n kolonis vertrou om een te bly, nè?”

      “Herr Doktor? Gryp die land jou dan nie aan nie?” terg sy kamstig liefies. Hy bly haar ’n antwoord skuldig.

      Minute lank staar hulle stilswyend na die landskap waardeur hulle ry. Weerskante van die pad skuif plat, klipperige rante verby, sonder ’n enkele kameeldoringboom om die eentonigheid te verbreek.

      Toe sê Gotschalk: “Al wat ek hier sien, is die leegheid. ’n Absolute verlatenheid – dis waarin ons ons nou bevind. Hier is niks wat tot jou spreek nie. Net die kaal rante en veld wat eindeloos uitstrek onder die blou hemel.”

      “Tog is daar lewe hier,” wys Pretorius hom tereg. “Insekte, selfs trapsuutjiese.”

      “Maar hier bly nie mense nie,” antwoord die sosioloog bruusk. Dan, asof hy wil wys hy is nie oordraad nie, verduidelik hy: “Wat jou eintlik behoort aan te gryp, is hoekom die land so leeg is. Dis leeg gemáák . . . Ek stel my voor hoe swaar die stewel van die Suid-Afrikaanse administrasie op alles rus. Alles is tot stof vertrap.”

      Pretorius draai sy kop vlugtig, ontmoet Gotschalk se blik. “Ag nee, doktor. Jy kan hulle mos nie blameer dat hier vandag nie mense woon nie.”

      “Verdrukking neem baie vorme aan,” antwoord Gotschalk koud.

      “Onthou, Herr Doktor, voor die Suid-Afrikaners het die Schutztruppen hier gemarsjeer,” sê Anchen. “Dink net hoe het goewerneur Leutwein se stewels hier getrap. En die blinkgepoleerde kapstewels van generaal Von Trotha.”

      Die gesprek verbaas Pretorius al meer. “As julle dink hierdie verlatenheid het deur ontvolking gekom –”

      “Dit het met die Duitse besetting begin, Herklaas.”

      Gotschalk snork verontwaardig. “Duitsland kan nie vandag meer die blaam daarvoor kry nie – ons is lankal hier uit. Vroeg hierdie eeu al het ons Duitswes-Afrika aan Suid-Afrika afgestaan. Van toe af moet húlle die blaam kry vir wat hier gebeur. En moet hulle maar verlief neem met die wêreld se kritiek op wat hulle hier doen – of nie doen nie.”

      Dit voel vir Pretorius of Gotschalk sy kritiek op hóm mik. Op hom wat niks met die Suid-Afrikaners uit te waai het nie, behalwe dat hy die kleinseun van ’n Dorslandtrekker uit Potchefstroom is. Hoe ver terug in die geskiedenis moet jou verbintenis met Suid-Afrika lê om die skuld vir hul regering vry te spring? En hoe lank gaan die skuld hul nageslagte nog bybly?

      Dan besef hy: Gotschalk het dit eintlik teen die wittes hier. En daarom ook teen hom – ’n kolonis in die sosioloog se oë. Volgens hom het Swapo die reg om van hulle ontslae te raak.

      Dit klink of Anchen die argument met Gotschalk geniet. Haar stem is lig en vrolik toe sy sê: “U weet seker die dag toe Suid-Afrika hier oorgeneem het, was nog net die helfte van die inwoners van die suidelike en sentrale streke oor. Von Trotha se troepe het die land vir hulle skoongemaak. Wag, ek lees vir julle iets.” Sy blaai in haar notaboekie rond.

      “Hoor bietjie hier!” Dan lees sy dramaties: “Proklamasie van die opperbevelhebber van die Duitse magte, generaal Von Trotha: Ek, die groot generaal van die Duitse magte, stuur hierdie brief aan die Herero-mense. Herero’s is nie langer Duitse onderdane nie. Alle Herero’s moet die land verlaat. As mense dit nie wil doen nie, dan sal ek hulle met my groot kanonne dwing om dit te doen. Elke Herero wat binne die Duitse grense gevind word, met of sonder ’n geweer, met of sonder beeste, sal geskiet word. Ek sal nie langer enige vroue of kinders ontvang nie; ek sal hulle terugjaag na hul mense toe, of hulle skiet. Dit is my besluit vir die Herero-mense . . .”

      “Aldus die groot generaal met die groot kanonne. Hy het nie doekies omgedraai nie.”

      Al weet Pretorius van die oorlog teen Maherero, verbaas dit wat Anchen gelees het hom. Waar kom sy daaraan? Van dié proklamasie het hulle geskiedenisonderwyser op Mariental hulle nooit vertel nie.

      Gotschalk kyk ergerlik na Anchen. “Sulke besluite is oral geneem. Deur Spanjaarde oor die lot van die Asteke, deur Amerikaanse koloniste oor Rooi Indiane, en selfs deur Russe oor die Tsjetsjniërs – destyds al. Maar die Wêreldoorloë het alles verander.”

      “Jy mág nie die geskiedenis so selektief lees nie, Herr Doktor,” vermaan Anchen hom.

      Gotschalk se brillense blits. “Dis eenvoudig onvergeeflik as mense die keerpunte in die wêreldgeskiedenis wil ignoreer. En dan nog probeer volhou op hul verkeerde weë.”

      Sy hande beklemtoon sy teenkanting. Die verlede is verby, vee sy regterhand horisontaal. Stry teen die onregte van die hede, kap hy met sy wysvinger.

      Anchen hou egter vol: “Doktor, almal weet tog ontvolking het hier met die Slag van Waterberg begin. Die vlugpad van die Herero’s het tot in die Kalahari besaai gelê met lyke.”

      “Goed, ek gee toe: ons administrasie wás wreed en onmenslik. Maar wat daarna? Wat het die Suid-Afrikaners gedoen?”

      Anchen se oë vonkel; sy het Suidwes se geskiedenis gelees. Al weet sy haar punt is bes moontlik verkeerd, gaan sy haar nie met geskiedenisfeite laat troef nie. “Weet u, doktor, dat die Odendaalkommissie die gebied vir swart bewoning verdubbel het?”

      Gotschalk snork ergerlik. “Met statistiek kan jy enigiets bewys. Watse grond was dit? ’n Hopelose stuk aarde – berge en woestyn, sand en klippe. Só bar en droog dat niemand daarop kan boer nie. Wat het dit gehelp? Net die mense verder verarm. Terwyl die koloniste sestig persent van Namibië gekry het. Die beste deel!”

      “Maar tog was dit ’n mooi gebaar?”

      “So mooi soos Odendaal se plan met Katatura,” reageer Gotschalk sarkasties. “’n Lokasie net ver genoeg buitekant Windhoek, met ’n hoë heining rondom, en net een hek wat toegang gee. Of liewer, net een uitgang vir die swartes wat binne saamgehok is.”

      Die