Hoogty. E. Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: E. Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703669
Скачать книгу
Ek was net vier toe my pa oorlede is. Hy was dertig.”

      Dit klink of hy die Christmas blues het. Sy lei af dat Stoffel Retief sy stiefpa is.

      “Kan jy jou pa nog onthou?”

      “Vaagweg, maar tog, ja. Hy was ’n donker man, en baie sterk en bang vir niks. Die dag toe hy dood is, het hy met ’n bul gebeur wat hom gegaffel het. Dit was vreemde beeste wat net die vorige nag aangekom het en nog ’n bietjie wild was.”

      Ná ’n kort stilte gaan hy voort: “Dit was ’n vreeslike dag. Simon het my ma kom roep. Hulle wou nie hê ek moes naby die kraal kom nie. Dis Simon wat by my gebly het toe hulle met my pa dorp toe is. Van daardie dag af is hy soos ’n pa vir my. Vir ’n lang tyd wás hy my pa. As ek die dag trou, sal ek eers by hom moet toestemming vra.”

      Hy is doodernstig, besef sy.

      “Dit moes moeilik gewees het vir julle, jy en jou ma alleen hier op die plaas.”

      “Sy kon nie hier bly nie. Sy het Hobhuis toe getrek en die grond aan haar broer, Krisjan, verhuur. Hy was ’n veespekulant, is dit steeds. Sy grond begin net hier agter die kop, dit grens aan Dewet. Om die waarheid te sê was dit een plaas wat tussen hom en my ma verdeel is. Die restant wat haar kant toe geval het, het sy Dewet genoem, omdat dit my toekom. Krisjan en my pa was vennote, hulle het beeste opgekoop en weer verkoop. Die voerkraal was hier op Dewet, waar die goed eers in kondisie gebring is voordat dit vendusiekraal toe geneem is.”

      “En Harmstat?” vra sy dan.

      “Ons het op Harmstat gaan woon nadat my ma en pa Stoffel getroud is. Dewet was nooit regtig ’n winsgewende plaas nie, hier was nie eintlik ’n boerdery om ’n bestaan uit te maak nie. Slegs maar die Caledon wat die grens is tussen ons en Basoetoland. In die winter kan ’n mens droogvoets deurstap.”

      Vir Helena klink dit na ’n storie waarvan gedeeltes uitgelaat is.

      “My oupa Harm het in l900 aan die kant van die Boeremagte teen die Engelse geveg,” vertel hy verder. “Hy was een van veertien Boere wat met die beleg van Hobhuis gewond is. Sewe is dood voordat die Engelse uit die loopgrawe verjaag is. Die Engelse het veertien man verloor, en tagtig is gewond. Wat ek nog van my oupa het, is ’n wakis, wat ek jou sal wys as jy weer op Harmstat kom. Dit gaan eendag na my seun, wat ek Harm sal noem.”

      Die familietrots is onmiskenbaar. In dié opsig skiet sy ver te kort. So ’n geskiedkundige agtergrond het sy nie. Sover sy weet, ken hulle niemand wat aan die Boereoorlog deelgeneem het nie. As haar oupa Burre nie dalk weggeloop en by die rebelle aangesluit het nie . . .

      “Ek het op Hobhuis skoolgegaan tot standerd nege,” gaan Chris voort. “Toe moet Pa vir ’n operasie gaan, en moes ek plaas toe kom.”

      Hy praat nou van oom Stoffel, besef sy. “En wanneer was dit?”

      “In die oestyd, middel Julie, die mielies moes af.”

      “Ek bedoel, hoe lank gelede?”

      “Drie jaar. Ek was sewentien.”

      “Kon jy nie daarna teruggaan skool toe nie, ná die oestyd?”

      “Ek het te veel skoolwerk gemis. En buitendien moes die koring kort daarna in die grond kom; ons plant tussen Mei en Augustus. Van September tot Desember, afhangende van wanneer dit reën, ploeg ons en plant weer mielies. Daar was nie juis tyd vir skool nie. Want ons het diere, skaap en beeste en ’n melkery, en masjinerie wat in stand gehou moet word. Dis soos ’n wiel wat momentum kry, sodat jy nie weer kan afklim nie.”

      Sy kan dit nie glo nie. “Jy bedoel jy moes op sewentien voltyds gaan boer?”

      “Dit sou in elk geval een of ander tyd moes gebeur. Pa was nooit weer dieselfde mens nie. En ek was darem nie alleen nie, ons het betroubare werkers. En my ma is van altyd af die brein agter die boerdery. Sy is die administrateur en minister van finansies,” spot hy, maar nie sonder trots nie. “Daardie mammatjie van my se skoene staan enige vrou nie sommer vol nie.”

      ’n Skaduwee kruip oor die breë klipmuur van die beeskraal waarbinne vreemde beeste snags maal en onrustig bulk. Dis nog warm. Sy vermoed dit sal nie maklik afkoel nie. Die dag se hitte sal ook terugslaan in die kliphuis en daar opdam, sodat die man en vrou rondrol onder sweetklam lakens. Ondanks skerpioene en gifgoed wat in die nag rondloop, word die deure en vensters wyd oopgegooi. Basie de Wet is ’n onverskrokke man.

      Sy jeuk om die huis van binne te sien. Uiterlik vertoon dit eenvoudig, nie van dieselfde gedresseerde klip as Harmstat nie, growwer, onafgewerk en sonder stoep of veranda. Sou Chris se oupa Harm en ’n span Sotho’s dit self gebou het, hier op die vrugtelose werf dit klip vir klip opmekaargestapel het? Of is dit herbou nadat die Engelse die oorspronklike afgebrand het, deur Basie de Wet vir sy bruid, Nelie, gebou? Was hulle gelukkig hier, Basie en Nelie en die seuntjie, Chris, met die ligte kuifie? Nelie is ’n geseënde vrou om nog ’n maal liefde te kon kry by Stoffel Retief op Harmstat.

      Onwillekeurig vergelyk sy dit met Jasper Burger se witgekalkte kleihuisie wat hy vir Cora aanmekaargelas het. Was daar ooit iets tussen hulle soos sy by Stoffel en Nelie Retief opgemerk het? En wanneer het die drif uitgebrand?

      Toe dit lyk Chris ry verby, vra sy nog ’n maal of hulle nie by die huis kan aangaan nie.

      Juis noudat sy die agtergrond ken.

      “Ek het nie die sleutel saamgebring nie,” antwoord hy. “Daar is nie juis iets te sien nie.”

      “Maar jy moet tog soms hier oorslaap, toe jy die koring afgesny het? Daar moet meubels wees?” bly sy aandring.

      Chris skud sy kop. “Ek stoor die koring in die voorhuis tot dit weggery word meule toe. Meestal is hier net spinnekoppe en stof.”

      Die deure is gesluit en voor die kleinerige vensters is houtluike aangebring. “Sodat die hael nie die ruite uitslaan nie. Jy sal sien op Harmstat is dit ook so. Soms is die korrels so groot soos ghoens.”

      ’n Klein windhok staan tog oop, waar ’n hond kan slaap, en besems en emmers gebêre word. Ook op hierdie werf is daar geen bewys van ’n tuin nie, nie eens ’n aalwyn of malva nie, en dit ten spyte van al die rivierwater. Só lyk ’n plek waar daar lank nie mense gewoon het nie. Waar die spoke nie tot rus kom nie.

      “Toe,” sê hy toe die plasie reeds ’n ent agter hulle lê, “nou is dit jou beurt.”

      “Om te wat?”

      “Ek het jou my plaas gewys. Vertel jy nou vir my.”

      “Wat wil jy weet?”

      “Sê my hoe oud jy is.”

      “Agtien.”

      “Jy jok vir my. Jy moet ouer wees. Jy het matriek gemaak en jy was ’n jaar op kollege.”

      Hy het blykbaar self ’n paar somme gemaak, net soos sy. Hy moet twintig wees. In baie opsigte nog ’n seun, op wie se breë skouers vroeg reeds ’n berg verantwoordelikheid gelaai is.

      “Dus maak dit my neëntien? Ek kan een-en-twintig ook wees. Ek kon gedruip het. Weggeloop het met ’n man. Ma van een kind. Geskei.”

      Hy lyk openlik geskok.

      “Nee, ernstig,” help sy hom uit sy verwarring, “ek was pas agtien in November. Het klasse op laerskool gespring. Maar wat maak dit saak?”

      “Ek moet jou kan glo.”

      “Hoekom? Ons ken mekaar skaars.”

      “Ons kan mekaar altyd leer ken. Of wil jy nie?”

      “Goed. Waar wil jy hê moet ek begin? My ouderdom. Ek het sewentien geword aan die einde van my matriekjaar. ’n Jaar op kollege. In November was ek agtien. Met my volgende verjaardag sal ek neëntien wees. November l952,” benadruk sy die datum. “Ek het niks om weg te steek nie. Ek kan my doopseel vir jou wys, en getuigskrifte van die skoolhoof en predikant. Ek is aangeneem toe ek vyftien was en is eers die volgende jaar voorgestel in die NG Kerk.”

      “Ek het nie