Sy slaap, maar net totdat hulle haar neerlê, dan fladder die oë weer oop.
Einde ten laaste sit Helena en Siena albei op die bed, Siena met die kleintjie teen haar skouer, gestut teen ’n stapel kussings. Die kleintjie sug en snik en slaap. Helena trek die komberse oor hulle. Dit word stil, behalwe vir die nênetjie se kort snorkgeluidjies.
Dis hoe Felix hulle kom kry toe hy ligdag by die huis instrompel.
“Pappa!” Koekoe maak haar los uit haar oppasster se arms en vlieg na haar pa toe.
“Ewê!” Siena vlieg vervaard op.
“Dokter!” Helena se hare staan soos ’n bos besemriet in alle rigtings.
“Pa se pop het nou ’n sussie. Dis weer ’n dogtertjie met donker hare. Sy is met ’n keisersnee verlos. Dit gaan goed met ma en dogter. Hoe het dit hier gegaan?”
“Darem nie te wild nie.” Helena se hande gaan selfbewus na haar hare. “Van iets aan my het sy nie gehou nie. Ek het gedink sy kan maar by my slaap, maar toe ruik sy my . . .” Want dis wat dit was. “En toe sy aan my gesig vat . . .”
“Ja, ’n kleintjie is baie soos ’n skaaplam. En elke ma het haar eie reuk. Gaan maak vir ons koffie en pap, my nêne.”
Toe Siena in die kombuis begin oorlog maak met die potte en koppies, kyk dokter Felix kopskuddend na die bed.
“Daar is skoon linne in die gangkas, Helena. Sal jy die bed oortrek terwyl ek bad, asseblief?”
Hoofstuk 2
Felix Venter gee Helena die Sondagmiddag ’n kitskursus in verband met die roetine in die spreekkamer: telefoon beantwoord, afsprake maak, lêers uithaal en die pasiënte deurstuur na die ondersoekkamer. Dit klink net so eenvoudig soos dié van meneer Zietsman in die Paarl, hoewel die omstandighede hemelsbreed verskil.
’n Ruk lank voel sy nog groen en onbeholpe. Dom, om die minste te sê. Wonder sy of sy ooit van enige waarde is. Felix is soggens vroeg uit om pasiënte te besoek, waarna hy by die kliniek anderkant die stasie diens doen, en dan by die spreekkamer indraf.
Moet liewer niks doen nie, leer sy gou. As iemand met ’n bloederige wond inkom, dep hoogstens met ’n stuk watte, maar laat die res aan Felix oor. Sy kry te doen met mense wat vol ipekonders is, wat nie ’n dokter nodig het nie, maar hul eie kwale diagnoseer, net ’n voorskrif soek, pille wil hê, verwag dat sy dit oor die toonbank moet uitdeel!
Sy herken kinders met diarree. Nie gevaarlik nie, dit klaar binne ’n dag of drie vanself op, maar dis aansteeklik. Die kieme versprei maklik onder die kleintjies wat kaalstert tussen die strooise rondhardloop. Daarvoor skryf Felix ’n sulfamiddel voor. In uiterste gevalle antibiotika. Hulle resepteer self; die naaste apteek is op die dorp twintig myl verder.
Helena beskou hierdie terloopse inligting as ’n soort opleiding. Interessant, sodat sy wonder of sy nie ’n verpleegster moes geword het nie. Maar gril dan as sy moet toekyk as ’n snyplek steke moet kry. Of as sy net dink aan die geel etter waarmee sommige kinders se oë toegelak is, die drilsel wat uit hul neuse oor hul bolippe stroom.
Behalwe pasiënte is daar mense wat bloot uit nuuskierigheid spreekkamer toe kom om die nuwe meisie te sien met die rooi kop, geel kop, pienk kop, ’n bos hare wat maar nie hul lê wil kry nie, behalwe as sy dit vleg. Wat nie hul stemme oor die telefoon herken nie. Nie weet wie hulle is of hul adres ken nie. Al doen sy ook haar bes.
Smiddae ná-ure trek sy plat skoene aan en verken te voet die dorpie, waarin ’n mens nie juis kan verdwaal nie. Die hoofstraat loop dwarsdeur die dorp, met aan die linkerkant die bank en winkels en poskantoor. Die hotel en enigste kafee en boekwinkel is agter die stasie geleë. Onderkant die spoorlyn begin die industriële gebied: landboukoöperasie, garages, kaasmakery, ’n varkplaas en ’n stuk groen weiding vir beeste.
Iewers hoor sy balle klap op ’n tennisbaan; sien sy die pale van ’n rugbyveld en netbalbaan; ’n boeresaal. Selfs ’n krieketveld waar spelers in spierwit monderings op ’n Sondagmôre uitstap, hoofsaaklik lede van die Engelse gemeenskap. ’n Groot aantal van die boere is Engelssprekend. Die dorpies in die omgewing het ook Engelse name. Sy bevind haar in die middel van ’n Engelse kolonie uit die vorige eeu.
Felix het nie bra tyd vir ’n spel wat ’n dag lank aanhou nie, en speel ’n vinnige stel tennis. “Wat van jou, Helena?”
“Ek is nie juis sportief aangelê nie, ek kan nie ’n bal raak vang of slaan nie,” moet sy erken toe hy vra of sy nie by die tennisklub wil aansluit nie. Sy kon ook nooit netbal of hokkie baasraak nie. “Maar ek swem en ry fiets en stap.” Heeltemal onaktief is sy beslis nie. “Ek kan roei.”
“En dans?” raai Anneke. Sy was binne ’n week terug by die huis, waar sy tevrede soos ’n kat met haar twee kinders in die bed lê en spin. Maar sy brand reeds weer om ’n raket te swaai.
“Op ’n manier,” erken Helena beskeie.
Die vorige Desembermaand op Vollemink het sy ’n paar nuwe wit sandaaltjies se sole snuif gedans. Dis die tyd van die jaar dat daar feitlik elke aand ’n opskop op die stranddorp is. Die kêrels uit die noordweste wat kom koelte soek, dans lekker. En die hele Baai, oud en jonk, is saans onder in die saal.
Die tannies, hul arms onder hul borste gevou, voel self lus vir ’n wals en die quickstep en polka. Hulle sal selfs probeer jive, maar helaas. Wanneer die ooms later stoutmoedig raak nadat hulle ’n paar kappe buite tussen die karre gemaak het, kry hulle ’n muurblom beet om haar te wys hoe dit gedoen moet word. Dis maar min of meer hoe hulle almal geleer het, by die ou manne.
In die Oos-Vrystaat reën dit Desembermaand. ’n Wind staan op en blitse sigsag blink agter die wolke. Die weer dreun. Met ’n gerammel kom dit nader. Vasgenael staan Helena by die groot venster van die sitkamer en luister na die geknal van donder, waarna die wind die reën voor hom uitdryf sodat dit in skuins vlae neergiet. Stroompies vorm in die straat, loop teen die skuinste af. Droog byna dadelik weg. Ongelooflik, maar binne ’n uur is alles weer oor.
“Voel julle nie lus om saam Harmstat toe te ry nie?” stel Felix een middag ná so ’n reënbui voor toe dit na nat aarde ruik. “Ons gaan sê dag en drink koffie en wys sommer vir oom Stoffel en tant Nelie ons jongste verskalfie.”
Anneke verwelkom die voorstel en hulle is gou gereed om te ry.
Die hekpale is van opgemesselde sandsteen, merk Helena met hul aankoms. Daarop is die naam Harmstat uitgekap. Ook die buitegeboue is van gekapte sandsteen: ’n skuur en waenhuis, melkstalle, varkhokke, die lae muur van ’n skaapkraal. Die huis is van dieselfde klip, groot en gasvry, met ’n wye stoep aan die ooste- en suidekant. Onverwoesbaar, tot in ewigheid, dink Helena. Die rooi dak is van ver af sigbaar; dit verskaf kleur aan die werf, wat maar kalerig is, behalwe vir ’n paar bloekoms.
’n Hond kom hulle tegemoet, ’n kwispelende basterrifrug, gevolg deur Stoffel en Nelie Retief. Twee hartlike middeljarige mense, som Helena hulle op.
Nelie neem dadelik die babatjie by Anneke. Sy koer en kweel so ooglopend dat haar man moet opmerk: “Die liewe Vader bewaar die eerste kleinkind wat op Harmstat aankom. Nelie smag nou nog na die dogter wat sy nooit self gehad het nie. Al het ek haar twee gegee.”
“En ’n huis vol kleinkinders. Nee, ou man, ek is tevrede,” en glimlaggend gee sy die baba terug aan Anneke. “Ek is verby my jare, en die bloeddruk . . .”
Onderwyl hulle huis toe stap, wil Felix weet hoe dit met die bloeddruk gesteld is, en die dikderm. Hy het pilletjies gebring. Oom Stoffel vryf oor sy maag.
“Let maar op die dieet, nie te veel sout nie, en bly weg van die lekker vet ribbetjies,” praat Felix Venter teen die wind.
Helena word voorgestel. Waarskynlik weet hulle van haar; nuus op die platteland trek gou en ver, en sy sal deurgekyk word.
“En van waar is sy?” Stoffel Retief skud hand.
“Onder uit die Kaap, meneer Retief.”
Oom