Hoogty. E. Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: E. Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703669
Скачать книгу
skud tant Nelie haar kop. “Moet jy altyd terg? Pa het vanoggend die hele rugstring van die skaap in die pot gesit. Eet, Helena.”

      Sy eet effentjies. Lewer is ’n suiweringsorgaan waarvoor ’n mens ook kan gril, waarvan die buise uitgesny moet word.

      Teen wil en dank moet oom Stoffel die skilpadstorie hoor. Helena byt op haar tande en druk deur toe sy sien Chris gaan haar nie help nie.

      “Ek het hom maar net vertel hoe lekker vet ons veldskilpaaie in die winter word.”

      “En van die groot skilpadbraaiery,” por Chris nou.

      “Dit gebeur maar een keer in die winter, gewoonlik met ’n veldpiekniek. Dan maak die mans ’n vuur . . .” En kortliks beskryf sy dit weer.

      Stoffel Retief wil weet wat daar te eet is onder so ’n dop.

      “Bloedmin,” moet sy erken, behalwe die lewer en sagtedop-skaaleier, en die sagte vleisies wat die kinders van die beentjies afsuig. Ook dat sy in geen jare skilpad geproe het nie. Vir ’n kind gaan dit eerder oor die opwinding van ’n wintersdag in die veld, en die vuur.

      Sy moet toegee dat dit ’n absurde praktyk is. En effens rooi om die kieue wil sy haarself nog verdedig dat dit omtrent gelykstaande is aan die braai van lammerstertjies en peertjies . . . toe knal dit meteens soos ’n donderslag in haar kop: Heuleuna, hou jou bek en vreet jou kos!

      Wat het sy gedink doen sy? Wat sou hulle gedink het as sy aan tafel opgehaal het van die bosluisies aan die skilpadpootjies? Of dat dié wat uit die vuur probeer wegkom met ’n stok teruggedruk word . . . Besadig eet sy verder, en vee die sous met ’n stukkie brood op sonder om een maal weer te praat.

      Die skottelgoed word ná ete in die buitekombuis in ’n skottel gepak. Helena wil opwas, maar Chris, wat help afdra het, keer. “Dis Fransiena se werk, my ma sal nie daarvan hou nie.”

      Daar word boekegevat, en dan drink hulle koffie.

      “Chris, jy moet kyk dat alles toe is. En blaas die lampe dood,” gee Stoffel Retief sy laaste orders af.

      Hulle soen mekaar goeienag.

      So liefdevol is ons nie, dink Helena. As hy nie op die see is nie, sal Jas agter die houthoop by ’n buitevuur sit en rook en dan stil-stil die buitekamer se deur toemaak. Haar ma vroetel nog lank in die kombuis met melk of ’n karringry as daar genoeg room is, vee met die vlerkie van ’n seeduiker die vuurherd uit, pak fynhout vir die oggendkoffie aan, verwilder die kat wat ’n dooie voël ingedra het, om eindelik haar kop om die deur te kom steek. “Nag, Hillie.”

      “Nag, Ma.”

      “Nag, oom, nag, tannie,” sê Helena.

      Sy is gereed om self ook kamer toe te gaan, maar Chris soek die gewenste stasie op die radio. Die ontvangs is effens krapperig. Sy ken dit goed: LM se treffersparade. Hulle koshuismeisies saamgebondel in die enigste kamer waar daar ’n radio is, die volume sag gestel, ’n sigaret wat die rondte doen. Wat juffrou Perks nie sal ruik nie, omdat sy self rook, maar mevrou . . . !

      “Ons gaan darem nie nou al slaap nie.” Chris trek vir haar ’n gemaklike stoel nader met ’n leuning wat kan verstel, nooi haar om te sit. Die een oomblik soos ’n stout seun, dan sorgsaam.

      Voordat hy self in die gemakstoel oorkant haar neersak, strek hy hom om die lamp dood te draai wat ’n pienk kartelpatroontjie op die wit tafeldoek gooi. Steek ’n kers aan. Hulle sit regoor mekaar, sy voete raak net-net nie aan hare nie.

      Die skaduwees het na die hoeke gevlug en die kersvlam brand roerloos. In stilte luister hulle na die populêre liedjies. “Irene, Good Night”, “Beautiful Brown Eyes”, “Sugar Bush”, “Unforgettable” van Nat King Cole . . .

      “Ons wou flou word oor daardie fluweelstem van hom,” raak sy van voor af ekstaties. “En Bing Crosby: ‘Sweet Leilani’, ‘White Christmas’, ‘Swinging on a Star’, ‘In the Cool, Cool, Cool of the Evening’. En South Pacific. Het jy die fliek gesien, met Mary Martin? I’m gonna wash that man right outta my hair.”

      “When you find your true love, when you feel her call you . . .”

      Hy ken die woorde, maar is nie Perry Como nie. Selfs Boetie sing beter. Al moet hulle by die huis tydjies steel om na die radio te luister.

      “Ons moet ver ry om by ’n ordentlike bioskoop uit te kom. Die goed wat hier wys, is stokoud,” sê Chris.

      “Ek het op Vollemink grootgeword waar net moord en doodslag in die biosaal gewys het, en ’n ou man soms ’n tent kom opslaan het. Hy het ’n vliegtuigie gehad waarmee hy op die strand geland en mense vir vlugte oor die baai geneem het. Ek het drie maal na Scott of the Antarctic gaan kyk. Jy kan net dink watter kontras die Paarl was. Matinee Saterdagmiddae, sjieling vir die fliek, vier pennies vir ’n roomys.”

      Liefs nie erken dat ’n pennie soms kleingemaak moes word vir oggend- en aandkerk nie. Om nie van die vryhede op kollege te praat nie. Vergete is die skilpaaie.

      “Ek het niks gemis nie. Kathryn Grayson en Howard Keel in Show Boat, en Ava Gardner, die mooiste vrou op aarde. Robert Taylor en Vivien Leigh in Waterloo Bridge en Betty Hutton in Annie Get your Gun. Al die musicals!”

      “Ek sê jou wat: ons ry een naweek Bloemfontein toe!” raak hy geesdriftig.

      “Is dit nie te ver nie?”

      “Ons ry nie, ons vlieg, om teen melktyd terug te wees.”

      Hulle sou die hele nag kon ompraat. Hy hou van operamusiek, hoewel sy kennis beperk is. Dit strek nie juis verder as U Eie Keuse op ’n Saterdagaand nie.

      “Ons het ’n Afrikaans-onderwyseres gehad wat ’n musiekperiode geskep het waarin ons na sangers soos Jussi Björling, Di Stefano en Gigli geluister het,” vertel hy. “Sy het ’n groot versameling plate gehad. Caruso en Erna Sack en Galli-Curci. Amelita. Dis vir my so ’n mooi naam. Ek sou eendag ’n dogter van my na haar wou vernoem, maar Ma sê dit klink darem te veel na een van die swart vroue. Toe ek by die huis kom en vertel van ’n simfonie van Hector Berlioz, dink my ma ek vloek!”

      Helena maak haar oë toe. “Ek het ’n vriendin gehad . . .”

      Op Vollemink, waar die skuite een vir een die hawe binnekom, Jas Burre s’n leeg. As die vis die nag weggesak het en die leë net kom op, vloek Jas die lug aan die brand; kom haal hy sy frustrasie by die huis uit, laat Cora dit oor haar kop stort. Gee Helena pad, spring sy op haar fiets na die Frosts toe, waar Vilna musiek oefen. Haar vingers dartel oor die note: ’n polonaise van Chopin, ’n etude. “So deep is the night” . . . En die opwindende “Rit van die Walküre”, uit ’n opera van Wagner.

      Sy moet Chris herinner: “Dis oor elf. Jy moet halfvyf opstaan.”

      Daar is nog lig in sy ouers se kamer toe hy voor haar uitstap met die kers in ’n wit enemmelblaker. Asof sy nie op haar eie haar pad sal kry nie.

      Haar bed is reggemaak vir die nag, die deken opgevou en die beddegoed teruggevou. Sy wag dat hy die kers op die bedtafeltjie aansteek, die vuurhoutjie doodblaas, sien die geel vlammetjie in sy oë weerkaats en uitdoof.

      Een maal trek hy sy vingers deur haar hare voordat hy omdraai. “Nag, Helena.”

      “Nag, Chris.”

      Dan gaan die kamerdeur sag agter hom toe.

      Toe sy haar nagklere uithaal, onthou sy die veertjie in die koevert. Sy stap op haar kaal voete terug kombuis toe waar sy haar verbeel sy hoor iemand. In plaas van Chris kom sy op Stoffel Retief af, in sy gestreepte pajamas, glas water in die hand. “Ja, meisie?”

      “Ekskuus tog,” maak sy lamlendig verskoning. “Ek kom . . . ek wil net . . .”

      “O,” sê die oom hulpvaardig, “jy wil seker ’n draaitjie loop. Wag,” en hy steek ’n lantern aan. “Sal jy regkom?”

      “Ja, dankie, oom.”

      Sy kan immers nie erken dat sy gehoop het om Chris nog ’n keer te sien nie, dalk