Hoogty. E. Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: E. Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703669
Скачать книгу
kom, ek sal die res neem.”

      Terwyl hulle eet, vra hy haar naam. Dit het hom blykbaar ontgaan.

      “Buggeg,” bry hy agter haar aan, wat haar in die versoeking stel om te vra hy moet liewer Burre sê soos al die Sandvelders. Bedink haar dan, dat dit nie ’n spottery van ’n ander aard afgee nie. Mense sal maar gewoond moet raak daaraan dat haar erre amper wil wegraak tussen tong en verhemelte.

      “O, van die Kaap?” vra hy uit soos mense maak wat nie refensie het nie. “Jy was anderdag saam met Felix en Anneke op Harmstat?”

      En jy is dáárdie Chris? Wat koring ingery het?

      Nou weet hulle van mekaar.

      “En wat het jy in die Kaap gedoen?”

      Dis op die punt van haar tong om te sê: die biesem teen die mier gesta’maak. Maar sy kan nie verwag dat hy moet verstaan nie.

      “Ek het daar studeer. Tegniese kollege. Maar ek kom van die . . . Weskus.”

      Sy wenkbroue skiet teen sy voorkop op. “Nou is ek heeltemal verdwaal.”

      “Die Kaapse Weskus?” toets sy hom.

      “O, die Skedelkus. Ek het nie geweet daar woon mense nie.”

      “Waarna lyk ek vir jou?”

      Dis asof hy haar vir die eerste maal behoorlik raaksien: die skoon, uitgeborselde hare wat tussen haar skouers hang, fyn soos koperdraad en sag om aan te raak nadat sy dit gewas en klapperolie ingevryf het.

      “Jy het byna nie aan jou kos geraak nie,” sê hy bedagsaam.

      “Ek het genoeg gehad, dankie.”

      Sy drink haar koffie terwyl hy haar bord leegmaak.

      Sy het al gesien dat ’n man ’n hele vis kafdraf. Jan Tekkie van Vollemink steek ’n gebraaide hotnotsvis in sy mond, werk hom van ’n kant af deur sy kies en spoeg die grate anderkant uit. Maar sowat van vleis eet!

      Net ná tien vra hy of sy omgee as hulle nou gaan. Môre is kerk; hy neem sy ouers.

      Sy let op dat hy die o sonder die kappie uitspreek. Moore, sê hy. Hy het ’n mooi stem. En goeie maniere.

      Daar is nie ’n kerk op Grenspan sover sy kon sien nie. Afgesien nou van die kerkie met kleimure en die Roomse kruis waarby sy saans as sy gaan stap, stilstaan en haar verluister aan die sang van die swart mense: die sterk stemme, harmonieus en gewyd. Eenmaal ’n maand is hier glo ’n diens in die boeresaal – nadat hulle die Saterdagaand daar gedans het, het Aliet-hulle gespot.

      “Ek kan jou kom oplaai, dan gaan jy saam met ons,” stel hy voor.

      Graag, wil sy sê, maar nie omdat sy so ’n danige behoefte aan die kerk het nie. Gedwonge kerkbywoning op kosskool, twee maal Sondae plus bidure en katkisasie, het haar ’n weerstand laat opbou. ’n Sondag so op jou eie kan egter lank word, sodat dit ’n soort uitvlug sal wees.

      Maar sy is nie seker of dit die regte ding sal wees om haar so by die mense op te dring nie. Nie so gou nie. En is dit nie ’n vreeslike draai nie?

      Op die ingewing sê sy: “Ek verbeel my die Venters laat môre doop, dan ry ek saam met hulle.”

      “O, ek het nie geweet nie.”

      Ek ook nie, dink sy.

      Hulle sê nag by die voordeur. Hy wag dat sy ingaan en stap dan na sy motor. ’n Ligblou Chrysler.

      Hoofstuk 3

      Daar is ’n pakkie in die pos vir Helena. Kleinbooi, die bode, gaan haal dit af.

      Dis die so bekende vierkantige boks wat haar ma by Friedmans kry en dan sny en vou totdat dit nommerpas is vir die koeke wat sy gereeld vir Helena koshuis toe gestuur het. Om ’n pakkie op te maak is iets wat Helena glo niemand haar ma kan nadoen nie. Of dit nou beskuit of kleinkoekies, ’n lemoen- of sjokoladekoek of hierdie vrugtekoek is, dis nooit verkrummel of uit fatsoen gedruk nie.

      Sy kry die geur van stukke waatlemoen- en groenvyekonfyt, naeltjies en kaneel en gemmer, eiers van hul eie swart australorphenne en vars jerseybotter. Dis lekker genoeg sonder marsepein en versiersuiker. Al wat kortkom, is die takkie mistletoe wat Anneke daarop druk voor hulle dit in ’n blik bêre.

      Haar ma sal haar mis, weet Helena. Boetie is nou verby die stadium dat hy om haar draai om die bakke uit te lek. Hy en sy maters sal kreef duik om ’n ekstra geldjie te verdien. Die seisoen is nou oop en die vakansiemense is uitgehonger vir seekos. Hulle gee nie om wat hulle vir vis betaal nie, ’n teken dat die binneland goed reën gehad het; die vetstert-Persies dril, die wolpryse is hemelhoog.

      Ant Tiek vertel altyd van die jaar toe die Hardevelders hul sikkerets met ’n vyfpondnoot aangesteek het. En die fyne vroutjies wat onder sambrele op die strand gesit het. Nie lank nie, toe moet daar vir hulle gekollekteer word. Haar kamers is algar vol bespreek, en selfs op die leë erf langsaan word tent opgeslaan waar die jongklomp saans saambondel en kaartspeel en rinkink tot ounag

      Bedags is daar sports op die strand; met ’n optog deur die strate op Nuwejaarsdag word Juffrou Vollemink gekies. Frost gee die fabriekstoor vir die dans, die ou biosaaltjie is te klein.

      Boetie het glo baie goed gedoen in die eksamen, skryf haar ma in die brief wat saam met die pakkie gekom het. Glad neëntig persent vir sy wiskunde gekry.

      Hy het nou maar vir sewe geskryf, vyftien in September geword, reken Helena uit. Hy móét verder gaan leer.

      Anneke se suster en haar man en drie kinders kom toe feitlik onaangekondig oor vir Kersfees. Dit word ’n omstand om vir almal slaapplek te maak. Die traliebedjie en camping cot word by Dokter-hulle in die kamer ingestoot; ’n kermisbed vir die jongste tweetjies van die suster opgemaak. Die ouer dogtertjie deel Helena se kamer met haar.

      Haastig word ’n Kersboom in die portaal opgerig en versier, geskenkpakkies toegedraai. Helena glip uit om iets vir elkeen te koop, hoewel die winkels nie veel het om aan te bied nie. Kryt en inkleurboeke, ’n storieboek, sepies, ’n bottel wyn vir die mans. Haar bydrae tot die ete is haar ma se Krismiskoek, waarby Anneke ’n dik wynsous maak.

      Helena maak haar handig, skil groente, hou die baba vas, gaan stap met Koekoe. Dié wil nie enduit in die stootkarretjie sit nie, sodat sy met die kleintjie op die een heup by die huis aankom, die karretjie op sleeptou in die ander hand. Sy het daardie selfbewuste gevoel dat almal haar van die stoep af sit en dophou, hulle verkneukel in haar onhandigheid.

      Slaaptyd lees sy vir die kinders en vertel ’n storie, van Jakkals en Wolf en die bottervaatjie. En een van die onvergeetlikes uit die skatkis van haar ouma Lina: van die koningin wat gevlug het vir ’n koning wat teen haar wou veg. Sy kom toe by ’n rivier, en omdat daar nie tyd was om ’n brug te bou nie, moet hulle oorroei. Sy het al haar geld in ’n koperpot by haar gehad. Toe hulle in die middel van die rivier kom, laat val sy die pot in die water en dit bly daar op die boom van die rivier lê. Van daardie tyd af brand daar toe ’n helder lig op daardie plek. Lank daarna besluit twee mans om dit te probeer uitvis. Hulle het geweet hulle mag nie ’n woord praat voordat hulle die pot nie op droë grond het nie. Dit was ook nie lank nie of hulle haak die hingsel en begin trek die pot na die kant toe. “Kyk daar!” roep een van hulle, en net daar val hulle skat terug in die water. Dit was onmoontlik om dit weer in die hande te kry, en niemand het ook ooit weer probeer nie.

      Teen dié tyd slaap die kinders almal, en is Helena vol heimwee na ’n ouma lank reeds oorlede, byna afgesterf van haar seun en sy familie.

      “Nee, dis maar haar manier daardie,” word sy geterg toe die kinders een vir een na hul slaapplekke gedra word, die gaste onder die indruk dat sy ook aan die slaap geraak het. En daar moet almal toe eers hoor hoe sy en Siena saam-saam vir Koekoe in Felix-hulle se bed slaapgemaak het.

      “Jy sal ’n revolusie op Grenspan ontketen as dit bekend word!” lag die swaer.

      Hulle weet nie haar pa het nege crewmanne aan boord waarvan die helfte bruin is nie, wat almal saam uit een pot in die galley eet en deurmekaar