“Jy lyk van gister af of die honde jou kos afgeneem het.” Felix sit-lê op die stoepbank en gaap. Moeg gekuier.
Die gaste het net ná koffie die middag van Tweede Kersdag vertrek.
“Dis ’n vreeslike tyd van die jaar. Almal wil wegkom en die meeste uit elke minuut van die dag pers, en op die ou end is almal stokflou,” gesels hy luiweg.
“Dan moet Dokter sien hoe dit by die see gaan. Die binnelanders kry warm en elkeen kom soek ’n gaatjie om in te kruip. Ons kry altyd die tante oorkant ons so jammer as sy haar gedaan werk vir die seebadsmense.”
Felix grinnik onderlangs vir die vreemde segswyse, maar Helena maak of sy dit nie agterkom nie.
“Sy het een jaar gevra of ek nie wil kom help nie. En ek het nogal daarvan gehou om die kinders bedags strand toe te vat en te leer klipvis vang en skulpies optel. Maar nie elke dag nie; ek is dit mos nie gewoond nie.”
“Het jy nie susters en broers nie?” vra Felix, wat nog nooit agter die kap van die byl kon kom nie.
“ ’n Jonger boetie. Hy is volgende jaar in standerd agt.”
“En dis jou eerste Kersfees weg van die huis af?”
Sy knik. “Ja, en ek het nooit gedink dit sal so aardig voel nie. Ons vier nie vreeslik Kersfees by die huis nie, bedoel ek. Dis maar altyd soos ’n Sondag, met ’n soort Kersvoorstelling by die fabriek – sonder boom, want by ons groei net portjacksons en die ou evergreens. Middernag is daar kerk, en dan maak ons die kussingslope oop wat Ma stilletjies opgehang het.”
Vir hulle gesin was dit niks besonders nie. “Julle hou heuljaar Krismis. Julle sal vir Krismis leer ken as daar die jaar nie ’n verdienste is nie!” Nadat hulle amper ’n maand opgelê het, wil Jas Burre losgooi en vis gaan soek. Maar die fabriekwerkers hou tot ná Nuwejaar vakansie.
“Onder by die kaai gaan daar altyd iets aan,” vertel Helena verder. “Een of twee van die skuite vat die vakansiegangers uit op die see, waar die skippers met opset, nadat hulle so ’n draai geloop het, die skuit só laat lê dat die dwarsseë hom vang. Later hang byna al wat mens is oorboord van seesiek en kan almal sien wat hulle die middag geëet het. Net in ons huis moet Ma vir my pa ’n vis braai as ons hoenderpastei eet.”
Felix luister met behae.
“Wat?” vra sy. “Wat lag jy? Wat is nou so snaaks?”
“Julle Volleminkbaaiers. Dit klink vir my na ’n alte wonderlike plek. Anneke!” roep hy hard na binne. “Wat sê jy daarvan as ons volgende Kersfees almal Weskus toe gaan? Ek het ’n dringende begeerte om oor ’n skuit se kant te vomeer. Helena, jy moet vroegtydig vir ons plek bespreek by daardie tannie. Dan kry ons jou om die kinders te vermaak!”
Anneke kom plak Koekoe op sy skoot neer. “Dit klink lekker, maar nou wil Koekoe slaap, Pappie! Kom sus jou dogter.”
“Geseënde Kersfees,” groet Chris de Wet by die voordeur.
Hy het ’n yslike stokkielekker vir Koekoe gebring, amper so groot soos ’n eierpannetjie, en toe sy dit eers het, wil sy dit nie afgee nie. “Ek het vir my ma gesê Anneke slag my af as ek met die ding hier aankom. Jammer, mense, maar dis al wat daar in die plaaswinkel is.”
“Laat haar maar ’n bietjie lek, sy’s in elk geval versadig van soetgoed,” lag Anneke. “Hoe gaan dit by die huis? Ek het gehoop jou ma en pa kom saam.”
“Dit sal maar tot later moet wag. Mamma het vanoggend met die dronk kop in die bed gebly. Hulle stuur groete. En geluk met die doop.”
“Doop?” Die Venters kyk oorbluf na mekaar en dan na hom en Helena, wat in die voordeur bly staan het. Sy wens sy kan agter haar hare wegkruip.
“Dan het ek my vergis.” Chris grinnik, en Helena durf nie na hom of die Venters kyk nie.
Toe Anneke koffie aanbied, kyk Chris na die stand van die son. “Dit sal lekker gewees het, maar dit voel ek het nou pas van die tafel af opgestaan. Ons was weer voltallig. Ek is eintlik op pad Dewet toe.”
Maar hy kom nie tot ry nie, sê iets van skape en drink toe tog tee, voordat hy met sy eie missie vorendag kom: “Ek het gewonder of Helena nie lus het om saam te ry nie, dan wys ek haar die gedeelte agter die berg.”
Nes hy, wat haar nie direk aanspreek nie, wag sy dat Felix toestem.
Daarna ry hulle die dorp uit, oor ’n driffie en onder wilgers deur in die rigting van die pers berg. Dis ’n doolhof van smal sinkplaatpaaie wat Helena maklik deurmekaar kan maak. Regs van die berg strek ’n wye stuk veld, deurkruis met lopies. Op die kim is lae koppies, die lug ’n oneindige blou koepel, die son fel. Want dis somer, hoewel daar die vorige nag ’n bui reën uitgesak het.
Dit word in meer as een opsig ’n verkenningstog in hierdie landstreek wat sy tydelik hare wil maak. Eers toe Chris regs draai, kyk hy af na haar.
“Geseënde Kersfees,” sê hy.
“Dankie.”
“Wat van my?” vra hy ernstig, sy oë op die pad, wat erg uitgery is.
“Happy Christmas,” snap sy.
“En hoe het dit met jou hier in die vreemde gegaan? Hoe was jou Kersfees?”
“Heel lekker.”
“En ek?”
Sy moet lag. “En jy?”
“So-so. ’n Huis vol mense. Pa se dogters het kom kuier, met hul mans en kinders: twee seuntjies en ’n dogter. Soos gewoonlik het ek so tussen die boom en die bas gevoel. Die vrouens maak kos en die mans rook en hou vendusie, die kinders soek ’n speelmaat . . . en ek was geselskap vir niemand nie. Verveeld,” bieg hy.
Sy oë is amper bruin, met ’n suiwer geel skynsel soos . . . heuningbier.
Hy is ’n gawe outjie, dink Helena. Terwyl hulle naby die voetheuwels verbyry, vra sy hom uit oor die berg wat nou aan hul linkerkant lê. Waarskynlik het hy al tot bo geklim.
In die winter was sy saam met studente op ’n staptoer deur ’n reservaat anderkant Wellington. Baie pragtig, met watervalle en klowe ruig met varings, waar slingerplante in dik suile teen rotse af rank. Sy beduie met haar arms hoe dik, hoe ongelooflik mooi die pilare van groen loof.
Bly dan stil, omdat dit dalk oordrewe mag klink vir ’n Vrystater, gewoond aan hierdie stofvlaktes. Ewe veel as vir haarself toe sy, vars van die halfwoestynagtige Weskus, verruk is deur die natuurlike fynbos van die Boland en die lanings akkerbome.
Bergklim is nie juis sy stokperdjie of die berg ’n uitdaging nie, maar hy was al tot bo. Nie ’n moeilike roete nie. Met baie stapplek as jy eers bo is, ’n mooi uitsig na die ooste en weste toe. Op een plek is daar vlak klipbakke met water en digte kreupelhout. Nou is dit nog te warm vir klim, ’n mens sal moet wag tot nader aan die winter, gesels hy.
Hulle nader ’n plaasopstal. Aan die regterkant van die pad draai ’n dowwe wielspoor op na die huis. Hy ry verby en hou stil by ’n buitegebou wat ’n skuur kan wees en kampe vir skape, met ’n windpomp.
Hulle stap na ’n hek wat hy oopmaak, wag tot sy deur is en weer toemaak. Hy draai die windpomp vas wat water in ’n dam stort waaruit suipings volloop. Groet dan ’n ou swart man wat by ’n deur uitkom in sy taal.
“Dis Simon, Helena,” sê hy, en slaan weer oor na Sesotho.
Die ou man sê iets wat Chris amusant vind. “Hy wil weet of dit jou eie hare is,” vertaal Chris.
“En?” vra sy.
“Ek het ook al gewonder.” Simon se nabyheid maak hom net vrypostig genoeg om daaraan te raak. “Vir my voel dit soos gespinde gouddraad.”
“Dis eg. My ouma was ’n Deen, ’n rooikop-Nimb. Hulle sê ek het dit van haar gekry.”
Chris slaan weer oor na die ou man se taal. Sal sy ooit verstaan, of moet sy maar bly staatmaak