Die toneel in die agterplaas klink so verleidelik dat Auret byna instem om op uitnodiging by Jas te gaan koffie drink toe die ou hom vra. Bedink hom dan betyds; die Burres mag hul hande vol hê met die meisiekind.
En hy . . . in sy seeklere en boetse voel hy net nie skaflik nie. Voordat hy die skade aan sy net gaan vasstel, wil hy eers was en skoon aantrek. En sy ma het seker ook al gehoor van sy ontbering en sal iets te ete reggemaak het.
“Totsiens tot later, oom,” verskoon hy hom en stap aan.
Helena verstyf toe sy die mans hoor verbykom en Auret Nagel hoor groet. Sy staal haar vir haar pa, wat haar skynbaar nie raaksien nie. Dis in Auret se gesig wat sy vaskyk toe sy met die skoppie blare orent kom. Vlugtig ontmoet hul oë oor die morning glory-heining waarna hy sy pet vir haar lig en knik, hoflik soos teenoor ’n vreemdeling, voordat hy aanstap.
Sy plant die besem in die hoek en steek haar hande in die badjie seepwater, begin was haar goed deur, die rok wat sy op die trein aangehad het en die klere wat sy die laaste dae op Harmstat gedra het. Onderklere wat sy te privaat beskou het om van die plaasvroue te laat was en uithang. En nou nog ’n maal spoel om haar pa kans te gee om te eet en te gaan slaap.
Jas stroop hom tot op sy frokkie en broek, los die bondel voor die agterdeur en stap op sy sokkies binnetoe. Hulle sê môre sonder om na mekaar te kyk. “Kom jy nie eet nie?” wil hy kortaf weet.
“Ek het saam met Ma opgestaan, ons het pap gehad.”
Sou hy weet dat sy die vorige middag die kosmandjie gaan wegbring en hulle net-net gemis het? Asof hy die wind van agter gehad het, is die skuit by die passasie uit.
Sy was teleurgesteld dat sy Boetie nie te sien gekry het nie, maar aan die ander kant was dit miskien ’n goeie ding dat dinge tussen haar en haar pa eers ’n bietjie afkoel, dat hulle mekaar nie daar op die kaai gepak het nie.
“Dan het hulle seker gehoor van vis wat iewers opslaan,” het haar ma probeer vuur doodslaan toe Helena mandjie in die hand teruggekom het. Sy het maar weer die kos uitgepak sodat hulle later daarvan kon eet: brood en koue gebakte vis en kookmelk op die bankie aan die westekant van die huis waar die son ’n wye blink baan oor die see verf.
Nou terwyl Jas eet, kyk Cora die wasgoed op die lyn krities deur, of dit reg opgehang is, soort by soort, kleur by kleur, en omkeerkant buitetoe om nie te verbleik nie. ’n Frons verkreukel haar voorkop. “Nog maar altyd die ou goedjies waarmee jy hier weg is. Tot die broekies van Vilna Frost. Lyk nie of daar juis winkels op Grenspan is nie?”
Dat haar ma dit nou moet raaksien. Maar dan is dit meer besonders as enigiets wat sy in enige plaaslike winkel kan koop, al is dit voos gedra. Franse kant.
“Grenspan is ’n klein plekkie. Daar is ’n algemene handelaar, Woods, en ’n Jodewinkeltjie wat letterlik alles aanhou. Die groter dorpe is ver.”
“Daar loop darem seker ’n trein of bus?” Cora het kennelik die groot dorp in gedagte.
“Bloemfontein toe, ja, maar dan moet jy die naweek daar oorbly. Ek was al saam met die Venters Ladybrand toe, en met Chris op Hobhuis.”
“Die kêrel van wie jy geskryf het?” vra Cora haar direk uit.
“Ja, dis die outjie wat ek by die Venters ontmoet het. Hy boer op Harmstat vir sy ouers en woon by hulle in die mooiste ou huis van sandsteen. Hulle is gawe mense van wie ek baie hou.”
“Ek het gewonder of jy nie te knaend by die vreemde mense boer nie. Ons is nie gewoond om ander se drumpel deur te trap nie.”
Dis nou tipies Cora Burger, wat net die pad koeistal toe en terug ken, min vriende het, behalwe miskien ant Tiek en Berta Nagel, die kleremaakster.
“Net af en toe, Ma, as hulle my nooi en Chris my kom haal. Dis nie eens elke naweek nie. Daar gaan soms weke verby dat –”
“Ek wil net sê, ’n meisie moet oppas dat ’n man nie dink sy is maklik nie, en vrypostig raak en sy respek vir haar verloor.”
Byna werktuiglik speel Helena met die ringetjie aan haar regterhand: ’n seëlring met ’n voëltjie wat ’n diamantjie in sy bek dra. Daaronder in sierletters die naam: Chris.
“Jou pa het destyds vir my ook een gegee,” merk Cora onverwags op. “Nou nie met ’n steentjie in nie, maar met sy voorletters daarop. Dit pas lankal nie meer nie. Ek het altyd gedink jy kan dit eendag kry.”
“Wat sal Pa daarvan sê?”
“Ag, hy onthou seker nie meer nie.”
“Omdat Ma dit nie dra nie. Steek dit aan die pinkie.”
“Ag wat,” Cora lyk ongemaklik dat die gesprek nou so ’n koers ingeslaan het, “ek werk so baie in die water, dit sal jammer wees as ek dit per ongeluk verloor.”
Dan was daar tog eens ’n vonk tussen haar ma en pa? Soos daar nou nog tussen Chris se ouers is. “Hy is nogal vryerig,” het tant Nelie eendag geterg en oom Stoffel se groot, sawwe ore speels gevryf.
Maar dis moeilik om te glo as sy haar ouers sien, hoe die duiwel kort-kort dreig om los te breek. Die stuk familiegeskiedenis ken sy alte goed: hoe Cora, wat al as ’n oujongmeisie beskou is, op neën-en-twintig met Jasper Burger getroud is. ’n Goeie vangs, as in ag geneem word dat sy ’n plaasnooi was met grond van haar eie en ’n flukse boerderytjie: bokke en skaap en ’n klompie beeste.
Haar vee het deurmekaar geloop met dié van skoonfamilie wat die vrugbare tuingrond bewerk het, seker met die doel om dit later in te palm. ’n Verneukspul van hoek tot kant; Jas het dwarsdeur die ding gesien. Want hoe weet sy wat haar toekom as dit by die deelslag kom sonder dat daar behoorlik rekord gehou word?
Hy het Cora se deel verkoop om sy eerste skuit te betaal. Vir haar het hy saamgebring Baai toe, waar die son skerp is en die lug ’n louter vlam wat alles verskroei.
Helena en Boetie het soos twee strandloperkuikens op die rand van die water grootgeword, eers kaal in die vlak poeletjies gespeel en toe al dieper namate hulle ouer geword het. Totdat hulle agter die branders geswem het, Helena sommer in onderklere, soos baie van die ander kinders ook.
Haar eerste baaibroek het sy van Vilna Frost geërf, so ’n rooi-en-wit gekolde valletjiesgedoente wat amper soos ’n balletrokkie gelyk het. Waarmee sy in die binnehoffie voor hul huis op haar tone gedans en haar verbeel het sy is die danseres in die geraamde prent in die Frosts se sitkamer. ’n Meesterstuk deur Degas, het Vilna se ma vertel toe Helena vasgenael bly staan het. ’n Afdruk, natuurlik, wat meer vir ’n mens kan beteken as ’n swak oorspronklike stuk.
Sy het Helena ’n boek geleen met kleurafdrukke van skilderye deur Manet en Monet, Cézanne en Renoir, wat Helena saans by kerslig in haar kamer deurgeblaai het: pragtige, koketterige vroue met afgeslane wimpers, bewonder deur mans met sluwe jakkalsgesigte. Veral het sy herhaaldelik teruggeblaai na die naakte meisie met lang, uitgekamde hare waarin die lig weerkaats, die stywe borsies en ronde heupe, en ’n vol rooi mond. Behalwe vir die hare, wat haar eie kon wees, het sy Vilna in die figuur gesien, ryp en tot barstens toe ontvanklik vir . . . seks? In daardie stadium was dit nog nie ’n woord om te gebruik nie, slegs maar ’n gevoel.
Vilna was twaalf toe sy die eerste maal saam met haar ouers Europa toe is. En meteens uitgegroei toe hulle ná drie maande terugkom. Byna al die klere wat ant Berta voor die tyd vir haar gemaak het, was te klein, veral oor die borste. Te kort sou dit na Vilna se sin nooit kom nie.
Die end van die storie was dat mevrou Frost die meeste daarvan vir Helena gegee het. Almal gawe, goeie goed met baie dra in hulle. Baie daarvan moes net effens verstel word toe sy later kosskool toe is, langer gemaak, bietjie ingevat in die middel.
Jasper Burger was altyd suinig. Die groen jas het sy gekry toe sy kosskool toe is, by Friedmans gekoop teen ’n afslagprys waarop Jas aangedring het. En toe nog maandeliks afbetaal. Hy is langtand om kontant uit te haal, en Cora het deur die jare kort duskant steel loop draai om haar en veral die kinders nie in die skande te laat kom nie.
Sonder