Bottelnek. Piet Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624052425
Скачать книгу
moeilikheid nie, hy sal iets organise. Hy sal kan help dat hy ’n kraak kan maak, oor die grens of iets. Sophie is egter ’n regte fokken lady. Mos met haar gat in die botter geval, met ’n mynkaptein van Welkom getrou. Bo haar omgewing uitgestyg, deur harde werk en studies, vertel sy altyd. Se fokken gat! Sy moes in standerd 8 vir haar ouma in Suidwes gaan kuier, soos Ma altyd gesê het as ’n girl op die paal geraak het. Die vent móés met haar trou of hy en Frikkie het hom stukkend gebliksem! Nou sit sy in ’n windgat mynkapteinshuis met twee toilets, en Katharina Sophia Magdalena het nou skielik Sofí geword, mét ’n fokken strepie! Wat de hel maak jy anyway met twee toilets? Het hulle dan maagprobleme van al die cocktails en sundowners en al die stront op stokkies wat hulle op die dek sit en vreet as die son sak?

      Maar sy’s oukei, sy sal hom nie drop nie.

      Hy stuur die Mazda links van die geel streep om ’n metaalgrys BMW wat met flitsende ligte op hom afpyl te laat verbykom. Fokken windgat!

      Langs die pad het die grys mynhope en geel slikdamme begin plek maak vir mielielande en plakkerskampe wat soos roeskolle op blinkgetrapte grond opskiet. Is dit nie maar soos dinge met hom ook begin het nie, in ’n klein, kak huisie met ’n geroeste sinkdak en omvalmure? Pa wat die spul met drade en kabels probeer regop hou en Ma met ’n siegret en ’n glas OBS in die deur.

      Blou borde wys die afrit na Sasolburg; die “o” net ’n verflenterde gat. Wie de fok skiet op padtekens en wanneer? Die AWB? Of is dit mense soos Pa wat laatnag gesuip uit die huis uit storm met ’n skietding in die hand? Ma wat agter hom aan gil hoe fokken sleg hy is. Deure wat klap, ’n kar wat spin, Ma wat bottels en borde stukkend gooi. Dwa! Dwa! Dwa!

      » 4 «

      Dit is goed donker toe hy agter die toring in ou Brixton stilhou voor ’n draadtuinhekkie met die syfer ses op ’n klein ovaalplaatjie. Dis tog die regte straat die? En laas dat hy van Frikkie gehoor het, was dit die plek. Rooibaksteenpilare weerskante van die hekkie, rooibaksteenstoep, sementpaadjie, 7de Laan se kenwysie wat saam met die lig deur gaasgordyne oor ’n verwaarloosde grasperk val. Jy sou sweer jy is in Allanridge se Blesbokstraat!

      Hier is ook nie juis meer straatligte nie, en in die lig van dié wat wel werk, kan Joe sien dat dié teerstraat ook maar net een moerse slaggat is. In een van die ligkolle sit ’n swart kat met sy neus in die lug en wag vir die goggas wat om die lig draai om ’n fout te maak. Oorkant staan ’n man in sy oop garage en sweis, vonke spartel en sterf om sy voete op die sementvloer.

      Joe beskou die ouerige huisie by nommer ses – die klein stoepie, die pilare wat verskillende kleure geverf is en die kleinerige vensters met die diefwering. Op die sementtrappe wat na die afgeskilferde voordeur met die glas-in-lood-venstertjie lei, roer ’n swart skadu. ’n Hond? Hy draai die Mazda se venster op.

      Dan gaan die voordeur oop, die swart ding op die trap beweeg – ja, dis tog ’n hond – en die figuur van ’n vrou met ’n kind op die arm is ’n oomblik duidelik afgeëts teen die helder ganglig. Sy maak die deur toe, sluit dit en stap neurieënd na ’n wit Beatle met ’n rooi deur wat voor die garage staan. Dit is ’n swart vrou, sien hy. Dit kan om die dood toe tog nie Frikkie se plek wees nie. Die buurt is in elk geval te armgat vir ’n man soos daardie laaitie van hom.

      Maar waarheen nou? Sy gat is lam, dit was ’n lang dag met baie dinge. Sal die ou met die welder weet?

      Hy wil net die Mazda se deur oopmaak toe hy in die truspieël ’n paar figure in die straatlig sien. ’n Paar jong laaities wat in die lig staan en hana-hana, hande in die broeksakke, sigaret in die bek. Die wind waai die rook in sy rigting, hy ken daardie soet reuk. Party het musse en ander agterstevoor kepse. Een gooi ’n springmes van die een hand na die ander, beduie dan in sy rigting.

      Fokkit! Joe sluit die deure vinnig. Hy ken moeilikheid as hy dit sien. Hy en sy pelle het netso in Odendaalsrus se strate rondgehang. Die OD-brekers! Altyd iemand gesoek om te moer, om te wys hoe taai hulle is, veral as hulle gerook was. Hy sal moet maak dat hy hier wegkom, maar waarheen? Joburg het baie verander sedert hy met Pa se ou Norton-motorfiets hier agter die girls aan rondgejaag het, hy sal in sy moer in verdwaal.

      Joe sit die Mazda in rat, maak ’n U-draai en ry verby die brekers, die boys van die suburbs, soos een of ander ou met ’n kitaar gesing het. Girlie het daai tune kwaai gelaaik.

      Hy kry ’n middelvinger van die een met die mes en ’n vuil spoegkol teen die agterruit.

      Hel, nou sal hy weer met Sophie moet praat. Fokkit! Wie anders sal hy kan vra waar om Frikkie in die hande te kry? Dis nou ás sy al terug is van die gym of die cocktails of wat se stront ook al.

      Hy ry tot by ’n kleinerige winkelsentrum met ’n paar telefoonhokkies op die sypaadjie voor die supermark op die hoek. Hy kan nie anders nie, hy sal net vir Sophie moet bel. Die geur van varsgebakte brood laat hom besef dat hy vanoggend laas geëet het. Die derde tiekieboks gee ’n behoorlike luitoon, hy druk ’n tweerand in die gleuf en skakel haar nommer.

      Hy het skaars gegroet of Sophie gil so dat hy die gehoorstuk van sy oor moet wegpluk. Hy druk dit dadelik weer teen sy oor. “Wat de … Sus?”

      “Pa, waar de hel is Pa?” gil Sophie.

      Daar moet groot fout wees, en as sy so opgewerk is, klink sy hoeka soos haar ouma. Dit kan tog nie wees dat sy …

      “Sophie?” blaf Joe in die mondstuk, druk ’n vinger in sy linkeroor om die straatgeraas te doof. “Ek het mos gesê ons gaan Badplaas toe, ek … ek bel net om …”

      Maar Sophie gee hom nie ’n kans nie. “Hou op om rubbish te praat, Pa! Ma is nie dood nie, sy is in die intensive care in Welkom, Pa! Sy het gepraat voordat sy in ’n koma is. Hoe de hel kon Pa dit gedoen het? Hoe de fokken hel!” En toe gil Sophie weer lank en allerverskrikliks.

      Fokkit! Fokkit-fokkit-fokkit! Girlie leef! En die hele wêreld weet nou wat gebeur het. Hy het gereken dit sal nog dae vat voordat die lyke gekry word, en dan kan hy al ver wees. Dit is natuurlik waarom sy nog nie … Ag, te hel daarmee! Fok hulle, sy en daai lover van haar. Hulle bleddiewil verdien dit. Maar nou … “En loverboy?” vra hy aarselend toe dit weer stil is aan die ander kant.

      “O hel, Pa, wat dink jy! Met ’n skoot deur sy kop en een deur sy … deur sy … goeters! Hy het nie juis ’n kans gehad nie, of hoe dink Pa?”

      “Sophie, jy weet …”

      “Die pote soek Pa. Daar was ’n beskrywing van jou en die Mazda oor die nuus!”

      Hel, dis lelik! Hy kyk in die vreemde, donker stad in, die honderde ligte wat uit alle rigtings op hom afstaar. Hy kan wegkruip, maar hy het die kar nodig.

      “Sophie, waar bly Frikkie?” vra hy hees.

      “O, is dit Pa se plan! Frikkie moet help. Nou, ek het vir jou nuus, Pa. Jy en Ma wou dit nooit glo nie, maar Frikkie is ’n rubbish, was nog altyd ene. Hy is ’n gangster, Pa!”

      Joe het genoeg gehad. Hy slaan met sy vuis teen die telefoonkonsole. “Gee my net sy adres!” brul hy, maar hy hoor hoe Sophie onverpoosd aangaan en aangaan, byna histeries. Hy pluk weer die gehoorstuk van sy oor weg en begin die konsole daarmee moker, dwa, dwa, dwa!

      “Hey, calm it, man!” sê iemand agter hom.

      Hy swaai om en sien ’n jong man met ’n rugbyspelerlyf, ’n inkopiesak in die een hand en ’n bos blomme in die ander. Hy het die jappie-uniform aan: ’n ligblou kraaghemp en ’n netjiese kakiebroek.

      Joe buk weer terug in die telefoonskerm in, laat sak sy kop tot op die konsole en druk weer die gehoorstuk teen sy oor.

      Stilte. Net die gesuis van die lyn. Hy hoor hoe die jappie sy BMW se deur agter hom toeklap, die motor aanskakel.

      “Sophie,” sê hy.

      “Pa?” kom haar stem, sag en dun, asof oor ’n baie lang afstand. “Pa, wat gaan aan?”

      “Sus,” sê hy, “ek het Frikkie se adres nodig.”

      “Pa?” sê sy weer, haar stem nou soos hy dit kan onthou toe hulle nog