Bottelnek. Piet Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624052425
Скачать книгу
klap by ’n venster langs die deur, ruk takkies en blou blomme van ’n aartappelstruik wat teen die plaveisel groei. ’n Koeël sing kermend weg van die motorhuis se muur en slaan in die Golf se deur vas. Die twee speurders duik agter ’n rots in wat deel is van ’n visdam. Die mense in die straat skarrel gillend agter bome en geparkeerde motors in.

      ’n Ruit op die hoek van die huis breek en die verskrikte gesig van ’n jong meisie kan deur die diefwering gesien word.

      In die verte begin sirenes loei.

      “Ons kan nie vir hulle wag nie.” Kat druk die veiligheidsknip van sy pistool af. “Kom ons gaan haal die bliksem uit.”

      Pine knik. Sy lippe is skielik droog. Met sy rug na Kat haal hy weer die magasyn met bewende vingers uit die kolf, stamp dit terug.

      “Gee my kans dat ek agter die huis kom,” fluister Kat hees.

      Pine knik weer, vee sy swetende hande aan sy broek af. “Oukei, laat waai.”

      “Wat is fout?” vra Kat. “Is daar fout met jou wapen?” Hy kyk bekommerd na Pine.

      “Man, fokkol is fout. Laat jy weg wees! Ek sal hom besig hou.”

      Kat spring op en hardloop na die hoek van die huis. Pine skiet drie vinnige skote in die muur langs die venster van waar op hulle geskiet is en hardloop dan gebukkend na die voordeur. Hy gaan staan met sy rug teen ’n groot porseleinsonneblom langs die oop deur, die pistool regop voor sy gesig. ’n Voël vlieg skellend op van die lamppaal voor in die straat. Pine kyk vinnig na die beweging en weer terug. ’n Kraai? Hy sien Kat met ’n waai van sy hand tussen die struike inhardloop. Hel, demmit! Miskien moet hulle wag tot die ander kom, die sirenes is nie ver nie! “Kat! Wag!” roep hy.

      Kat verdwyn egter met sy duim in die lug om die hoek, tussen die huis en die sementheining in.

      Bliksem.

      Giel maak met sy vinger helikopter bo sy kop, sy T-hemp se punt oor die hanggat van sy denim, die bome wat hom toevou …

      Bliksem!

      Dis nou te laat om te wag. Hy ken vir Kat, as daar iets oop is, gaan hy nie wag nie. Hy klem die pistool met albei hande vas, haal ’n slag diep asem en storm laag by die deur in.

      Mik! Swaai! Mik!

      Portaal.

      Mure is klinkerstene, soos buite. Blink vernis.

      ’n Boog na regs, sy oë volg die pistool se loop. Televisie, hi-fi, rusbanke. Gesinskamer. Leeg.

      Die vrou lê op haar maag in ’n plas bloed.

      Pine kniel, sy oë op ’n boogingang wat die portaal met die dwarsgang verbind. ’n Groot Claerhout-skildery teen die gangmuur … nog sonneblomme.

      Iewers in die huis roep ’n meisie om hulp. Waar is die seun? Waar de hel is die seun?

      En die bliksem met die skietding?

      Waar is Kat?

      Pine druk sy middel- en wysvinger teen die vrou se nek. Geen polsslag. Twee bloederige gate in haar rug – sy moes probeer weghardloop het.

      Hy staan op en beweeg stadig in die rigting van die gang, die pistool met gestrekte arms voor sy gesig.

      En dan is die bliksem daar.

      ’n Ongeskeerde, vuil, verkreukelde figuur. Sy verwilderde oë wit agter die swart gat van ’n pistoolloop.

      ’n Donker tonnel waarin hy afkyk …

      Hy sien die vlam; die skoot ruk in sy gesig. Agter hom breek glas.

      “Skiet die bliksem, Pine!” Dis Kat wat skreeu.

      Daar is sweet in sy oë; die loop wil nie stilstaan nie … Hy móét die helse sneller trek!

      Nou!

      Die koeël maak ’n swart kol op die groot boude van ’n sonneblomplukker in die Claerhout-skildery langs die man. Hy trek die sneller weer en die muurlig bokant die man se kop ontplof. Fok! Sy arms ruk; daar is sweet in sy oë.

      “Skiet, Pine!”

      Hy sien die verligting in die man se oë, hoe hy begin glimlag, ongelowig. Dan tref Kat se volle gewig Pine en hulle tuimel tussen stoele in. Die man het nog ’n geamuseerde uitdrukking op sy gesig toe die twee skote wat Kat van die grond af skiet hom teen die Claerhout vasslinger. Hy skuif saam met die skildery teen die growwe gangmuur af.

      Kat help Pine aan sy arm op, en hulle staan met rokende pistole die toneel en gade slaan.

      “Wat is fout? Hoekom skiet jy hom nie?” vra Kat.

      Pine staan verbysterd na die figuur teen die skildery en kyk. “Die pistool is nie lekker nie,” sê hy afwesig. Dan draai hy om en stap koponderstebo na buite.

      » 7 «

      Waar de hel is hy? Hy probeer met sy een oog in die donker sien. Die bed is te sag vir die tronk. Die beddegoed wat van sy gespook en gestoei opgerol in ’n natgeswete bondel langs hom op die bed lê, is sag en ruik lekker. Dis nie tronkkomberse nie!

      Hy moet iewers in Frikkie se plek wees. Joe lê stil in die bed en die herinneringe kom vaag en stadig soos babers in ’n modderige stroom na hom toe. Frikkie wat sy glas volmaak, vir hom ’n zol rol terwyl hy hom stil met sy donker oë sit en aankyk. Joe ril. Hy onthou nou hoe die praat uit hom gestroom het soos ’n Coke-bottel wat oorkook. Hy kon dit nie keer nie. Hy het gepraat en Frikkie het stil geluister en sy rook oor die lessenaar uitgeblaas. Waaroor het hy alles sy bek vol gehad? Hy onthou iets van die dae dat hy in Windhoek in die tronk gesit het en Girlie alleen moes suffer om die kinders groot te kry. Hoe sy hom later vertel het van haar werk in daai rykgatrestaurant.

      Frikkie het hom weer vertel van die overtime wat sy daardie tyd al huis toe gebring het, seker om hom beter te laat voel. Dít kan hy van gisteraand goed onthou!

      Joe lê doodstil in die skemer, sy arms regaf langs sy sye asof hy in ’n doodskis lêgemaak is. Hel, so dis daar dat Girlie se losgat-stories al begin het!

      Daar is ’n flits teen die venster in die oorkantste muur en dan donderweer. Weerlig. Hy wag vir die reën om uit te sak en toe hy die water in ’n geut of ’n ding hoor gorrel, raak hy bewus van die drukking op sy blaas. Hy sal moet pis, en vinnig ook! Maar waar kry ’n man ’n pot of ’n ding in hierdie plek?

      Hy swaai sy bene van die bed af. Sy kop is ook nie lekker nie, sy bek proe soos grond. Waar is die ligskakelaar? Dis verdomp donkerder as ’n stope op 81 level!

      Hy sukkel regop, tas-tas voor en langs hom rond en loop dan teen ’n stoel vas. Hy kry die stoel aan die rugleuning beet en sleep dit saam met hom na die venster waarteen die weerlig kort-kort lig gooi. Hy pluk die gordyn weg en maak die venster oop. Die lug is koel en hy probeer van die sproeireën wat sy gesig prik van sy lippe lek. Hy klim op die stoel en laat ’n sterk geel stroom in die donker tuin inskiet. Steunend gee hy hom oor aan die verligting, aan die gevoel van leër word, probeer iets van die donker vorms in die tuin uitmaak, kyk of hy die stadshorison kan herken wat kort-kort deur blitse verlig word.

      Joe tree pynlik van die stoel af, voel-voel sy pad terug en val op die deurmekaar bed en natgeswete kussing neer. Hy raak gou weer aan die slaap, en terwyl die storm die gordyne in sy donker kamer laat inwapper, droom hy van ’n skedel met een oogholte, weerligstrale wat om die harde, koue beengesig speel en ’n rooi gesig met klein varkogies, ’n swart moesie aan ’n kaalgeskeerde agterkop. Iewers braai iemand spek, die reuk meng met dié van sterk koffie.

      Joe maak sy oog stadig oop, knip-knip dit teen die helder lig wat deur die oop venster val. Sy oog draai deur die vertrek. Wit gipsbordplafon. Spieëltafel. Ingeboude kas. Gordyn wat gedrapeer hang oor die leuning van ’n stoel voor die venster. Hy kreun. Die plek stink na mottegif en stof, soos ’n kamer wat te lank toegestaan het.

      Hy hoor musiek, een van Girlie se favourites. Neil Diamond en Barbara Streisand se “You Don’t Bring Me Flowers”.

      Nee,