Die speurders trek die leunstoele tot teen die lessenaar en gaan sit. Kat knip Zoë se pistool se magasyn uit en gooi die leë wapen op die lessenaar neer.
“Oukei, oukei, Kat.” Freddy sug dramaties. Hy tas met sy oë vraend op Kat versigtig na ’n pak sigarette en aansteker wat op die lessenaar lê, en nadat Kat sy kop goedkeurend geknik het, steek hy ’n sigaret aan. Hy loer deur die rook na die twee speurders. “Wat is jou probleem?” vra hy dan. “Piet Vermaak van Organised Crimes het laas week ’n moerse raid hier gehou en niks gekry nie. So, wat soek jy nóú weer?”
“Tja, Freddy,” sê Kat, sug, kruis sy bene en krap aan iets op sy knie. “Uit dankbaarheid vir die inligting wat jy altyd in sy oor fluister, het Piet natuurlik nie baie hard gesoek nie. Maar die mense in die onderwêreld begin skinder, Freddy. En ek hoor hulle dink jy sing soos ’n kanarie om jou eie agterent te red elke keer as jy vir Piet sien.”
Freddy haal sy skouers op, tik die as af. “Nou wat wil jy nou eintlik hê?” sê hy. “I’m fighting crime! Julle behoort bly te wees.”
Kat staan op en stap na die boekrak, trek een van ’n reeks dik rooibandboeke uit. Totius. Versamelde werke. Hy blaai deur die boek, skuif dit weer terug op sy plek. “Gmf! Hier is selfs boeke van Shakespeare en Milton!” Hy loer sydelings na die skraal man agter die lessenaar. “Was hulle ook gangstas, Freddy?”
Freddy skuif sy stoel vinnig agteruit en kom regop met ’n wye armgebaar wat kennelik uit Mafia-flieks kom. “Wat de hel soek jy, Kat? Jy is nou besig om my die moer in te maak. Jy mors my tyd.” Hy druk die halfgerookte sigaret vererg in die asbak dood.
John leun vorentoe, tel die Colt op, trek die sluitstuk oop en loer deur die loop. “Your tame gorilla Zoë last night bliksemed a very promising Wits engineering student, one Sipho Sibanyoni, right into intensive care,” sê hy en loer deur die loop na Freddy. “Hulle dink nie hy gaan lewe nie, Freddy. Die dokter sê ás hy daar opstaan, sal hy dalk nie weer kan lees of skryf nie. We don’t like it, Freddy.” Hy trek die leë pistool se sneller, ’n harde skerp metaalgeluid klap deur die vertrek.
Freddy haal nog ’n sigaret uit die pakkie, tik die filterent senuweeagtig op die lessenaar voor hy dit in sy mond steek. “Ek weet daar was ’n commotion op die pavement, maar dit was nie my boys nie,” sê hy by die sigaret verby. Hy gaan sit en steek die sigaret aan, blaas die rook in die rigting van die lig. “Die studente het mekaar self gemoer. Neuk mos altyd met mekaar se girls rond.” Hy haal ’n stukkie twak van sy tong af, “Zoë-hulle het gesukkel om die spul uitmekaar te maak.”
“Wat presies het gebeur,” vra John en maak sy sakboekie oop.
“Hel! Moet nie vir my vra nie, vra vir Zoë!”
“Is jy doof? Ek vra vir jou.”
Freddy kyk John uitdagend aan, blaas stadig en berekend die rook oor die lessenaar uit.
John lê die agterkant van sy pen op sy onderlip. “Meneer Smit,” sê hy en beklemtoon “meneer” sarkasties. “Kom ons probeer weer, hoe laat het dit gebeur?” Hy hou die pen in sy groot vuis in die lug en Freddy se oé flits vinnig daarheen en dan weer na iets voor hom op die lessenaar.
“Oukei, oukei!” sê Freddy, maak weer die Mafia-gebaar. “Al wat ek weet, is dat daar so om en by twaalfuur ’n moerse commotion was. ’n Paar studente het gesuip geraak en wou die plek afbreek.” Hy vat ’n diep trek, blaas die rook deur sy neus en druk die sigaret in die asbak dood. “Zoë en van die ander bouncers het hulle reggesien.”
“Ja, en toe?” vra John.
“Ja, wel, toe gaan moer hulle mekaar verder in die straat. Dit was so ’n helse lawaai dat ek Zoë-hulle gestuur het om dit te gaan stop. Dis nie goed vir besigheid nie, weet julle?” Hy kyk van die een speurder na die ander, byna pleitend maar steeds berekend. “Die bouncers het nie saam baklei nie. Dis die lot, verder weet ek niks.”
Kat kom staan reg voor die lessenaar en leun vooroor. “Luister, Freddy,” sê hy, “jy weet dis nie wat gebeur het nie. Die mense is almal te bang om te praat, maar ek weet wat ek weet en ek sê nou vir jou: Hierdie stront beter stop.”
“Of wat?” vra Freddy uitdagend. “Ek ken ook ’n paar vet katte in high places. Customers, hier by die Ambush. Dit is nie so maklik om my bang te maak nie!”
“Freddy,” sê Kat, gemoedelik nou, en gaan sit op die rand van die lessenaar langs hom. Hy knyp hom speels aan die wang. “Freddy, ek is nie Piet Vermaak nie.” Kat gee hom so ’n paar ligte klappies teen die wang, soos in die Mafia-fliek wat Freddy so goed ken. “Ek verstaan die O’Reilly-broers van Springs soek na die voëltjie wie se gesing hulle pa, ou Pat, tien jaar gebêre het. Dis rowwe perde daardie, was almal glo in ’n stadium laksmanne van die IRA voordat hulle Suid-Afrika toe gekom het.” Hy glimlag in die nagklubbaas se gesig. “Vat sommer ’n voëltjie se eiers onder hom uit en los hom netso om hom dood te treur.” Hy knik vir John en stap deur toe, draai weer om. “O, ja, nog iets, daar is van jou gorillas hier onder wat van vergelding en hofsake praat. Sê vir hulle, ek is nie lus vir moeilikheid nie.” By die stukkende deur draai hy nog ’n keer om na Freddy, wat hulle nors agternakyk. “As ek jy is, sal ek ’n stewiger deur hier insit, jou vyande word al hoe meer!”
» 3 «
Vroegdag al het die westewind stof van die mielielande af opgeraap en in die son se gesig gesmyt. Laatmiddag het alles weer op die vaal vlaktes afgesak, ook op die dakke van die myndorp wat rommelrig in die voue van die landskap gestapel is.
Die beplanners van dié myndorp het destyds nie ’n groot verskeidenheid bouplanne gehad nie. Baie van die rooibaksteen-huisies in die oudste deel van die dorp het presies dieselfde grondplan, met net die plasing van die stoep wat hier en daar verskil. Sommige huise se tuine is netjies en met sorg uitgelê, maar meestal is daar nou net ’n pad wat van oprit na die voordeur oopgetrap is deur wilde struikgewas en wat eens ’n grasperk moes gewees het.
Hier in Blesbokstraat speel ’n klomp kinders met oorgroot truie en te klein broekies sokker in die straat, ’n paar leë verfblikke die doelpale. ’n Klomp brakke is besig om die boomstamme en die hoekpale van die draadhekke te inspekteer en te merk. Grassnyers stotter hul geraas bokant die luidrugtige argumente van die sokkerspelers. Iewers kerm ’n slypmasjien weemoedig.
Op die stoep van nommer 46 skuif ’n maer man die oogklap oor sy linkeroog met sy duimnael op en boor met die kneukel in die leë oogkas. Maar Joe Smit se bloedbelope regteroog sien nóg kinders nóg brakke – hy staar nikssiende na die groot draaiende staalwiele bo in die myntoring wat lyk asof dit uit die plaat skilferende dakke uitgegroei het. Die laatmiddagwind kom groet nou ook hier op sy stoep en die paar blond-grys hare wat oor sy voorkop hang, roer asof in halfhartige erkenning. Joe se regterarm hang slap af, sy hand half onder die sitvlak van die stoel verskuil. Daar, in die skadu van die stoel, hang ’n pistool los in ’n willose hand.
Wat Joe tot beweging bring, is heeltemal onduidelik, want sy blik bly op die ewig draaiende wiele van die mynskag toe hy die pistool stadig van onder die stoel uitlig en op die lendelam tafeltjie voor hom neersit. Die vingers van sy linkerhand waarop sy kop rus, krul oor sy voorkop, sy neus en dan af oor die bitter mond en die baardstoppels op sy ken. Dan ruk hy effens orent, asof hy uit ’n droom ontwaak. Hy vee die hare van sy voorkop weg, maar dit val net weer terug oor sy wenkbroue van waar die riem van die oogklap na agter span en waaronder sy gesonde oog traag roer.
As die kopseer hom net wil los. Die verdomde steekpyn in sy agterkop waar ’n flenters geskopte nekwerwel sy kop skeeftrek. Hy laat sak sy gesig weer in sy hande, sien die rooigeverfde stoep soos bloed onder sy voete.
Iemand móés tog betaal! Hel, hulle kan mos nie te kere wil gaan soos bleddie jags katte op ’n sinkdak nie! Iemand móés betaal.
’n Gesketter ruk Joe uit sy beswyming. ’n Windgat op ’n 1 000 cc-Kawasaki sonder baffles swenk tussen die sokkerspelers