bottelnek
PIET STEYN
Tafelberg
Vir ál my laaities
» 1 «
Johannesburg, 2005
Die rookmis vanaf Vosloorus en die plakkerskamp aan die oorkant van die N3 het soos ’n grys kombers oor die snelweg toegesak. Superintendent Kat Harmse kyk vlugtig in die truspieël, swaai na die regterbaan en buk oor sy stuurwiel asof hy na iets reg voor die neus van sy rooi Alfa GTV soek. En dan sien hy dit – op die grasstrook tussen die twee lane van die pad staan ’n wit BMW met die deure oop en sy neus tussen die heiningbosse ingedruk, daaragter twee patrolliemotors met flitsende ligte. Kat rem skerp en hou met slepende bande agter die patrolliemotors stil. Hy maak sy deur oop, en dit is asof hy ’n oomblik verstar wanneer die saamgeperste lug en klank van die verbysnellende verkeer by sy knus motorkajuit ingehamer word.
Hy druk duim en voorvinger ’n ruk styf teen sy oë, knip sy oë dan ’n paar keer vinnig om aan die lig gewoond te raak. Die flitse van die polisievoertuie jaag oranje en blou skaduwees dansend die halfskemer in. In die ooste probeer die son om sy ken bo die horison te kry, sukkel om deur die dynserigheid van die vroegoggend te breek. Die lae wolke op die horison lek rooitong aan die sout van die aarde.
Vier manne in uniform is besig om ’n geel SAPD-lint om die gebied rondom die gestrande motor te span, hulle asems wit kruitdampe in die koue lug. Van die plakkerskamp kom ’n klompie nuuskieriges deur die veld aangestap, hulle stemme skril en brokkelrig hard. Anderkant die hutte van geroeste sink kan Kat die gebreekte vingers van ’n uitgekapte bloekombos donker na die lig sien gryp.
Kat is moeg. Dit was een van dáárdie nagte in die Goudstad. Hy druk sy vingers weer teen sy oë, haal sy pet af en vee deur sy deurmekaar bos swart krulhare. Werktuiglik kantel hy sy Timex met die leerband: kwart voor vyf. Hy vryf die punte van sy swart snor met die rugkant van sy linkerhand plat, eers links, dan regs, hys sy groot lyf dan moeisaam uit die motor, sukkel om sy warm baadjie aangetrek te kry. Die ligte wind wat uit die suide waai, dryf die rookmis in vlae voor hom uit, sny deur sy T-hemp.
“Mens sal nie sê dis verdomp somer nie!” grom hy terwyl hy sukkel met die baadjie.
Een van die uniformmanne kom met vinnige, kort treë aangestap, struikel ’n slag oor ’n klip in die gras. “Naand, Superintendent,” sê hy, glimlag oordrewe. Hy help Kat om die baadjie oor sy breë skouers te kry. “Lyk my die ding het gekrimp.”
“Of ek het bleddie vet geword!” sê Kat en trek die ritssluiter op. “Dankie.” Hy kyk die jong man fronsend aan. Hy lyk vaagweg bekend, maar in die flitsende ligte van die patrolliemotors en die rou lig uit die ooste is dit moeilik om te sê. “Het ons mekaar nie al vannag iewers raakgeloop nie, ou pel?”
“Ja, Sup.” Die jong man haal sy pet af en vee die nattigheid met ’n sakdoek uit die binnerand. “By die messtekery in Commissioner.”
Kat steun kortaf, probeer aan die besonderhede van die voorval en ’n gepaste antwoord dink, maar laat vaar albei pogings. “Wat het hier gebeur?” vra hy. Hulle stap in die rigting van die BMW. Die gras is lank en nat, klou aan hulle bene vas.
“Dit lyk vir my weer na ’n bendeding, Sup. Kom kyk maar self. ’n Verbygaande motoris het ons gebel.”
Langs die snelweg, waar hier en daar nog ’n paar pale en sparre van ’n eertydse heining staan, is die inwoners van die plakkerskamp besig om saam te drom.
Kat neem die man se flits en buk onder die geel SAPD-versperring deur. Langs die motor lê drie figure. Mans. Elkeen se hande is met kleefband agter die rug vasgemaak. Elkeen het twee skietwonde aan die kop. Kat hurk styf en steunend langs een van die lyke.
Die uniformman se gevolgtrekking was reg. Die afgelope ruk het hulle baie van hierdie soort ding gesien. ’n Skoot in die agterkop, dan nog een, net om seker te maak. Dit het ’n soort handtekening geword van die bendes wat ’n gebiedsoorlog aan die Rand voer. Kat staan stram op, die nattigheid en koue is nie goed vir sy ou rugbyknieë nie. “Jy’s reg,” steun hy en vee die modder van sy denim af. “Het julle Forensies laat weet?”
“Ja, Sup, én die ambulans. Hulle behoort nou hier te wees.”
Kat haal sy selfoon uit en druk superintendent Pine Pienaar se nommer. Hy kyk skuinsweg na die son en kantel sy kop teen die skerp lig en na die klein foontjie. Eintlik is Pine die naweek af, maar hy sal wil weet wat aangaan. “Pine!” groet Kat en draai sy rug na die koue wind en die son se aanslag. “Môre, slaap jy nog? Ja, oukei, ek weet. Ons het ’n moord op die N3-suid, regoor Vosloorus. Drie lyke. Ja, ja! Dit lyk weer na bendestories … Ja, beslis bendeverwant. Georganiseerde Misdaad dan, Piet Vermaak se baby.” Hy luister ’n rukkie, lag dan. “Ek voel ook so, maar wat kan ’n man maak? Dit ís sy afdeling.”
Kat knik vir Krappies Nothnagel en sy span van die SAPD se forensiese afdeling wat intussen stilgehou het. Die suidewindjie dryf nou ’n ligte misreën oor die mistroostige toneel. Kat trek met een hand die kappie van sy baadjie oor sy pet en vryf die waterdruppels van sy snor af, eers links dan regs, en sluit die gesprek met Pine Pienaar af.
“Môre, Krappies, lekker gedoedoe?” vra hy aan die kaalkopman wat gemaak ongeduldig staan en wag dat hy klaarkry met die selfoon. “Pine wil weet of jou vrou al weer vir jou die moer in is as jy dié tyd van die nag hier rondstaan?”
“Voertsek, Kat!” brom Krappies. Hy staan met sy lang lyf kromgetrek teen die wind. Sy hande diep in sy vuil wit jas se sakke. “Wanneer moes ek slaap? Hoekom reël julle verdomde superpote hierdie klas van goed nie in die dag nie?” Sy té prominente adamsappel beweeg op en af wanneer hy praat. Hy vee met sy hand oor sy kaalgeskeerde kop wat oranje glinster in die vroegoggendson en enkele druppels loop oor sy voorkop en teen sy haakneus af. Hy kou aan ’n papgereënde stuk sigaar wat by sy mondhoek uitsteek.
“ ’n Forensiese boffin soos jy hóéf nie hier rond te staan dié tyd van die nag nie! Hoekom slaap jy nie?” vra Kat, en hou ’n druppel wat hardnekkig aan Krappies se neuspunt bengel geamuseerd dop.
“Omdat hierdie twee Einsteins,” Krappies beduie met die nat stuk sigaar na die manne wat saam met hom gekom het, “nie die verskil tussen ’n dooie skarminkel en ’n vaak poot ken nie.” Hy druk die sigaar weer tussen sy lippe in. “Ek moet erken,” mompel hy, “ek sukkel self nogal daarmee!”
“Aitsa! Maar ons is nukkerig so vroeg in die môre!” sê Kat en begin na sy motor aanstryk. “Ek het goeie raad vir jou, Aasvoël,” vervolg hy oor sy skouer.
“Wat?” blaf Krappies vererg agterna.
“Hou op kerm en kry vir jou ’n hoed. Met daardie oranje kop lyk jy soos ’n Cheetah-ondersteuner! O ja, dié crime scene is joune.”
“Aag, gaan skyt, jou dom poot,” mompel Krappies, lig die geel band en buk onder deur. “Toe, toe, kêrels,” jaag hy sy twee assistente aan, “kry julle gatte in rat! Ons wil nie hê die kadawers moet natreën en koue vat nie, of hoe?” Hy vou die jas stywer om sy maer lyf. “Toe! ek kry koud! En, Sakkie, onthou om die doppie van die verdomde kamera se lens af te haal die slag!”
» » « «
Pine Pienaar sit die selfoon terug op die tafeltjie voor sy bed en strek hom uit. Deur die venster kan hy sien dit wil begin lig word, die son sukkel gewoonlik soggens om hom hier tussen die huise in te wurm. Hy sit die lig aan en druk die wekker dood. Gelukkig was hy nie gister aan diens nie, anders het hy ook nou daar by Kat in die mislikheid gestaan. Hy stoot die worshond met sy heup eenkant toe. Dié vererg hom, flap sy ore wanneer hy onder die komberse uitklim, nies en spring van die bed af om sy besigheid in die agterplaas te gaan doen.
“Ja toe, wip maar jou gat! Een van die dae slaap jy in die kombuis, wag maar tot Ann hier is!” roep Pine agterna.
Ann, tja … Hy draai om en kyk stil na haar foto langs die bedlampie, leun vooroor en vryf met die rugkant van sy wysvinger oor haar gesig. Die lamplig laat nie reg geskied aan haar rooi hare en die diepblou van haar oë nie. Sy Z88-pistool lê in ’n aanknipholster voor die foto, en sonder om sy oë weg te neem van die rooikopvrou wat hom toelag, tas hy na die wapen, voel-voel aan die koue staal waar die verblouing deur die jare al afgeskuur het van baie gebruik.