Bottelnek. Piet Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624052425
Скачать книгу
haar skouers op, laat val haar arms teen haar sye. “Ek weet nie meer nie. Vandat jy van Mpumalanga af teruggekom het, is jy anders.”

      “Hoe anders, Ann?” vra hy bars, “ek’s nog net dieselfde.”

      “Jy is humeurig, om mee te begin!” Sy kantel haar kop agter-oor, haar blou oë blits. “Ek kan nie met jou praat nie dan is jy kwaad!”

      “Jy verbeel jou, sulke goed.” Hy staan weg van haar en trek sy hemp oor sy kop.

      Iewers begin ’n selfoon skril skree. Pine knoop sy hemp onverpoosd toe, konsentreer hard op elke knoop. Die selfoon hou op lui, maar begin weer.

      “Dis myne,” brom hy.

      Ann sit ’n hand sag teen sy bors. “Vergeet die ding, ons moet praat,” sê sy.

      “Ek kan nie, ek is op bystand,” sê hy en vat haar hand van sy bors weg. Hy tel die selfoon op waar hy dit langs sy koffiebeker gelos het.

      Ná ’n kort gesprek wat hy met sy rug na Ann voer, draai hy om. “Ek moet gaan,” sê hy. Die teleurstelling op haar gesig laat hom vinnig verduidelik: “Moord by ’n robot in Naudéstraat. Ek moet vir Kat gaan oplaai by die stasie.”

      Ann sug. “Wil jy nie eers jou koffie drink nie?” vra sy en help hom met sy laaste knoop.

      “Daar’s nie tyd nie, Ann,” sê hy, sit sy hande op haar skouers en gee haar ’n piksoen op die wang. Dan kyk hy weg. “Ann, dis nie jy nie,” sê hy. “Ek … ek’s net moeg.” Hy tel sy toksak op.

      Ann kom op haar tone om sy kort swart hare plat te vryf. Sy skud haar kop, probeer glimlag, maar moet haar lippe styf opmekaar klem om teen die trane te veg.

      Hy haak die pistool aan sy belt en maak die deur oop. Buite skyn die son, die motors raas agter die bome verby op die N1. Die deur klik agter hom toe soos ’n pistool wat weier om te vuur.

      » 9 «

      “Jy weet waarvan ek praat,” sê Pine toe hy en Kat by ’n robot stilhou. “Ek’s jammer, and that’s it.” Hy sukkel om sy donkerbril op sy oë te kry. Die son weerkaats van die dakke en vensters van die ander motors af, bak ná die vorige nag se donderbui stoom uit die strate.

      Kat skiet die tandestokkie waaraan hy sit en kou deur die oop venster; stel ’n oomblik lank intens belang in ’n stukkie blou wat tussen twee geboue sigbaar is. “Ag, hel, ou Pine,” sê hy, suig lug deur sy kiestande, “vergeet dit. In hierdie jop van ons gebeur sulke dinge.”

      Pine trommel driftig met sy vingers op die stuurwiel. “Ek weet dit, maar as ek my stront joune begin maak, pla dit my. Jy kon nou met ’n stuk papier om jou toon in ’n koue plek gelê het, en dit omdat ek nie ’n bliksem wat daarvoor gesoebat het, kon uithaal nie!”

      “Moet nie oor my worrie nie, ek kan na myself kyk. En na jou, totdat jy oor die ding van Giel is.”

      “Waar kom jy aan die stront!” vra hy bars. “Giel het fokkol met dié saak te doen!”

      Kat kyk skerp na Pine. “Wat is dit met jou?”

      “Hoe bedoel jy, wat is dit met my? Dis jy wat vol stront is!” Pine laat los die koppelaar te vinnig en die kar se bande gil.

      “Oukei! Oukei! Hou jou broek aan! Ek’s nie stupid nie, ek weet wat ek weet,” sê Kat knorrig. Hy steek ’n sigaret aan en draai die venster oop. Hy kou ’n ruk aan die gebruikte vuurhoutjie. “In PE was ek in ’n transito-skietery betrokke,” sê hy.

      Pine gaan by ’n vragmotor verby vol skrootyster wat oor die bak se kante hang. Hy kyk in sy truspieël en dan vlugtig na Kat.

      “My beste pel is daar faktap geskiet met ’n AK.” Kat skiet die as deur die venster af. “Hulle het AK’s en Uzi’s en R5’s gehad, en ons net twee nine-mills … en die fokken klippe langs die pad.”

      Daar is ’n ruk stilte in die motor. Pine sien motors, geboue, bome uit die hoek van sy oog by hulle verbyflits. Hy sien ’n geldwa in vlamme langs ’n teerpad. Magteloosheid gryp aan sy keel. ’n Brandende Casspir op wit sand tussen vaal doringbosse. Die reuk van geskroeide vleis in die lug, die gehoes van AK’s uit die bosse …

      Hy moet vinnig rem om nie in die agterkant van ’n silwer Toyota vas te ry nie. Hel, waar is sy kop? Pine vee met ’n vinger onder sy donkerbril in. Hy kyk weer vinnig na Kat en dan weer stip voor hom in die pad. “Het … het jy met die kopkwak gaan praat?” vra hy huiwerig.

      “Nee, hel!” sê Kat, sug. “Daardie soort van stront werk nie vir my nie. Brandewyn, my pel. Dit neuk my lewer op maar dit maak my kop skoon.”

      Pine skud sy kop. Elke oggend se wakker word met ’n seer kop en ’n babelaasgat; heeldag se loop en dink aan die volgende skelm sluk uit die bottel onder die Ford se sitplek … Ná daardie verdomde oorlog van bloed en derms en landmyne in die sand en bosse van Angola was dit vir hom ook sulke tyd. Ook weer ná Elaine en hulle ongebore kind se dood deur ’n dwaalkoeël op die N1. Hy was daar, ja. ’n Poot met ’n permanente drankwalm. ’n Bewerige poot wat nie sy ouma vir ’n verkeersoortreding kan vang nie.

      En nou Giel se ding.

      Nie weer dít nie.

      » » « «

      By die kruising van Westroad en Naudéstraat het die uniformtak reeds die SAPD-bande gespan om die gebied af te sper. By die verkeerslig staan ’n silwer Mercedes alleen in die normaalweg besige straat. Die verkeersmanne is besig om die verkeer om die misdaadtoneel te lei. Nuuskieriges drom op die sypaadjies saam, rek hulle nekke om beter te kan sien.

      Pine en Kat wys hulle identiteitskaarte aan die man in uniform wat hulle voorkeer. “Wat het gebeur?” vra Pine.

      “Ek weet nie, Sup,” sê die konstabel. “Daar in die Merc sit ’n ou met ’n gat in sy kop. Niemand het iets gesien nie. Krappies en sy manne is daar by die kar besig, dalk weet hy meer.”

      Die twee speurders stap na die kar waar die manne van die misdaadtoneel-ondersoekspan besig is om foto’s te neem en na vingerafdrukke te soek.

      “Ek het hom net so gelos tot julle kom,” sê Krappies toe hy hulle sien. Hy beduie na die motor waarin ’n man van agter die stuurwiel oorlê na die passasierskant. “Die skoot moes hom laat oorval het na die anderkant, of hy het geskrik. In elk geval, dis net die veiligheidsgordel wat hom nog half regop hou.”

      Pine reken die man is so in sy middel veertigs. Sy pak klere is vol bloed. Die skoot moes deur die oop venster aan die bestuurder se kant gekom het. Die ruit aan die passasierskant is vol bloedspatsels, en Pine kan sien waar ’n koeël in die bekleedsel vasgeslaan het. Hy loer by die venster in. Die oggend se Beeld lê op die man se skoot. Hy kan die hoofopskrif tussen die bloedkolle ontsyfer: Misdaad ruk handuit. “Wat het julle?” vra hy kortaf.

      Krappies vee met ’n sakdoek oor sy kaalkop. “Dit lyk soos twee skote, die een het die sitplek getref, dit behoort goeie materiaal vir ballistiese toetse wees.”

      Pine kyk vlugtig van die motor af op na die forensiese patoloog.

      “Dit is eintlik baie vreemd,” gaan Krappies voort, “die man het by die robot stilgehou en net nie weer weggetrek nie. Die koerantverkoper sê die ou het soos elke dag die oggendblad by hom gekoop, en hy het toe verder gestap tussen die karre deur en eers agtergekom iets het gebeur toe die motoriste op hulle toeters begin lê het.”

      “Kan hy nie onthou watse motor het in die ander baan langs die vermoorde ou s’n gestaan nie?” Pine buk en korrel deur die venster. “Volgens die trajek van die koeëls lyk dit vir my of die skoot net van hier af kon gekom het.”

      “Daar was te veel motors, hy kan nie onthou nie.” Krappies glimlag. “Hy sê hy dink dit was ’n witte.”

      “Ag, hel! Dit help bokkerol,” brom Pine. Hy dink ’n oomblik. “Dit moes dan ’n wit kar met donker vensters gewees het.”

      “Waar kom jy daaraan, Sherlock?”