“Weet jy wat het ons gister gedoen?” vra ’n oopgesigseuntjie van ongeveer agt jaar oud vir Emile.
“Nee, vertel vir my?”
“Ons het klippe voor die tente gepak vir die modder wat kom as dit begin reën.”
“Sjoe, regtig? Het julle al daardie klippe gedra? Ek het nie gedink jy het sulke sterk spiere nie!”
“Ja, ek het die meeste gedra, my boetie wou nie help nie.”
“Is nie, ek hét gehelp!”
Albei is kaalvoet, ten spyte van die koue wat reeds begin byt.
“Ek het die meeste gedra.” Hulle stamp aan mekaar.
“Dit is ’n slim plan om klippe te gebruik,” probeer Emile ’n bakleiery afweer. “Help dit vir die sneeu ook?”
“Ja, maar net tot die sneeu begin smelt, dan begin die water deur die tente loop. Dan word alles nat en koud,” antwoord die ouer seun.
’n Dogtertjie van ongeveer tien jaar oud kom staan langs Pascale, raak sag aan haar skouer. Sy kyk op en glimlag.
“Ja, poplap, kan ek iets vir jou doen?”
Sy knik.
“Wat kan ek doen?” vra Pascale.
“Sal julle vir ons kom skool gee?” vra die kind.
Alle ander geluide word uitgedoof en dit is asof net sy en die dogtertjie in die oomblik bestaan. Die intelligente oë wat haar vraend aankyk, ruk aan Pascale se hart. Sy het geen antwoord en geen verweer teen die vraag nie. Sy druk die kinderhandjie ’n oomblik vas en belowe: “Ek sal kyk wat ons kan doen, reg so?”
Die dogtertjie glo haar. Sy knik en stap weg.
Here! Hierdie kinders! Wat kan ons doen?
Eva roer die groot houers bredie terwyl sy dit opwarm op die gasplate. Saleh sny en smeer ’n magdom broodjies en pak bekertjies uit om gaskoeldrank te skink. Pascale staan op om hulle te gaan help.
Op pad hoor sy hoe ’n man ’n opdrag skree: “Jaag daardie lastige kinders weg!” ’n Seun kom buitetoe, tel sonder seremonie een van die dogtertjies wat by die tentflap speel aan haar hare op en slaan haar met die vuis in die maag. Die kind val huilend in die stof; die ander dogtertjies laat spaander.
Pascale steek vas en gluur die seun verontwaardig aan. Hy gee haar ’n minagtende kyk en gaan weer die tent binne. Pascale drafstap nader om die dogtertjie te troos.
“Die seuns maak ons altyd seer,” huil die kind.
Pascale se voete en bene pyn van die lank staan toe hulle met die pad oor die berg terugry. Emmanuel slaap op Saleh se skoot en sy wens sy kon dieselfde doen. Die massiewe potte kos en broodjies het blitsvinnig in vuil handjies verdwyn. Volwassenes wat in rye staan vir hul daaglikse brood. Here, wat gaan van hierdie mense word? Here, Here! Mag hulle U hier ontmoet, sodat al hierdie swaarkry die moeite werd is.
Die dogtertjies se woorde spook by haar. “Sal julle vir ons kom skool gee?” “Die seuns maak ons altyd seer.” Die ontsettende nood dreig om haar te oorweldig. Hoe gaan hulle handvol mense ooit by almal uitkom? Soms dink sy dit sal makliker wees om terug te gaan na die gerief van haar ouerhuis en ’n sorgvrye student te wees.
Here, is dit wat ons doen ooit die moeite werd? Help my om sterk te staan en te doen wat U van my vra. Soms voel dit te veel gevra.
Nee, die vet weet, sy is te jonk om so depro te raak. Die lewe is ’n goeie plek – sy kan iets beteken.
Sy herken die liedjie wat oor die radio speel en begin saam sing. Emile draai dit harder. Sy sien in die truspieël hoe hy glimlag. Die ander wat dit ken, val ook in. Hulle is ’n moeë, maar vrolike groep wat laataand in Beiroet aankom.
Ilizabith
RAKKA, SIRIË. OKTOBER 2014
Op 29 Junie 2014 het Ilizabith en die kinders die stad Rakka saam met Khaled binnegery. Hulle het saam aan die geskiedenis geskryf. Die stad Al Raqqah in Sirië is as hoofstad van die kalifaat verklaar. ISIS het reeds op 14 Januarie 2014 hier beheer geneem en sy lede het dit kom beset. Dié helder somersdag was die hoogtepunt van hulle jare lange stryd. Dit was ’n tentpen van die kalifaat wat ISIS diep in die grond kom inslaan het.
Dit was op sy dag mooi – dié stad uit die ou Abbasid-era aan die oewers van die Eufraatrivier, met sy hoefystermure en die bekende poort van Bagdad wat waarskynlik in die agtste eeu gebou is.
Dit was ’n ontsettende verligting: ’n stad! ’n Stad met mense. Ná drie en ’n half jaar in die woestyn was die bekende gesig van strate, verkeersligte en stukkende geboue so welkom dat Ilizabith se mondhoeke effens gelig het. Daar was iets bekends aan die onbekende. ’n Stad. Soos Kaïro.
Aanvanklik was daar nie werklik sprake van mense nie. Angstige asems het in die verflenterde geboue geskuil, gevange geneem in hulle eie tuiste deur ’n vyand wat hom op hulle afdwing. Bevreesde harte wat klop agter mure, gordyne wat behoedsaam weggetrek en haastig weer laat val word voor versplinterde vensters. ’n Reusetronk. Mense, gevangenes soos sy. Sy was tuis!
Die swart Al-Kaïda-vlag was oral sigbaar: voor vensters gehang, oor lamppale en teen mure gedrapeer. Die buitekant van die Daesh-hoofkwartiere was ook swart geverf. Verse van die Koran is bo-oor die swart verf aangebring, verse wat mense herinner aan Allah en sy oordeel. Swart, soos ’n stad in rou, hoewel dit nie die bedoeling is nie. Vir Daesh is swart nie die kleur van die dood nie, maar wit. Swart is Daesh se spesiale kleur. Dit was blykbaar die kleur van die profeet Mohammed se vlag gedurende sy vroeë oorloë. Daarom dra die kalief, Abu Bakr al-Bagdadi, ook net swart. In afgeluisterde gesprekke verklap die Daesh-manne dat hy ure voor die spieël deurbring om sy swart jas en tulband perfek te skik. As sy nie so vreesbevange vir hom was nie, sou sy gedink het hy is verspot.
Daar is geen vlae of foto’s meer van die Siriese president Bashar al Assad te sien nie. Die standbeelde is ook verwoes in direkte opdrag van die kalief. Rakka dra ’n nuwe swart baadjie. Nuwe beheer.
Asof Khaled self die nuwe burgemeester was, het hy hulle begelei en ingelig. Sy en die kinders was die enigste gehoorlede van die gratis toer. Op so ’n dag was hy amper aangenaam. Amper.
“ISIS het die stad kom verander. Ons gebruik Rakka as ’n vertoonkas om ons doeltreffende en welwillende beheer van ’n gebied uit te beeld,” het hy gespog. “Ons het ’n relatiewe hoë vlak van plaaslike dienste gehandhaaf deur so min as moontlik aan die regering te verander. Dit beteken dat die meeste van die staatsamptenare in hulle ou posisies aangebly het, mits hulle natuurlik lojaliteit aan ISIS gesweer het. Ons het wel ons eie lede oor bestaande instellings soos skole of die munisipale hoofkwartier aangestel om seker te maak dat werknemers ISIS se nuwe reëls gehoorsaam. Ons is nie onnosel nie. In ander sektore is die enigste beduidende verandering dat werknemers hul werk moet onderbreek om gebedstye te akkommodeer.”
As buitelandse rekrute is hulle gesin goed behandel en het hulle ’n mooi blyplek gekry in die splinternuwe hoofstad van die kalifaat. ’n Groot drieslaapkamer-wooneenheid was nou hulle tuiste. Die Islamitiese Staat en beter lewe waarvoor Daesh veg, het gestalte gekry en die soldate is daarvoor beloon met goeie behuising. Eers moes die bloedspore skoonmaak word van die vorige eienaars wat met geweld daar uitgesit is. Sy het die herinnering aan die onbekende mense saam met die bloedspatsels afgewas en die woonplek na Khaled se vereistes ingerig.
Khaled was die koning van sy mishoop. Sy het die hoofslaapkamer vir hom gereed gemaak. Mohammed het die kamer van die vorige inwoners se seun vir homself gekry, en sy en Leila deel die dogter s’n. Dit was ’n seën dat sy ’n kamer met Leila moes deel. ’n Baba wat huil in die nag staan Khaled nie aan nie, en daarmee was sy snags van hom ontslae. Leila was haar eie menslike skild. Hy sou nog inkom en bars beveel dat sy die baba moet neerlê en stil kry, en dan weet sy wat kom,