Die seders van Libanon. Adriana Faling. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Adriana Faling
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321527
Скачать книгу
en weer voor sy ’n straat kruis. Sy hardloop na die oorkant, waar sy haar lyf teen die muur van ’n gebou vasdruk, so styf as wat haar bagasie toelaat. Sy maak seker dat niemand haar gesien het nie. Haar asemhaling hyg in die stil nag. Sy moet wag tot dit bedaar. Paniek maak haar kortasem.

      Meteens skuur iets teen haar been. Sy wil gil; smoor die klank net betyds in haar keel. Dis ’n kat, net ’n kat.

      Die vuis in haar ribbekas klem ál stywer om haar hart. Sy het nie ’n plan nie.

      Kom tyd, kom raad, Ilizabith, maan sy haarself tot kalmte. Sy begin weer loop, treetjie vir treetjie, so digby die muur as moontlik. Waar sou die stadsgrens wees? Haar sin vir rigting laat haar in die steek in die donker. Loop sy ooit na die regte kant toe? Sy vou haar arms beskermend om Leila se lyfie en beweeg verder.

      Knars! Iets gee mee onder haar voete, ’n afgryslike geluid in die stil nag. Sy ruk tot stilstand en kyk af. ’n Stuk glas.

      Die nagstilte ontplof. Geweervuur. Iemand skiet op hulle! Met ’n gedempte gil sak sy op haar hurke af, en daarmee word albei kinders wakker. Leila skop teen haar maag vas, trek haar lyfie in ’n boog en gooi haar gewig agtertoe. Ilizabith verloor byna haar balans. Mohammed se arms klem om haar keel sodat sy na asem snak. Die geweervuur kom skuins van voor, vanuit die rigting waarin sy op pad was. Leila het reeds begin kerm en sy weet dit gaan binnekort ’n volskaalse geskree afgee.

      Sy het geen keuse nie, besef Ilizabith. Sy kom orent, vlieg om en begin terugnael na hulle wooneenheid. Hulle kon onmoontlik nie meer as ’n blok of twee daarvandaan gevorder het nie, tog voel dit soos kilometers. Laat hulle ons liewer doodskiet! As hulle ons vang … Nee, sy moenie daaraan dink nie, die gevolge is te verskriklik om eens te oorweeg. Nou moet sy hardloop, net vinniger hardloop!

      Leila raak wonder bo wonder stil, gesus deur die geskud en Ilizabith se ritmiese voetval deur die verlate strate. Mohammed klou styf aan haar rug vas. Die skote klap steeds hier en daar agter haar, maar die donker nag vou sy arms beskermend om hulle.

      Uiteindelik bereik sy hulle straat. Sy vlug na die voordeur; ruk dit oop, intens dankbaar dat sy dit nie gesluit het op pad uit nie. Sy sluit die deur haastig agter hulle toe en staan met ’n bewende lyf en luister. Leila sit terstond ’n keel op, en Mohammed volg haar voorbeeld.

      Ilizabith bly nog ’n oomblik bevrore staan, dan neem haar verstand oor. Hulle moet in die kamer kom, besef sy. Sy stroop haar abaya sommer in die hardloop af. Die kamerlig moet liefs af bly. In die donker haal sy Mohammed versigtig van haar rug af. Sy lê hom op sy bed neer. Hy beur egter dadelik kiertsregop en huil woedend. Dit ontstel Leila nog meer.

      “Sjuut, sjuut,” fluister sy paniekerig. Sy druk Leila teen haar vas om die geluid te probeer demp. Sy wieg die baba en stap op en neer met haar in die gang. Mettertyd begin Leila bedaar. Haar oë val uiteindelik toe. Ilizabith gaan lê haar neer in haar bedjie, langs haar eie bed. Een is stil, nou die ander een.

      Sy haas haar terug na Mohammed se kamer en gaan lê styf langs hom waar hy nog steeds lê en kerm. Sy hou hom vas en fluister: “Toemaar, toemaar, jy het net gedroom. Toemaar, toemaar!” Sy is snaarstyf gespanne en verwag dat daar enige oomblik iemand deur die deur sal bars. Aanvanklik skop Mohammed haar weg en huil hard, maar toe sy saggies aanhou praat, raak sy kwaai lyfie rustig in haar arms.

      “Jy het net gedroom,” troos sy. Sou hy haar glo? Sy hoop so! As hy vir Khaled moet vertel wat sy vannag gedoen het! Wat het haar besiel? Het sy gedink dat sy vrou-alleen vir Daesh kan aandurf met twee klein kindertjies? ’n Sotlike idee! Nou het sy die risiko net groter gemaak. As Khaled hiervan moet uitvind, slaan hy haar sekerlik morsdood.

      “Jy het net gedroom,” fluister sy weer vir sy seun.

      Toe sy seker is dat Mohammed slaap, staan sy versigtig op. Sy gaan loer weer by Leila in, wat met ’n oop bekkie lê, oorgegee aan die slaap.

      Daar kom geen voetstappe, geen geklop aan die deur nie, maar sy is vreesbevange toe sy weer gang toe sluip om die abaya op te tel en dit agter die voordeur aan die haak te hang. Sy maak seker dat al die deure en vensters gesluit is, al is dit so warm dat ’n mens daarvan kan stik. Daarna steek sy die sak waarin sy sorgvuldig alles vir hulle vertrek gepak het, diep agter in die klerekas weg.

      Sy stroop haar vlugklere af. Ontnugter sak sy op die bed neer, trek die lakens oor haar kop. Sy wens sy kon so ver wegkruip dat niemand haar ooit weer kan vind nie. Wel, tref dit haar, dit is presies waar sy is: op ’n plek waar haar familie haar nooit weer sal vind nie. Sy sou graag histeries wou lag of huil by die gedagte, maar dit kan sy al lankal nie meer doen nie. Sy lê dus net met die laken oor haar gesig en staar die donker in, helder wakker van die adrenalien wat deur haar liggaam pomp. Wat het haar besiel? Wat as die kind praat? Wat as hy haar verklik?

      Ilizabith word wakker van Leila se gehuil, verbaas dat sy wel ingesluimer het. Sy spring op en tel Leila op om haar te voed. As die seun tog net ’n bietjie later sal slaap! Sy het tyd nodig om te dink. Sy is vreemd verlig dat haar plan nie gewerk het nie, ter wille van die kinders. Hoe sou sy Leila kon versorg sonder die gerief van alles in die huis? Hoe sou die kind so ongestoord kon slaap sonder ’n bababedjie? Hoe sou sy vrou-alleen met twee klein kindertjies buite die stad oorleef terwyl daar ’n oorlog woed? Sy was van haar sinne beroof! Hulle is veiliger hier – voorlopig.

      Leila is ’n baba, daar is nog tyd om haar uit hierdie hel te kry voordat die mans van die Daesh-sisteem haar beetkry. Boonop het sy vryheid binne hierdie wooneenheid waarin hulle gevangenes is. Terwyl Khaled weg is, terwyl geen man oor haar skouer loer nie, is dit amper hemels. Sy moet dit geniet terwyl dit hou. Sy moet bloot rustig wag vir die regte geleentheid. Dit sal kom. Sy was oorhaastig, sy moet nugter dink.

      As die kinders eers al twee self kan loop, sal dit makliker wees. Tensy sy dan al weer swanger is? Nee! Die idee laat haar gedagtes opnuut in sirkels jaag. Sy moet wegkom voordat hy terugkom. Mag Khaled sterf in die geveg. Mag hulle hom raakskiet of vermink of iets – énigiets, maar laat hy asseblief nie weer huis toe kom nie! As iemand vir Khaled voor haar sou neersit en hom martel soos Daesh die oortreders martel, sou sy niks sê nie en niks voel nie, al word hy in stukke opgesny soos vir ’n slaai.

      Sy voel nie so oor alle mans nie. Haar pa was anders, hy was liefdevol en versorgend. Sy stop haar gedagtes summier. Hierdie pad lei na nêrens. Sy weet. Sy was al hier.

      Later die oggend is daar ’n klop aan die deur.

      Ilizabith skrik. Iemand het haar gisternag gesien. Sy sluip na die voordeur en kyk versigtig deur die loergaatjie. Dankie tog! Haar hande bewe toe sy vinnig die abaya en die hijab aantrek. Sy ken die twee jong meisies. Hulle het van Europa gekom as bruide vir van die vegters. Daar is heelwat vroue wat die droom en visie van ’n Daesh-kalifaat deel. Hulle offer vrywillig hulle lewe op daarvoor, tevrede om hul mans en die Daesh-saak te dien. Hulle bestaan draai daarom om getroud te wees en kinders vir jihad groot te maak. Hulle eet, slaap en adem Islam. Hulle is hoog daarop. Dit maak hulle mal. Dis ’n siekte!

      Weet hulle van gisteraand? Sy vee haar klam hande aan die abaya af voor sy huiwerig oopmaak.

      “Sabah elKheer.” Hulle groet kortweg. Sy skat hulle slegs ’n paar jaar ouer as haar agttien jaar. Hulle praat ’n gebroke Arabies met ’n sterk Franse aksent en kyk haar uit die hoogte aan.

      Sy knik goeiemôre, maar vertrou hulle nie.

      “Salaam?”

      Sy knik dat dit goed gaan. Daar is ’n knoop in haar binnegoed. Sy moet normaal optree, asof niks skort nie. Dit voel asof die skuld op haar voorkop geskryf staan. Kan hulle dit lees? Vermoed hulle iets?

      Soos elke oggend, het hulle ’n sak met basiese benodigdhede saamgebring. Daesh het hulle opdrag gegee om dit daagliks te kom afgee wanneer Khaled uitstedig is. In hierdie plek mag sy mos nie alleen uitgaan om inkopies te doen nie. Verbeel sy haar of huiwer hulle vanoggend langer as gewoonlik? Hulle kyk verby haar om te sien of alles in orde is. Uiteindelik groet hulle.

      “Ma-salaam.”

      Sy kyk hulle verlig agterna terwyl hulle wegstap. Verder af in die straat spring ’n bebaarde jong man op ’n oop trok. Hy en sy makkers jaag weg om hulle skrikbewind elders verder te gaan voer. Sy maak die deur na die