Bos. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624086048
Скачать книгу
dorp, oop en bloot? Ek sluk dit nie.

      “Ons wil hê jy moet hom gaan uithaal – voor ons lewens verloor.”

      “In plaas van nog renosters verloor?” Dit klink sarkasties, maar dis uit voordat ek myself kan keer.

      Sy knik. “Wel, ja, dít ook. Maar ons het byna een van ons mense in ’n opvolgoperasie verloor. Carlos het hom geskiet. Ons moet iets doen, en vinnig, voor ons mense verloor. Die probleem is ons kan nie naby genoeg aan hom kom nie.”

      “En hoe gaan ék dit regkry?”

      “Meneer Texeira, sy netwerk van informante is uitstekend. Ons wil dit teen hom gebruik. Ons dink jy het ’n kans om hom te bereik. Meer as enigiemand anders.”

      Lokaas, met ander woorde. By die leeu se hok instap met ’n stuk vleis om my nek. Nee dankie. Buitendien, om daardie bos te voet te infiltreer, met my huidige vlak van fiksheid? Daar’s nie ’n manier nie.

      Dit sal feitlik onmoontlik wees om Carlos op sy eie terrein te uitoorlê. En daar is geen waarborg dat hy of een van sy stropers my nie op sig sal skiet nie. Hy sal die buitewyke van sy terrein met betaalde informante beskerm – die arm, desperate plaaslike bevolking wat op mense soos hy staatmaak vir hul enigste inkomste. Geld koop daardie soort lojaliteit.

      Maar daar’s ’n ander kwessie. Dié van my eie lojaliteit. Ek skuld Carlos meer as dit. Ek skuld hom my lewe.

      Ek skud my kop stadig, wil begin protesteer, maar Helena Paxton spring my voor. Haar stem is nou sag, oorredend, haar groen oë intens, amper pleitend.

      “Jy ken hom beter as enigiemand anders, meneer Texeira. Julle het jare saam ge-operate. Maak sy ommeswaai hoegenaamd vir jou sin? Wil jy nie graag uitvind wat aangaan nie – óns help om uit te vind nie?”

      “Jy ken nie die man nie, juffrou. Of die terrein nie. Dit sal baie beplanning kos. Lug-infiltrasie. Mannekrag. Dit sal hondgevaarlik wees. Om nie eens te praat van onwettig nie.”

      “Ons kan alles reël. Ons het lugfoto’s en die jongste intel. En ons het ervare buddies vir jou. Portugeessprekend. Jy sal spanleier wees.”

      “Tydskaal?”

      “So gou moontlik.”

      Natuurlik. Sy hou ’n visitekaartjie na my uit. Ek is huiwerig om dit te vat, asof dit sou beteken ek stem in.

      “Gee my ’n dag of twee kans, asseblief. Daar’s ’n paar dinge in my lewe wat ek moet uitsort voor ek eers kan dink aan iets soos dié.” En daarmee stoot die pyn van my vrou se dood soos ’n kwaai sooibrand in my bors op. Ek probeer die emosie wegdwing, maar vermoed sy sien dit.

      Sy staan op, gooi haar handsak se bandjie oor haar skouer, en knik. Dan is sy sonder ’n verdere woord weg.

      Ek kyk lank na die kaartjie wat sy vir my gegee het, en my gedagtes flits terug na ons opleiding destyds. En na Carlos, ’n man sonder land maar tog merkwaardig lojaal aan sy waardes – van reg is reg, ’n natuurlik morele mens sonder enige boekgeleerdheid.

      Nou Carlos die stroper.

      Is dit moontlik? Kan geld so hard praat? Daardie waardes oordonder, begrawe onder laag op laag selfregverdiging? God weet, die SAW het hom geskuld. Ons regering het hom geskuld. Angola se Bosoorlog het hom geskuld. Ontneem van ’n jeug, van ’n lewe ná die oorlog.

      Maar geld het nooit ’n groot rol in sy lewe gespeel nie. Was magsug dalk die hefboom, ’n vergryp van iemand wat sy lewe op die spel moes plaas vir soms duister ideale, donker politieke motiewe wat dikwels sonder morele basis was? Iemand wat nou weer beheer van sy eie lewe neem?

      Ook dít maak nie vir my sin nie. Carlos is ’n soldaat. Niks meer nie. Deursigtig, betroubaar, ongekompliseerd. Die antwoord moet eenvoudiger wees, wat beteken ek mis iets.

      En dít maak my moer onrustig.

      Carlos het my altyd daarvan beskuldig dat ek dinge oorontleed. Dit is seker wat twee jaar se universiteitstudie in politieke filosofie, logika en kritiese denke aan jou doen. Voordat jy opskop en Karl Marx se rewolusie met jou eie teenrewolusie in die bos gaan beveg, ironies genoeg met dieselfde wapen as die destydse vyand: die AK47.

      Nadat ek my rekening betaal het, maak ek ’n draai in die badkamer. Die gesig wat in die spieël na my terugstaar, is nie ’n mooi een nie. Nie ná gisternag nie.

      My oë sit diep in hul kasse, tekens van nog ’n geteisterde nag, en my hare staan orent agter by die kroontjie soos wat ek dit verlê het. Oorspoel deur herinneringe, ’n verlede wat aanhou spook, en die bed soos ’n vlakte ná Liesl se dood ’n jaar gelede. My Liesbet.

      Ek kyk na my figuur: skrams korter as ’n outydse ses voet, steeds die skrale vyf-en-sewentig kilogram en die plat maag van ’n paar jaar gelede. Maar ek weet die spiere en uithouvermoë is nie wat dit was nie.

      Nog minder die kop. Ek is uitgelewer aan ’n sieldodende daaglikse roetine van opstaan, die dag oorleef en slaap.

      En selfs dít bied min verskansing teen die verskriklike alleenheid.

      * * *

      “Colonel?”

      “Yebo?”

      “She was with some guy. In a coffee shop in Sunnyside.”

      “Could you ID him?”

      “No, sir. Around mid-forties. Medium build, dark hair, nothing special. Maybe military, but I can’t be sure. They had a short meeting over coffee. Then she left. He is still inside. I’ll check him out, just in case.”

      “You do that. Keep me posted. Phone me back.”

      Kliek.

      2

      Lynnwood, Pretoria, 2:10 nm.

      Die ontmoeting met MI vanoggend het die verlede teruggebring soos ’n familielid wat onverwags kom inloer. Jy moet maar beleefd sit en luister na die ou dae. Al die herinneringe van my en Carlos se operasies, die ontberings, die vrees vir ontdekking so diep en weerloos in Angola.

      En daarmee saam die vertwyfeling. Carlos, my buddy, die rots. Ek stoei met die gedagte dat hy oor is na die dark side. Ek ontleed ons destydse operasies deur ’n bril van wantroue, soek na krake waar die donker kant van sy wese kon deurskyn – sodat ek nou in sy skuld kan glo en my optrede kan regverdig indien ek betrokke sou raak.

      Dit werk nie.

      Ek dwaal rusteloos deur die huis, van die kombuis na my kantoortjie en terug, gaan sit in die sitkamer met koffie en kyk na BBC World News. Dan terug na my kantoor. Na die lêer, ’n liggroen omslag bultend met papiere. Nuttelose speurwerk. Doodloopstrate. Geboekstaafde frustrasie soos wat ek na antwoorde soek.

      Vergeefs.

      Sedert Liesl se dood, amper ’n jaar gelede in die parkeerterrein van ons plaaslike Superspar, doen ek die polisie se werk vir hulle. “A botched robbery” was adjudant-offisier Watson se bevinding ná twee weke. Dit het my laat oorkook.

      “Dis mos nonsens, man! Die shooter het genoeg tyd gehad om haar kar te vat, of selfoon of handsak, maar niks is weg nie. Dit was moord, dit was plein, bliksemse moord, maar julle wil dit nie insien nie!” het ek hom toegesnou, vinger teen sy bors.

      Ek kon Watson se erkenning van die aantyging sien, sy skouers opgetrek, lankal dikvellig oor reaksie op die SAPS se onvermoë om sake suksesvol te ondersoek.

      En dis hierdie frustrasie, my obsessie van die laaste paar maande, wat keer dat ek nou my volle aandag aan Militêre Intelligensie en die Mosambiekse situasie kan gee.

      Daar doen ek dit weer: die “Mosambiekse situasie”. My ontwyking van die werklike kwessie – Carlos se duistere ommeswaai, my klaarblyklike naïwiteit om te aanvaar dat my buddy sy morele kompas kon verloor.

      Hoe sal ek ooit kan fokus met soveel vertwyfeling, soveel los drade in my lewe? Algehele fokus was ’n voorreg van my ongekompliseerde jeug, toe dinge wit en swart was.

      Dit