Dors. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624084372
Скачать книгу
maar gister moes sy uitvind dat sy kompetisie het. Toe sy vir Wikus by die huis gaan soek, het tant Corrie haar vermakerig ingelig: “Jy sal minder kieskeurig moet wees met die jongetjies. Jy gaan op die rak sit soos jou ma en dan is iemand anders se oorskiet ook jou voorland. Wikus sal seker binnekort vir Lettie Horn naderhark. Hy is juis soontoe om haar pa hand te gee met die afwit van die skooltjie vir die koms van die nuwe meester.”

      Sy het boord toe gevlug, vies vir tant Corrie, haar ma en Wikus. Is Lettie met haar blou oë en blonde vlegsels dalk die ware rede dat hy hom afsydig hou? Of is hy, soos sy nog altyd geglo het, rêrig net te bang vir haar ma? Sy is bly haar pa het hom nie laat voorsê oor die beeskopery nie. Miskien kry Wikus die moed om met hom te praat.

      Buite roep die naguil weer. In haar verbeelding klim sy saggies deur die venster, die raam reeds vroegaand oopgeskuif. Dis so vreeslik warm, sou sy sê as Heilie dalk vra. Die honde kom stertswaaiend nader, nou al gewoond aan haar nagtelike uitstappies. Iewers tussen die vrugtebome sal hy op haar wag. Dan omhels hy haar onverwags. Soen haar tot sy na asem snak.

      Met ’n glimlag raak sy aan die slaap.

      Die volgende oggend sorg Adriana dat sy voor haar pa in die kombuis is. Sy gooi haar arms om sy lyf. “Kan ek nie maar saamgaan nie, Pappa?”

      Hy skud sy kop. “Jou sog gaan vandag of môre kleintjies kry. Jy sal ’n oog daar moet hou.” Toe sy hom met ’n pruilmond aankyk, gee hy haar lang vlegsel ’n plukkie. “Gaan kyk gou of Boeta al wakker is en help hom aantrek. Ons moet ry sodra Wikus hier is.”

      “Ai, Pa, toe ek so oud soos hy was, het ek al my eerste bok geskiet en …”

      “Ek’s klaar, Pappa, ons kan maar ry,” onderbreek Boeta haar.

      Mieta buk moeisaam onder die tafel in om haar beddegoed bymekaar te skraap. “Sê vir die nooi ek’s huis toe om te gaan slaap. Sy en Debora moet maar vandag alleen opsnork. Die klein swernoot se bors makeer niks. Volgende keer gee ek hom aalwyn in. Dan sal hy leer om nie so aan te sit nie. Daar’s koffie in die kan. En beskuit. Ek gaan nie middernag staan en pap maak nie.” Die kombuisdeur klap toe sy uitloop.

      Adriana gaan wag vir Wikus op die voorstoep. In die ooste begin die dag doforanje breek. Oorkant die spruit by oupa Jakob-hulle sien sy die flou skynsel van kerslig. Die gekrys van tarentale verraai dat iemand deur die boord op pad is.

      Sy spring van die stoep af om Wikus halfpad te ontmoet, maar dis oupa Jakob by die tuinhekkie. “Wat maak Oupa hier? Is Ouma siek?” vra sy angstig.

      “Waar’s jou pa?” vra hy bars.

      “In die kombuis. Hy en Boeta eet nog. Ek het juis kom kyk of Wikus al op pad is, want my pa is haastig om te ry.”

      “So dan ís hy besig om agter my rug te konkel.”

      Adriana moet haastig terugtree toe haar oupa die tuinhekkie oopstamp. Sy volg hom, nuuskierig oor die rede vir sy omgekraptheid.

      Haar pa spring op toe Oupa die kombuis instorm. “Is iets fout met Ma?”

      “Nou wat’s dit met jou en Adriana vanmôre dat julle dink daar skeel iets met haar? Ek’s hier om te hoor van jou veekopery waarvan ek tot gisteraand geen sout of water geweet het nie.” Oupa spoeg sy kousel pruimtwak met ’n boog uit.

      “Ai tog, Pa! Mieta-hulle het die hele week gewerk om die vloere te smeer. Ek moes tot tollie slag sodat daar genoeg bloed is om met die mis te meng vir die regte kleur, en hier kom spoeg Pa kolle met die intrapslag. Celia wil graag die plek netjies hê vir haar ouers se kuier.”

      “Moenie jakkalsdraaie gooi nie, Jakobus. Waarom weet ek niks van jou veekopery nie?”

      Haar pa se mondhoek ruk soos hy hom vererg. “Omdat daar niks vir Pa te wete is nie. Lodewyk het gevra ek moet Wikus gaan help met sy aankope. Ek beplan nie om enigiets te koop nie, behalwe miskien ’n verskalfie vir Boeta. Iets wat ek lankal moes doen.”

      ’n Rukkie is Oupa sonder woorde, toe probeer hy weer sy gesag afdwing. “Ons moet die vee minder maak, pleks van meer, anders is Jakobsrus ook later so kaalgevreet soos Ackermansdrif.”

      “Nou hoekom praat Pa dan nie vir broer Flip aan nie?”

      “Jy vergeet Ackermansdrif moet vir vier huise kos op die tafel sit.”

      “Nou hoe kom Pa daarby uit? Pa-hulle leef mos uit Jakobsrus se opbrengs. Die helfte van die aanteelt is Pa s’n, en ’n kwart van die oes. Daaruit kan Pa-hulle tog ruim leef.” Hy haal sy hoed en sweep van die kapstok af. “As daar nog iets is, moet dit wag tot vanaand. As ons nie nou in die pad kom nie, is die vendusie verby voor ons daar kom.”

      “Ek is nog nie klaar gepraat nie. Oor Danie van Flip aankomende Maart trou, het ek besluit hy moet oortrek Jakobsrus toe. Daar’s nie plek vir nog ’n werf op Ackermansdrif nie.”

      “Pa kan dit nie doen nie. Jakobsrus is my erfdeel. Pa het Ackermansdrif en Sterkspruit vir Flip en Braam gekoop. Dit was tog nog altyd die plan dat ek Jakobsrus kry. Of hoe? Ek is tog Pa se naamgenoot, so ook Boeta, daarom …”

      “En so ook twee ander kleinkinders en ’n agterkleinkind,” val Oupa hom in die rede, “maar tot ek die dag my kop neerlê, is dit my grond. Soetdoring kon vandag joune gewees het. Maar nee, toe staan en kies jy mos vrou met jou lyf pleks van jou kop.”

      “Pa! Nie voor die kinders nie.”

      Adriana gee dadelik pad voor sy weer van afluistery beskuldig word. Buite is dit reeds lig, maar sy sien nie vir Wikus nie en besluit om vir ouma Tina te gaan môre sê. Die damwal in die spruit is nog glad van gister se oorloop en sy beland amper in die water toe sy omkyk-omkyk loop met die hoop dat sy vir Wikus sal gewaar.

      “Môre, Ouma,” roep sy toe sy by die oop voordeur instap.

      “In die kamer. Kam nog hare, my hartjie.”

      In die kamer neem Adriana die borsel uit haar ouma se hande en laat gly dit deur die sysagte grys hare. “Ouma se hare blink soos silwer in die kerslig.”

      “Og ja, in my jong dae was dit goud soos Heilie en Bellie s’n en het ek Heilie se lyfie gehad. Maar julle kinders weet mos niks van die swaarkry wat ons op die trekpad …”

      “Hoe wil Ouma dit hê? Bolla of vlegsel om die kop?” vra Adriana voor haar ouma weer begin uitwei oor die twee seuns wat sy op die trekpad verloor het en hoe lekker sy in Natalia gebly het tot oupa Jakob weer die Engelse as verskoning gebruik het om te trek. Ouma Tina antwoord nie en Adriana besluit op ’n bolla.

      “Wat bring jou so vroeg hier, hartjie?” vra Ouma terwyl sy die haarnaalde vir Adriana aangee.

      “Ek dag Ouma is siek toe Oupa douvoordag daar by ons instorm.”

      “Nee, die satangs ry hom mos weer ná Sanna gisteraand kom skinner het dat Jakobus vandag gaan beeste koop. Kon laas nag nie twee oge op mekaar sit soos hy rondrol en vroetel nie.”

      Mieta kon seker nie wag om gisteraand by haar suster te kom stories aandra nie, besef Adriana. “Oupa se slapelose nag was alles verniet. Pappa gaan net vir Wikus help om goeie aanteelvee te koop.”

      “Vier ons dalk iets meer as ’n verjaarsdag hierdie jaar?” wil Ouma dadelik weet en Adriana is sommer van voor af vies vir Wikus.

      Sy bly haar ouma ’n antwoord skuldig, maar vra: “Gaan Ouma kom?”

      “Flip het gesê hulle sal my op die wa katrol soos met nagmaal.”

      Adriana omhels haar ouma, al krap die snorbaarde. “My pa gaan vreeslik bly wees om dit te hoor.”

      Sy swik amper onder die gewig toe haar ouma op haar leun om voetjie vir voetjie haar logge liggaam na die voorhuis te verskuif waar sy die res van die dag gaan slyt. Adriana vryf die koue voete wat sy op die voetstofie sit en stut haar kop teen die sagte knie. Toe Ouma oor haar hare streel, voer dit haar terug na haar kleintyd en die koestering van haar ouma se sagte skoot. Haar nuuskierigheid kry die oorhand: “Nou hoe’t Ouma so vet geword as Ouma eers soos Heilie gelyk het?”

      “Seker maar