Dors. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624084372
Скачать книгу
jou pa jy ry nou saam met Thys om te gaan ouers vra.”

      Jan is dadelik op sy voete. “Betta, kom ons twee stap ’n entjie dat ons kan gesels.” Hulle is skaars buite hoorafstand van die kampplek toe hy lostrek: “Is jy van jou sinne beroof dat jy die kinders so in huwelike wil indwing? Besef jy dat Daniël Erasmus hulle sal moet trou?”

      “Ja. En net môre gaan jy die datum met hom vasmaak, die fooi betaal en die saak tussen julle in die reine bring. Of wil jy hê die mense moet dink jy’s bang vir Erasmus?”

      ’n Maand later trou Elisabet en Gezina in hulle aanneemrokke. Net die families woon die plegtigheid in Daniël Erasmus se beknopte tent by. Betta wens sy kon die beterweterige glimlag van sy gesig afvee. In haar gedagtes hoor sy hoe die fluisteringe deur die laer trek.

      Daarna woon die Greylings elke Sondag die ouderling se leesdiens by, sodat Betta by Elisabet kan kuier. Dankbaar sien sy week na week dat Elisabet se magie, soos Gezina s’n, plat bly en kan sy weer kop optel, want die vrouens bly nie meer skielik stil wanneer sy naderkom nie.

      6

      Desember 1876, Jakobsrus

      Die honde se geblaf lok Adriana uit die varkhok. Oom Lodewyk se kapkar het pas die werf ingery. Die perde trap verwilderd rond toe die honde uitgelate teen die kar opspring.

      Sy nael nader en gryp die naaste perd aan die stang. “Loop lê,” beveel sy die honde, wat dadelik gehoorsaam.

      Oom Lodewyk spring flink van die kar af en soengroet haar. Sy probeer uit sy omhelsing loskom toe hy haar vasdruk en spot: “Ga, jy ruik na vark.”

      “My sog het veertien kleintjies. Twee meer as Wikus s’n.”

      Hy stoot haar weg. “Meisiekind, luister nou mooi vir my. G’n man wil gedurig hoor dat ’n vroumens iets beter kan doen as hy nie. Jy gaan nog op die rak bly sit oor jou en jou pa se spoggery dat jy al die boerseuns in die kontrei die loef afsteek met perdry en skiet.”

      Afgehaal kyk Adriana weg. Sy het nog nooit gespog dat sy iets beter as seuns doen nie. Dis haar pa wat kort-kort wil hê sy moet teen haar neefs teikenskiet. Sy gaan sowaar nie misskiet om hulle beter te laat voel nie. Vandat sy kan onthou, het sy saam met haar pa perd gery; eers voor hom gesit sodat hy haar kon vashou; later, toe sy self kon vasklou, agterop sy perd; en vir haar vyfde verjaarsdag haar eie perd gekry. Op ’n perd se rug voel sy vry soos ’n voël in die lug.

      Gelukkig hoef sy nie vir oom Lodewyk te antwoord nie, want haar ma kom op die stoep uit. “O, dis jy, Lodewyk. Ek verwag my ouers,” sê sy nie besonder vriendelik nie.

      “En goeiemôre vir jou ook, Celia. Beloon my met ’n ou glimlaggie, dan laai ek ’n presentjie vir jou af.”

      Haar pa kom op ’n drafstap van die kraal af. “Is daar fout met Corrie of wat laat jou die entjie met die kapkar kom?”

      Ai, Pappa, dink Adriana toe sy sien hoe haar ma bleek word en die huis in loop. Waar is die wag voor jou mond waaroor Ouma gedurig preek?

      “Nee, ons was Rustenburg toe gister. Ook maar goed, want die yslike kis het met die poskoets van Bloemfontein gekom. Vir Celia, van haar ma af.” Hy wys na die kis wat agterop die draplank vasgemaak is. “Ons het gisteraand te laat teruggekom om dit te bring.”

      Kierie en Arend word nadergeroep om die kis huis toe te dra en Adriana volg hulle, verlig dat sy nie weer vir oom Lodewyk hoef te groet nie.

      Haar ma lyk verbaas oor die kis. Dis met seil toegewerk dat net die handvatsels uitsteek. “Hoekom sou my ma dit aanstuur as hulle binne ’n dag of twee met hulle koets kom?”

      “Maak oop die brief wat bo-op vasgeplak is, dan sal jy mos weet,” por haar pa.

      Haar ma se onderlip bewe toe sy klaar gelees het. “Hulle kom nie meer nie. My pa se boekhouer is ernstig siek en hy kan nie die winkel oor Kerstyd aan ’n onervare klerk oorlaat nie. Hy wil nie toelaat dat my ma alleen kom nie.”

      “Halleluja, prys den Heer,” sê Mieta waar sy by die vuurherd besig is.

      Haar ma gluur vir Mieta. “Hoe durf jy! Loop doen die wasgoed voor ek my te buite gaan.”

      Toe sy begin huil, beduie haar pa vir hulle om ook pad te gee. Met Bellie aan die hand gaan hulle agter Mieta aan.

      “Sies, Mieta,” betig Adriana haar. “Hoe moet my arme ma nou voel?”

      “Julle ouma maak net moeilikheid,” stoom Mieta, terwyl sy die vryfplank op die wasbalie neerplak en ’n kledingstuk daarop gooi dat die water spat. “Toentertyd al, met Jakobus en Corrie se troue, het sy hierie werf kom omkrap. Kom mos ’n hele maand voor die troue hier langsaan op Soetdoring aan.”

      Nou gaan Mieta weer die hele verhaal vertel wat almal al ken, weet Adriana, maar sê niks terwyl Mieta gal afgaan nie.

      “Glo om haar suster te kom help met die troue. Help se voet. Steek haar neus oral in. Hiet en gebied een en almal. Pleks lat sy liewer haar dogter oppas. Maar nee, die aanstaande bruidegom moet haar rondwys en tuis laat voel. Net ’n week, toe trek Jakobus kleinkoppie vir die troue. Wou eers nie sê wat’s fout nie. Maar julle ma was skaars terug Bloemfontein toe, toe’s hy agterna. Ai jai, jai, ounooi Tina was kwaad toe hy julle ma terugbring hierheen as sy vrou. Sy’t botweg geweier om saam met die Jesebel in die huis te bly en oorkant die spruit by Flip-hulle gaan intrek. Ek wou nie saam Ackermansdrif toe nie, want Jakobus was mos maar van sy geboortedag af my hartskind. En nou is julle ma vandag so ondankbaar teenoor my wat haar leer kook en bak en kinders grootmaak het.”

      Adriana steek vir Heilie tong uit. “Toe, daar hoor jy dit nou self. Ma het vir Pa by tant Corrie afgevry.”

      “Sie julle hier staan en stry,” verhoed Mieta ’n rusie. “Loop help liewerster julle ma die kis uitpak.”

      Harde stemme in die kombuis laat hulle op die stoep vassteek.

      “Vergeet dit, Celia, ons kan nie nou Bloemfontein toe nie. Hoeveel keer moet ek dit nog sê? Ek weet jy’t jou ouers agt jaar laas gesien toe ons Bloemfontein toe was, maar dit gaan ons ’n maand met die ossewa vat net om daar te kom. Dan is Kersfees vergete al verby.”

      “Dit gaan nie net oor Kersfees nie. My ouers verlang na hulle kleinkinders. My pa sal die koets stuur om ons te haal. Ons moet net sê wanneer.”

      “Nooi hulle om in die winter te kom kuier. Dan kan hulle sien watter goeie skut hulle kleindogter is en hope biltong huis toe vat. Maar nou moet ek by die kraal kom en jy brand seker om jou kis uit te pak.”

      Die kis word eers die volgende oggend kamer toe gesleep en uitgepak.

      Heilie se oë blink oor die eerste pakkie wat vir haar is: ’n stringetjie pêrels. Haar verjaarsdaggeskenk, want sy het in Oktober sestien geword. Adriana help haar om dit vas te knip. Daar is ook twee rokke vir Heilie.

      “Dis die dagrokke wat jong dames deesdae in Bloemfontein dra,” lees haar ma die nota wat op een van die rokke vasgespeld is.

      Toe Adriana al begin twyfel of daar vir haar ook iets uit die kis gaan kom, haal haar ma ’n korset uit. Die nota sê: “Voor Adriana haar verjaarsdagpresent kry, moet sy hierin kom.”

      “Maar, Ma, ek’s mos nie vet nie,” protesteer Adriana toe sy die ding bekyk.

      “Dis om jou middeltjie dun te kry. Toe ek jonk was, het ek nie gewaag om sonder korset by die huis uit te gaan nie. Vir ’n plaaskind is dit maar ’n nuttelose geskenk, maar Ouma dink seker jy sal dit in Bloemfontein nodig hê wanneer jy daar gaan kuier.”

      Dit voel vir Adriana of elke asempie lug uit haar longe gedruk is voor haar ma tevrede is dat die korset styf genoeg ingetrek is.

      Toe haal sy die rok uit. “Ouma het dit spesiaal vir jou verjaarsdag laat maak.”

      Die halslyn van die wit moulose rok van glanssy is laag gesny. Die hals en soom is versier met pienk syrosies. Vanuit die boesel, bedek met ’n groot pienk roos, val die sleep in diep klokvalle na onder. Adriana beur aan die halslyn om dit