Die aand aan tafel wil haar pa weet wat alles in die kis was. Adriana wag geduldig terwyl die ander uitwei oor hulle geskenke.
Toe dit stil raak om die tafel sê sy: “Ouma het vir my ’n pragtige dansrok gestuur.” Sy ignoreer haar ma se kopskud en waarskuwende kyk en borduur voort: “Ma sê ouma Juliana gaan vir my ’n groot dansparty hou oor ek nou ’n grootmens is.”
Adriana kry lekker toe haar pa se kneukels wit word soos hy sy mes en vurk omklem voor hy sê: “Ons praat vanaand in die kamer daaroor, Celia.”
Vir haar verjaarsdagviering die volgende week kies Adriana die geel prinsesstylrok wat haar ouma ook gestuur het en laat haar hare los oor haar skouers val.
Haar pa se oë blink toe hy haar omarm en in haar oor fluister: “Hardloop gou kalwerhok toe. Ek dink dis waar ek my pyp laat lê het.”
By die kalwerhok wag Wikus met ’n verskalfie aan ’n leiriem. Hy gaap haar aan. “Adriana, is dit rêrig jy?”
Sy lag. “Maak toe jou mond of wil jy brommers vang?”
Hy gee haar ’n piksoen op die mond en sê verleë, terwyl hy die kalfie se leiriem vir haar gee: “Dis jou present. Ek moes seker vir jou ’n regte meisiepresent gekoop het?”
“Daarvan het ek genoeg by my ouma gekry, maar jy weet hoe om my hart te steel. Het sy al melk gehad?”
Wikus knik en hulle sit die kalf saam met Boeta s’n in die kalwerhok. Onverwags leun hy vorentoe en soen haar weer.
In vervoering oor haar eerste rêrige soen is Adriana nie lus om saam met die jongklomp speletjies te speel nie en sy gaan sit by ouma Tina.
Oom Flip is besig om te spog oor die agtermekaar meester wat hy vir die plaasskool gekry het. “Gustav Mouton is eintlik ’n dokter, maar dit mag julle vir niemand sê nie, hoor. Dis die voorwaarde waaronder hy kom. Sy vrou en kind is dood in ’n perdekarongeluk op ’n bergpas. Om oor sy verlies te kom het hy ’n lang binnelandse reis onderneem. Ons kom toe sowaar by dieselfde losieshuis in Pretoria uit. Toe ek hom vertel hoe ons sukkel sonder skoolmeester ná die verdomde Hollander gedros het, bied hy aan om ’n ruk lank te kom uithelp.”
Met die begin van die 1877-skooljaar weier Adriana se ma om Boeta saam met sy nefies of die Lemmers skool toe te laat ry. Adriana aanvaar die opdrag om hom met die kapkar weg te bring sonder teëstribbeling.
Die werf is doodstil toe sy terugkom.
“Waar’s my ma-hulle?” vra sy vir Mieta in die kombuis.
“Drink koffie op die voorstoep,” antwoord Mieta sonder om op te kyk van die vuurherd waar sy in ’n pot roer. “En moet tog nie weer jou ma loop omkrap nie. Daar was Deetsember en Jannewarie al genoeg stry in hierie huis om vir die hele jaar te hou.”
“Maar dis mos nie my skuld nie,” verontskuldig Adriana haar.
“Sê wie?” snork Mieta.
Adriana gee vinnig pad. Vir Mieta kon sy nog nooit flous nie. Sy hoor haar ouers se sagte stemme op die stoep. Hulle het beslis vrede gemaak. Sy vermoed haar pa en ma konkel saam om haar aan dokter Gustav Mouton af te smeer. Dis hoekom sy elke dag vir Boeta skool toe moet ry. Sy loop saggies voordeur toe om af te luister.
“Ek wens ek kon verstaan hoekom jy so ’n afkeer in Corrie het, Celia. Dis tog met jou wat ek getrou het. Hoeveel keer moet ek nog vir jou sê van ek jou die eerste keer gesien het, was daar nie ’n ander vrou vir my nie,” hoor sy haar pa sê.
“Ek kan dit nie help nie. Elke keer wat ek vir jou en Wikus saam sien, dan wonder ek of jy spyt is jy het nie liewer met haar getrou nie. Dis vir my ’n bitter pil dat sy een na die ander seun baar, terwyl dit my tien jaar gevat het om vir jou ’n naamgenoot te gee.”
“Ai, Celia, jy weet tog ek sal my dogters vir geen geld ter wêreld verruil nie. Daar’s niks wat ’n seun kan doen wat Adriana nie beter doen nie. En Heilie met haar sagte hartjie is ons twee se sekerheid vir versorging op ons oudag.”
“Adriana en Wikus is gans te danig met mekaar. Wat as hulle wil trou? Dit kan tog nie. Almal weet hoe lyk kinders wat uit bloedskande gebore is.”
“Nee wat, my hart, Wikus en Adriana is maar soos broer en suster. Teenoor my het Wikus nog nie laat blyk dat hy só in Adriana belangstel nie.”
Adriana het genoeg gehoor. Sy loop saggies terug en kom toe fluitend die gang af, al weet sy hoe dit haar ma irriteer. “Ek hoop nie Ma-hulle was al bekommerd nie, dit het ’n bietjie langer geneem as wat ek gedink het. Meester Gustav het gevra ek moet wag.”
Adriana sien haar ma se hoop opflikker. Sy sit ’n moedelose gesig op. “Hy wou weet waarom Heilie nie ook terug is by die skool nie. Hy gaan glo die leerplan uitbrei om skool vir die ouer kinders interessant te maak. Ma moet die klomp boeke sien wat hy saamgebring het. En ’n aardbol. Oupa Jakob sal nou moet glo die aarde is rond. Maar Meester sal self vanaand met Pa kom praat. Hy sê Heilie kan hom ook met leeslesse vir die kleintjies help, terwyl hy aandag aan die ander leerlinge gee.”
Adriana kan die teleurstelling op haar ma se gesig sien, daarom vra sy gemaak onskuldig: “Dink Ma ek kan vanaand een van die rokke aantrek wat Ouma gegee het, of sal dit te oordadig lyk?”
Vir die eerste keer in ’n lang ruk lag haar ma spontaan. “Natuurlik nie, my kind. Waar hy vandaan kom, is dit sekerlik ook die gebruik om vir aandete te verklee as daar gaste is, soos ons in Bloemfontein gemaak het.”
“Sien jy nou, jy’t verniet spoke opgejaag,” hoor sy haar pa sê toe sy in die gang luister. “Adriana het ’n koel kop op haar lyf. Tussen julle twee gaan Gustav Mouton nie wegkomkans hê nie.”
Adriana glimlag wrang; hulle besef nie dis ter wille van Boeta wat sy by Gustav geflikflooi het nie. Dit sal net ’n kwessie van tyd wees voor Boeta die spot van die skool is omdat sy suster hom elke dag skool toe bring en kom haal. As Heilie self skoolgaan, sal niemand dit vreemd vind nie.
Dié aand arriveer Gustav netjies uitgevat in ’n pak klere.
Dit word ’n gesellige aand. Nie eens Gustav se onnadenkende opmerking oor hoeveel ouer susters hierdie jaar die kleingoed kom inskryf het, bederf dit nie.
Adriana maak ’n ligte oomblik daarvan deur vir ouma Tina na te aap: “Meester moet darem weet onse mense het nie baie gelerentheid nie, maar met onse oge is niks verkeerd nie. Ons kyk ’n ding goed uit voor ons hom koop.”
Gustav lag ongemaklik. “Dit lyk my hier is baie verborge talent in die kontrei. Jakobus, dalk moet albei jou dogters terug skool toe, dan kan Adriana sorg vir die skoolkonsert.”
“Nee wat, Meester,” keer sy, “wat ek die kinders kan leer – skiet en perdry – raak hulle baas voor hulle skool toe gaan. Heilie is die regte keuse. Meester moet sien hoe oulik leer sy vir Bellie tel wanneer hulle klip-klip speel.”
Ná die huisgodsdiens neem Gustav voor die huisorrel plaas. Hy gee eers ’n paar pompe met sy voet en laat sy lang vingers oor die klawers gly voor hy die eerste note van ’n lied speel. “Ken julle dit?”
Tot Bellie klap geesdriftig haar hande en sing saam: “Mooie meisies, fraaie bloeme; al die meisies wil ek soene. Sit die nonnas op ’n ry: kyk hoe mooi is sy vir my!”
Adriana kan die uitdrukking in Gustav se oë nie peil nie. Lê hy dalk by haar aan? Om haar ongemak te verberg val sy dadelik weg met: “Daar kom tant Alie.”
Ná nog ’n paar liedjies maak haar pa verskoning om op die stoep te gaan rook. Adriana word agternagestuur. Haar pa se gloeiende pyp verraai sy sitplek en sy sak in die stoel langs hom neer. Haar ma of Heilie moet maar langs Gustav op die bank gaan sit, anders dink hy dalk sy stel belang in hom.
“Jakobus, wat weet jy van die nuwe trekbeweging?” verbreek Gustav die ongemaklike stilte.
“Ek