Betta klik haar tong uit simpatie. “Ai, Truia, hoe kom jy met arms vol kinders reg so op die vlakte?”
“Dit moet maar net, Tante. Die Bybel sê mos jy moet jou man onderdanig wees en volg waar hy lei en Louw het die trekgedagte in sy kop. Maar wag, laat ek eers koffie skink.”
“Nie vandag nie, Truia. Oom Jan wil na Daniël Erasmus toe. Sy koffielus moet maar hou tot daar.”
“Tante moenie daarop reken nie. Daniël se vrou is ’n eenkantmens.”
Op pad na Daniël se laer toe jaag Louw te perd by hulle verby en die hol kol op Betta se maag word al hoe groter.
Louw en Daniël wag hulle in voor die tent waar ’n tafel en stoele regstaan. Die flap van die wa beweeg net effens, maar niemand kom te voorskyn nie en Betta bly sit op die perdewa.
“So, Kreling,” soek Daniël dadelik skoor, “jy’t jou toe darem verwerdig om aan die Driemanskap te kom rekenskap gee. Ons wag al van gister af vir jou.”
“Kommandant Greyling vir jou, landdros Erasmus. Of is jou tong so gesplete soos jou yl baard dat jy nie ’n g kan uitspreek nie?”
“Kom nou, Jan,” maan Louw, “so nydig ken ek jou mos nie. Waar’s oom Jordaan, dat ons kan begin?” vra hy vir Daniël.
“Hy sal nou-nou hier wees. Sit julle solank.”
Louw gaan steunend op die lae veldstoeltjie sit.
Jan bly staan. “Wat ek te sê het oor my tog na Khama, kan ek staan-staan doen. Julle kan …”
Daniël maak Jan met ’n handgebaar stil. “Op ’n punt van orde. Sodra die Driemanskap voltallig is, sal ’n voorsitter vir die vergadering gekies word en daarna sal die voorsitter besluit wanneer jy ’n spreekbeurt kry.”
Jan gluur vir Louw. “Met watse speletjies is julle nou besig, Louw? Dink julle twee nou julle sit in lakense pakke in die Volksraad of gaan op ’n piekniek in die president se koets? Ons het groot moeilikheid …”
“Daniël is reg, Jan. Jy moet aan die Driemanskap verslag doen, nie ons aan jou nie. Dis wat die trekregulasies voorskryf,” vat Louw Daniël se kant.
Daniël pluk die trekregulasies uit sy bladsak en lees: “Artikel 4: Er zullen door het publiek drie mannen gekozen worden met wien de Kommandant in spesjale zaken moet raadplegen en voor wie de Kommandant moet verslag doen.” Hy plak die papiere op die opvoutafel voor hom neer. “Die weerbare manne het ons drie wat die regulasies opgestel het eenparig as die Driemanskap verkies. So jy sál voortaan aan ons verslag doen in ’n ordelike vergadering.”
Jan se kakebeen span styf soos hy op sy tande byt. “En wat sê die regulasies van die veldkornet se pligte, Louw? Laat ek jou sê as jy dalk vergeet het. Die veldkornet móét die bevele van die kommandant uitvoer. Hoe de moer moet dit nou werk as die veldkornet dan hier kan kom sit as een van die Driemanskap om te oordeel oor die kommandant? En dit terwyl die veldkornet en die landdros sonder toestemming op Khama se grond jag. Hier’s mos gruwelik agter my rug geknoei.”
“Kreling, jy’s net ’n ongeletterde jagter …”
Voor Daniël sy sin kan voltooi, gryp Jan hom voor die bors en pluk hom regop. “Noem my nog een keer Kreling en ek foeter vir jou.”
Betta wil huil van verligting toe Jan hom dadelik laat los. Sy hou haar mond toe Jan die leisels by haar oorvat.
By die staning haal sy ’n blik konfyttertjies uit wat sy vir spesiale geleenthede gebak het.
“Hoekom laat jy toe dat die man jou so ontstel?” wil sy by Jan weet toe hy die laaste een verslind het.
“Dis hoe hy na my kyk, asof ek ’n miskoek is. Presies hoe die vervloekte Engelsman in die Kolonie na my pa gekyk en hom boonop ’n vuil bekvelder genoem het.”
“En toe slaan jou pa hom katswink en beland in die tronk?”
Jan vee oor sy oë asof hy die beeld wil uitwis. “As hy maar het. Hy’t omgedraai en weggeloop. Ek hoor nou nog die spottende lag van die Engelsman. Ek was toe tien en wou omvlieg om hom te gaan regsien, maar Pa het my aan die skouer beetgekry: ‘As jy een maal jou hande met stront bevuil het, kleef die reuk vir altyd.’”
“Jou pa was ’n wyse man. Maak soos hy jou geleer het. Lag vir hulle en stap weg. Dis skone jaloesie oor hulle nie jou kennis en durf het nie wat Louw-hulle so laat optree.”
Jan suig ’n rukkie aan sy pyp. “Jy’s reg, hulle moet wag tot ek lus het om verslag te doen, want daar’s spanne tyd. Ek vat nie ’n trek in die somer deur die Dors nie. Hopelik skok die nuus dat Khama ons deurgang weier hulle tot besinning.”
Betta voel die vrees soos ’n slang teen haar ruggraat afseil toe die swartkraai skree.
4
September 1876, Jakobsrus, Ackermans se plaas naby Rustenburg
Adriana lê en luister na die donderweer wat al hoe dowwer word en adem die geur van nat grond in. Langs haar slaap haar sussie nog vas. Voetjie vir voetjie sluip sy by die slaapkamer uit sodat Bellie nie moet wakker word nie. In die kombuis is Heilie besig om pannekoekdeeg aan te maak.
“Pappa gaan sopnat wees wanneer hy by die huis kom,” sê Heilie.
Adriana is sommer van nuuts af vies vir haar pa oor hy ná middagete mielieland toe is sonder haar. Toe gebruik haar ma die kans om haar op te saal met Bellie. “Ek gaan net gou kyk of alles reg is by my sog. Bellie slaap nog.”
Adriana het skaars begin om droë hooi vir haar dragtige sog uit te gooi, toe haar ma se stem oor die werf sny: “Adriana, kom vat vir Bellie!”
Wat sou die klein klits tog nou weer aangevang het? Adriana gryp haar rokspante bymekaar en hardloop spring-spring oor plasse water huis toe. Haar ma sit soos gewoonlik op die stoep met borduurwerk op haar skoot en Boeta stroopsoet langs haar. Sy raap vir Bellie uit ’n modderpoel op en hou haar met uitgestrekte arms op ’n afstand.
Bellie spartel om vry te kom. “Ek bak koekies, ek bak koekies.” Dis duidelik dat sy nie net modderkoekies bak nie, maar dit ook eet, want haar gesiggie is die ene modder.
“Dis ’n mensie wat jy vashou, nie ’n doringtak nie. Verbeel jou sy’s ’n klein varkie.”
Adriana kyk verbaas op na haar pa wat op die tuinhekkie leun. Die oomblik toe sy haar arms verslap, skop Bellie haar in die maag. “Eina, varkies maak nie so nie!” protesteer sy.
Heilie roep van die stoep af: “Kom, Bellie, kom ons bak liewer pannekoek. Dis tog baie lekkerder as modderkoekies.”
Verlig sit Adriana vir Bellie neer en dié hardloop agter Heilie aan die huis in. Koponderstebo wag sy vir die skrobbering wat moet volg oor sy ongehoorsaam was. Maar dis haar pa wat in haar ma se visier is.
“Jakobus! Jy was al weer by die Lemmers. Ek dag jy’s mielielande toe. Of het jy in ’n stroois geskuil om so kurkdroog te wees?”
“Celia, wees tog redelik. Ek het toevallig vir Lodewyk raakgeloop. Ons het boerderydinge gehad om oor te praat. Moes ons dit nou in die reën staan en doen oor jy nie wil hê ek moet in jou niggie se huis kom nie?”
Adriana skud haar kop. Dis nou die verkeerdste antwoord wat haar pa kon gee. Pleks dat hy ’n witleuentjie vertel en sê hy was by oupa Jakob-hulle oorkant die spruit op Ackermansdrif.
Om te vlug is haar pa se natuurlike reaksie as haar ma só na hom kyk. “Ek is nou op pad lande toe. Adriana, saal solank die perde vir ons op. Lyk my Boeta is lus om saam te ry. Hy kan sommer voor by jou op die saal sit.”
Haar ma se arm skiet uit en trek Boeta teen haar vas. “Nee, sy bors is nie lekker nie en dis sopnat buite.”
“Ag, kom nou, Celia. Op die perd